Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
3-9 FEBRUARIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | GENESIS 12-14
“’n Verbond wat jou raak”
(Genesis 12:1, 2) En Jehovah het vir Abram gesê: “Trek weg uit jou land en van jou familielede en van die huis van jou pa af en gaan na die land wat ek jou sal wys. 2 Ek sal jou ’n groot nasie maak. Ek sal jou seën en sorg dat jy geëerd is, en jy sal ’n seën vir ander word.
it-1-E 522 ¶4
Verbond
Verbond met Abraham. Die verbond met Abraham het waarskynlik in 1943 VHJ in werking getree toe Abram (Abraham) op pad na Kanaän die Eufraatrivier oorgesteek het. Die Wetsverbond is 430 jaar later tot stand gebring (Ga 3:17). Jehovah het met Abraham gepraat toe hy in Mesopotamië, in Ur van die Galdeërs, gewoon het en vir hom gesê om na die land te reis wat God vir hom sou wys (Han 7:2, 3; Ge 11:31; 12:1-3). Eksodus 12:40, 41 (LXX) sê dat Israel, wat slawe in Egipte was, 430 jaar lank in Egipte en die land Kanaän gewoon het. Aan die einde van hierdie 430 jaar, “op presies dieselfde dag”, het hulle Egipte verlaat. Hulle is op die dag van die Pasga, 14 Nisan 1513 VHJ, uit Egipte verlos (Eks 12:2, 6, 7). Daarom lyk dit of Abraham die Eufraatrivier op pad na Kanaän op 14 Nisan 1943 VHJ oorgesteek het, en dit is waarskynlik tóé dat die Abrahamitiese verbond in werking getree het. Toe Abraham in Kanaän, in Sigem, aangekom het, het God weer aan hom verskyn en vir hom meer oor hierdie belofte vertel toe hy gesê het: “Aan jou nageslag gaan ek hierdie land gee.” Daardeur het Hy aangedui dat hierdie verbond met die belofte in Eden verband hou en dat die “saad” deur mense sou kom, dit wil sê, ’n menslike geslagslyn (Ge 12:4-7). Jehovah het later selfs meer inligting gegee, soos ons kan sien in Genesis 13:14-17; 15:18; 17:2-8, 19; 22:15-18.
(Genesis 13:14-17) Nadat Lot weggegaan het, het Jehovah vir Abram gesê: “Kyk asseblief na die land om jou, na die noorde en die suide, na die ooste en die weste, 15 want die hele land wat jy sien, sal ek aan jou en jou nageslag gee as ’n permanente besitting. 16 En ek sal jou nageslag soos die stof van die aarde maak. Net soos die stof van die aarde nie getel kan word nie, sal jou nageslag ook nie getel kan word nie. 17 Staan op, reis deur die lengte en die breedte van die land, want ek gaan dit aan jou gee.”
it-2-E 213 ¶3
Wet
Op grond van verwante geskiedkundige bronne glo party geleerdes dat die koper van ’n stuk grond na ’n uitkykpunt geneem is sodat hy presies kon sien waar die grense van die grond was. Wanneer die koper gesê het “ek sien”, het hy gewys dat hy wetlik aanvaar om die grond te koop. Toe Jehovah vir Abraham belowe het dat Hy vir hom die land Kanaän sou gee, het Hy vir hom gesê om in al vier die rigtings te kyk. Abraham het nie gesê “ek sien” nie, miskien omdat God gesê het dat Hy die Beloofde Land later aan Abraham se saad sou gee (Ge 13:14, 15). Jehovah het vir Moses, as die wetlike verteenwoordiger van Israel, gesê om die land te “sien”. As die beskouing hierbo reg is, het dit beteken dat die land wetlik na Israel oorgedra is sodat hulle dit onder Josua se leierskap in besit kon neem. (De 3:27, 28; 34:4; kyk ook na Satan se aanbod aan Jesus in Mt 4:8.) Nog iets wat lyk of dit ’n soortgelyke wetlike betekenis gehad het, is wanneer daar deur ’n land gereis is met die doel om dit in besit te neem (Ge 13:17; 28:13). In sekere antieke dokumente is die hoeveelheid bome op ’n stuk grond in elke koopkontrak aangedui. – Vergelyk Ge 23:17, 18.
Soek na geestelike skatte
(Genesis 14:18-20) En Melgiseʹdek, die koning van Salem en priester van die allerhoogste God, het brood en wyn uitgebring. 19 Toe het hy hom geseën en gesê: “Mag Abram geseën word deur die allerhoogste God, die Maker van hemel en aarde. 20 En mag die allerhoogste God geloof word, wat jou onderdrukkers aan jou oorgegee het!” En Abram het hom ’n tiende van alles gegee.
(Hebreërs 7:4-10) Kyk dan hoe belangrik hierdie man was aan wie Abraham, die familiehoof, ’n tiende gegee het van die beste dinge wat hy in die oorlog gevat het. 5 Volgens die Wet moet dié wat as priesters uit die kinders van Levi aangestel is, tiendes van die volk insamel, dit wil sê van hulle broers, al is hulle nakomelinge van Abraham. 6 Maar hierdie man, wat nie ’n nakomeling van die kinders van Levi was nie, het tiendes van Abraham geneem en die een geseën wat die beloftes gehad het. 7 Niemand kan ontken dat die een wat minder belangrik is, geseën word deur die een wat belangrik is nie. 8 En in die een geval word tiendes ontvang deur mense wat sterf, maar in die ander geval deur iemand van wie getuig word dat hy lewe. 9 En daar kan gesê word dat selfs Levi, wat tiendes ontvang, deur middel van Abraham tiendes betaal het, 10 want hy was nog in die liggaam van sy voorvader toe Melgiseʹdek na hom toe gegaan het.
it-2-E 683 ¶1
Priester
Melgisedek, die koning van Salem, was ’n buitengewone priester (ko·henʹ). Die Bybel het geen rekord van sy voorvaders, sy geboorte of sy dood nie. Hy het nie sy priesterskap geërf nie, en hy het ook geen voorgangers of opvolgers as priester gehad nie. Melgisedek was ’n koning sowel as ’n priester. Sy priesterskap was groter as die Levitiese priesterskap, want Levi het indirek tiendes aan Melgisedek betaal omdat hy nog in Abraham se lendene was toe Abraham tiendes aan Melgisedek gegee het en deur hom geseën is (Ge 14:18-20; Heb 7:4-10). In hierdie dinge het Melgisedek Jesus Christus, “vir ewig ’n priester soos Melgisedek”, voorafgeskadu. – Heb 7:17.
10-16 FEBRUARIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | GENESIS 15-17
“Jehovah het vir Abram en Sarai ander name gegee – Hoekom?”
(Genesis 17:1) Toe Abram 99 jaar oud was, het Jehovah aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige. Lewe in ooreenstemming met my wil en lei ’n rein lewe.
it-1-E 817
Fout, foutvindery
Aan die ander kant is daar dikwels fout met die dinge wat mense doen en wat hulle maak. Alle mense het sonde en foute by Adam geërf (Ro 5:12; Ps 51:5). Maar Jehovah, wat nie foute het nie, “weet goed hoe ons gevorm is, en hy hou in gedagte dat ons stof is”, en hy is genadig (Ps 103:13, 14). Hy het die getroue, gehoorsame Noag beskou as iemand wat “’n rein lewe gelei” het (Ge 6:9). Hy het Abraham beveel: “Lewe in ooreenstemming met my wil en lei ’n rein lewe” (Ge 17:1). Al was albei hierdie manne onvolmaak en het hulle gesterf, het Jehovah hulle as rein, of foutloos, beskou, want hy “sien wat in die hart is”. (1Sa 16:7; vergelyk 2Kn 20:3; 2Kr 16:9.) Hy het Israel beveel: “Julle moet heeltemal rein wees voor Jehovah julle God” (De 18:13; 2Sa 22:24). Hy het sy foutlose Seun (Heb 7:26) as ’n losprysoffer gegee, en op grond daarvan kan Hy dié wat geloof beoefen en gehoorsaam is “regverdig”, of foutloos, noem, terwyl hy terselfdertyd sy posisie as die regverdige en foutlose Regter behou. – Ro 3:25, 26; sien “INTEGRITY” in it-1-E en “PERFECTION” in it-2-E.
(Genesis 17:3-5) Toe het Abram met sy gesig na die grond toe neergebuig, en God het verder vir hom gesê: 4 “Ek het ’n verbond met jou gemaak, en jy sal beslis die vader van baie nasies word. 5 Jou naam sal nie meer Abram wees nie, maar Abraham, want ek sal jou die vader van baie nasies maak.
it-1-E 31 ¶1
Abraham
Die tyd het verbygegaan. Hulle was nou al omtrent tien jaar in Kanaän, maar Sara was nog steeds onvrugbaar. Daarom het sy voorgestel dat Abraham haar Egiptiese diensmeisie neem sodat sy deur middel van haar ’n kind kon hê. Abraham het ingestem. So is Ismael toe in die jaar 1932 VHJ gebore, toe Abraham 86 jaar oud was (Ge 16:3, 15, 16). Daar het nog tyd verbygegaan. In 1919 VHJ, toe Abraham 99 jaar oud was, het Jehovah beveel dat almal in Abraham se huis wat manlik is, besny moes word. Dit het as ’n teken of seël gedien – as bewys van die spesiale verbondsverhouding tussen Jehovah en Abraham. Jehovah het toe ook sy naam verander van Abram na Abraham, “want ek sal jou die vader van baie nasies maak” (Ge 17:5, 9-27; Ro 4:11). Kort daarna het drie gematerialiseerde engele wat in die naam van Jehovah gasvry deur Abraham ontvang is, belowe dat Sara swanger sou word en nog binne die volgende jaar aan ’n seun geboorte sou gee! – Ge 18:1-15.
Soek na geestelike skatte
(Genesis 15:13, 14) Toe het Hy vir Abram gesê: “Jy moet weet dat jou nageslag uitlanders sal wees in ’n land wat nie aan hulle behoort nie en dat die mense in daardie land hulle slawe sal maak en hulle 400 jaar lank sleg sal behandel. 14 Maar ek sal die nasie oordeel wat slawe van hulle maak, en daarna sal hulle met baie besittings weggaan.
it-1-E 460-461
Chronologie
Jehovah het vir Abram (Abraham) gesê: “Jy moet weet dat jou nageslag uitlanders sal wees in ’n land wat nie aan hulle behoort nie en dat die mense in daardie land hulle slawe sal maak en hulle 400 jaar lank sleg sal behandel.” (Ge 15:13; sien ook Han 7:6, 7.) Jehovah het dit gesê nog voordat die beloofde erfgenaam of “saad”, Isak, gebore is. Ismael die seun van Abram by die Egiptiese diensmeisie Hagar is in 1932 VHJ gebore en Isak is in 1918 VHJ gebore (Ge 16:16; 21:5). As ’n mens 400 jaar terugtel vanaf die Eksodus, die einde van die ellende, of ‘slegte behandeling’ (Ge 15:14), bring dit ons by 1913 VHJ toe Isak omtrent vyf jaar oud was. Dit lyk asof Isak toe gespeen was en ook reeds ’n ‘uitlander’ was in ’n land wat nie aan hom behoort het nie. Hy het nou die begin van die voorspelde ellende, of slegte behandeling, ervaar in die vorm van Ismael se ‘spottery’. Ismael was toe omtrent 19 jaar oud (Ge 21:8-9). Vandag sal Ismael se spottery van Abraham se erfgenaam as iets onbelangriks beskou word, maar in die tyd van die aartsvaders was dit nie so nie. Dit word duidelik gesien aan Sara se reaksie en God se goedkeuring daarvan toe sy daarop aangedring het dat Hagar en haar seun Ismael weggestuur moet word (Ge 21:10-13). Die blote feit dat hierdie insident in detail in die goddelike verslag opgeteken is, wys ook dat dit dui op die begin van die voorspelde 400 jaar lange tydperk van ellende wat eers met die Eksodus sou eindig. – Ga 4:29.
(Genesis 15:16) Maar in die vierde geslag sal hulle hierheen terugkeer, want die tyd het nog nie gekom vir die Amoriete om vir hulle sondes gestraf te word nie.”
it-1-E 778 ¶4
Eksodus
“In die vierde geslag.” Ons moet onthou dat Jehovah vir Abraham gesê het dat sy afstammelinge in die vierde geslag na Kanaän sou terugkeer (Ge 15:16). In die volle 430 jaar vanaf die tyd dat die Abrahamitiese verbond in werking getree het tot by die Eksodus was daar meer as vier geslagte, selfs as ’n mens in ag neem dat mense volgens die rekord in daardie dae baie lank gelewe het. Maar die Israeliete was net vir 215 jaar in Egipte self. Ons kan die voorbeeld van net een stam van Israel, die stam van Levi, gebruik om te wys hoe die ‘vier geslagte’ uitgewerk kan word vandat hulle Egipte binnegegaan het: (1) Levi, (2) Kehat, (3) Amram en (4) Moses. – Eks 6:16, 18, 20.