Wandel as wyses
1 Toe Jesus vier vissermanne gevra het om sy volgelinge te wees, het hulle nie hulle besluit uitgestel nie, maar hom “dadelik . . . gevolg” (Matt. 4:18-22). Toe Saulus van Tarsus hom bekeer het en later weer kon sien, het hy ook nie getalm nie, maar hy het “Jesus onmiddellik in die sinagoges begin verkondig” (Hand. 9:20). Tyd beweeg voortdurend vorentoe; as dit eers verby is, is dit vir ewig verlore. Daarom is dit belangrik dat ons ‘as wyses wandel’ met betrekking tot hoe ons ons tyd benut.—Ef. 5:15, 16.
2 Onvoorsiene gebeurtenisse: Die geleenthede wat ons vandag het om Jehovah te dien, is môre dalk nie meer daar nie (Jak. 4:14). Niemand kan “onvoorsiene gebeurtenisse” vryspring nie (Pred. 9:11). Daarbenewens word ons almal ouer, en die “rampspoedige dae” wat met bejaardheid gepaardgaan en wat beperk wat ons in Jehovah se diens kan doen, is onvermydelik in hierdie huidige stelsel van dinge (Pred. 12:1). Daarom is dit nie wys om ons toewyding aan God uit te stel of om te wag totdat ons die ideale omstandighede het voordat ons ons bediening uitbrei in die mate wat nou moontlik is nie (Luk. 9:59-62). Abraham het rus en vrede in sy latere jare gevind en “oud en tevrede” gesterf omdat hy sy lewe wyslik gebruik het deur heeltemal toegewyd aan Jehovah te wees.—Gen. 25:8.
3 Die tyd is kort: Ons wil ook ons tyd wyslik benut omdat ‘die oorblywende tyd kort is’ (1 Kor. 7:29-31). Hierdie ou stelsel van dinge gaan binnekort eindig. Geleenthede om aan die groot insameling van skaapgeaardes gedurende die “oes van die aarde” deel te neem, sal tot ’n einde kom (Op. 14:15). Ons moet versigtig wees dat die sorge van die lewe en dinge wat ons aandag kan aftrek, ons nie beroof van tyd wat beter benut kan word in die bediening nie (Luk. 21:34, 35). Hoe bevredigend sal dit tog wees om terug te kyk met die wete dat ons ’n volle aandeel aan die oeswerk gehad het!
4 Ons moet voortdurend waaksaam wees sodat ons nie vreugdevolle diensvoorregte wat ons te beurt mag val, laat verbygaan nie. Laat ons vasbeslote wees om alles in ons vermoë te doen om Jehovah te dien “solank dit ‘Vandag’ genoem kan word” (Heb. 3:13). Sodoende sal ons toon dat ons waarlik wys is, want “hy wat die wil van God doen, bly vir ewig”.—1 Joh. 2:17.