Kom nader aan God
Hy is gedagtig dat “ons stof is”
“EK HET nie geglo dat Jehovah my ten volle kon vergewe nie, en ek het gedink dat ek hierdie las vir die res van my lewe sou dra.” Dit is wat een Christenvrou geskryf het oor foute wat sy in die verlede gemaak het. Ja, ’n skuldige gewete is ’n swaar las om te dra. Die Bybel bied egter vertroosting wat die pyn van berouvolle sondaars kan verlig. Kyk na die woorde van die psalmis Dawid in Psalm 103:8-14.
Dawid het geweet dat ‘Jehovah barmhartig is’ en dat hy ons nie “vir altyd verwyt” nie (verse 8-10). Wanneer God ’n grondslag vind om barmhartigheid te bewys, doen hy dit ten volle en sonder voorbehoud. Dawid, ’n begaafde digter, gebruik drie vergelykings om God se oorvloedige barmhartigheid teenoor ons te illustreer.
“Soos die hemel hoër is as die aarde, is sy liefderyke goedhartigheid groter teenoor dié wat hom vrees” (vers 11). Wanneer ons na die naghemel opkyk, kan ons ons nie die groot afstand tussen die sterrehemel en die aarde voorstel nie. Hier beklemtoon Dawid die omvang van Jehovah se barmhartigheid, ’n faset van sy lojale liefde. Hierdie barmhartigheid word betoon teenoor ‘dié wat God vrees’—diegene wat “’n nederige, hartgrondige respek vir sy gesag” het, sê een geleerde.
“So ver as die sonsopgang verwyderd is van die sonsondergang, so ver het hy ons oortredings van ons verwyder” (vers 12). Ander vertalings gee dit soos volg weer: “So ver as die ooste van die weste af is”. Hoe ver is dit? So ver as wat ons ons kan voorstel. Een Bybelnaslaanwerk sê: “Vlieg so ver as wat die vleuels van jou verbeelding jou kan dra, en as jy ooswaarts deur die lug reis, is jy met elke vlerkslag verder van die weste.” Dawid sê hier vir ons dat wanneer God ons sondes vergewe, hy dit so ver van ons af verwyder as wat ons ons moontlik kan voorstel.
“Soos ’n vader barmhartigheid aan sy kinders bewys, het Jehovah barmhartigheid bewys aan dié wat hom vrees” (vers 13). Dawid, wat self ’n vader was, het geweet hoe ’n liefdevolle vader in sy hart voel. So ’n vader word beweeg om medelye aan sy kinders te betoon, veral wanneer hulle pyn verduur. Dawid verseker ons dat ons liefdevolle hemelse Vader barmhartigheid aan sy aardse kinders bewys, veral wanneer hulle berouvolle harte ‘gebroke en verbryseld’ is as gevolg van hulle sondes.—Psalm 51:17.
Ná die drie vergelykings openbaar Dawid wat Jehovah beweeg om barmhartigheid aan onvolmaakte mense te bewys: “Hy weet goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is” (vers 14). Jehovah weet dat ons van stof gemaak is en swakhede en beperkings het. Jehovah neem ons sondige natuur in ag en is dus “vergewensgesind”—solank ons opregte berou toon.—Psalm 86:5.
Het Dawid se woorde oor Jehovah se barmhartigheid jou hart geraak? Die vrou wat aan die begin van die artikel aangehaal is, het bestudeer wat die Bybel oor God se vergewensgesindheid leer, en sy is beweeg om te sê: “Ek begin voel dat ek werklik nader aan Jehovah kan kom, en dit voel asof ’n las van my skouers gelig is.”* Vind gerus meer uit oor God se barmhartigheid en hoe jy dit kan ontvang. Miskien sal dit ook vir jou voel asof ’n las van jou skouers gelig word.
Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Augustus:
[Voetnoot]
Sien hoofstuk 26, “’n God wat ‘vergewensgesind’ is”, van die boek Kom nader aan Jehovah, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Lokteks op bladsy 13]
“Ek begin voel dat ek werklik nader aan Jehovah kan kom, en dit voel asof ’n las van my skouers gelig is”