Het jy geweet?
Wat het Jesus bedoel toe hy vir Saulus gesê het: “Om teen die prikkels te bly skop, maak dit vir jou moeilik”?—Handelinge 26:14.
▪ In Bybeltye het boere prikkels gebruik om hulle trekdiere te rig terwyl hulle geploeg het. Die prikkel was ’n stok wat dalk twee en ’n half meter lank was en ’n skerp metaalpunt gehad het. As die dier teen die prikkel gestoot het, het dit seergekry. Die ander kant het dikwels ’n beitelagtige lem gehad wat gebruik kon word om grond, klei of plantmateriaal van die ploegskaar te verwyder.
Soms is prikkels as wapens gebruik. Die Israelitiese rigter en krygsman Samgar het 600 Filistyne “met ’n veedrywerstok”, oftewel ’n prikkel, doodgemaak.—Rigters 3:31.
Die Skrif praat ook van hierdie instrument in figuurlike sin. Koning Salomo het byvoorbeeld geskryf dat die woorde van ’n wyse persoon “soos osprikkels” kan wees en ’n metgesel kan aanspoor om die regte besluit te neem.—Prediker 12:11.
Die verrese Jesus het soortgelyke beeldspraak gebruik. Hy het vir Saulus, ’n vervolger van die Christene, gesê om nie “teen die prikkels te bly skop” nie. Hierdie uitdrukking laat ’n mens dink aan ’n steeks dier wat onwillig is om na die bevele van sy eienaar te luister. Saulus het wyslik ag geslaan op Jesus se raad, sy lewensweg verander en die apostel Paulus geword.
Hoe het die eerste-eeuse Jode gedurende die nag tyd gemeet?
▪ Jode wat in die eerste eeu HJ gelewe het, kon op ’n onbewolkte dag ’n sonwyser gebruik om die verloop van tyd te meet. Maar wanneer dit bewolk was of wanneer dit nag geword het, het hulle ’n clepsydra, of waterklok, gebruik. Buiten die Jode het die eertydse Egiptenare, Perse, Grieke en Romeine ook hierdie toestel gebruik.
Volgens The Jewish Encyclopedia noem die Misjna sowel as die Talmoed die clepsydra “by verskillende name, moontlik om ’n onderskeid te tref tussen verskillende vorme en ontwerpe, maar dit het altyd na dieselfde ding verwys; naamlik, dat die water stadig, druppel vir druppel, ontsnap—of letterlik, gesteel word—wat die betekenis van ‘clepsydra’ in Grieks is”.
Hoe het ’n clepsydra gewerk? Water het van een houer met ’n klein gaatjie onderin in ’n ander houer gevloei. ’n Waarnemer kon die verloop van tyd meet deur te kyk na die watervlak in die boonste of die onderste houer, wat moontlik albei ’n skaalverdeling gehad het.
In Romeinse militêre kampe is sulke horlosies gebruik om die nagwake te bepaal. Die aflossing van die wag is deur ’n trompetstoot aangedui. Enigiemand binne hoorafstand sou geweet het wanneer elkeen van die vier nagwake begin en geëindig het.—Markus 13:35.