Toon persoonlike belangstelling—deur goeie oogkontak
1 Wanneer ons in die openbaar en van huis tot huis getuig, maak ons dikwels oogkontak met mense voordat ons begin praat. In daardie kort oomblik sal ons dalk uit hulle gesigsuitdrukking kan aflei hoe hulle oor ons teenwoordigheid voel en selfs in watter bui hulle is. Hulle kan ook baie omtrent ons agterkom. ’n Vrou het die volgende oor die besoek van ’n Getuie gesê: “Wat ek omtrent haar glimlaggende gesig onthou, is die vrede. Dit het my nuuskierig gemaak.” Gevolglik het die vrou na die goeie nuus geluister.
2 Om met ander oogkontak te maak, is ’n doeltreffende manier om ’n getuienis te begin gee wanneer ’n mens straatwerk doen of op ander openbare plekke getuig. Een broer kyk na die oë van diegene wat na hom toe aankom. Wanneer hy oogkontak maak, glimlag hy, en dan bied hy die tydskrifte aan. Met hierdie benadering geniet hy talle aangename gesprekke en versprei hy baie lektuur.
3 Let op ander se gevoelens: As ons oogkontak behou, sal dit ons help om op ander se gevoelens te let. Byvoorbeeld, as iemand sukkel om ons te verstaan of nie saamstem met iets wat ons gesê het nie, sal ons dit gewoonlik op sy gesig kan sien. As hy besig is of ongeduldig raak, sal ons dit agterkom deur na sy gesigsuitdrukking te kyk. Ons kan dan ons aanbieding dienooreenkomstig aanpas of verkort. ’n Goeie manier om persoonlike belangstelling in ander te toon, is om hulle gevoelens in ag te neem.
4 Opregtheid en oortuiging: In baie kulture word die feit dat ’n mens iemand in die oë kyk, as ’n teken van opregtheid beskou. Let op hoe Jesus gereageer het toe sy dissipels gevra het: “Wie kan dan gered word?” Die Bybel sê: “Jesus het hulle reguit in die oë gekyk en vir hulle gesê: ‘By mense is dit onmoontlik, maar by God is alles moontlik’” (Matt. 19:25, 26). Die oortuiging in Jesus se oë het ongetwyfeld krag aan sy woorde verleen. Net so sal goeie oogkontak ons help om die Koninkryksboodskap met opregtheid en oortuiging oor te dra.—2 Kor 2:17; 1 Tess. 1:5.