Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 8/89 bl. 3
  • Gebruik jy wat jy het?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gebruik jy wat jy het?
  • Ons Koninkryksbediening—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HOE DAAR NOU IN ONS GEESTELIKE BEHOEFTES VOORSIEN WORD
  • WEES ’N DADER​—NIE ’N VERGEETAGTIGE HOORDER NIE
  • HOE ONS ONS VELDDIENS KAN VERBETER
  • Ons almal moet studeer
    Ons Koninkryksbediening—1990
  • Hoe om navorsing te doen
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Vind ten volle baat by Jehovah se voorsienings
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Gebruik die Index om geestelik te groei
    Ons Koninkryksbediening—1987
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1989
km 8/89 bl. 3

Gebruik jy wat jy het?

1 Jesus Christus het sy dissipels leiding gegee oor sake wat met ware aanbidding verband hou. Lukas het aangaande Jesus se gesprek met twee van sy dissipels gesê dat Jesus ‘in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het, uitgelê het’ (Luk. 24:27, 32, 45). Die dissipels was beslis grootliks verkwik en versterk deur sy onderrig. Jesus moes hulle egter mettertyd verlaat. Hoe sou hulle God se geskrewe Woord sonder hom kon verstaan? Sou hulle weet hoe om dit in hulle lewe toe te pas?

2 Jesus het sy dissipels nie aan hulle eie lot oorgelaat sodat hulle op hul eie onvolmaakte oordeel moes steun nie. Hulle het spoedig tot die besef gekom dat Jesus, tydens sy verblyf saam met hulle op aarde, ’n oorvloed van informasie voorsien het wat doeltreffend gebruik kon word om hulle leiding te gee oor ’n wye verskeidenheid sake. Hulle kon onderskei wat hulle moes doen wanneer hulle ‘sy woorde onthou het’ (Luk. 24:8; Joh. 14:26). Baie van Jesus se woorde is mettertyd tot ons voordeel in God se Woord opgeteken.

3 Namate die Christengemeente begin funksioneer het, het diegene wat die leiding geneem het die broers gehelp om te onthou wat Jesus hulle vroeër geleer het. In sy tweede brief het Petrus geskryf: “In albei wil ek deur herinnering julle suiwere gesindheid opwek, sodat julle die woorde kan onthou wat deur die heilige profete tevore gespreek is, en die gebod van ons, apostels van die Here en Verlosser” (2 Pet. 3:1, 2). In die meeste gevalle, selfs wanneer uiters belangrike sake bespreek is, moes hulle dus bloot gebruik wat reeds voorsien is.​—Hand. 15:12-21.

4 Sulke onderrig het nooit kragteloos of ouderwets geword nie. Jehovah het sy volk met die verloop van die jare progressief ’n duideliker begrip van sy wil gegee (Spr. 4:18). Die organisasie het aanpassings in begrip goed verduidelik en duidelike bewyse gegee. In al hierdie dinge het die grondbeginsels dieselfde gebly. Dit is waarom Jesus se Bergpredikasie byvoorbeeld vandag nog net so prakties is as wat dit was toe dit feitlik 2 000 jaar gelede gegee is. Nuwe openbarings van waarheid is nie nodig nie, aangesien ons reeds voorsien is van wat nodig is.

HOE DAAR NOU IN ONS GEESTELIKE BEHOEFTES VOORSIEN WORD

5 Sedert die 1870’s het die hedendaagse Christengemeente progressief ’n duideliker begrip van Jehovah se Woord gekry. Met die verloop van die jare het ’n groot verskeidenheid vrae opgekom wat duidelike antwoorde vereis het. “Die getroue en verstandige dienskneg” het sulke “voedsel op tyd” voorsien (Matt. 24:45). Vrae is een vir een deeglik in die lig van Bybelwaarheid nagevors, en spesifieke leiding is vir Jehovah se volk voorsien. Al hierdie informasie is deur die publikasies van die teokratiese organisasie, veral Die Wagtoring, aan ons oorgedra.

6 As ’n mens dink aan wat met die verloop van die jare uitgegee is, is dit duidelik dat die Genootskap se publikasies reeds riglyne voorsien het oor feitlik enige Bybelonderwerp waaraan ’n mens kan dink. Leerstellings is deeglik ondersoek. Beginsels wat Christelike gedrag rig, is duidelik uiteengesit. En die vereistes vir die uitvoering van die groot predikingswerk is sorgvuldig omskrywe. Gevolglik is ’n skat van Bybelinformasie tot voordeel van almal versamel. Die Watchtower- en Awake!-bundels is byvoorbeeld ’n skatkamer van onderrig. As ons die Watchtower- en Awake!-bundels van 1960 tot 1988 het, het ons in werklikheid ’n ensiklopedie met 58 dele vol noodsaaklike skriftuurlike kennis asook informasie oor talle ander onderwerpe. Die rubriek “Vrae van lesers” het etlike honderde vrae ondersoek. Ons kan nouliks ’n onderwerp meld wat nie op die een of ander manier in een van die publikasies gedek is nie. Wanneer ons dus leiding op ’n sekere manier nodig het, moet ons gewoonlik bloot terugdink aan wat in die verlede onder ons aandag gebring is.

7 Nogtans kan dit ’n reusetaak wees om die spesifieke informasie wat ons op daardie oomblik nodig het te soek as ons op ons eie geheue moet staatmaak. Gelukkig het die Genootskap die Watch Tower Publications Index 1930-1985 voorsien wat ons kan gebruik om spesifieke besonderhede binne ’n paar minute te vind. Die Index verwys na meer as 200 publikasies wat oor ’n tydperk van 56 jaar uitgegee is. Het jy geleer om die Index te gebruik om informasie wat jy nodig het te soek? Daar is ook jaarlikse saakregisters in Die Wagtoring van 15 Desember en Ontwaak! van 22 Desember, en sommige publikasies het hulle eie saakregister.

WEES ’N DADER​—NIE ’N VERGEETAGTIGE HOORDER NIE

8 Die organisasie help ons deur middel van sy publikasies om te verstaan wat Jehovah se wil is. Ons moet daders wees en toepas wat ons leer eerder as om vergeetagtige hoorders te wees (Jak. 1:25). Ons moet die dinge wat onder ons aandag gebring word, nie as onderrig beskou wat na vlugtige oorweging tersyde gestel en vergeet kan word nie. Ons moet eerder luister met die doel om dit te herroep wanneer dit in die toekoms nodig is. As ons dit wil doen, “is dit noodsaaklik dat ons meer as die gewone aandag skenk aan die dinge wat ons gehoor het”.​—Hebr. 2:1, NW.

9 Hoe ‘skenk ons meer as die gewone aandag’? Die Wagtoring van 15 Maart 1989, bladsy 14, verduidelik: (1) Ons moet Jehovah se organisasie waardeer en dit toon deur ons samewerking en gereelde vergaderingbywoning. (2) Ons moet God se Woord ywerig bestudeer, asook die publikasies wat deur die diensknegklas voorsien word. (3) Dit is belangrik om te peins oor die dinge wat ons leer sodat ons dit in ons lewe kan toepas en kan gebruik om ander te help.

10 Die publikasies voorsien voortdurend onderrig oor hoe om die uitdagings wat ons teëkom die hoof te bied terwyl ons ons gesinne grootmaak, sedelik rein probeer bly, en in ons handelinge met ander. Hoe reageer jy op daardie onderrig? Waardeer jy dit, en neem jy sorgvuldig kennis van dinge wat persoonlik op jou van toepassing is? Of beskou jy dit bloot as iets vlugtigs, van verbygaande aard? Waardering behoort ons te beweeg om die informasie in te neem en daaroor te peins sodat ons dit later kan herroep en ten volle kan gebruik.​—Jes. 48:17.

11 Ons moet meer doen as om net te lees wat voorsien word. Dit kan dikwels heel vlugtig en oppervlakkig wees. Ons moet dit eerder bestudeer. Om te studeer, beteken dat jy jou gedagtes stelselmatig op ’n onderwerp vestig om dit vir toekomstige gebruik te leer, om iets te oorweeg met die doel om tot handeling oor te gaan. Dit beteken dat ons gesindheid ten opsigte van die materiaal in werklikheid bepaal hoe diep dit by ons verstande ingeskerp en in ons daaglikse lewe toegepas sal word. Wanneer ons studeer, moet ons voortdurend vra: Hoe is dit op my van toepassing? Hoe kan ek dit gebruik om geestelik vordering te maak? Watter veranderinge moet ek aanbring? Hoe kan ek dit gebruik om ander te help? Hoe sal ek dit aan ander verduidelik?

HOE ONS ONS VELDDIENS KAN VERBETER

12 Ons Koninkryksbediening ondersoek gereeld die behoeftes en neigings in die velddiens, en wys op maniere wat ons sal help om die beste resultate te verkry. Is jy geneig om die onderrig daarin net tot die volgende nommer as geldig of toepaslik te beskou aangesien dit maandeliks uitgegee word? Een van die fundamentele doelwitte in die bediening was nog altyd om mense se harte met die Koninkryksboodskap te bereik. Mense se belangstellings, emosies en gesindhede het met die jare wesenlik dieselfde gebly. ’n Groot verskeidenheid metodes kan doeltreffend gebruik word om belangstelling te wek. Ons Koninkryksbediening maak ons eenvoudig bewus van wat ander met welslae gebruik. Hoewel ’n aantal variasies deur die jare voorgestel is, het die basiese metodes dieselfde gebly. Huidige wenke is dalk in die verlede gegee, en hulle kan weer in die toekoms gebruik word.

13 Nog ’n puik voorsiening is die Redenering-boek. Bladsy 8 verduidelik: “Die gebruik van hierdie handboek behoort jou te help om die vermoë aan te kweek om uit die Skrif te redeneer en om dit effektief te gebruik om ander te help.” Baie verkondigers het vreugdevolle ondervindinge vertel wat toon hoe hierdie boek gebruik is om uiters bevredigende resultate te verkry. Die informasie hierin is prakties vir gebruik in feitlik enige situasie wat ons in ons bediening teëkom. Dit sal uiters voordelig wees om gekose dele te hersien voordat jy elke week aan die velddiens deelneem. Ons moet altyd ’n eksemplaar in ons velddienssak hou. Daar is ook al aanbeveel dat ons dit insluit onder die publikasies wat ons gereeld na die vergaderinge bring. As ons dit altyd beskikbaar het en met die inhoud daarvan vertroud is, wend ons werklik ’n poging aan om “vir elke goeie werk volkome toegerus” te wees.​—2 Tim. 3:17.

14 Ons toon waardering vir wat Jehovah voorsien het deur dit goed in ons bediening te gebruik. Noodsaaklike geestelike voedsel asook leiding in ons bediening is oorvloedig beskikbaar gestel. Ons moet “oor hierdie dinge peins; daarin verdiep wees” (1 Tim. 4:15, NW). Dit sal ons in staat stel om op die gepaste tyd die dinge wat ons nodig het te herroep. Wanneer ons hulp nodig het om dit te onthou, het ons publikasies wat daarop gemik is om ons geheue te verfris. Pleks van altyd iets nuuts te verwag, moet ons dank uitspreek vir wat ons het en dit ten volle gebruik. As ons dit doen, toon ons dat ons ryp mense is “wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei”.​—Hebr. 5:14.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel