Die laaste vyand, die dood, word tot niet gemaak
“As die laaste vyand gaan die dood tot niet gemaak word.”—1 KOR. 15:26.
1, 2. Watter toestande het Adam en Eva oorspronklik geniet, en watter vrae ontstaan?
TOE Adam en Eva geskep is, het hulle absoluut geen vyande gehad nie. Hulle was volmaakte mense wat in ’n paradys gewoon het. Hulle het ’n hegte verhouding met hulle Skepper as sy seun en dogter geniet (Gen. 2:7-9; Luk. 3:38). Die opdrag wat God hulle gegee het, het aangedui wat hulle lewensvooruitsigte is. (Lees Genesis 1:28.) Om ‘die aarde te vul en dit te onderwerp’, kon binne ’n sekere tydperk verrig word. Maar om ‘al die diere wat op die aarde kruip, aan hulle onderworpe te hê’, sou Adam en Eva vir ewig moes lewe, wat sou beteken dat Adam nooit sy toesig sou hoef prys te gee deur te sterf nie.
2 Waarom is toestande dan nou so anders? Waarom is daar soveel vyande wat die mens se vreugde bederf, waarvan die grootste vyand die dood is? Wat sou God doen om hierdie vyande tot niet te maak? Die antwoorde op hierdie en verwante vrae kan in die Bybelverslag gevind word. Kom ons kyk na ’n paar belangrike gedeeltes daarvan.
’N LIEFDEVOLLE WAARSKUWING
3, 4. (a) Watter bevel het God aan Adam en Eva gegee? (b) Hoe belangrik was gehoorsaamheid aan hierdie bevel?
3 Hoewel Adam en Eva die vooruitsig gehad het om vir ewig te lewe, was hulle nie onsterflik nie. Om te bly lewe, moes hulle asemhaal, drink, slaap en eet. Nog belangriker, hulle lewe het afgehang van hulle verhouding met hulle Lewegewer (Deut. 8:3). Dit was noodsaaklik dat hulle God se leiding aanvaar as hulle wou voortgaan om die lewe te geniet. Jehovah het dit vir Adam duidelik gemaak selfs voordat Eva geskep is. Hoe? “Jehovah God het aan die mens ook hierdie bevel gegee: ‘Van al die bome van die tuin mag jy tot versadiging toe eet. Maar wat die boom van die kennis van goed en kwaad betref, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf.’”—Gen. 2:16, 17.
4 “Die boom van die kennis van goed en kwaad” het God se reg voorgestel om te besluit wat goed en wat sleg is. Adam het natuurlik reeds ’n sin vir goed en sleg gehad; hy is na God se beeld geskep en het ’n gewete gehad. Die boom sou vir Adam en Eva ’n teken wees dat hulle altyd Jehovah se leiding sou nodig hê. As hulle van die boom sou eet, sou dit ’n verklaring van sedelike onafhanklikheid wees, wat hulle en hulle nageslag ontsettende skade sou berokken. God se bevel en die gepaardgaande straf het getoon hoe ernstig so ’n weg sou wees.
HOE DIE DOOD OOR DIE MENSDOM GEKOM HET
5. Hoe is Adam en Eva oorgehaal om ongehoorsaam te wees?
5 Nadat Eva geskep is, het Adam haar vertel van God se bevel. Sy het dit goed geken en kon dit byna woord vir woord herhaal (Gen. 3:1-3). Sy het dít gedoen voor iemand wat hom as ’n slang, ’n versigtige dier, voorgedoen het. Die een agter die slang was Satan die Duiwel, ’n geesseun van God wat toegelaat het dat ’n begeerte na onafhanklikheid en persoonlike mag in hom posvat en groei. (Vergelyk Jakobus 1:14, 15.) Om sy bose doeleindes te bereik, het hy God van leuens beskuldig. Hy het Eva verseker dat sy nie sou sterf as sy onafhanklikheid nastreef nie, maar dat sy eerder soos God sou word (Gen. 3:4, 5). Eva het hom geglo, haar onafhanklik verklaar deur van die vrug te eet en Adam oorreed om dit ook te doen (Gen. 3:6, 17). Die Duiwel het gelieg. (Lees 1 Timoteus 2:14.) Adam het egter na sy “vrou se stem geluister”. Hoewel dit dalk gelyk het asof die slang ’n vriend is, was Satan die Duiwel in werklikheid ’n wrede vyand wat geweet het wat die dodelike gevolge van sy voorstel aan Eva sou wees.
6, 7. Hoe het Jehovah opgetree toe hy die oortreders veroordeel het?
6 Adam sowel as Eva het om selfsugtige redes in opstand gekom teen die Een aan wie hulle hulle lewe en alle ander dinge te danke gehad het. Jehovah was natuurlik bewus van alles wat gebeur het. (1 Kron. 28:9; lees Spreuke 15:3.) Hy het toegelaat dat daardie drie persone toon hoe hulle oor hom voel. Dit het Jehovah as ’n Vader ongetwyfeld diep seergemaak. (Vergelyk Genesis 6:6.) Toe moes hy as Regter optree en die straf voltrek wat hy vir ongehoorsaamheid vasgestel het.
7 God het vroeër vir Adam gesê: “Die dag as jy [van die boom van die kennis van goed en kwaad] eet, sal jy sekerlik sterf.” Adam het waarskynlik gedink dat hierdie “dag” ’n dag van 24 uur sou wees. Nadat hy God se bevel oortree het, het hy moontlik verwag dat Jehovah voor sonsondergang sou optree. Jehovah het “omstreeks die tyd van die dag wanneer daar ’n briesie waai”, met die egpaar kom praat (Gen. 3:8). Hy het hulle as ’t ware verhoor en die feite bevestig op grond van die antwoorde wat Adam en Eva gegee het (Gen. 3:9-13). Toe het hy oordeel oor die oortreders uitgespreek (Gen. 3:14-19). As hy hulle dadelik tereggestel het, sou sy voorneme in verband met Adam en Eva en hulle nageslag onvervuld gebly het (Jes. 55:11). Hoewel hy die doodstraf bevestig het en die gevolge van sonde onmiddellik in werking getree het, het hy Adam en Eva toegelaat om kinders te hê wat kon baat vind by ander voorsienings wat Hy sou maak. Vanuit God se standpunt het Adam en Eva dus gesterf die dag toe hulle gesondig het, en hulle het in werklikheid binne een “dag” van 1 000 jaar gesterf.—2 Pet. 3:8.
8, 9. Watter uitwerking het Adam se sonde op sy nageslag gehad? (Sien die prent aan die begin van die artikel.)
8 Sou Adam en Eva se daad ’n uitwerking op hulle kinders hê? Ja. Romeine 5:12 verduidelik dat ‘die sonde deur een mens in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde en die dood só tot alle mense deurgedring het omdat hulle almal gesondig het’. Die eerste mens wat gesterf het, was die getroue Abel (Gen. 4:8). Toe het Adam se ander nakomelinge oud geword en gesterf. Het hulle die sonde sowel as die dood geërf? Die apostel Paulus antwoord: “Baie [is] deur die ongehoorsaamheid van die een mens sondaars gemaak” (Rom. 5:19). Die sonde en die dood wat van Adam geërf is, het dus onversetlike vyande van die mensdom geword, waaraan onvolmaakte mense nie kan ontkom nie. Ons weet nie presies hoe hierdie ellendige nalatenskap aan Adam se onmiddellike en latere nakomelinge oorgedra is nie, maar dit is beslis oorgedra.
9 Die Bybel verwys gepas na oorgeërfde sonde en die dood as “die omhulling . . . wat al die volke omhul, en die weefsel wat oor al die nasies geweef is” (Jes. 25:7). Hierdie verstikkende weefsel, of omhulling, hierdie ingewikkelde web van verdoeming, verstrik alle mense. Die feit is dus dat “almal in Adam sterf” (1 Kor. 15:22). Die vraag wat logieserwys ontstaan, is die een wat Paulus gevra het: “Wie sal my red van die liggaam wat hierdie dood ondergaan?” Kon enigiemand?a—Rom. 7:24.
ADAMITIESE SONDE EN DIE DOOD WORD TOT NIET GEMAAK
10. (a) Meld ’n paar Bybelverse wat toon dat Jehovah die Adamitiese dood tot niet sal maak. (b) Wat openbaar hierdie verse oor Jehovah en sy Seun?
10 Ja, Jehovah kon Paulus red. Onmiddellik nadat Jesaja “die omhulling” gemeld het, het hy geskryf: “Hy sal die dood vir ewig verswelg, en die Soewereine Heer Jehovah sal beslis die trane van alle gesigte afvee” (Jes. 25:8). Soos ’n pa wat die oorsaak van sy kinders se lyding uit die weg ruim en hulle trane afdroog, verskaf dit Jehovah groot vreugde om die Adamitiese dood tot niet te maak! En hy het ’n medewerker hierin. Eerste Korintiërs 15:22 sê: “Net soos almal in Adam sterf, só sal almal ook in die Christus lewend gemaak word.” Nadat Paulus gevra het: “Wie sal my red?” het hy ook gesê: “Aan God die dank deur middel van Jesus Christus, ons Here!” (Rom. 7:25). Dit is duidelik dat die liefde wat Jehovah beweeg het om die mens te skep, nie afgekoel het weens Adam en Eva se opstand nie. En die een wat Jehovah gehelp het toe Hy die eerste mensepaar geskep het, het nie sy spesiale liefde vir hulle nageslag verloor nie (Spr. 8:30, 31). Maar hoe sou hierdie redding bewerkstellig word?
11. Watter voorsiening het Jehovah gemaak om die mensdom te help?
11 Menslike onvolmaaktheid en die dood is die gevolg van Adam se sonde en van Jehovah se regverdige oordeel (Rom. 5:12, 16). Ons lees: “Deur een oortreding [het dit] vir alle soorte mense tot veroordeling gelei” (Rom. 5:18). Wat kon Jehovah doen om sy ongunstige oordeel te verwyder sonder om sy eie standaarde te ignoreer? Ons vind die antwoord in Jesus se woorde: “Die Seun van die mens [het] gekom . . . om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matt. 20:28). Jehovah se eerste geesseun het dit duidelik gemaak dat hy, aangesien hy as ’n volmaakte mens op die aarde gebore is, ’n losprys sou voorsien. Hoe sou hierdie losprys aan die vereistes van geregtigheid voldoen?—1 Tim. 2:5, 6.
12. Wat was die ooreenstemmende losprys wat aan die vereistes van geregtigheid voldoen het?
12 As ’n volmaakte mens was Jesus se vooruitsigte soortgelyk aan dié van Adam voordat hy gesondig het. Jehovah se voorneme was om die aarde met Adam se volmaakte nageslag te vul. Uit innige liefde vir sy Vader en Adam se nakomelinge het Jesus dus sy menselewe as ’n offerande gegee. Ja, Jesus het afstand gedoen van ’n volmaakte menselewe wat ooreengestem het met wat Adam verloor het. Daarna het Jehovah sy Seun opgewek as ’n gees (1 Pet. 3:18). Jehovah kon tereg die offerande van daardie een volmaakte man, Jesus, as ’n losprys, of koopprys, aanvaar om Adam se familie terug te koop en hulle die lewensvooruitsigte te gee wat Adam verbeur het. Jesus het in sekere sin Adam se plek ingeneem. Paulus verduidelik: “So staan daar ook geskrywe: ‘Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword.’ Die laaste Adam het ’n lewegewende gees geword.”—1 Kor. 15:45.
13. Hoe sal “die laaste Adam” optree om die dooies te help?
13 Die tyd sal uiteindelik aanbreek wanneer “die laaste Adam” as “’n lewegewende gees” teenoor die mensdom oor die algemeen sal optree. Die meerderheid van Adam se nageslag sal uit die dood opgewek word. Waarom? Omdat hulle reeds gelewe en gesterf het. Hulle sal dus ’n opstanding moet kry, dit wil sê tot lewe op die aarde herstel moet word.—Joh. 5:28, 29.
14. Watter voorsiening van Jehovah sal die onvolmaaktheid wat Adam aan sy nageslag oorgedra het, help verwyder?
14 Hoe sal die mensdom bevry word van hulle stryd teen oorgeërfde onvolmaaktheid? Jehovah het ’n Koninkryksregering opgerig wat bestaan uit “die laaste Adam” en metgeselle wat uit die mensdom gekies is. (Lees Openbaring 5:9, 10.) Diegene wat saam met Jesus in die hemel sal regeer, weet wat dit beteken om onvolmaak te wees. Jesus en sy medeheersers sal die mense op die aarde duisend jaar lank help om die onvolmaaktheid te oorkom wat hulle nie op hulle eie kon oorwin nie.—Op. 20:6.
15, 16. (a) Waarna verwys ‘die laaste vyand, die dood’, en wanneer sal dit tot niet gemaak word? (b) Wat sal Jesus dan volgens 1 Korintiërs 15:28 doen?
15 Teen die einde van die duisend jaar van Koninkryksheerskappy sal die gehoorsame mensdom bevry wees van al die vyande wat Adam se ongehoorsaamheid oor hulle gebring het. Die Bybel sê: “Net soos almal in Adam sterf, só sal almal ook in die Christus lewend gemaak word. Maar elkeen in sy eie rangorde: Christus, die eersteling, daarna dié wat aan die Christus behoort [sy medeheersers] gedurende sy teenwoordigheid. Daarna die einde, wanneer hy die koninkryk aan sy God en Vader oorgee, wanneer hy alle regering en alle gesag en mag tot niet gemaak het. Want hy moet as koning heers totdat God alle vyande onder sy voete gestel het. As die laaste vyand gaan die dood tot niet gemaak word” (1 Kor. 15:22-26). Ja, die dood wat van Adam geërf is, sal uiteindelik tot niet gemaak word. “Die omhulling” wat die hele mensdom verstrik, sal vir ewig uit die weg geruim wees.—Jes. 25:7, 8.
16 Die apostel Paulus sluit sy geïnspireerde opsomming met hierdie woorde af: “Wanneer alles aan hom onderwerp is, dan sal die Seun self hom ook onderwerp aan die Een wat alles aan hom onderwerp het, sodat God alles vir elkeen kan wees” (1 Kor. 15:28). Die doel van die Seun se heerskappy sal verwesenlik wees. Hy sal dan, met groot tevredenheid, sy gesag aan Jehovah teruggee en die volmaakte mensegesin aan hom oorhandig.
17. Wat sal uiteindelik met Satan gedoen word?
17 Wat van Satan, die een wat oorspronklik al die lyding wat die mensdom ondervind, veroorsaak het? Openbaring 20:7-15 voorsien die antwoord. Gedurende ’n finale toets waaraan al die volmaakte mense onderwerp sal word, sal Satan toegelaat word om hulle te probeer mislei. Die Duiwel en diegene wat hom volg, sal vir ewig in “die tweede dood” vernietig word (Op. 21:8). Omdat diegene in die greep van hierdie dood nooit weer sal lewe nie, sal dit nooit tot niet gemaak word nie. “Die tweede dood” is egter nie ’n vyand van mense wat hulle Skepper liefhet en hom dien nie.
18. Hoe sal die opdrag wat God Adam gegee het, voltooi word?
18 Die volmaakte mensdom sal dan voor Jehovah staan met sy volle goedkeuring om vir ewig te lewe, sonder enige vyande. Die opdrag wat aan Adam gegee is, sal sonder hom voltooi wees. Die aarde sal vol wees van sy nageslag, wat dit sal geniet om daaroor toesig te hou en hulle in die talle lewensvorme daarop sal verheug. Mag ons nooit ons waardering verloor vir Jehovah se liefdevolle voorsiening om die laaste vyand, die dood, tot niet te maak nie!
a Aangaande wetenskaplikes se pogings om die oorsaak van veroudering en die dood te verklaar, sê Insight on the Scriptures: “Hulle sien die feit oor die hoof dat die Skepper self die eerste mensepaar die doodstraf opgelê het en dat hy hierdie straf op ’n manier voltrek wat die mens nie heeltemal verstaan nie.”—Deel 2, bl. 247.