Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
2-8 DESEMBER
SKATTE UIT GOD SE WOORD | OPENBARING 7-9
“’n Ongetelde groot menigte word deur Jehovah geseën”
(Openbaring 7:9) Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk! ’n groot menigte, wat geen mens kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale, wat voor die troon en voor die Lam staan, geklee in wit klere; en daar was palmtakke in hulle hande.
it-1-E 997 ¶1
Groot menigte
Dit laat die vraag ontstaan: As die “groot menigte” mense is wat redding verkry en op die aarde agterbly, hoe kan daar gesê word dat hulle ‘voor God se troon en voor die Lam staan’? (Op 7:9). Die Bybel gebruik die woord “staan” soms om te wys dat ’n persoon of ’n groep ’n posisie van guns of goedkeuring het by die een in wie se teenwoordigheid daardie persoon of daardie groep staan (Ps 1:5; 5:5; Spr 22:29; Lu 1:19). Die vorige hoofstuk van Openbaring sê ook dat “die konings van die aarde en die hooggeplaastes en die militêre bevelvoerders en die rykes en die sterkes en elke slaaf en elke vrye” probeer wegkruip van “die aangesig van die Een wat op die troon sit en vir die gramskap van die Lam, want die groot dag van hulle gramskap het gekom, en wie kan staan?” (Op 6:15-17; vergelyk Lu 21:36.) Dit lyk dus asof die “groot menigte” sal bestaan uit die mense wat gedurende daardie tyd van gramskap of toorn behoue gebly het en wat kon bly “staan” as goedgekeurde knegte van God en die Lam.
(Openbaring 7:14) Toe het ek dadelik vir hom gesê: “My heer, ú weet.” En hy het vir my gesê: “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam.
it-2-E 1127 ¶4
Verdrukking
Omtrent drie dekades nadat Jerusalem vernietig is, is daar met verwysing na ’n groot menigte mense uit alle nasies, stamme en volke vir die apostel Johannes gesê: “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom” (Op 7:13, 14). Die feit dat ’n groot menigte “uit die groot verdrukking kom”, wys dat hulle dit oorleef. Dit word bevestig deur soortgelyke woorde in Handelinge 7:9, 10: “God was met [Josef], en hy het hom uit al sy verdrukkinge verlos.” Josef is uit al sy verdrukkinge verlos, wat nie net beteken dat hy in staat gestel is om dit te verduur nie maar ook dat hy die beproewinge wat hy deurgemaak het, oorleef het.
(Openbaring 7:15-17) Daarom is hulle voor die troon van God; en hulle verrig dag en nag heilige diens aan hom in sy tempel; en die Een wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle uitsprei. 16 Hulle sal nie meer honger of dors wees nie, en ook sal die son nie op hulle neerbrand of enige verskroeiende hitte nie, 17 want die Lam, wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en sal hulle na fonteine van waters van die lewe lei. En God sal elke traan van hulle oë afvee.”
it-1-E 996-997
Groot menigte
Hulle identifikasie. As ons die “groot menigte” wil identifiseer, moet ons kyk na hoe hulle in Openbaring hoofstuk 7 en ooreenkomstige gedeeltes beskryf word. Openbaring 7:15-17 sê dat God sy “tent oor hulle uitsprei”, dat hulle “na fonteine van waters” gelei word en dat God “elke traan van hulle oë afvee”. In Openbaring 21:2-4 is daar ooreenkomstige uitdrukkings: ‘God se tent is by die mensdom’, “hy sal elke traan van hulle oë afvee” en “die dood sal daar nie meer wees nie”. Die visioen hou nie verband met mense in die hemel vanwaar die ‘Nuwe Jerusalem neerdaal nie’; dit hou eerder verband met mense op die aarde, dié wat uit die mensdom kom.
Soek na geestelike skatte
(Openbaring 9:11) Hulle het ’n koning oor hulle, die engel van die afgrond. In Hebreeus is sy naam Abad′don, maar in Grieks het hy die naam Apol′lion.
it-1-E 12
Abaddon
Wie is Abaddon, die engel van die afgrond?
Maar in Openbaring 9:11 word die woord “Abaddon” as die naam van “die engel van die afgrond” gebruik. Die ooreenstemmende Griekse naam Apollion beteken “Vernietiger”. In die 19de eeu het sommige probeer om te wys dat hierdie teks profeties van toepassing was op individue soos keiser Vespasianus, Mohammed en selfs Napoleon, en die engel is oor die algemeen as “satanies” beskou. Maar ons moet onthou dat Openbaring 20:1-3 wys dat die engel wat die “sleutel van die afgrond” het God se verteenwoordiger uit die hemel is – hy is dus nie “satanies” nie, maar bind eerder vir Satan vas en slinger hom in die afgrond. Waar The Interpreter’s Bible kommentaar lewer oor Openbaring 9:11, sê dit: “Abaddon is egter nie ’n engel van Satan nie, maar van God, en hy voer sy werk van vernietiging uit omdat God hom beveel om dit te doen.”
In die Hebreeuse Geskrifte waarna ons nou net gekyk het, is dit duidelik dat ʼavad·dohnʹ met Sjeool en die dood vergelyk word. In Openbaring 1:18 sê Christus Jesus: “Ek lewe vir ewig en altyd, en ek het die sleutels van die dood en van Hades.” Ons kan in Lukas 8:31 sien watter krag hy het met betrekking tot die afgrond. Hebreërs 2:14 wys duidelik dat hy die mag het om te vernietig, en dit sluit die mag in om Satan te vernietig, want die Bybel sê daar dat Jesus bloed en vlees deelagtig geword het sodat hy “deur sy dood die een tot niet [kan] maak wat die vermoë het om die dood te veroorsaak, dit is die Duiwel”. In Openbaring 19:11-16 word hy duidelik uitgebeeld as God se aangestelde Vernietiger of Skerpregter. – Sien “APOLLYON” in it-1-E.
9-15 DESEMBER
SKATTE UIT GOD SE WOORD | OPENBARING 10-12
Soek na geestelike skatte
(Openbaring 10:9, 10) En ek het na die engel toe gegaan en vir hom gesê om die boekrolletjie vir my te gee. En hy het vir my gesê: “Neem dit en eet dit op, en dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit soet wees soos heuning.” 10 En ek het die boekrolletjie uit die hand van die engel geneem en dit opgeëet, en in my mond was dit soet soos heuning; maar toe ek dit opgeëet het, is my maag bitter gemaak.
it-2-E 880-881
Boekrol, rol
Simboliese gebruik. Die woord “boekrol” word ’n hele paar keer simbolies in die Bybel gebruik. Esegiël sowel as Sagaria het ’n boekrol gesien waarop daar aan albei kante geskryf was. Omdat net die een kant van ’n boekrol gewoonlik gebruik is, wys die feit dat daar aan albei kante geskryf was dalk hoe belangrik, uitgebreid en ernstig die oordele in hierdie boekrolle is (Ese 2:9–3:3; Sag 5:1-4). In die visioen in Openbaring het die een op die troon ’n boekrol met sewe seëls in sy regterhand; niemand kon sien wat daarin opgeskryf was voordat God se Lam dit oopgemaak het nie (Op 5:1, 12; 6:1, 12-14). Later in die visioen is daar vir Johannes self ook ’n boekrol gegee en is daar vir hom gesê om dit op te eet. Dit het vir Johannes soet geproe, maar dit het sy maag bitter gemaak. Die boekrol was nie verseël nie, maar oop. Dit het dus beteken dat die boodskap daarin verstaan moes word. Die boodskap daarin was “soet” vir Johannes, maar die dinge wat hy beveel is om te profeteer, was bitter (Op 10:1-11). Esegiël het ’n soortgelyke ondervinding gehad met die boekrol wat vir hom gegee is en waarin daar “klaagliedere en ’n gekerm en ’n geweeklaag” was. – Ese 2:10.
(Openbaring 12:1-5) En ’n groot teken is in die hemel gesien: ’n vrou geklee met die son, en die maan was onder haar voete, en op haar kop was ’n kroon van twaalf sterre, 2 en sy was swanger. En sy roep uit in haar pyne en in haar barensnood. 3 En nog ’n teken is in die hemel gesien, en kyk! ’n groot vuurkleurige draak met sewe koppe en tien horings en op sy koppe sewe krone; 4 en sy stert sleep ’n derde van die sterre van die hemel saam, en hy het hulle na die aarde neergeslinger. En die draak het voor die vrou bly staan wat op die punt gestaan het om geboorte te gee, sodat hy, wanneer sy geboorte gegee het, haar kind kon verslind. 5 En sy het geboorte gegee aan ’n seun, ’n manlike kind, wat met ’n ysterstaf as herder teenoor al die nasies sal optree. En haar kind is weggeruk na God en na sy troon.
it-2-E 187 ¶7-9
Geboortepyne
In die apostel Johannes se visioen in Openbaring het hy ’n hemelse vrou gesien wat geskreeu het “in haar pyne en in haar barensnood”. Die kind wat gebore was, was “’n seun, ’n manlike kind, wat met ’n ysterstaf as herder teenoor al die nasies sal optree”. Al het die draak hard probeer om hom te verslind, is “haar kind . . . weggeruk na God en na sy troon” (Op 12:1, 2, 4-6). Die feit dat die seun deur God weggeruk is, sou wys dat God die kind as sy eie aanvaar, want in die ou tyd was dit die gewoonte om ’n pasgebore kind na sy pa toe te bring om deur hom aanvaar te word. (Sien “BIRTH” in it-1-E.) Die “vrou” is dus God se “vrou”, die “Jerusalem daar bo”, die “moeder” van Christus en sy geestelike broers. – Ga 4:26; Heb 2:11, 12, 17.
God se hemelse “vrou” sou natuurlik volmaak wees, en die geboorte sou sonder letterlike pyn wees. Die geboortepyne sou op ’n simboliese manier wys dat die “vrou” besef dat die geboorte baie naby is; dit sou binnekort gebeur. – Op 12:2.
Wie sou hierdie “seun, ’n manlike kind” wees? Hy sou “met ’n ysterstaf as herder teenoor al die nasies . . . optree”. Dit is in Psalm 2:6-9 oor God se Messiaanse Koning voorspel. Maar Johannes het hierdie visioen lank ná Christus se geboorte op die aarde en sy dood en opstanding gesien. Daarom verwys hierdie visioen blykbaar na die geboorte van die Messiaanse Koninkryk in die hande van God se Seun Jesus Christus wat, toe hy uit die dood opgewek is, ‘aan die regterhand van God gaan sit het en van toe af gewag het totdat sy vyande ’n voetbank vir sy voete gemaak sou word’. – Heb 10:12, 13; Ps 110:1; Op 12:10.
23-29 DESEMBER
SKATTE UIT GOD SE WOORD | OPENBARING 17-19
“God se oorlog wat alle oorloë sal beëindig”
(Openbaring 19:11) En ek het die hemel geopend gesien, en kyk! ’n wit perd. En die een wat daarop sit, word Getrou en Waaragtig genoem, en hy oordeel en voer oorlog in regverdigheid.
(Openbaring 19:14-16) Ook het die leërs wat in die hemel was, hom op wit perde gevolg, en hulle was geklee in wit, skoon, fyn linne. 15 En uit sy mond kom ’n skerp lang swaard om die nasies mee te slaan, en hy sal met ’n ysterstaf as herder teenoor hulle optree. Hy trap ook die wynpers van die toorn van die gramskap van God die Almagtige. 16 En op sy bokleed, ja, op sy dy, het hy ’n naam wat geskryf is: Koning van die konings en Here van die here.
it-1-E 1146 ¶1
Perd
In die apostel Johannes se simboliese visioen word die verheerlikte Jesus Christus uitgebeeld as ’n ruiter op ’n wit perd, en die leërs saam met hom sit almal op wit perde. Hierdie visioen is aan Johannes geopenbaar om te wys dat Christus ’n oorlog van reg en geregtigheid teen al sy vyande sal voer, en hy sal dit namens sy God en sy Vader, Jehovah, doen (Op 19:11, 14). Christus se koninklike optrede en die rampspoed wat daarmee gepaardgaan, is vroeër ook voorgestel deur verskillende perderuiters en hulle perde. – Op 6:2-8.
30 DESEMBER–5 JANUARIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | OPENBARING 20-22
Soek na geestelike skatte
(Openbaring 20:5) (Die res van die dooies het nie lewend geword totdat die duisend jaar geëindig het nie.) Dit is die eerste opstanding.
it-2-E 249 ¶2
Lewe
Toe God sy bevel aan Adam gegee het, het God te kenne gegee dat Adam, indien hy gehoorsaam sou bly, nie sou sterf nie (Ge 2:17). Dieselfde geld vir die gehoorsame mensdom. Wanneer die mens se laaste vyand, die dood, tot niet gemaak word, sal daar nie meer sonde in hulle liggaam aan die werk wees wat die dood voortbring nie. Hulle sal nóóit hoef te sterf nie (1Kor 15:26). Die dood word aan die einde van Christus se heerskappy tot niet gemaak; en die boek Openbaring wys dat daardie heerskappy 1 000 jaar sal duur. Dit sê hier dat diegene wat konings en priesters saam met Christus word “lewend geword en duisend jaar lank saam met die Christus as konings geheers” het. “Die res van die dooies” wat nie lewend geword het “totdat die duisend jaar geëindig het nie”, moet dié wees wat aan die einde van die duisend jaar lewe net voor Satan uit die afgrond vrygelaat word en hy die beslissende toets oor die mensdom bring. Aan die einde van die duisend jaar sal mense op die aarde menslike volmaaktheid bereik het en in dieselfde toestand wees as waarin Adam en Eva was voordat hulle gesondig het. Dan sal hulle regtig die lewe as volmaakte mense hê. Diegene wat dan die toets slaag wanneer Satan vir ’n kort rukkie uit die afgrond losgelaat word, sal daardie lewe vir ewig kan geniet. – Op 20:4-10.
(Openbaring 20:14, 15) En die dood en Haʹdes is in die poel van vuur geslinger. Dit beteken die tweede dood, die poel van vuur. 15 En as daar gevind is dat iemand nie in die boek van die lewe opgeskryf is nie, is hy in die poel van vuur geslinger.
it-2-E 189-190
Poel van vuur
Hierdie woorde word net in die boek Openbaring gebruik en dit is duidelik dat die woorde simbolies is. Die Bybel gee sy eie verduideliking en definisie van die simbool waar dit sê: “Dit beteken die tweede dood, die poel van vuur.” – Op 20:14; 21:8.
Dat die poel van vuur simbolies is, kan verder gesien word aan die konteks waarin die boek Openbaring daarvan praat. Die dood word in hierdie poel van vuur geslinger (Op 19:20; 20:14). Die dood kan natuurlik nie letterlik verbrand word nie. Die Duiwel, ’n onsigbare geesskepsel, word ook in die poel gegooi. Omdat hy ’n geespersoon is, kan hy nie deur letterlike vuur seergemaak word nie. – Op 20:10; vergelyk Eks 3:2 en Rig 13:20.
Omdat die poel van vuur “die tweede dood” voorstel en omdat Openbaring 20:14 sê dat “die dood en Hades” daarin gegooi sal word, is dit duidelik dat die poel nie die dood kan voorstel wat die mens by Adam geërf het nie (Ro 5:12), en dit verwys ook nie na Hades (Sjeool) nie. Dit moet dus simbolies van ’n ander soort dood wees, ’n dood wat nie ongedaan gemaak kan word nie. Adamitiese dood en Hades (Sjeool) gee die dooies wat daarin is, maar daar word nêrens van die “poel” gesê dat dit diegene gee wat daarin is nie (Op 20:13). Daarom word diegene wie se name nie in “die boek van die lewe” opgeskryf is nie – die onberouvolle teenstanders van God se soewereiniteit – in die poel van vuur geslinger, en dit beteken ewige vernietiging, of die tweede dood. – Op 20:15.