Moet kinders van God leer?
“Ons het net genoeg godsdiens om ons te laat haat, maar nie genoeg om ons vir mekaar lief te laat wees nie.”—JONATHAN SWIFT, ENGELSE SKRYWER.
SWIFT het hierdie woorde in die 18de eeu geskryf, maar vandag sal baie mense met hom saamstem. Trouens, party glo dat ouers nie die reg moet hê om hulle kinders van God te leer nie. Hulle dink dat kinders wat in ’n godsdienstige huis grootgemaak word, op die een of ander manier benadeel word.
Wat dink jy? Watter een van die volgende stellings is die redelikste?
● Ouers moenie toegelaat word om hulle kinders van God te leer nie.
● Ouers moet wag totdat hulle kinders groot is voordat hulle godsdienssake met hulle bespreek.
● Terwyl die kinders jonk is, moet ouers hulle eie opvattings oor God aan hulle kinders oordra. Maar wanneer die kinders ouer word, moet ouers hulle aanmoedig om self oor die saak te redeneer.
● Kinders moet hulle ouers se opvattings oor God onvoorwaardelik aanvaar.
Benadeel godsdiens kinders?
Geen liefdevolle ouer wil ’n kind benadeel nie. Maar ondersteun die feite die bewerings van diegene wat wil verhinder dat kinders van God leer? Navorsers het al dekades lank die uitwerking wat ’n ouer se godsdiensopvattings op kinders het, uitvoerig bestudeer. Tot watter gevolgtrekking het hulle gekom?
Navorsers het bevind dat godsdiens nie skadelik is nie, maar dat dit eerder ’n positiewe uitwerking op ’n kind se ontwikkeling kan hê. In 2008 het ’n verslag wat in die tydskrif Social Science Research* verskyn het, gesê: “Daar is bevind dat godsdiens die band tussen ouers en kinders versterk in die geval van moeders sowel as vaders.” Hierdie verslag het ook gesê: “Godsdiens en geestelikheid is blykbaar ’n belangrike deel van baie kinders se lewe en is noodsaaklik in gesinsverhoudings.” Let op die ooreenkoms tussen hierdie bevinding en wat Jesus Christus gesê het: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte.”—Matteus 5:3.
Wat van die idee dat kinders moet grootword voordat hulle van God en godsdiens leer? Dié beskouing ignoreer hierdie feit: ’n Kind se verstand is soos ’n leë emmer wat gevul moet word. Ouers staan in werklikheid voor ’n keuse; hulle kan die “emmer” by die huis vul met die sedelike beginsels en opvattings wat hulle voel gepas is of hulle kan toelaat dat die stortvloed idees buite die huis die kind se verstand en hart vul.
Wat is die geheim?
Die geskiedenis toon dat godsdiens die potensiaal het om onverdraagsaamheid en haat aan te stook. Hoe kan ouers dan die uitkoms vermy wat Jonathan Swift beskryf het? Hoe kan hulle hulle kinders opvattings leer wat hulle sal help om ander lief te hê?
Die geheim lê in die antwoorde op drie vrae: (1) Wat moet kinders leer? (2) Wie moet hulle leer? (3) Watter onderrigmetodes is die doeltreffendste?
[Voetnoot]
Hierdie studie is gebaseer op inligting wat ingewin is by meer as 21 000 kinders in die Verenigde State asook by hulle ouers en onderwysers.