Die lande is wit vir die oes
1. Watter belangrike werk is aan die gang?
1 Nadat Jesus vir ’n Samaritaanse vrou getuig het, het hy vir sy dissipels gesê: “Slaan julle oë op en aanskou die lande, dat hulle wit is vir die oes” (Joh. 4:35, 36). ’n Geestelike oeswerk was aan die gang, en Jesus kon vooruitsien dat hierdie werk op ’n wêreldskaal gedoen sou word. Vanuit die hemel bly Jesus baie betrokke by die oeswerk (Matt. 28:19, 20). Watter aanduidings is daar dat hierdie werk voortdurend toeneem terwyl dit sy klimaks nader?
2. Watter verwikkelinge toon dat die wêreldwye oeswerk toeneem?
2 ’n Wêreldwye oeswerk: Gedurende die 2009-diensjaar was daar ’n vermeerdering van 3,2 persent in verkondigers oor die hele wêreld. In lande waar die predikingswerk beperk is, was daar ’n vermeerdering van 14 persent. Die aantal tuisbybelstudies wat elke maand gerapporteer is, was oor die 7 619 000—wat meer is as die verkondigerhoogtepunt en byna ’n halfmiljoen meer as die aantal studies wat die vorige jaar gerapporteer is. Aangesien die werk in baie streke vinnig uitbrei, word meer versoeke vir Gileadopgeleide sendelinge ontvang. Die anderstalige veld lewer ’n oorvloedige opbrengs in baie lande. Dit is duidelik dat Jehovah die werk gedurende die voleinding van die oes bespoedig (Jes. 60:22). Het jy ’n positiewe beskouing van julle “lande”?
3. Tot watter slotsom kom party miskien oor die oeswerk in hulle gebied?
3 Die oeswerk in julle gebied: “My gebied is nie baie produktief nie”, sê party dalk. Dit is waar dat party gebiede oënskynlik nie so produktief soos ander is of soos dit in die verlede was nie. Gevolglik kom party Getuies miskien tot die slotsom dat die oeswerk in hierdie gebiede sy hoogtepunt bereik het en dat hulle werk nou so afgeneem het dat net ’n paar oorblywendes nog ingesamel moet word. Is dit werklik die geval?
4. Watter gepaste gesindheid moet ons teenoor ons bediening aankweek, en waarom?
4 Die oeswerk is van die begin tot die einde ’n tyd van groot bedrywigheid. Let op die gevoel van dringendheid in hierdie woorde van Jesus: “Die oes is groot, maar die werkers is min. Smeek dan die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur” (Matt. 9:37, 38). Jehovah, die Heer van die oes, is verantwoordelik vir wanneer en waar die opbrengs gelewer word (Joh. 6:44; 1 Kor. 3:6-8). Wat is ons toewysing? Die Bybel antwoord: “Saai jou saad in die oggend en laat jou hand tot die aand nie rus nie” (Pred. 11:4-6). Ja, wanneer die oeswerk sy hoogtepunt bereik, is dit nie die tyd om ons hand te laat rus nie!
5. Waarom moet ons aanhou om met ywer te preek in gebied wat oënskynlik nie produktief is nie?
5 Hou aan met die oeswerk: Al word ons gebied herhaaldelik gedek en is dit oënskynlik onontvanklik, het ons goeie rede om hierdie werk met ywer en ’n gevoel van dringendheid te doen (2 Tim. 4:2). Groot omwentelinge op die wêreldtoneel veroorsaak dat mense hulle gesindheid verander en ernstiger oor die toekoms dink. Terwyl jongmense grootword, wil hulle moontlik graag veiligheid en gemoedsrus vind. Ander mense word dalk deur ons volharding beïndruk. Ja, diegene wat in die verlede nie geluister het nie, sal dalk nog gunstig reageer. Selfs dié wat ons boodskap doelbewus verwerp, moet gewaarsku word.—Eseg. 2:4, 5; 3:19.
6. Wat sal ons help om ons ywer te behou as ons gebied ’n uitdaging is?
6 Wat sal ons help om ons ywer te behou as ons gebied ’n uitdaging is? Buiten die predikingswerk van huis tot huis kan ons miskien ook aan ander aspekte van die bediening deelneem, soos om in sakegebied te werk of telefoongetuieniswerk te doen. Of ons kan ons aanbieding afwissel sodat ons ’n nuwe benadering kan hê. Ons kan ons rooster verander en in die aand of op ander tye aan die bediening deelneem wanneer dit waarskynliker is dat mense by die huis sal wees. Miskien kan ons ’n nuwe taal aanleer sodat ons meer mense met die goeie nuus kan bereik. Dit is dalk vir ons moontlik om ons bediening uit te brei deur gewone pioniers te word. Of ons kan na ’n plek toe trek waar daar minder oeswerkers is. As ons die regte gesindheid teenoor die oeswerk het, sal ons soveel moontlik in hierdie belangrike werk probeer doen.
7. Tot wanneer moet ons aanhou met die insamelingswerk?
7 Landbouers het ’n beperkte tyd om die oes in te samel, en daarom sal hulle nie ontspan of traag word totdat die werk klaar is nie. Die geestelike oeswerk vereis dieselfde gevoel van dringendheid. Tot wanneer moet ons aanhou met die insamelingswerk? Regdeur “die voleinding van die stelsel van dinge” en tot “die einde” toe (Matt. 24:14; 28:20). Soos Jehovah se vernaamste Bedienaar, wil ons die werk volbring wat aan ons toevertrou is (Joh. 4:34; 17:4). Laat ons dus aanhou om tot die einde toe ons bediening met ywer, vreugde en ’n positiewe gesindheid uit te voer (Matt. 24:13). Die oeswerk is nog nie klaar nie!
[Lokteks op bladsy 2]
Die oeswerk is van die begin tot die einde ’n tyd van groot bedrywigheid