’n Brief van die Bestuursliggaam
Liewe mede-Getuies van Jehovah
Hoe bevoorreg is ons tog as ’n volk om die naam van die Universele Soewerein, Jehovah, te dra! Hierdie naam is ewig, onverganklik en sonder gelyke. Dit was Jehovah wat ons sy naam gegee het om te dra, en veral sedert 1931 word ons deur hierdie unieke naam geïdentifiseer (Jes. 43:10). Ons is baie trots om ons as Jehovah se Getuies te identifiseer.
Die Duiwel probeer sonder ophou om God se naam uit te wis. Onder sy beheer verag die nasies Jehovah se naam. Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, haat die goddelike naam en het dit uit baie Bybelvertalings verwyder. In teenstelling hiermee het Jesus sy Vader se naam hooggehou en dit die eerste plek gegee in die modelgebed wat hy sy volgelinge geleer het. Hy het gesê: “Julle moet dan só bid: ‘Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word’” (Matt. 6:9). In opregte gebed tot sy Vader het hy later gesê: “Ek het u naam openbaar gemaak aan die mense wat u my uit die wêreld gegee het” (Joh. 17:6). In navolging van Jesus se uitstekende voorbeeld is ons meer vasbeslote as ooit om Jehovah se naam regoor die wêreld ywerig bekend te maak.
Die jaarteks vir 2009, “‘Getuig deeglik van die goeie nuus’”, het ons aangespoor om ons bediening ten volle uit te voer (Hand. 20:24). Daar bestaan geen twyfel dat Jehovah ons pogings die afgelope diensjaar ryklik geseën het nie. ’n Ontsaglike getuienis is wêreldwyd tot eer en verheerliking van Jehovah se naam gegee. ’n Nuwe hoogtepunt van 7 313 173 verkondigers het hulle stemme verenig om vir almal te preek asook om opregtes van hart te onderrig wat na oplossings soek vir al die probleme waarvoor hulle elke dag te staan kom. Die feit dat 18 168 323 die Herdenking van Christus se dood bygewoon het, toon dat nog miljoene moontlik voor die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge Jehovah se naam sal aanroep.
Solank Jehovah dit toelaat, sal ons aanhou om die goeie nuus van die Koninkryk ywerig te verkondig deur elke moontlike manier te gebruik om die mense in ons gebied te bereik (Matt. 24:14; Mark. 13:10). Mag ons daarna streef om Jehovah se naam en voorneme aan soveel mense moontlik bekend te maak, hetsy van deur tot deur, op straat, per brief en telefoon of deur middel van informele getuieniswerk.
Ons het alle rede om te glo dat Jehovah binnekort sal optree om sy naam te heilig (Eseg. 36:23). Die tyd kom vinnig nader wanneer almal wat dit laster, stilgemaak sal word. Wat ’n wonderlike dag sal dit tog wees vir al Jehovah se lojale knegte, wat Jehovah se naam bekend gemaak en sy universele soewereiniteit ondersteun het!
Jehovah se liefdevolle sorg vir sy volk was duidelik sigbaar by die “Hou aan waak!”-streek- en internasionale byeenkomste wat in 2009 in ’n groot deel van die wêreld gehou is. Hierdie byeenkomste was ’n mylpaal in ons teokratiese geskiedenis en het ons aangespoor om meer bewus te wees van hoe belangrik dit is om waaksaam te wees ten opsigte van Jehovah se dag.—Mark. 13:37; 1 Tess. 5:1, 2, 4.
Jehovah is waarlik goed vir ons; hy vul ons harte met blydskap. Hy laat ons in grasryke weivelde neerlê en bring ons by waterryke rusplekke.—Ps. 23:1, 2; 100:2, 5.
Wees verseker van Jehovah se volgehoue seën op julle terwyl julle in die komende maande besig bly in die Koninkryksdiens!
Met hartlike Christelike liefde aan ons wêreldwye broederskap,
Julle broers
Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies