Behou sterk geloof deur persoonlike Studie
1 Studie van die Bybel is net so noodsaaklik vir jou geestelike gesondheid en sterk geloof as wat ’n behoorlike dieet vir jou liggaamlike welstand is. Jy kan nie geestelik sterk wees sonder om gereeld persoonlike studie van die Bybel te doen nie. Daarbenewens stel goeie studiegewoontes ons in staat om sterk geloof te behou en dus Satan se vurige pyle van vervolging, materialisme en versoekinge om te doen wat verkeerd is met welsale af te weer.—Ef. 6:16.
VOORDELE VAN PERSOONLIKE STUDIE
2 Persoonlike Studie verryk ons begrip van die Skrif. Dit help ons om sterk geloof op te bou en die breedte en lengte en hoogte en diepte van die liefde van Christus te begryp (Rom. 11:33; Ef. 3:16-19). Geloof, as ’n vrug van die gees, word ’n aansporende krag in ons lewens. Ons word gehelp om ons met die nuwe persoonlikheid te beklee en ons soos geestelike persone te gedra (Gal. 5:22; Ef. 4:24). Ons is beter toegerus om persoonlike probleme die hoof te bied. Ons word in staat gestel om die tekortkominge van ander oor te sien en vrede en eenheid in die gemeente te bevorder (Kol. 3:10, 13, 14). Dit alles kan ons en ander verkwik.
3 Persoonlike Studie rus ons ook beter toe om belangstellendes wat ons in die velddiens teëkom te help. Ons sal met vrymoedigheid ‘verantwoording kan doen aan elkeen wat van ons rekenskap eis omtrent die hoop wat in ons is’ (1 Pet. 3:15). Soos ons Voorbeeld, Christus Jesus, kan ons praat soos een wat gesag het omdat ons juiste kennis het van Jehovah se wil en in staat is om duidelik en logies te toon wat die Bybel leer.—Matt. 7: 28, 29.
HOE EN WANNEER OM TE STUDEER
4 Ons moet daarna streef om meer te doen as om net die studiemateriaal te lees. Dit verg tyd om na te dink oor wat ons lees. Vra jou af: Hoe is die materiaal op my van toepassing? Wat openbaar dit omtrent Jehovah, sy hoedanighede en sy weë? Hoe kan ek hierdie informasie gebruik om ander te help? Hoe hou dit verband met wat ek reeds van die onderwerp weet? Deur navorsing te doen om vrae te beantwoord, sal ons die studiemateriaal beter verstaan en sien hoe dit inpas by die geheelbeeld van die waarheid. So verkry ons insig.—Spr. 4:5.
5 As ons ’n goeie studierooster wil hê, moet ons spesifleke tye opsy sit vir studie en daar by hou. (Vergelyk Filippense 3:16.) Party sal dit dalk moeilik vind, maar dit word makliker met tyd en inspanning. En hoe lonend is dit tog! Miskien kan jy studeer voordat jy gaan slaap. Party verkies om soggens ’n bietjie vroëer op te staan en van hierdie stilte gebruik te maak. Etensure by die werk kan benut word. Watter tyd jy ook al gebruik, soek ’n omgewing wat bevorderlik vir studie is. Dit sal jou in staat stel om te konsentreer, en jy sal dinge makliker onthou. Sodoende kan die hart beweeg word om regverdig te wees.—Spr. 15:28.
WAT OM TE STUDEER
6 Voorbereiding vir ons vyf weeklikse vergaderinge moet ’n belangrike plek in ons persoonlike studierooster inneem. Trek jy, benewens jou voorbereiding vir die Wagtoring-studie en Gemeentelike Boekstudie, volle voordeel uit die ryk geestelike voedsel wat vir die Teokratiese Bedieningskool uiteengesit word? Hou tred met die toegewese Skrifgedeelte en staan tyd af om Bybelglanspunte in die Genootskap se publikasies na te vors. As jy die materiaal vir toesprake 1, 3 en 4 vooraf deurgaan, sal jy die skoolprogram interessanter vind. Belangrike Bybelinstruksie sal dieper op jou verstand ingeprent word.
7 Voorbereiding vir die Diensvergadering verg nie baie van ons persoonlike studietyd nie, maar tyd daarvoor moet ook by ons rooster ingesluit word. As jy elke week slegs ’n paar minute gebruik om die program in Ons Koninkryksbediening te hersien, sal dit jou help om jou geloof sterk te hou en om jou geloof in die veldbediening in woorde uit te druk.
8 ’n Gebalanseerde rooster vir persoonlike studie sal jou help om ’met krag versterk te word in die innerlike mens’ (Ef. 3:16). Ja, sterk geloof, inniger liefde vir Jehovah en Christus Jesus, breer kennis en groter bekwaamheid in die bediening—al hierdie voordele en nog meer maak persoonlike studie die moeite werd. Het jy ’n goeie rooster vir persoonlike studie?