Ontwikkel jou vermoë om met ander te redeneer
1. Watter Bybelverslag gaan ons bespreek, en waarom?
1 Ons vind ’n goeie voorbeeld van hoe om met ander te redeneer in die apostel Paulus se toespraak wat hy in ’n sinagoge in Antiogië van Pisidië gehou het, soos in Handelinge 13:16-41 opgeteken is. Paulus het die agtergrond en die denke van sy gehoor in ag geneem en sy aanbieding van die goeie nuus daarby aangepas. Terwyl ons hierdie verslag bespreek, kan ons kyk na hoe ons dieselfde in ons bediening kan doen.
2. Wat leer ons uit die manier waarop Paulus sy toespraak begin het?
2 Vind ’n gemeenskaplike grondslag: Hoewel Paulus se boodskap gedraai het om die sleutelrol wat Jesus in die vervulling van God se voorneme speel, het hy nie sy toespraak begin deur dit te meld nie. Hy het eerder gepraat oor iets waarmee sy gehoor, wat hoofsaaklik uit Jode bestaan het, hulle kon vereenselwig—die geskiedenis van die Joodse volk (Hand. 13:16-22). Net so sal ons met groter welslae tot ander deurdring as ons ’n gemeenskaplike grondslag probeer vind. Om dit te doen, moet ons hulle dalk deur taktvolle vrae aanspoor om hulle mening te lug en dan aandagtig luister sodat ons kan agterkom wat werklik vir hulle belangrik is.
3. Waarom was dit vir Paulus se gehoor moeilik om te aanvaar dat Jesus die beloofde Messias was?
3 Terwyl Paulus die geskiedenis van die Jode bespreek het, het hy sy gehoor herinner aan God se belofte om ’n Redder uit Dawid se geslagslyn te verwek. Baie Jode het egter ’n krygsheld verwag wat die juk van Romeinse oorheersing sou verbreek en die Joodse nasie bo alle ander nasies sou verhef. Hulle was ongetwyfeld bewus van die feit dat Jesus deur die Joodse godsdiensleiers in Jerusalem verwerp, aan die Romeinse owerheid oorgelewer en doodgemaak is. Hoe kon Paulus hulle oortuig dat hierdie Een die beloofde Messias was?
4. Hoe het Paulus op ’n bekwame wyse met sy Joodse gehoor geredeneer?
4 Pas jou benadering aan: Omdat Paulus geweet het wat sy gehoor dink, het hy die Skrif gebruik om met hulle te redeneer op grond van dinge wat hulle reeds aanvaar het. Hy het byvoorbeeld Jesus bekend gestel as die nakomeling van Dawid en as die een wat geïdentifiseer is deur Johannes die Doper, wat deur baie mense as ’n profeet van God beskou is (Hand. 13:23-25). Paulus het daarop gewys dat die godsdiensleiers “die dinge vervul [het] wat deur die Profete uitgespreek is” toe hulle Jesus verwerp en ter dood veroordeel het (Hand. 13:26-28). Verder het hy verduidelik dat daar ooggetuies was dat Jesus uit die dode opgewek is, en hy het die aandag op bekende Skrifgedeeltes gevestig wat in Jesus se opstanding vervul is.—Hand. 13:29-37.
5. (a) Hoe het Paulus sy benadering aangepas toe hy met ’n Griekse gehoor gepraat het? (b) Hoe kan ons Paulus se voorbeeld navolg wanneer ons in die plaaslike gebied getuig?
5 Paulus het egter ’n ander benadering gebruik toe hy ’n Griekse gehoor op die Areopagus in Atene toegespreek het (Hand. 17:22-31). Tog het hy dieselfde basiese boodskap oorgedra, en in al twee gevalle het sy pogings goeie resultate opgelewer (Hand. 13:42, 43; 17:34). Ons sal vandag eweneens groter welslae in ons bediening behaal as ons ’n gemeenskaplike grondslag probeer vind en as ons ons benadering by ons gehoor se agtergrond en denke aanpas.