Onthou jy?
Het jy die onlangse nommers van Die Wagtoring noukeurig gelees? Wel, kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord:
Van watter soort sonde het Jesus gepraat toe hy die raad in Matteus 18:15-17 gegee het?
Hy het gepraat van sake wat tussen die betrokke partye opgelos kan word. Maar die sonde is ernstig genoeg om tot uitsetting te lei as die saak nie opgelos word nie. Die sonde kan dinge soos bedrog of laster insluit.—w16.05, bl. 7.
Wat kan jy doen om meer baat te vind by Bybellees?
Lees met ’n oop gemoed en soek na lesse wat jy kan toepas. Vra jou af: ‘Hoe kan ek dit gebruik om ander te help?’ Gebruik die beskikbare hulpmiddels om navorsing te doen oor die materiaal wat jy so pas gelees het.—w16.05, bl. 28-30.
Is dit verkeerd vir ’n Christen om te treur, aangesien hy aan die opstanding glo?
Al glo ’n Christen aan die opstanding, sal hy dalk nog steeds groot droefheid ervaar. Abraham het getreur oor die dood van Sara (Gen. 23:2). Mettertyd sal die droefheid minder word.—wp16.3, bl. 4.
Wie word afgebeeld deur die man met ’n sekretaris se inkhoring en die ses manne met wapens om mee te verbrysel, wat in Esegiël hoofstuk 9 gemeld word?
Hulle beeld die hemelse magte af wat betrokke was by die vernietiging van Jerusalem en wat betrokke sal wees by die vernietiging by Armageddon. In die hedendaagse vervulling stel die man met die inkhoring Jesus Christus voor, wat diegene merk wat sal oorleef.—w16.06, bl. 31-32.
Ondanks watter bedreigings het die Bybel behoue gebly?
Dit het behoue gebly (1) al kon die materiaal waarop geskryf is, soos papirus en perkament, verweer; (2) al het politieke en godsdiensleiers dit probeer vernietig; en (3) al het party mense probeer om die boodskap te verander.—wp16.4, bl. 4-7.
Hoe kan ’n Christen sy lewe vereenvoudig?
Bepaal wat jy werklik nodig het, en raak ontslae van onnodige uitgawes. Stel ’n realistiese begroting op. Raak ontslae van dinge wat jy nie gebruik nie, en betaal jou skuld af. Probeer jou werksure verminder, en beplan hoe jy meer in die bediening kan doen.—w16.07, bl. 10.
Wat is volgens die Bybel baie beter as goud of silwer?
Job 28:12, 15 toon dat goddelike wysheid beter is as goud of silwer. Probeer om nederig te bly en jou geloof sterk te hou terwyl jy daarna soek.—w16.08, bl. 18-19.
Is dit vandag gepas vir ’n broer om ’n baard te dra?
In sommige kulture is ’n netjiese baard miskien aanvaarbaar en sal dit dalk nie afbreuk doen aan die Koninkryksboodskap nie. En tog besluit party broers dalk om nie ’n baard te dra nie (1 Kor. 8:9). In ander kulture en plekke word baarde as onaanvaarbaar vir Christenbedienaars beskou.—w16.09, bl. 21.
Waarom kan ons die Bybelverslag oor Dawid en Goliat glo?
Goliat was net 15 sentimeter langer as die langste man waarvan daar in hedendaagse tye ’n rekord is. Die feit dat Dawid ’n werklike persoon was, word bevestig deur ’n eertydse inskripsie wat melding maak van die huis van Dawid asook deur Jesus se woorde. Besonderhede oor die terrein is ook akkuraat.—wp16.5, bl. 13.
Wat is die verskil tussen kennis, begrip en wysheid?
Iemand met kennis het inligting, of feite, ingeneem. Iemand met begrip kan sien hoe een feit met ’n ander verband hou. Maar iemand met wysheid kan kennis en begrip saam gebruik en goeie besluite neem.—w16.10, bl. 18.