VOORBLADONDERWERP | JESUS RED—WAARVAN RED HY ONS?
Jesus se dood en opstanding—Wat dit vir jou kan beteken
“Glo in die Here Jesus en jy sal gered word.”—Handelinge 16:31.
Dit is wat die apostel Paulus en Silas vir ’n tronkbewaarder in die Masedoniese stad, Filippi, gesê het. Wat beteken hierdie woorde? Om te verstaan hoe geloof in Jesus met redding verband hou, moet ons eers verstaan waarom ons sterf. Kyk na wat die Bybel leer.
Mense was nie veronderstel om te sterf nie
“Jehovah God het . . . die mens geneem en hom in die tuin van Eden geplaas om dit te bewerk en daarvoor te sorg. En Jehovah God het aan die mens ook hierdie bevel gegee: ‘Van al die bome van die tuin mag jy tot versadiging toe eet. Maar wat die boom van die kennis van goed en kwaad betref, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf.’”—Genesis 2:15-17.
God het die eerste mens, Adam, in die tuin van Eden geplaas, ’n aardse paradys met ’n oorvloed dierelewe en pragtige plantelewe. Daar was vrugtebome waarvan Adam vryelik kon eet. Maar Jehovah God het Adam uitdruklik verbied om van ’n spesifieke boom te eet en hom gewaarsku dat hy sou sterf as hy daarvan eet.
Het Adam hierdie verbod verstaan? Hy het geweet wat die dood is, want hy het gesien hoe diere doodgaan. As Adam geskep is om uiteindelik dood te gaan, sou God se waarskuwing nie veel beteken het nie. Maar Adam het besef dat hy vir ewig sal lewe as hy aan God gehoorsaam is en nie van die boom eet nie—hy sou nie sterf nie.
Party glo dat die boom geslagsomgang gesimboliseer het, maar dit kan nie waar wees nie. Jehovah het immers vir Adam en sy vrou, Eva, gesê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit” (Genesis 1:28). Die verbod was op ’n letterlike boom van toepassing. Jehovah het dit “die boom van die kennis van goed en kwaad” genoem omdat dit sy reg voorgestel het om te bepaal wat goed of kwaad is. As Adam nie van die vrugte van daardie boom geëet het nie, sou hy sy gehoorsaamheid getoon het sowel as sy waardering vir die Een wat hom geskep het en so ryklik geseën het.
Adam het gesterf omdat hy aan God ongehoorsaam was
“Vir Adam het [God] gesê: ‘Omdat jy . . . van die boom begin eet het waarvan ek jou hierdie bevel gegee het . . . in die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy na die grond terugkeer, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.’”—Genesis 3:17, 19.
Adam het van die boom geëet wat vir hom verbode was. Hierdie daad van ongehoorsaamheid was baie ernstig—hy het in opstand gekom; hy het totale minagting getoon vir al die goeie dinge wat Jehovah vir hom gedoen het. Deur daardie vrug te eet, het Adam Jehovah verwerp en ’n weg van onafhanklikheid gekies, wat rampspoedige gevolge sou hê.
Net soos Jehovah voorspel het, het Adam uiteindelik gesterf. God het Adam “uit stof van die aarde” gevorm en vir hom gesê dat hy “na die grond [sal] terugkeer”. Adam het nie in ’n ander vorm of op ’n ander plek voortgeleef nie. By sy dood het hy net so leweloos geword soos die stof waaruit hy gevorm is.—Genesis 2:7; Prediker 9:5, 10.
Ons sterf omdat ons nakomelinge van Adam is
“Deur een mens [het] die sonde in die wêreld ingekom . . . en die dood deur die sonde en die dood [het] só tot alle mense deurgedring . . . omdat hulle almal gesondig het.”—Romeine 5:12.
Adam se ongehoorsaamheid—of sonde—het verreikende gevolge gehad. Deur te sondig, het Adam nie net ’n gewone lewe van 70 of 80 jaar verloor nie, maar die vooruitsig om vir ewig te lewe. Wat meer is, toe Adam gesondig het, het hy volmaaktheid verloor en kon hy net onvolmaaktheid aan sy nakomelinge oordra.
Ons almal is nakomelinge van Adam. By hom het ons, nie uit eie keuse nie, ’n onvolmaakte liggaam geërf wat geneig is tot sonde en uiteindelik doodgaan. Paulus het ons benarde situasie goed beskryf. Hy het gesê: “Ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. Ellendige mens wat ek is! Wie sal my red van die liggaam wat hierdie dood ondergaan?” Paulus beantwoord dan sy eie vraag: “Aan God die dank deur middel van Jesus Christus, ons Here!”—Romeine 7:14, 24, 25.
Jesus het sy lewe gegee sodat ons vir ewig kan lewe
“Die Vader [het] sy Seun as Redder van die wêreld uitgestuur.”—1 Johannes 4:14.
Jehovah God het dit vir ons moontlik gemaak om die gevolge van sonde te oorkom en van die straf van ewige dood bevry te word. Hoe? Deur sy geliefde Seun uit die hemel te stuur om, soos Adam, as ’n volmaakte mens gebore te word. Maar anders as Adam het Jesus “geen sonde begaan nie” (1 Petrus 2:22). Omdat hy volmaak was, was hy nie onder die straf van die dood nie en sou hy vir ewig as ’n volmaakte mens kon lewe.
Maar dit het nie gebeur nie; Jehovah het toegelaat dat Jesus deur sy vyande doodgemaak word. Drie dae later het Jehovah hom as ’n gees opgewek sodat hy ná verloop van tyd na die hemel kon terugkeer. Daar het Jesus die waarde van sy volmaakte menselewe vir God aangebied om terug te koop wat Adam vir hom en sy nakomelinge verloor het. Jehovah het daardie offerande aanvaar, wat dit vir diegene wat geloof in Jesus beoefen, moontlik maak om die ewige lewe te ontvang.—Romeine 3:23, 24; 1 Johannes 2:2.
Jesus het dus teruggekoop wat Adam verbeur het. Hy het vir ons gesterf sodat ons vir ewig kan lewe. Die Bybel sê: “Jesus [het] die dood ondergaan . . . sodat hy deur God se onverdiende goedhartigheid vir elke mens die dood sou smaak.”—Hebreërs 2:9.
Hierdie voorsiening openbaar baie oor Jehovah. Weens sy hoë standaard van geregtigheid was dit nie vir onvolmaakte mense moontlik om hulleself los te koop nie. Maar sy liefde en barmhartigheid het hom beweeg om aan sy eie vereistes te voldoen, wat ’n groot opoffering van hom geverg het—hy het sy eie Seun gegee om die loskoopprys te voorsien.—Romeine 5:6-8.
Jesus is uit die dode opgewek, en ander sal ook opgewek word
“Christus [is] uit die dode opgewek, die eersteling van dié wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur ’n mens is, is die opstanding van die dooies ook deur ’n mens. Want net soos almal in Adam sterf, só sal almal ook in die Christus lewend gemaak word.”—1 Korintiërs 15:20-22.
Daar bestaan geen twyfel dat Jesus geleef en gesterf het nie, maar watter bewyse is daar dat hy uit die dode opgewek is? Een van die grootste bewyse is die feit dat Jesus ná sy opstanding by verskillende geleenthede en op verskillende plekke aan baie mense verskyn het. Eenkeer het hy aan meer as 500 mense verskyn. Die apostel Paulus het in sy brief aan die Korintiërs daaroor geskryf en gesê dat party van daardie getuies nog geleef het. Hulle sou dus getuienis kon lewer oor wat hulle gesien en gehoor het.—1 Korintiërs 15:3-8.
Toe Paulus geskryf het dat Christus “die eersteling” is van dié wat opgewek is, het hy aangedui dat ander ook later opgewek sal word. Jesus het self gesê dat die tyd sal aanbreek wanneer “almal wat in die gedenkgrafte is”, sal uitkom.—Johannes 5:28, 29.
Om vir ewig te lewe, moet ons geloof in Jesus beoefen
“God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.
Die eerste Bybelboek praat van die tyd toe die dood in die wêreld ingekom het en die Paradys verloor is. Die laaste Bybelboek praat van die tyd wanneer die dood tot niet gemaak sal word en God die aarde tot ’n paradys sal herstel. Dan sal mense vir ewig gelukkige, produktiewe lewens kan lei. Openbaring 21:4 sê: “Die dood sal daar nie meer wees nie.” Om die betroubaarheid van hierdie belofte te beklemtoon, sê vers 5: “Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig.” Jehovah is heeltemal in staat om sy beloftes te vervul.
Glo jy dat “hierdie woorde . . . betroubaar en waaragtig” is? Leer dan meer omtrent Jesus Christus en beoefen geloof in hom. As jy dit doen, sal jy Jehovah se goedkeuring verkry. Jy sal nou sy ryk seën ondervind, en jy sal die hoop op ewige lewe in die aardse Paradys hê, waarvan die Bybel sê: “Die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie.”