LEWENSVERHAAL
My liefdevolle Skepper het my raakgesien
TOE ek op skool was, het ek dit nie baie geniet nie, en ek het ook nie goed gedoen nie. Ek het verkies om dinge alleen te doen en nie deur ander raakgesien te word nie. Ek het beslis geen rede gehad om te verwag dat God my sou raaksien nie. Hoekom nie?
Ek het in Parys, Frankryk, grootgeword en my ouers en baie mense om my het nie in God geglo nie. So ek het ook nie in God geglo nie. Ek het eerder in evolusie geglo. Net soos baie mense het ek dit aanvaar sonder om enige vrae te vra omdat ek dit by die skool geleer het en gedink het dat dit waar moes wees. Dit het logies geklink, so ek het geen rede gesien om verder uit te vind oor hoe lewe ontstaan het nie.
Ek het in Frankryk grootgeword, en ek en my ouers het nie in God geglo nie
My ouers het ’n negatiewe beskouing van godsdiens gehad. Hulle het gedink dat as daar ’n God was, sou die wêreld nie so vol pyn en lyding gewees het nie. En omdat ek so baie skynheiligheid in godsdiens gesien het, het ek ook gedink dat dit dom was om in ’n liefdevolle God te glo. Ek het selfs dié wat in God geglo het, gespot.
Maar nou is ek nie net oortuig dat die Skepper bestaan nie, maar dat hy ook vir my omgee, ten spyte van my swakhede. Kom ek vertel julle wat my anders laat voel het en hoe dit my lewe verander het.
Toe ek 19 jaar oud was, moes ek by die weermag aansluit en was ek vir een jaar na Frans-Guiana in Suid-Amerika gestuur. Hierdie afgesonderde en mooi plek sou ’n baie groot impak op my hê.
Toe ek 20 jaar oud was, het ek na Parys teruggegaan. Ek het vinnig in ’n gewoonte verval. Ek het elke week baie hard gewerk en oor die naweke baie gedrink en partytjie gehou. Maar ek het so leeg gevoel. Enige plesier het nie lank gehou nie en ek het geen ware doel gehad nie. Ek het korrupsie, rassisme en armoede gesien. Goeie mense het swaargekry. Mense was besig om die omgewing te beskadig. Ek wou iets beters hê. Ek het aanhou dink aan Suid-Amerika.
EK HET VIR ’N BETER LEWE IN DIE REËNWOUD GAAN SOEK
Ek het na Frans-Guiana teruggegaan. Daar het ek in ’n klein dorpie in die middel van die woud gebly, waar ek was toe ek in die weermag gedien het. Ek het gehoop dat my lewe meer betekenis sou hê as ek omring was deur die natuur, dagga gerook het en my net geniet het. Maar ek het later weer in dieselfde gewoonte verval. Ek het die hele week gewerk sodat ek oor die naweek kon partytjie hou.
Om en by daardie tyd het iemand vir my ’n Bybel gegee. Ek het bietjie van dit gelees en gehoop dat dit my raad sou gee om my te help om ’n beter lewe te hê. Maar ek het nie verstaan wat ek gelees het nie.
Ek het vriende gehad wat ook vir die betekenis van die lewe gesoek het, en hulle het my genooi om saam met hulle in ’n informele gemeenskap in die reënwoud te bly, ’n plek wat hulle Unity genoem het.
(Links) ’n Hut in ’n gemeenskap wat ons Unity genoem het
(Regs) Dis hoe ek gelyk het toe ek in die reënwoud gebly het
In die woud was die lewe eenvoudig, en ons het vry gevoel. Ons het alles op ons eie tyd gedoen, sonder dat iemand vir ons sê wat om te doen. Ons het opgestaan wanneer die son opkom en gaan slaap wanneer die son sak, ons het ons eie kos geplant, musiek gespeel en dagga gerook. Ons het mooi vir die land gesorg en alles wat ons gehad het met mekaar gedeel. Ons was vegetariërs omdat ons nie diere wou seermaak nie. Ons het min respek vir gesag gehad en ons het nie gehuiwer om die wet te breek as dit ons gepas het en as niemand sou seerkry nie.
Ons wou hê die wêreld moes soos ons lewe. Niemand in ons gemeenskap het gesag oor die ander een gehad nie, en ons almal het mekaar gerespekteer, ongeag ons agtergrond. Maar ek het besef dat ons almal op die ou end ons eie belange en swakhede gehad het. Ná ’n tydjie het ons dieselfde probleme gehad as wat alle ander mense gehad het. Party het net vir ’n paar dae in die gemeenskap gebly en ander vir weke of maande. Ek het vir meer as twee jaar daar gebly.
Terwyl ek in die reënwoud gebly het, het ek gesien hoe die aarde vrygewig alles voorsien wat ons nodig gehad het. Eendag het ek besluit om die sade van ’n papaja te tel. Daar was so baie dat ek opgehou tel het. Ek het gewonder: ‘Hoekom is die aarde so vrygewig teenoor ons? Dit is soos ’n huis wat baie mooi voorberei was vir iemand om daarin te bly.’ Ek het besef dat dit nie vanself kon gebeur het nie. Maar wie het al hierdie dinge vir ons voorberei? Daar moes ’n Skepper wees. Maar ek het niks oor hom geweet nie.
Ek het aangehou om die Bybel te lees, maar nou wou ek uitvind wat God wou hê ek moes doen. Ek het begin bid en die teken van die kruis gemaak, maar ek het nie geweet wat dit beteken nie. Ek het gewonder of die Skepper se naam Jah was, soos in party van die liedjies genoem was wat ons in ons gemeenskap gesing het.
EK LEER KEN MY VRYGEWIGE VADER
Wanneer ek dink aan die tyd toe ek begin bid het, voel ek dat die Skepper gesien het dat ek meer oor hom wou weet. Een van my vriende in die gemeenskap het Jehovah se Getuies ontmoet en het die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewea by hulle gekry. Terwyl ek dit gelees het, was ek verstom oor wat ek geleer het! Ek was so bly om uit te vind dat ek vir ewig op ’n aarde kan lewe wat ’n paradys gaan word. Dit is presies waarvoor ek gesoek het – om vir ewig in ’n perfekte plek op aarde te bly en in vrede te bly met mense vir wie ek lief was. Ek wou nader kom aan die vrygewige Skepper wat hierdie wonderlike lewe vir ons wil gee.
Ek het geweet dat ek veranderinge in my lewe moes maak, maar ek het besef dat ek hulp nodig sou hê. Daarom het ek ’n ander vriend gevra om my voor te stel aan Michel, ’n sendeling wat met hom studeer het.
Op dieselfde dag dat ek Michel ontmoet het, het hy my na ’n streekbyeenkoms in Matoury, naby die hoofstad, Cayenne, genooi, wat meer as 240 kilometer weg was. Ek het baie lang hare en ’n bokbaardjie gehad. Ek het ’n pers en pienk broek gedra wat met verskillende patrone uitgebleik was en ’n hemp wat hopeloos te groot vir my was. Maar ten spyte van hoe ek gelyk het, het die broers en susters my gehelp met vervoer, kos en blyplek. Die liefde en vrygewigheid van die Getuies het my oortuig dat ek die waarheid gevind het.
By die byeenkoms was 1 Timoteus 5:8 bespreek. Hierdie vers verduidelik dat ’n goeie gesinshoof goed vir sy gesin sal sorg. Ek het geleer dat Jehovah hierdie beginsel ook op homself toepas en dat hy altyd vir dié in sy gesin sal sorg. So ek het geredeneer dat ek nie bekommerd hoef te wees as ek Jehovah se wil eerste in my lewe stel nie; hy sou vir my sorg. Later het Michel se voorbeeld my hiervan oortuig. Hy het daarop gefokus om Jehovah se wil te doen, maar hy het niks kortgekom nie en was gelukkig.
Soos my Bybelstudie gevorder het, het ek veranderinge gemaak. Ek het besluit om op te hou om tabak en dagga te rook. So onmiddellik nadat ek daardie besluit geneem het, het ek die tabak en dagga wat ek oorgehad het, in ’n vuur gegooi en nooit weer gerook nie. Ek het begin om party vergaderinge by te woon. By een vergadering het ek ’n broer gevra om my lang hare te sny, en hy het dit sommer daar by die Koninkryksaal gedoen.
Ná ’n paar weke het ek die gemeenskap in Frans-Guiana verlaat en na Frankryk teruggegaan. Ek het ’n Koninkryksaal gevind en voortgegaan met my Bybelstudie. Alhoewel my lewe verbeter het, was my familie verstom met hoe baie ek verander het. Ek het nie meer gerook, my dronk gedrink of na wilde partytjies gegaan nie. Maar hulle het nie gehou van die manier hoe ek met hulle oor die waarheid gepraat het nie. Ek het later geleer dat ek meer liefdevol en respekvol moet wees wanneer ek met hulle oor Jehovah praat.
Ek is in 1996 gedoop. Ek het tot Jehovah gebid dat ek ’n sendeling soos Michel kon word. Dit het gelyk asof dit die beste manier was om vir Jehovah te wys hoe dankbaar ek was.
NOG SEËNINGE VAN MY HEMELSE VADER
In my gemeente het ’n pragtige suster met die naam Claudine my oog gevang. Ek het gesien dat sy baie ywerig in die bediening was, en haar antwoorde by die vergaderinge het vir my gewys dat sy baie lief vir Jehovah is. Ek het daarin belanggestel om met haar uit te gaan, maar ek wou eers weet of Claudine belanggestel het in sendingdiens. Sy het! Ons het in April 2000 getrou.
(Links) Op ons troudag
(Regs) Ek gee ’n toespraak vir ’n Chinese groep in 2006
Die volgende jaar het ons saam begin pionier. ’n Tydjie later het ons besluit om Mandaryns te leer om ’n Chinese groep in ’n gemeente naby ons te ondersteun. Ek het dit baie moeilik gevind om hierdie taal te leer. Ek moes leer om meer soos Chinese mense te dink en moes kreatief wees in hoe ek die waarheid met hulle sou deel. Om eerlik te wees, ek het nooit geleer hoe om Mandaryns goed te praat nie. Maar ek het my bes probeer, en ons het onvergeetlike en wonderlike jare met die Chinese broers en susters gehad. Dit was nie net ’n groot seën nie, maar dit was ook uitstekende opleiding vir toewysings wat ons later sou kry.
PARTY VAN DIE UITDAGINGS WAT EK GEHAD HET
Oor die jare het ek baie uitdagings gehad. Byvoorbeeld, ek het gedink dat wat ek vir Jehovah en my broers en susters gedoen het, nooit goed genoeg was nie. So ek het baie meer tyd spandeer as wat nodig was om my toesprake voor te berei. Maar ek was nog steeds mismoedig omdat ek nie by my onredelike hoë standaarde kon bly nie (Pred. 7:16). Ek moes leer dat Jehovah ’n liefdevolle Vader is wat nie volmaaktheid van ons verwag nie, maar wat dit waardeer wanneer ons ons bes doen.
In Parys het ek ’n toewysing ontvang om as ’n instaankringopsiener te dien. Ek het gevoel dat ek te jonk en onervare hiervoor was. Maar ek het geleer dat Jehovah se heilige gees ons kan help om baie meer te doen as wat ons op ons eie kan doen.
Ek het nog ’n uitdaging gehad. Vandat ek ’n kind was, sukkel ek met hiperhidrose, wat beteken dat ek baie sweet. Hierdie toestand affekteer veral my hande. Dit word erger in stresvolle situasies, soos wanneer ek voor ’n gehoor praat by ’n kringbyeenkoms of ’n streekbyeenkoms. Maar wanneer ek Jehovah vra om my te help om kalm te wees, is dit bietjie beter. Die probleem het nie weggegaan nie, maar wanneer ek meer op Jehovah vertrou, bly ek kalmer en sweet ek minder.
In 2011 het Jehovah liefdevol ons gebede beantwoord en vir ons iets gegee waarvoor ons al baie lank gevra het. Ons het met sendingdiens in Nieu-Kaledonië begin, ’n groep eilande in die suidweste van die Stille Oseaan, meer as 16 000 kilometer van Parys af. Hierdie toewysing het ook baie uitdagings gehad. Ons moes gewoond raak aan nuwe kosse, soos kassawe, taro en jams. En ons moes gewoond raak aan hoenders en honde wat vroeg in die oggend geraas gemaak het. Ons moes ook gewoond raak aan ’n nuwe manier van kommunikeer. Die plaaslike mense reageer baie keer, nie deur iets te sê nie, maar deur net hulle wenkbroue te lig.
Ek het die waarheid geleer in Frans-Guiana, ek was in Frankryk gedoop, en ek en my vrou dien nou in Nieu-Kaledonië
Jehovah het ons ook gehelp om by nuwe teokratiese toewysings aan te pas. Ons het as veldsendelinge en vir ’n paar jaar as Betheliete gedien. Ons het die Skool vir Koninkrykspredikers bygewoon en nou dien ons op die kring. Ons het Jehovah se ondersteuning deur middel van sy heilige gees in elke toewysing ondervind. Hy het my geleer dat persoonlike swakhede nie beteken dat ons nie deur hom gebruik kan word nie. So ek bid gereeld en uit die hart tot Jehovah om my te help om te doen wat nodig is. Alhoewel ek nog steeds nie gemaklik voor ’n gehoor voel nie, kan ek met God se hulp aanmoediging en leiding gee aan die gemeentes wat ons besoek.
Deur al hierdie veranderinge het Claudine my altyd ondersteun. Sy is baie geduldig met my. Sy ondersteun my in die werk en is altyd gereed om ywerig te preek. Sy kla nie oor die warm weer en die uitdagings van die kringwerk nie.
Op die kring in Nieu-Kaledonië
By my eerste streekbyeenkoms het ek geleer dat Jehovah, die liefdevolle Skepper, altyd vir sy aanbidders sorg. As gevolg daarvan het ek baie seëninge gekry. Jehovah het my gehelp om die regte beskouing van gesag te hê en om nederig te wees. Ek het opgehou om met wêreldse vriende te assosieer sodat ek volgens Jehovah se standaarde kon lewe, maar Jehovah het vir my baie meer ware vriende gegee. Ek het ’n wonderlike vrou gekry. En ek het die ongelooflike hoop om Jehovah se vrygewigheid vir ewig te geniet. – Mark. 10:29, 30.
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar word nie meer gedruk nie.