Die Bybel verander lewens
WAAROM het ’n voormalige poligamis en teenstander van Jehovah se Getuies besluit om ’n Getuie te word? Wat het ’n predikant van die Pinksterkerk beweeg om sy opvattings te verander? Wat het ’n vrou met ’n tragiese agtergrond gehelp om haar selfhaat te bowe te kom en nader aan God te kom? Waarom het ’n heavy metal-entoesias ’n godsdiensbedienaar geword? Lees hierdie verslae om die antwoorde te vind.
‘Ek het ’n beter huweliksmaat geword.’—RIGOBERT HOUETO
GEBORE: 1941
GEBOORTELAND: BENIN
GESKIEDENIS: POLIGAMIS, TEENSTANDER VAN JEHOVAH SE GETUIES
MY VERLEDE:
Ek kom van Cotonou, ’n groot stad in Benin. Ek is as ’n Katoliek grootgemaak, maar het nie gereeld kerk toe gegaan nie. Baie Katolieke waar ek gewoon het, het meer as een vrou gehad, aangesien poligamie destyds wetlik erken was. Ek het uiteindelik met vier vrouens getrou.
Toe ’n revolusie in die 1970’s uitgebreek het, het ek gedink dat dit my land tot voordeel sou strek. Ek het die revolusie ten volle ondersteun en by die politiek betrokke geraak. Die revolusioniste het nie van Jehovah se Getuies gehou nie omdat die Getuies polities neutraal gebly het. Ek was onder diegene wat die Getuies vervolg het. Toe Getuiesendelinge in 1976 uit die land verban is, was ek seker dat hulle nooit sou terugkeer nie.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:
Die revolusie het in 1990 tot ’n einde gekom. Tot my verbasing het Getuiesendelinge kort voor lank hulle opwagting gemaak. Ek het begin dink dat God dalk met hierdie mense is. Omtrent daardie tyd het ek van werk verander. Een van my nuwe kollegas was ’n Getuie, en dit was nie lank voordat hy vir my begin preek het nie. Hy het vir my Bybelverse gewys wat Jehovah as ’n God van liefde en geregtigheid beskryf (Deuteronomium 32:4; 1 Johannes 4:8). Ek het hierdie eienskappe aantreklik gevind. Ek wou meer oor Jehovah leer, en daarom het ek die aanbod van ’n Bybelstudie aanvaar.
Kort voor lank het ek die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon. Die opregte liefde wat ek gesien het, het my beïndruk—daar is geen onderskeid getref tussen verskillende rasse of sosiale klasse nie. Hoe meer ek met die Getuies geassosieer het, hoe duideliker het dit geword dat hulle Jesus se ware volgelinge is.—Johannes 13:35.
Ek het besluit dat ek die Katolieke Kerk sou moes verlaat as ek Jehovah wou dien. Dit was nie vir my maklik nie, want ek was bang vir wat ander sou dink. Ná ’n lang tyd en met Jehovah se hulp het ek die moed bymekaargeskraap en die kerk verlaat.
Daar was egter nog ’n groot verandering wat ek moes maak. Ek het uit my studie van die Bybel geleer dat God nie poligamie goedkeur nie (Genesis 2:18-24; Matteus 19:4-6). In sy oë was slegs my eerste huwelik geldig. Ek het dus hierdie huwelik wetlik laat registreer en my ander vrouens weggestuur en gereël dat daar in hulle materiële behoeftes voorsien word. Mettertyd het twee van my voormalige vrouens Jehovah se Getuies geword.
HOE EK BAAT GEVIND HET:
Hoewel my vrou nog steeds ’n Katoliek is, respekteer sy my besluit om Jehovah te dien. Ons albei voel dat ek ’n beter huweliksmaat geword het.
Ek het voorheen gedink dat ek my gemeenskap deur die politiek kan verbeter, maar daardie pogings was tevergeefs. Nou sien ek dat God se Koninkryk die enigste oplossing vir die mens se probleme is (Matteus 6:9, 10). Ek is dankbaar teenoor Jehovah omdat hy my gewys het hoe om ’n waarlik gelukkige lewe te lei.
“Dit was nie maklik om die nodige veranderinge te maak nie.”—ALEX LEMOS SILVA
GEBORE: 1977
GEBOORTELAND: BRASILIË
GESKIEDENIS: PINKSTERPREDIKANT
MY VERLEDE:
Ek is grootgemaak in die buitewyke van Itu, in die staat São Paulo. Hierdie deel van die stad was berug vir sy hoë misdaadsyfer.
Ek was verskriklik gewelddadig en onsedelik. Wat meer is, ek was betrokke by die dwelmhandel. Mettertyd het ek besef dat so ’n lewe my óf in die tronk óf in die graf sou laat beland, daarom het ek opgehou. Ek het toe by die Pinksterkerk aangesluit en het uiteindelik ’n predikant geword.
Ek het gedink dat ek mense werklik kan help deur my bediening by die kerk. Ek het selfs ’n godsdiensprogram oor die gemeenskapsradiostasie uitgesaai, met die gevolg dat ek baie bekend geword het in die gebied. Maar ek het geleidelik begin besef dat die kerk in sy geheel nie in die welsyn van sy lidmate belangstel nie—dit het nog minder daarin belanggestel om God te vereer. Ek het gevoel dat die kerk net daarop uit was om geld in te samel. Ek het besluit om uit die kerk te bedank.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:
Toe ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, kon ek onmiddellik sien dat hulle van ander godsdienste verskil. Daar was twee dinge wat my opgeval het. Eerstens, Jehovah se Getuies praat nie net oor liefde vir God en naaste nie; hulle betoon dit. Tweedens, hulle raak nie betrokke by die politiek of oorlog nie (Jesaja 2:4). Hierdie twee feite het my oortuig dat ek die ware godsdiens gevind het—die smal pad wat na die ewige lewe lei.—Matteus 7:13, 14.
Ek het besef dat ek ’n paar groot veranderinge sou moes maak as ek God wou behaag. Ek moes meer aandag aan my gesin gee. Ek moes ook nederiger word. Dit was nie maklik om die nodige veranderinge te maak nie, maar met Jehovah se hulp het ek dit reggekry. My vrou was beïndruk deur hierdie veranderinge. Sy het die Bybel voor my begin studeer, maar toe sy my vordering sien, het sy vinniger in haar studie vooruitgang gemaak. Kort voor lank het ons al twee geweet dat ons Jehovah se Getuies wil word. Ons is op dieselfde dag gedoop.
HOE EK BAAT GEVIND HET:
Dit verskaf my en my vrou groot vreugde om ons drie kinders te help om ’n hegte vriendskap met Jehovah op te bou. Ons is ’n gelukkige gesin. Ek dank Jehovah omdat hy my na die waarheid in sy Woord, die Bybel, getrek het. Dit verander werklik mense se lewens! Ek is lewende bewys hiervan.
“Ek voel skoon, lewendig en heel.”—VICTORIA TONG
GEBORE: 1957
GEBOORTELAND: AUSTRALIË
GESKIEDENIS: TRAGIESE KINDERJARE
MY VERLEDE:
Ek het grootgeword in Newcastle, Nieu-Suid-Wallis. Ek is die oudste van sewe kinders. My pa was ’n gewelddadige alkoholis en my ma was ook gewelddadig. My ma het my fisies en verbaal mishandel. Sy het herhaaldelik vir my gesê dat ek sleg is en in die helse vuur gefolter sal word. Sulke dreigemente het my baie bang gemaak.
My ma het my so beseer dat ek dikwels van die skool afwesig was. Toe ek 11 was, is ek van my ouers af weggeneem en eers in ’n staatsinrigting en later in ’n klooster geplaas. Toe ek 14 geword het, het ek van die klooster af weggeloop. Ek wou nie teruggaan huis toe nie, en daarom het ek op die strate van Kings Cross, ’n voorstad van Sydney, gewoon.
Terwyl ek op straat gewoon het, het ek betrokke geraak by dwelms, alkohol, pornografie en prostitusie. Een ondervinding wat ek gehad het, was werklik vreesaanjaend. Ek het in die woonstel van ’n nagklubeienaar gebly. Een aand het twee mans hom kom sien. Hy het my na die slaapkamer toe gestuur, maar ek kon hulle gesprek hoor. Die nagklubeienaar het reëlings getref om my aan hierdie mans te verkoop. Hulle sou my op ’n vragskip wegsteek en my na Japan neem om in ’n kroeg te werk. Ek het paniekbevange van die balkon afgespring en gehardloop om hulp te soek.
Ek het ’n man gevind wat Sydney besoek het en het my situasie aan hom verduidelik, in die hoop dat hy my ’n bietjie geld sou gee. In plaas daarvan het hy my na sy blyplek genooi sodat ek kon stort en iets kon eet. Maar op die ou end het ek daar gebly. ’n Jaar later is ons getroud.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:
Toe ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het ek ’n wye verskeidenheid emosies ervaar. Ek was kwaad toe ek geleer het dat Satan die oorsaak van boosheid is; ek is altyd geleer dat God die een is wat ons lyding veroorsaak. Ek was baie verlig toe ek geleer het dat hy mense nie in ’n helse vuur straf nie, ’n lering wat my nog altyd vreeslik bang gemaak het.
Ek was beïndruk omdat die Getuies al hulle besluite op die Bybel baseer. Hulle leef hulle geloof uit. Ek was ’n moeilike mens, maar ongeag wat ek gesê of gedoen het, die Getuies het my met liefde en respek behandel.
My grootste stryd was met gevoelens van waardeloosheid. Ek het myself gehaat en het lank ná my doop as een van Jehovah se Getuies nog steeds so gevoel. Ek het geweet dat ek Jehovah liefhet, maar ek was oortuig dat hy nooit vir iemand soos ek kan lief wees nie.
Daar was ’n keerpunt in my lewe ongeveer 15 jaar ná my doop. Gedurende ’n toespraak by ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies het die spreker na Jakobus 1:23, 24 verwys. Hierdie verse vergelyk God se Woord met ’n spieël waarin ons onsself kan sien soos Jehovah ons sien. Ek het begin wonder of my beskouing van myself verskil van Jehovah se beskouing van my. Aanvanklik wou ek nie hierdie nuwe idee aanvaar nie. Ek het nog steeds gevoel dat ek nie van Jehovah kan verwag om vir my lief te wees nie.
’n Paar dae later het ek ’n teks gelees wat my lewe verander het. Die vers was Jesaja 1:18, waar Jehovah sê: “Kom nou, en laat ons sake regstel tussen ons. . . . Al sou julle sondes soos skarlaken wees, dit sal wit soos sneeu gemaak word.” Dit het vir my gevoel asof Jehovah met my praat en sê: “Kom nou, Vicky, laat ons sake regstel tussen ons. Ek ken jou, ek ken jou sondes, ek ken jou hart—en ek is lief vir jou.”
Daardie nag kon ek nie slaap nie. Ek het nog steeds getwyfel dat Jehovah vir my kan lief wees, maar ek het oor Jesus se losprysoffer begin nadink. Skielik het ek besef dat Jehovah baie lank met my geduldig was en op soveel maniere vir my gewys het dat hy my liefhet. Maar ek het in werklikheid vir hom gesê: “U liefde is nie groot genoeg om my in te sluit nie. U Seun se offerande is nie genoeg om my sondes te dek nie.” Dit was asof ek Jehovah se voorsiening van die losprys van die hand gewys het. Maar toe het dit uiteindelik vir my begin voel dat Jehovah vir my lief is toe ek oor hierdie gawe van die losprys begin peins het.
HOE EK BAAT GEVIND HET:
Ek voel skoon, lewendig en heel. My huwelik het verbeter, en ek is bly dat ek my ondervinding kan gebruik om ander te help. Ek voel dat ek al hoe nader aan Jehovah kom.
‘Dit was die antwoord op my gebed.’—SERGEI BOTANKIN
GEBORE: 1974
GEBOORTELAND: RUSLAND
GESKIEDENIS: HEAVY METAL-ENTOESIAS
MY VERLEDE:
Ek is gebore in Wotkinsk, die geboorteplek van die beroemde komponis Pjotr Iljitsj Tsjaikofski. Ons gesin was arm. My pa het talle goeie eienskappe gehad, maar hy was ’n alkoholis en daarom was daar altyd ’n gespanne atmosfeer in die huis.
Ek was nie juis ’n goeie student nie, en oor die jare het ek ’n minderwaardigheidskompleks ontwikkel. Ek het teruggetrokke geword en het ander nie vertrou nie. Dit was baie stresvol om skool toe te gaan. Wanneer ek byvoorbeeld voor die klas moes praat, kon ek dikwels nie eers eenvoudige begrippe oordra nie wat ek op ander tye maklik kon verduidelik. Toe ek met graad agt klaargemaak het, het daar op my rapport gestaan: “Beperkte woordeskat, kan nie sy gedagtes uitdruk nie.” Daardie woorde het my verpletter en het my selfs meer waardeloos laat voel. Ek het oor die doel van my lewe begin wonder.
Gedurende my tienerjare het ek alkohol begin drink. Aanvanklik het dit my goed laat voel. Maar wanneer ek te veel gedrink het, het my gewete my gepla. My lewe het sinloos gelyk. Ek het al hoe depressiewer begin voel en partykeer het ek dae lank nie die huis verlaat nie. Ek het dit begin oorweeg om selfmoord te pleeg.
Toe ek 20 was, het ek ’n nuwe maar tydelike bron van verligting gevind. Ek het heavy metal-musiek ontdek. Die musiek het my weer lus gemaak vir die lewe, en ek het ander opgesoek wat ook daarna geluister het. Ek het my hare laat groei, gaatjies in my ore laat skiet en aangetrek soos die musikante wat ek bewonder het. Ek het geleidelik roekeloos en aggressief geword en dikwels met my gesin gestry.
Ek het gedink dat dit my gelukkig sou maak om na heavy metal-musiek te luister, maar net die teenoorgestelde het gebeur. Ek het ’n ander mens begin word! En toe ek slegte dinge hoor oor die musieksterre wat ek bewonder het, het ek verraai gevoel.
Ek het weer eens aan selfmoord begin dink—hierdie keer het ek dit ernstig oorweeg. Die enigste ding wat my gekeer het, was die gedagte aan hoe dit my ma sou raak. Sy het my baie liefgehad, en sy het soveel vir my gedoen. Ek het die situasie folterend gevind. Ek wou nie aanhou lewe nie, maar ek kon nie my lewe beëindig nie.
As afleiding het ek klassieke Russiese literatuur begin lees. Een storie het oor ’n held gehandel wat in ’n kerk gedien het. Ek het skielik ’n brandende begeerte gehad om iets vir God en vir ander mense te doen. Ek het my hart in gebed voor God uitgestort, iets wat ek nog nooit tevore gedoen het nie. Ek het God gevra om my te wys hoe ek ’n sinvolle lewe kan lei. Gedurende daardie gebed het ek ’n merkwaardige gevoel van verligting ervaar. Maar wat volgende gebeur het, was selfs merkwaardiger. Slegs twee uur daarna het een van Jehovah se Getuies aan my deur geklop en my ’n Bybelstudie aangebied. Ek glo dat dit die antwoord op my gebed was. Dit was die eerste dag van ’n nuwe, gelukkige lewe vir my.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:
Hoewel dit baie moeilik was, het ek alles weggegooi wat met heavy metal-musiek te doen gehad het. Maar ek kon die musiek vir ’n lang tyd nie vergeet nie. Wanneer ek ook al verby ’n plek gestap het waar daardie musiek gespeel het, het dit my onmiddellik aan my verlede laat dink. Ek wou nie hê dat daardie onaangename herinneringe vermeng moes word met al die goeie dinge wat nou in my verstand en hart begin wortelskiet het nie. Daarom het ek sulke plekke doelbewus vermy. En wanneer ek ook al gevind het dat ek oor die verlede begin dink, het ek vurig gebid. Dit het my gehelp om “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”, te geniet.—Filippense 4:7.
In my Bybelstudie het ek geleer dat Christene ’n verpligting het om ander van hulle geloof te vertel (Matteus 28:19, 20). Ek was vas oortuig dat ek dit nooit sou kon doen nie. Terselfdertyd het die nuwe dinge wat ek geleer het, my groot geluk en innerlike vrede gegee. Ek het geweet dat ander ook hierdie waarhede moet leer. Ten spyte van my vrees het ek met ander begin praat oor die dinge wat ek geleer het. Tot my groot verbasing het dit my in werklikheid meer selfvertroue gegee om met ander oor die Bybel te praat. Dit het ook my geloof in hierdie nuwe opvattings versterk.
HOE EK BAAT GEVIND HET:
Ek is nou gelukkig getroud en het die vreugde gehad om ’n aantal mense te help om van die Bybel te leer, onder andere my suster en my ma. Om God te dien en ander te help om van hom te leer, het my lewe waarlik sinvol gemaak.