Wie moet kinders van God leer?
“’n Leerling is nie bo sy leermeester nie, maar elkeen wat volmaak onderrig is, sal soos sy leermeester wees.”—LUKAS 6:40.
PARTY ouers voel onbevoeg om hulle kinders van God te leer. Hulle dink dalk dat hulle nie geleerd genoeg is of nie genoeg oor godsdiens weet om goeie onderrigters te wees nie. Gevolglik is hulle dalk geneig om hierdie noodsaaklike taak aan ’n familielid of aan ’n godsdiensleier oor te laat.
Maar wie is in werklikheid in die beste posisie om kinders godsdienswaarhede en sedelike beginsels te leer? Kyk na wat die Bybel hieroor sê en vergelyk dit met wat navorsers bevind het.
Wat is ’n vader se rol?
Wat die Bybel leer: “Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die dissipline en onderrig van die Here.”—Efesiërs 6:4, “Holman Christian Standard Bible”.
Wat navorsers bevind het: Hoe vind vaders daarby baat as hulle sterk godsdiensoortuigings opbou? Die artikel Fathers’ Religious Involvement and Early Childhood Behavior, wat in 2009 gepubliseer is, het gesê: “Betrokkenheid by ’n geloofsgemeenskap kan mans help om beter vaders te word. Godsdiens voorsien aan mense sosiale ondersteuning en standaarde, asook ’n stel leringe en riglyne waarvolgens hulle kan lewe.”
Die Bybel lê groot klem op die belangrikheid van ’n vader se rol in die grootmaak en opvoeding van kinders (Spreuke 4:1; Kolossense 3:21; Hebreërs 12:9). Maar is hierdie raad vandag relevant? In 2009 het die Universiteit van Florida ’n artikel gepubliseer oor die invloed wat vaders op hulle kinders het. Die navorsers het bevind dat kinders met vaders wat daadwerklik by hulle opvoeding betrokke is, meer waarskynlik medelydend sal wees en ’n beter gevoel van eiewaarde sal hê. Seuns was minder geneig om hulle sleg te gedra, en meisies sou meer waarskynlik beter geestesgesondheid geniet. Die Bybel se raad is beslis nog relevant.
Hoe belangrik is ’n moeder se rol?
Wat die Bybel leer: “Moenie die wet van jou moeder verlaat nie.”—Spreuke 1:8.
Wat navorsers bevind het: In 2006 het die Handbook of Child Psychology gesê: “Moeders bestee gemiddeld 65% tot 80% meer tyd aan direkte persoonlike interaksie met hulle jong kinders as vaders, en dit is die geval in baie lande.” Omdat ’n moeder soveel kontak met haar kind het, het haar woorde, dade en gesindhede ’n groot uitwerking op haar kind se ontwikkeling.
As ’n moeder en vader saamwerk om hulle kinders die waarheid oor God te leer, gee hulle hulle ten minste twee kosbare gawes. Eerstens, die kinders kry die geleentheid om ’n vriendskap met hulle hemelse Vader op te bou, ’n vriendskap wat hulle hulle hele lewe lank tot voordeel kan strek. Tweedens, die kinders leer deur hulle ouers se voorbeeld hoe ’n man en vrou moet saamwerk om belangrike doelwitte te bereik (Kolossense 3:18-20). Hoewel ander persone ’n vader en moeder kan help, is dit die ouers se verantwoordelikheid om hulle kinders te leer van God en van hoe God wil hê ’n gesin moet funksioneer.
Maar hoe moet ouers hulle kinders leer? Watter metodes is waarskynlik die doeltreffendste?