Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • yb13 bl. 78-173
  • Mianmar (Birma)

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Mianmar (Birma)
  • 2013 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Onderhofies
  • Die begin van die werk in Birma
  • “Rachel, ek het die waarheid gevind!”
  • Moedige pioniers
  • ’n Onvergeetlike streekbyeenkoms
  • Die eerste Kajin-dissipels
  • Probleme gedurende die Tweede Wêreldoorlog
  • ’n Vreugdevolle reünie
  • Die eerste Gilead-sendelinge
  • Burgeroorlog breek uit!
  • Die predikings- en onderrigtingswerk in Birmaans
  • Positiewe resultate in Mandalay
  • Sendelinge word uit die land gesit!
  • Die werk brei uit na die Tsjin-staat
  • ‘Ek het geleer om berge te klim’
  • “Geen ‘skape’ in Mjitjina”
  • Vermiste spoorwegwaens
  • Die Nagas leer die waarheid
  • Teenstand in die “Goue Driehoek”
  • Hulle het streng neutraal gebly
  • Militêre personeel word Christene
  • Hulle het met “alle soorte mense” geredeneer
  • Streekbyeenkomste gedurende ’n opstand
  • Hulle het nie Christelike samekomste nagelaat nie
  • Vooruitgang in publisering
  • ’n Nuwe takkantoor benodig
  • ‘Nie deur mag nie, maar deur my gees’
  • Nuwe Koninkryksale word gebou
  • Sendelinge kom in die land aan
  • Goeie voorbeelde strek baie tot voordeel
  • ’n Beter vertaling lewer goeie resultate
  • Sikloon Nargis
  • ’n Onvergeetlike gebeurtenis
  • ‘Wit vir die oes’
2013 Jaarboek van Jehovah se Getuies
yb13 bl. 78-173

Mianmar (Birma)

TUSSEN die Asiatiese reuse Indië en China lê Mianmar, ’n land van fassinerende kontraste.a In Jangon (voorheen Rangoen), die land se grootste stad, is daar hoë geboue, stampvol winkels en besige strate. Maar buite Jangon woon mense in dorpies waar waterbuffels die grond omploeg, waar mense buitelanders met verwondering aanskou en waar tyd aan die verbygaan van die seisoene gemeet word.

Die Mianmar van vandag is ’n eggo van die Asië van die verlede. Rammelende busse hop-hop oor paaie vol slaggate en steek oskarre verby wat op pad is na die mark met hulle vragte gewasse. In die veld langs die pad pas bokwagters hulle kuddes op. Die meeste mans in Mianmar dra nog tradisionele oorslaanrompe (lungi). Die vroue smeer boombaspasta (thanaka) aan hulle gesig as grimering. Die mense is baie godsdienstig. Boeddhiste bewonder monnike meer as sport- en rolprentsterre en hulle smeer daagliks bladgoud aan glinsterende standbeelde van die Boeddha.

Die mense van Mianmar is saggeaard, beleefd en nuuskierig. Agt groot etniese groepe en ten minste 127 kleiner groepe woon in die land. Elke groep het sy eie taal, kleredrag, voedsel en kultuur. Die meeste mense woon op ’n groot sentrale vlakte waardeur die magtige Eijarwadi-rivier (Irawadi) vloei, ’n 2 170 kilometer lange waterweg wat van die yskoue Himalajas na die lou Andaman-see kronkel. Miljoene ander woon in ’n uitgestrekte kusdelta en op die boogvormige hooglande wat aan Bangladesj, China, Indië, Laos en Thailand grens.

[Kaarte op bladsy 81]

Jehovah se Getuies in Mianmar het oor byna 100 jaar ’n rekord van onwrikbare geloof en volharding opgebou. Hulle het gedurende tye van chaotiese geweld en politieke omwenteling hulle neutraliteit gehandhaaf (Joh. 17:14). Ondanks fisiese ontberinge, godsdiensteenstand en beperkte kontak met hulle internasionale broederskap het Jehovah se volk die goeie nuus van God se Koninkryk onvermoeid verkondig. Die verslag wat volg, vertel hulle hartverblydende verhaal.

Ons broers in Mianmar het oor byna 100 jaar ’n rekord van onwrikbare geloof en volharding opgebou

Die begin van die werk in Birma

In die geskiedkundige jaar 1914 het twee Engelsmanne van ’n stoomskip geklim in die verstikkende hitte van die Jangon-hawe. Hendry Carmichael en sy pioniermaat het van Indië gekom. Hulle het die uitdagende toewysing gehad om met die predikingswerk in Birma te begin. Hulle gebied het die hele land ingesluit.

“Sekerlik, as jy wil hê dat ander namens jou in die nuwe wêreld moet lewe”

[Grafiek op bladsy 84]

Hendry en sy pioniermaat het in Jangon met die werk begin en kort voor lank twee Anglo-Indiese mans ontmoet wat opreg in die Koninkryksboodskap belanggestel het.b Bertram Marcelline en Vernon French het dadelik hulle bande met die Christendom verbreek en informeel vir hulle vriende begin getuig. Dit was nie lank voordat 20 mense gereeld by Bertram se huis bymekaargekom het om die Bybel met behulp van The Watch Tower te bestudeer nie.c

Verkondigers in Jangon, 1932

In 1928 het nog ’n Engelse pionier van Indië, George Wright, Birma besoek en vyf maande lank deur die land gereis en baie Bybellektuur versprei. Daardie saadjies van waarheid het ongetwyfeld die boekie van 1920 ingesluit Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie!—die eerste van ons Christelike publikasies wat in Birmaans vertaal is.

Twee jaar later het die pioniers Claude Goodman en Ronald Tippin in Jangon aangekom, waar hulle ’n klein groepie broers gevind het wat die vergaderinge getrou gehou het maar glad nie georganiseerde predikingswerk gedoen het nie. “Ons het die broers aangemoedig om elke Sondag saam met ons te kom preek”, het Claude gesê. “Een broer het gevra of hy die pioniers finansieel kan ondersteun en hulle dan namens hom kan preek. Ron het vir hom gesê: ‘Sekerlik, as jy wil hê dat ander namens jou in die nuwe wêreld moet lewe.’” Daardie reguit raad was net wat die groep nodig gehad het. Kort voor lank het Claude en Ronald baie velddiensmaats gehad.

“Rachel, ek het die waarheid gevind!”

Daardie selfde jaar het Ron en Claude vir Sydney Coote, ’n spoorwegstasiemeester in Jangon, ontmoet. Sydney het die sogenaamde reënboogstel geneem, ’n versameling van tien van ons helderkleurige boeke. Nadat Sydney dele van een van die boeke gelees het, het hy na sy vrou uitgeroep en gesê: “Rachel, ek het die waarheid gevind!” Kort voor lank het die hele Coote-gesin Jehovah gedien.

Sydney was ’n ywerige student van die Bybel. Sy dogter Norma Barber, wat lank ’n sendeling was en nou by die takkantoor in Brittanje dien, verduidelik: “My pa het ’n boek met teksverwysings saamgestel. Wanneer hy ’n teks gevind het wat ’n Bybellering verduidelik, het hy dit onder ’n gepaste opskrif in die boek geskryf. Hy het die boek Waar is dit? genoem.”

Sydney Coote (middel) was ’n ywerige student van die Bybel; hy en sy vrou, Rachel (links) het die Bybelboodskap aan ander verkondig

Sydney wou nie net die Bybel studeer nie, maar wou ander ook van die boodskap daarin vertel. Hy het gevolglik aan die takkantoor in Indië geskryf om te vra of daar enige Getuies in Birma is. ’n Rukkie later het hy ’n groot krat lektuur en ’n lys name ontvang. “Pa het vir elkeen op die lys geskryf en hom genooi om ons ’n dag lank te besoek”, sê Norma. “Vyf of ses broers het later na ons huis toe gekom en ons gewys hoe om informeel te getuig. My ouers het dadelik die lektuur onder vriende en bure begin versprei. Hulle het ook briewe en lektuur aan al ons familielede gestuur.”

Nadat Daisy D’Souza, Sydney se suster wat in Mandalay gewoon het, Sydney se brief en die boekie Die Koninkryk, die hoop van die wêreld ontvang het, het sy onmiddellik teruggeskryf om nog publikasies en ’n Bybel te vra. “My ma het oorgeloop van vreugde terwyl sy die lektuur tot die vroeë oggendure verslind het”, het haar dogter Phyllis Tsatos gesê. “Sy het haar ses kinders toe bymekaargeroep vir ’n dramatiese aankondiging: ‘Ek gaan die Katolieke Kerk verlaat, want ek het die waarheid gevind!’” Later het Daisy se man en kinders ook die waarheid aanvaar. Vandag is vier geslagte van die D’Souza-gesin getroue knegte van Jehovah God.

Moedige pioniers

Teen die vroeë 1930’s het ywerige pioniers die goeie nuus al langs die hoofspoorlyn verkondig wat noord loop van Jangon na Mjitjina, ’n dorp naby die Chinese grens. Hulle het ook gepreek in Môlamjine (Moulmein) en Sittwe (Akjab), kusdorpies oos en wes van Jangon. Gevolglik is klein gemeentes in Môlamjine en Mandalay gestig.

In 1938 het die takkantoor in Australië toesig van die werk in Birma van die takkantoor in Indië oorgeneem, en pioniers van Australië en Nieu-Seeland het in Birma begin aankom. Onder daardie onverskrokke werkers was Fred Paton, Hector Oates, Frank Dewar, Mick Engel en Stuart Keltie. Al hierdie broers was pioniers in die ware sin van die woord.

Frank Dewar

Fred Paton het vertel: “Gedurende my vier jaar in Birma het ek in die grootste deel van die land gepreek. In daardie tyd het ek malaria, tifus, disenterie en ander gesondheidsprobleme gehad. Ná ’n lang dag in die bediening het ek dikwels nêrens gehad om te slaap nie. Maar Jehovah het altyd in my behoeftes voorsien en my deur die krag van sy gees gehelp om voort te gaan.” Frank Dewar, ’n geharde Nieu-Seelander, het gesê: “Ek het rowers, rebelle en bombastiese amptenare teëgekom. Maar ek het gevind dat selfs groot struikelblokke gewoonlik weggesmelt het wanneer ek beleefd, saggeaard, nederig en redelik was. Die meeste mense het gou agtergekom dat Jehovah se Getuies geen gevaar inhou nie.”

Daar was ’n hemelsbreë verskil tussen die pioniers en die ander buitelanders, wat die plaaslike mense gewoonlik met minagting behandel het. Die pioniers het mense met respek en liefde behandel. Hulle vriendelike benadering het byval gevind by die nederige Birmaanse mense, wat saggeaardheid en beleefdheid bo taktloosheid en konfrontasie verkies. Deur hulle woorde en dade het die pioniers getoon dat Jehovah se Getuies ware Christene is.—Joh. 13:35.

’n Onvergeetlike streekbyeenkoms

Etlike maande ná die aankoms van die pioniers het die takkantoor in Australië reëlings getref vir ’n streekbyeenkoms in Jangon. Die byeenkoms is in die Jangon-stadsaal gehou, ’n pragtige gebou met marmertrappe en yslike bronsdeure. Die byeenkomsgangers het van Thailand, Maleisië en Singapoer gekom, en Alex MacGillivray, die Australiese takkneg, het ’n groep broers van Sydney saam met hom gebring.

Omdat daar oorlogswolke op die horison was, het die alom geadverteerde openbare toespreek “Universele oorlog op hande” groot belangstelling by die publiek gewek. “Ek het nog nooit ’n saal so vinnig sien vol word nie”, het Fred Paton gesê. “Toe ek die voordeur oopmaak, het hordes mense by die trap opgekom en in die saal ingestroom. In minder as tien minute het meer as 1 000 mense in die saal, wat 850 sitplekke gehad het, ingebondel.” “Ons moes die deure voor die malende massa mense toemaak en nog 1 000 mense buite laat”, het Frank Dewar bygevoeg. “Nogtans het ’n paar vindingryke jong mans deur klein sydeure ingeglip.”

Die broers was nie net verheug omdat daar soveel belangstelling getoon is nie, maar ook omdat die gehoor, wat talle plaaslike etniese groepe ingesluit het, so uiteenlopend was. Tot op daardie stadium het baie min van die plaaslike mense belangstelling in die waarheid getoon, aangesien die meeste van hulle toegewyde Boeddhiste was. Die naamchristene onder die plaaslike mense—meestal Kajins (Karens), Katsjins en Tsjins—het in afgeleë gebiede gewoon waar baie min mense al die goeie nuus gehoor het. Die plaaslike veld was blykbaar ryp vir die oes. Binnekort sou die veelvolkige “groot menigte” wat in die Bybel voorspel is, ook Birma se talle etniese groepe insluit.—Open. 7:9.

Die eerste Kajin-dissipels

Die eerste Kajin-dissipels, Tsjoe May, oftewel “Daisy”, (links) en Hnin May, oftewel “Lily”, (regs)

In 1940 het Ruby Goff in Insein, ’n dorpie aan die buitewyke van Jangon, gepionier. Eendag het sy min belangstelling gevind, en sy het toe gebid: “Jehovah, laat my asseblief net een ‘skaap’ vind voordat ek huis toe gaan.” By die volgende huis het sy Hmwe Jaing ontmoet, ’n Kajin-Baptis, wat gretig na die Koninkryksboodskap geluister het. Kort voor lank het Hmwe Jaing en haar dogters, Tsjoe May (Daisy) en Hnin May (Lily), die Bybel gestudeer en goeie geestelike vooruitgang gemaak. Hoewel Hmwe Jaing kort daarna oorlede is, het Lily, die jonger dogter, later die eerste Kajin geword wat as een van Jehovah se Getuies gedoop is. Daisy is ook gedoop.

Lily en Daisy het ywerige pioniers geword en ’n blywende nalatenskap agtergelaat. Vandag dien honderde van hulle nakomelinge en Bybelstudente Jehovah in Mianmar en in die buiteland.

Probleme gedurende die Tweede Wêreldoorlog

Die Tweede Wêreldoorlog het in 1939 in Europa uitgebreek en skokgolwe deur die hele wêreld gestuur. Te midde van die toenemende oorlogshisterie het die Christendom se geestelikes in Birma al hoe meer druk op die koloniale regering geplaas om ons lektuur te verbied. In reaksie hierop het Mick Engel, wat vir die lektuurdepot in Jangon verantwoordelik was, ’n senior Amerikaanse amptenaar genader en ’n magtigingsbrief verkry om ongeveer twee ton lektuur op weermagvragmotors op die Birmaweg na China te vervoer.

Fred Paton en Hector Oates het die lektuur geneem na die spoorwegeindpunt by Lasjio, ’n dorp naby die Chinese grens. Toe hulle die amptenaar ontmoet wat in beheer was van die konvooi na China, het hy amper stuipe gekry! “Wat?”, het hy geskreeu. “Hoe kan ek vir julle kosbare plek in my vragmotors gee vir julle ellendige traktate terwyl ek nie eers plek het vir militêre en mediese voorraad wat dringend benodig word en hier buite lê en vergaan nie?” Fred het vir ’n oomblik gehuiwer, die magtigingsbrief uit sy tas gehaal en vir die amptenaar gesê dat dit ’n baie ernstige saak sou wees as hy ’n amptelike bevel van Jangon verontagsaam. Die amptenaar het toe ’n ligte vragmotor, asook ’n drywer en voorraad, tot die broers se beskikking gestel. Hulle het ongeveer 2 400 kilometer na Chongqing (Chungking), in Suid-Sentraal-China gereis, waar hulle die kosbare lektuur versprei het en selfs vir Chiang Kai-shek, die president van die Chinese Nasionalistiese regering, getuig het.

Toe die owerheid daar aankom, was die lektuur reeds weg

Uiteindelik in Mei 1941 het die koloniale regering in Indië ’n telegram na Jangon gestuur en die plaaslike owerheid beveel om op ons lektuur beslag te lê. Twee broers wat in die telegraafkantoor gewerk het, het die telegram gesien en dadelik vir Mick Engel daarvan vertel. Mick het vir Lily en Daisy geroep en onmiddellik na die depot gegaan, waar hulle die oorblywende 40 bokse lektuur geneem en in geheime skuilplekke in Jangon weggesteek het. Toe die owerheid daar aankom, was die lektuur reeds weg.

Op 11 Desember 1941, vier dae nadat Japan Pearl Harbor aangeval het, het Japannese bomme op Birma begin neerreën. Daardie naweek het ’n groepie Getuies in ’n klein woonstelletjie bo die Hoofspoorwegstasie van Jangon bymekaargekom. By hierdie waardige geleentheid is ’n skriftuurlike bespreking gehou, en toe is Lily in ’n bad gedoop.

Twaalf weke later het die Japannese leër Jangon binnegegaan en die stad so te sê verlate gevind. Meer as honderdduisend mense het in die rigting van Indië gevlug. Duisende het op die pad omgekom van honger, uitputting en siekte. Sydney Coote, wat saam met sy gesin gevlug het, het naby die Indiese grens aan serebrale malaria gesterf. ’n Ander broer is deur Japannese soldate geskiet en nog een het sy vrou en gesin verloor toe hulle huis gebombardeer is.

Slegs ’n handjie vol Getuies het in Birma agtergebly. Lily en Daisy het na Pjin Oo Lwin (Maimjo), ’n stil heuweldorpie naby Mandalay, getrek. Daar het hulle saadjies van waarheid gesaai wat later vrug gedra het. ’n Derde Getuie, Cyril Gay, het hom in Thajarwadi gevestig, ’n dorpie ongeveer 100 kilometer noord van Jangon, waar hy tot aan die einde van die oorlog ’n rustige lewe gelei het.

’n Vreugdevolle reünie

Ná die oorlog het die meeste van die broers en susters wat na Indië gevlug het, na Birma begin terugkeer. Teen April 1946 het die Jangon-gemeente agt bedrywige verkondigers gehad. Aan die einde van daardie jaar, toe die gemeente 24 verkondigers gehad het, het die broers besluit om ’n byeenkoms te hou.

Die tweedaagse byeenkoms is by ’n skool in Insein gehou. “Nadat ek van Indië af teruggekeer het, het ek uitgevind dat ek die uur lange openbare toespraak moes hou”, vertel Theo Syriopoulos, wat die waarheid in 1932 in Jangon geleer het. “Tot op daardie stadium het ek net twee toesprake van vyf minute elk tydens vergaderinge in Indië gehou. Die byeenkoms was egter ’n groot sukses, en meer as 100 mense het dit bygewoon.”

’n Paar weke later het ’n Kajin-gemeenskapsleier wat in die waarheid belanggestel het, die gemeente ’n stuk grond in Ahlone, ’n buurt langs ’n rivier naby die middel van Jangon, aangebied. Die broers het ’n Koninkryksaal van bamboes met ongeveer honderd sitplekke daar gebou. Die gemeente het oorgeloop van vreugde. Die broers en susters het die oorlog oorleef sonder dat hulle geloof skipbreuk gely het, en hulle was gretig om sonder versuim voort te gaan met die predikingswerk.

Die eerste Gilead-sendelinge

Bo: Eerste Gilead-sendelinge Hubert Smedstad, Robert Kirk, Norman Barber en Robert Richards Onder: (agter) Nancy D’Souza, Milton Henschel, Nathan Knorr, Robert Kirk, Terence D’Souza, (voor) Russell Mobley, Penelope Jarvis-Vagg, Phyllis Tsatos, Daisy D’Souza, Basil Tsatos

Vroeg in 1947 het ’n groep opgewonde broers by die Jangon-hawe bymekaargekom om Robert Kirk, Birma se eerste Gileadopgeleide sendeling, te verwelkom. Ná ’n rukkie het nog drie sendelinge daar opgedaag—Norman Barber, Robert Richards en Hubert Smedstad—tesame met Frank Dewar, wat gedurende die oorlog in Indië gepionier het.

Die sendelinge het in ’n stad aangekom wat deur die oorlog verwoes is. Talle geboue is afgebrand. Duisende mense het in lendelam bamboeshutte gewoon wat al langs die pad gestaan het. Mense het in die strate gekook, gewas en gelewe. Die sendelinge het egter gekom om mense Bybelwaarheid te leer; hulle het hulle dus by die omstandighede aangepas en hulle op die bediening toegespits.

Op 1 September 1947 is ’n takkantoor van die Wagtoringgenootskap by die sendinghuis in Signal Pagoda-weg, naby die middestad, geopen. Robert Kirk is as takkneg aangestel. Kort daarna het die Jangon-gemeente van die bamboessaal in Ahlone na die boonste verdieping van ’n woonstel in Bogalai Zai-straat getrek. Dit was net ’n paar minute te voet van die Secretariat, ’n indrukwekkende gebou wat die tuiste was van die Britse koloniale regering—’n administrasie wat op pad uit was!

Burgeroorlog breek uit!

Op 4 Januarie 1948 het die Britte die landsbestuur aan die nuwe Birmaanse regering oorhandig. Ná 60 jaar van koloniale heerskappy was Birma nou onafhanklik. Maar die land was in ’n burgeroorlog gewikkel.

[Grafiek op bladsy 100]

Verskeie etniese groepe het geveg om onafhanklike state te stig, terwyl privaat leërs en bendes misdadigers beheer oor verskillende gebiede probeer verkry het. Teen die begin van 1949 was die grootste deel van die land onder die beheer van rebellemagte, en gevegte het aan die buitewyke van Jangon uitgebreek.

Terwyl die gevegte voortgesleep het, was die broers baie versigtig in die bediening. Die takkantoor is van die sendinghuis in Signal Pagoda-weg verskuif na ’n groot woonstel op die boonste verdieping van ’n gebou in 39ste Straat, ’n veilige gebied waar talle ambassades geleë was en wat slegs drie minute te voet van die hoofposkantoor was.

Die Birmaanse leër het geleidelik die oorhand gekry en die rebelle in die berge in gedryf. Teen die middel-1950’s het die regering beheer oor ’n groot deel van die land teruggekry. Maar die burgeroorlog was nog lank nie verby nie. Dit het tot vandag toe nog in die een of ander vorm voortgeduur.

Die predikings- en onderrigtingswerk in Birmaans

Tot die middel-1950’s het die broers in Birma amper net in Engels gepreek, die taal wat deur geleerde mense in die groter dorpe en stede gepraat is. Maar miljoene ander het net Birmaans (Mianmees), Kajin, Katsjin, Tsjin of ander plaaslike tale gepraat. Hoe kon hulle met die goeie nuus bereik word?

In 1934 het Sydney Coote gereël dat ’n Kajin-onderwyser verskeie boekies in Birmaans en Kajin vertaal. Later het ander verkondigers die boek “Laat God waaragtig wees” en verskeie boekies in Birmaans vertaal. Toe, in 1950, het Robert Kirk vir Ba Oo gevra om studieartikels uit Die Wagtoring in Birmaans te vertaal. Die handgeskrewe vertalings is deur kommersiële drukkers in Jangon geset en gedruk en is dan aan diegene gegee wat gemeentelike vergaderinge bygewoon het. Later het die takkantoor ’n Birmaanse tikmasjien gekoop om die vertaalproses te bespoedig.

Ba Oo (links) het studieartikels uit Die Wagtoring in Birmaans vertaal

Hierdie vroeë vertalers het voor baie uitdagings te staan gekom. “Ek het in die dag gewerk om my gesin te onderhou en dan tot laat in die nag by die lig van ’n flou elektriese gloeilamp artikels vertaal”, vertel Naigar Po Han, wat die vertaalwerk oorgeneem het toe Ba Oo dit nie langer kon doen nie. “My Engels was taamlik beperk, en daarom was my vertaalwerk seker nie baie akkuraat nie. Maar ons wou baie graag hê dat ons tydskrifte soveel mense as moontlik bereik.” Toe Robert Kirk vir Doris Raj gevra het om Die Wagtoring in Birmaans te vertaal, was sy so oorweldig dat sy begin huil het. “Ek het net basiese skoolopleiding gehad en het nog nooit voorheen vertaal nie”, sê Doris. “Maar broer Kirk het my aangemoedig om dit te probeer doen. Ek het dus tot Jehovah gebid en aan die werk gespring.” Vandag, byna 50 jaar later, is Doris nog steeds ’n vertaler by die Bethel in Jangon. Naigar Po Han, wat nou 93 is, is ook by Bethel en is nog net so gretig om die Koninkrykswerk te bevorder.

In 1956 het Nathan Knorr Die Wagtoring in Birmaans vrygestel

In 1956 het Nathan Knorr van die wêreldhoofkwartier Birma besoek en die vrystelling van Die Wagtoring in Birmaans aangekondig. Hy het die sendelinge ook aangemoedig om die taal aan te leer sodat hulle doeltreffender kon getuig. Sy woorde het die sendelinge aangevuur om hulle pogings te verskerp om Birmaans te leer. Die volgende jaar was Frederick Franz, nog ’n besoeker van die wêreldhoofkwartier, die hoofspreker by ’n vyf dae lange byeenkoms wat by die Jangon-spoorwegsaal gehou is. Hy het die broers aangemoedig om die predikingswerk selfs verder uit te brei deur pioniers na stede en dorpe in die verskillende streke te stuur. Die eerste gebied waarheen nuwe pioniers gestuur is, was Birma se voormalige hoofstad en tweede grootste stad, Mandalay.

Positiewe resultate in Mandalay

Vroeg in 1957 het ses nuwe spesiale pioniers in Mandalay aangekom en by die pasgetroude sendeling Robert Richards en sy Kajin-vrou, Baby, aangesluit. Die pioniers het gevind dat die predikingswerk in die stad moeilik is. Mandalay is ’n vername sentrum van Boeddhisme en die tuiste van ongeveer die helfte van Birma se Boeddhistemonnike. Nogtans het die pioniers besef dat Jehovah “baie mense in hierdie stad” het, net soos in eertydse Korinte.—Hand. 18:10.

Een van hierdie persone was Robin Zaoeja, ’n 21-jarige Katsjin-student. Hy sê: “Robert en Baby Richards het vroeg een oggend my huis besoek en hulle as Jehovah se Getuies voorgestel. Hulle het gesê dat hulle die goeie nuus van huis tot huis verkondig, net soos Jesus beveel het (Matt. 10:11-13). Hulle het vir my getuig en vir my hulle adres sowel as verskeie tydskrifte en boeke gegee. Ek het daardie aand een van die boeke begin lees totdat ek dit teen die volgende oggend deurgelees het. Daardie dag nog het ek na Robert se huis gegaan en hom ure lank met vrae bestook. Hy het elke vraag uit die Bybel beantwoord.” Robin Zaoeja het kort daarna die eerste Katsjin geword wat die waarheid aangeneem het. Later het hy jare lank as ’n spesiale pionier in die noorde van Birma gedien en byna honderd mense gehelp om die waarheid te leer. Twee van sy kinders dien nou by die Bethel in Jangon.

Nog ’n ywerige dissipel was Pramila Galliara, ’n 17-jarige meisie wat die waarheid kort tevore in Jangon geleer het. “My pa, ’n lid van die Djaina-godsdiens, was hewig gekant teen my nuutgevonde geloof”, sê Pramila. “Hy het my Bybel en Bybellektuur twee keer verbrand, en hy het my etlike kere in die openbaar geslaan. Hy het my ook in ons huis toegesluit om te verhinder dat ek Christelike vergaderinge bywoon, en hy het selfs gedreig om broer Richards se huis af te brand! Maar toe hy besef dat hy nie my geloof kan afbreek nie, het hy mettertyd opgehou om my teë te staan.” Pramila het haar universiteitstudies laat vaar, ’n ywerige pionier geword en later met ’n kringopsiener, Dunstan O’Neill, getrou. Sedertdien het sy 45 mense gehelp om die waarheid te leer.

Terwyl die werk in Mandalay goed gevorder het, het die takkantoor ook sendelinge of pioniers na ander streeksentrums gestuur, insluitende Pathein (Bassein), Kalaimjo, Bhamô, Mjitjina, Môlamjine en Mjeik (Mergui). Dit is duidelik dat Jehovah die werk geseën het, aangesien daar mettertyd sterk gemeentes in elkeen van hierdie dorpe was.

Sendelinge word uit die land gesit!

Terwyl die predikingswerk aanhou groei het, het toenemende politieke en etniese spanning die land stadig maar seker tot ’n breekpunt gedryf. Uiteindelik het die weermag die regering in Maart 1962 oorgeneem. Honderdduisende Indiërs en Anglo-Indiërs is na Indië en Bangladesj (destyds Oos-Pakistan) gedeporteer, en besoekers uit die buiteland kon slegs visums kry wat 24 uur lank geldig was. Birma was besig om sy deure vir die buitewêreld te sluit.

Die broers het hierdie verwikkelinge met toenemende kommer dopgehou. Die militêre regering het godsdiensvryheid gewaarborg, maar slegs as godsdienste hulle nie met die politiek bemoei nie. Soos verwag kon word, het die Christendom se sendelinge aangehou om hulle in politieke aangeleenthede in te meng. Teen Mei 1966 het die regering uiteindelik genoeg gehad—dit het alle buitelandse sendelinge beveel om die land te verlaat! Getuiesendelinge was geheel en al niepolities; nietemin is hulle ook kort voor lank gedeporteer.

Die plaaslike broers was geskok maar nie ontmoedig nie. Hulle het geweet dat Jehovah God met hulle is (Deut. 31:6). Nogtans het party broers gewonder hoe die Koninkrykswerk voortgesit sou word.

Dit het gou duidelik geword dat Jehovah hulle rig. Maurice Raj, ’n voormalige kringopsiener wat opleiding by die takkantoor ontvang het, is dadelik gevra om na die takkantoor om te sien. Maurice, wat ’n etniese Indiër is, is nie saam met die Indiër-bevolking gedeporteer nie. “Ek het ’n aantal jare vroeër vir Birmaanse burgerskap aansoek gedoen”, sê hy. “Maar ek het nie die 450 kiatd gehad om burgerskap te verkry nie, en daarom het ek dit uitgestel. Eendag, terwyl ek verby die kantoor geloop het van die maatskappy waar ek jare tevore gewerk het, het my voormalige werkgewer my gesien. Hy het uitgeroep: ‘Haai Raj, kom kry jou geld. Jy het vergeet om jou pensioengeld te neem toe jy hier weg is.’ Dit was 450 kiat.

“Toe ek by die kantoor uitstap, het ek gedink aan alles wat ek met 450 kiat kan doen. Maar aangesien dit die presiese bedrag was wat ek nodig gehad het om burgerskap te verkry, het ek gevoel dat dit Jehovah se wil is dat ek dit daarvoor gebruik. En dit was ’n baie goeie besluit. Terwyl ander Indiërs uit Birma gesit is, kon ek in die land bly, vryelik reis, lektuur invoer en ander take verrig wat noodsaaklik was vir ons predikingswerk, bloot omdat ek ’n Birmaanse burger was.”

Maurice het, saam met Dunstan O’Neill, ’n landwye toer onderneem om elke gemeente en afgesonderde groep aan te moedig. “Ons het vir die broers gesê: ‘Moet julle nie bekommer nie, Jehovah is met ons. As ons lojaal teenoor hom is, sal hy ons help’”, sê Maurice. “En Jehovah hét ons gehelp! Kort voor lank is talle nuwe spesiale pioniers aangestel, en die predikingswerk het selfs vinniger uitgebrei.”

Vandag, ongeveer 46 jaar later, reis Maurice, ’n lid van die Takkomitee, nog steeds deur Mianmar om die gemeentes te versterk. Soos die bejaarde Kaleb van eertydse Israel, is hy vandag nog net so ywerig vir God se werk.—Jos. 14:11.

Die werk brei uit na die Tsjin-staat

[Kaart op bladsy 111]

Een van die eerste gebiede waarheen spesiale pioniers gestuur is, was die Tsjin-staat, ’n bergagtige streek wat aan Bangladesj en Indië grens. Hierdie gebied is die tuiste van talle verklaarde Christene, ’n nalatenskap van die Baptiste-sendelinge van die Britse koloniale tydperk. Gevolglik het die meeste Tsjins groot respek vir die Bybel en Bybelonderrigters.

Laat in 1966 het Lal Chhana, ’n spesiale pionier wat voorheen ’n soldaat was, in Falam aangekom, destyds die grootste dorp in die Tsjin-staat. Dunstan en Pramila O’Neill en Than Toem, nog ’n voormalige soldaat wat onlangs gedoop is, het by hom aangesluit. Hierdie ywerige werkers het etlike families gevind wat belanggestel het en het kort voor lank ’n klein maar bedrywige gemeente gestig.

Die volgende jaar het Than Toem na Hakha getrek, ’n dorpie suid van Falam, waar hy begin pionier het en ’n klein groepie op die been gebring het. Hy het naderhand in die hele Tsjin-staat gepreek en gehelp om gemeentes in Vanhna en Soerkhoea sowel as in Gangô en ander gebiede te stig. Vandag, 45 jaar later, is Than Toem nog steeds ’n spesiale pionier in sy tuisdorp, Vanhna.

Toe Than Toem die dorpie Hakha verlaat het, het Donald Dewar, ’n 20-jarige spesiale pionier, sy plek ingeneem. Omdat Donald se ouers, Frank en Lily (voorheen Lily May) Dewar, onlangs gedeporteer is, het Donald se 18-jarige broer, Samuel, by hom aangesluit. “Ons het in ’n sinkhuisie gewoon wat stikwarm in die somer en yskoud in die winter was”, sê Donald. “Maar vir my was eensaamheid ’n groter uitdaging. Ek het dikwels alleen in die bediening gewerk en kon die plaaslike taal, Hakha Tsjin, skaars praat. Ek en Samuel en een of twee ander verkondigers was die enigstes wat die vergaderinge bygewoon het. Met verloop van tyd het ek depressief geword en dit selfs oorweeg om my toewysing te verlaat.

“Om en by daardie tyd het ek ’n hartroerende jaarboekverslag oor ons broers in Malawi gelees wat getrou gebly het ondanks wrede vervolging.e Ek het my afgevra: ‘Hoe sal ek vervolging kan verduur as ek nie eensaamheid kan verduur nie?’ Ek het tot Jehovah gebid oor my sorge en beter begin voel. Ek is ook versterk deur die Bybel en artikels in Die Wagtoring te lees en daaroor te peins. Toe Maurice Raj en Dunstan O’Neill onverwags by my kom kuier het, was dit asof twee engele my besoek het! Ek het my vreugde stadig maar seker herwin.”

Toe Donald later as ’n reisende opsiener gedien het, het sy ondervinding goed te pas gekom om ander afgesonderde Getuies te help. Sy werk in Hakha het ook vrugte afgewerp. Daar is nou ’n florerende gemeente in Hakha en Christelike byeenkomste word gereeld daar gehou. Twee van die verkondigers wat vergaderinge in Hakha bygewoon het, Johnson Lal Voeng en Daniel Sang Kha, het ywerige spesiale pioniers geword en het gehelp om die goeie nuus in groot dele van die Tsjin-staat te verkondig.

‘Ek het geleer om berge te klim’

Die Tsjin-staat lê 900 tot 1 800 meter bo seevlak, en party pieke bereik ’n hoogte van 3 000 meter. Talle berge is bedek met digte woude waarin toringhoë Birmaanse kiaatbome, statige naaldbome, kleurvolle bergrose en lieflike orgideë groei. Die terrein is ongetem en majestueus, wat dit moeilik maak om deur die gebied te reis. Dorpe in die gebied word deur middel van kronkelende grondpaaie aan mekaar verbind. Hierdie paaie is byna onbegaanbaar wanneer dit nat is en is dikwels onbruikbaar as gevolg van grondstortings. Talle afgeleë dorpies kan slegs te voet bereik word. Maar Jehovah se knegte word nie deur hierdie hindernisse afgeskrik nie, want hulle is vasbeslote om soveel mense as moontlik met die goeie nuus te bereik.

Ei Ei Thit, wat saam met haar man in die Tsjin-staat kringwerk gedoen het, vertel: “Ek het in die plat Eijarwadi-delta grootgeword, en die pragtige Tsjin-Heuwels het my asem weggeslaan. Toe ek die eerste keer ’n berg uitgeklim het, het ek fluks begin maar uitasem ineengestort toe ek bo kom. Nadat ek ’n paar heuwels geklim het, was ek so uitgeput dat ek gedink het ek gaan sterf. Uiteindelik het ek geleer om berge te klim—deur teen ’n rustige pas te loop en my energie te bespaar. Ek kon naderhand tot 32 kilometer per dag loop tydens reise wat ses dae of langer geduur het.”

Lede van die Matoepi-gemeente het 270 kilometer ver geloop om Christelike byeenkomste in Hakha by te woon

Oor die jare het die broers in die Tsjin-staat verskillende vervoermiddele gebruik, onder meer muile, perde, fietse en, in onlangser tye, motorfietse, busse en vierwielaangedrewe voertuie. Maar gewoonlik loop hulle. Byvoorbeeld, die spesiale pioniers Jô Win en David Zama moes groot afstande te voet oor berge aflê om by die dorpe om Matoepi uit te kom. Om Christelike byeenkomste in Hakha by te woon, wat meer as 270 kilometer van Matoepi af is, moes die broers ses tot agt dae in een rigting loop. Terwyl hulle geloop het, het hulle Koninkryksliedere gesing wat deur die skilderagtige heuwels weerklink het.

Tydens daardie uitmergelende togte is die broers nie net aan die gure weer in die berge blootgestel nie, maar ook aan swerms muskiete en allerhande goggas, veral gedurende die reënseisoen. “Terwyl ek deur die woud geloop het, het bloedsuiers teen my bene opgekruip”, vertel Mjint Lwin, ’n kringopsiener. “Wanneer ek een afgetrek het, het nog twee opgeklim. Ek het op ’n boomstomp gespring, maar toe het ’n spul bloedsuiers teen die stomp begin opkruip. Ek het vreesbevange deur die woud gehardloop. Toe ek uiteindelik by die pad uitkom, was ek vol bloedsuiers.”

Die streekopsiener Goemja Nô en sy vrou, Nan Loe, het in die Tsjin-staat van gemeente na gemeente geloop

Maar reisigers in die Tsjin-staat moes vir meer as net bloedsuiers op die uitkyk wees. Mianmar het ook wildevarke, bere, luiperds, tiers en, volgens sommige bronne, ’n groter verskeidenheid giftige slange as enige ander land in die wêreld. Wanneer die streekopsiener Goemja Nô en sy vrou, Nan Loe, in die Tsjin-staat van gemeente na gemeente geloop het, het hulle snags vure al om hulle gemaak om wilde diere weg te hou!

Daardie ywerige evangeliedienaars het ’n blywende nalatenskap agtergelaat. “Hulle het Jehovah met al hulle krag gedien”, sê Maurice Raj. “Selfs nadat hulle die Tsjin-staat verlaat het, was hulle bereid om terug te gaan. Hulle werk het Jehovah waarlik verheerlik!” Hoewel die Tsjin-staat een van die mees yl bevolkte streke in die land is, het dit vandag sewe gemeentes en etlike afgesonderde groepe.

“Geen ‘skape’ in Mjitjina”

In 1966 het ’n aantal spesiale pioniers in Mjitjina aangekom, ’n skilderagtige dorpie in ’n wye kronkel van die Eijarwadi-rivier in die Katsjin-staat, naby China. Ses jaar vroeër het Robert en Baby Richards ’n ruk lank daar gepreek. Hulle het gesê: “Daar is geen ‘skape’ in Mjitjina nie.” Maar die nuwe pioniers het mense gevind wat na die waarheid gehonger het.

Een van hulle was Mia Maoeng, ’n 19-jarige Baptis wat tot God gebid het vir hulp om die Bybel te verstaan. Hy vertel: “Toe ’n pionier my by die werk besoek en my ’n Bybelstudie aangebied het, was ek baie bly. Dit was die antwoord op my gebede. Ek en my jonger broer, San Ei, het twee keer per week gestudeer, en ons het vinnig geestelike vooruitgang gemaak.

“Ons het hulp ontvang van ’n uitstekende onderrigter—Wilson Thein. Hy het nie net vir ons vertel wat om te doen nie, hy het vir ons gewys! Ons het deur middel van oefensessies en demonstrasies geleer om die Bybel doeltreffend te gebruik, moedig te preek, teenstand te verduur en gemeentelike toesprake voor te berei en te hou. Wilson Thein het voor die tyd na elke toespraak geluister en vir ons wenke gegee sodat ons kon verbeter. Sy goedhartige opleiding het ons beweeg om geestelike doelwitte na te streef.

“Vandag het die spoorwegdorpe Namti, Hopin, Mohnjin en Katha almal florerende gemeentes”

“In 1968 het ek en San Ei begin pionier; ons was toe agt pioniers in Mjitjina. Ons eerste Bybelstudente het ons ma en sewe van ons broers en susters ingesluit, en hulle het almal uiteindelik die waarheid aangeneem. Ons het ook tydens reistogte van een tot drie dae in die groot en klein dorpe langs die Mjitjina-Mandalay-spoorlyn gepreek. Die saadjies wat ons gesaai het, het later vrug gedra. Vandag het die spoorwegdorpe Namti, Hopin, Mohnjin en Katha almal florerende gemeentes.”

Terwyl San Ei in die sakegebied in Mjitjina gepreek het, het hy Phoem Ram, ’n Katsjin-Baptis ontmoet wat in ’n staatskantoor gewerk het. Phoem Ram het die waarheid gretig aangeneem en na Poetao getrek, ’n klein dorpie aan die voet van die Himalajas. Daar het hy vir die talle lede van sy familie gepreek, en kort voor lank het 25 mense Christelike vergaderinge bygewoon. Terwyl Phoem Ram as ’n pionier gedien het, het hy sy vrou en sewe kinders sowel as baie familielede gehelp om die waarheid te leer. Hy dien nou as ’n pionier en ’n ouer man in Mjitjina.

Vermiste spoorwegwaens

Getuies in 1969 vertrek op ’n spesiale trein van Jangon na Mjitjina om ’n byeenkoms by te woon

Weens die vinnige geestelike vooruitgang in die Katsjin-staat het die takkantoor besluit om die “Vrede op aarde”- internasionale byeenkoms van 1969 in Mjitjina te hou, in plaas van in Jangon, waar dit gewoonlik gehou is. Om byeenkomsafgevaardigdes van Jangon na Mjitjina oor ’n afstand van meer as 1 100 kilometer noord te vervoer, het die takkantoor die Birmaanse Spoorweg toestemming gevra om ses spoorwegwaens te huur. Dit was ’n uiters ongewone versoek. Daar was heelwat rebelle-aktiwiteit in die Katsjin-staat, en die beweging van mense in en uit die gebied is streng beheer. Maar tot die broers se verbasing het die spoorwegowerheid hulle versoek sonder versuim toegestaan.

’n Groep ouer manne by die “Vrede op aarde”- internasionale byeenkoms in 1969 in Mjitjina. (Agterste ry) Francis Vaidopau, Maurice Raj, Tin Pei Than, Mia Maoeng, (middelste ry) Dunstan O’Neill, Charlie Aoeng Thein, Aoeng Tin Sjwe, Wilson Thein, San Ei, (voorste ry) Maoeng Khar, Donald Dewar, David Abraham, Robin Zaoeja

Op die dag dat die trein veronderstel was om met die byeenkomsafgevaardigdes in Mjitjina aan te kom, het Maurice Raj en ’n groep broers na die spoorwegstasie gegaan om hulle te verwelkom. Maurice vertel: “Terwyl ons gewag het, het die stasiemeester by ons aangehardloop gekom en vir ons gesê dat hy so pas ’n telegram ontvang het wat sê dat die owerheid die ses waens met die afgevaardigdes afgehaak het en hulle tussen Mandalay en Mjitjina agtergelaat het. Blykbaar kon die trein nie die ekstra waens teen ’n heuwel op trek nie.

“Wat sou ons doen? Ons het eers gedink dat ons die byeenkoms moet uitstel. Maar dit sou beteken dat ons vir nog permitte aansoek moes doen, wat weke sou neem! Terwyl ons nog vurig tot Jehovah gebid het, het die trein by die stasie aangekom. Ons kon ons oë nie glo nie—al ses waens met ons broers was daar! Hulle het geglimlag en gewaai. Toe ons hulle vra wat gebeur het, het een van hulle gesê: ‘Hulle het ses waens afgehaak, maar nie ons s’n nie!’”

Hulle het ses waens afgehaak, maar nie ons s’n nie!’

Die byeenkoms in Mjitjina was ’n volslae sukses. Tydens die program is drie nuwe publikasies in Birmaans en vyf in Engels vrygestel. Drie jaar vroeër, toe die sendelinge uit die land gesit is, het die stroom geestelike voedsel wat in Birma ingevloei het byna opgedroog. Maar nou was daar ’n oorvloed!

Die Nagas leer die waarheid

Vier maande ná die byeenkoms in Mjitjina het die takkantoor ’n brief van ’n posklerk in Khamti ontvang, ’n rivierdorpie aan die voet van hoë heuwels wat al langs die noordwestelike grens tussen Birma en Indië loop. Hierdie gebied is die tuiste van die Naga-volk, ’n groep uiteenlopende stamme wat vroeër vreeswekkende kopjagters was. In sy brief het die klerk, Ba Jee, ’n voormalige Sewendedagadventis, geestelike hulp gevra. Die takkantoor het dadelik twee spesiale pioniers, Aoeng Naing en Win Pe, na hom toe gestuur.

Win Pe vertel: “Toe ons by die Khamti-landingstrook aankom en vreeswekkende Naga-krygers daar sien rondstaan met net lendedoeke aan, het dit ons heeltemal ontsenu. Toe het Ba Jee uit die bloute verskyn, ons gegroet en hy is toe vinnig met ons daar weg om ons aan ’n paar belangstellendes voor te stel. Dit was nie lank voordat ons met vyf mense gestudeer het nie.

Biak Mawia (agter, ver regs) en die Khamti-gemeente kort nadat daar met die werk in die Naga-gebiede begin is

“Maar die plaaslike owerheid het gedink dat ons Baptistepredikante is wat met plaaslike rebelle saam werk. Hoewel ons hulle verseker het dat ons polities neutraal is, het hulle ons beveel om die gebied te verlaat minder as ’n maand nadat ons daar aangekom het.”

Drie jaar later, toe nuwe amptenare aangestel is, het Biak Mawia, ’n 18-jarige pionier, die werk voortgesit wat die vorige pioniers begin het. Kort daarna het Ba Jee uit sy werk by die poskantoor bedank en begin pionier. Toe het ’n aantal ander pioniers daar aangekom. Hierdie ywerige groep het gou ’n gemeente in Khamti en etlike kleiner groepe in nabygeleë dorpe gestig. Biak Mawia vertel: “Die Naga-broers en -susters was ongeletterd. Maar hulle was lief vir God se Woord en was ywerige predikers wat goed gebruik gemaak het van die prente in ons publikasies. Hulle het ook baie tekste en die Koninkryksliedere uit die hoof geleer.”

Vandag word streekbyeenkomste gereeld in Khamti gehou, en byeenkomsgangers kom selfs van Homalin, ’n dorpie in die suide wat 15 uur per boot daarvandaan geleë is.

Teenstand in die “Goue Driehoek”

Intussen het die werk ook aan die ander kant van die land uitgebrei na die hooglande wat aan China, Laos en Thailand grens. Dit is die hartjie van die Goue Driehoek, ’n pragtige streek met golwende heuwels en vrugbare valleie wat geskend is deur opiumproduksie, opstand en ander onwettige bedrywighede. Die pioniers wat die waarheid na hierdie gevaarlike streek gebring het, was versigtig en verstandig (Matt. 10:​16). Maar daar was een groep wat hulle predikingswerk hardnekkig teëgestaan het—die geestelikes van die Christendom!

Toe die pioniers Robin Zaoeja en David Abraham in Lasjio aangekom het, wat ’n bedrywige dorp in die Sjan-staat is, het die plaaslike geestelikes hulle dadelik as rebelle gebrandmerk. Robin het gesê: “Ons is gearresteer en tronk toe gesleep, waar ons vir die polisie ons dokumente gewys het wat ons status as bedienaars bevestig het. ’n Rukkie later het ’n majoor in die weermag daar ingeloop. ‘Hallo, mnr. Zaoeja’, het hy gesê. ‘Ek sien dat Jehovah se Getuies nou in Lasjio is!’ Die majoor, ’n ou skoolmaat, het ons onmiddellik vrygelaat.”

Die twee pioniers het aan die werk gespring en kort voor lank ’n groterige gemeente gestig. Toe het hulle ’n Koninkryksaal gebou. Twee jaar later is hulle na die plaaslike staatshoofkwartier ontbied waar meer as 70 militêre offisiere, stamhoofde en geestelikes bymekaargekom het. “Die geestelikes het ons woedend daarvan beskuldig dat ons druk op mense plaas om hulle godsdienstradisies prys te gee”, vertel Robin. “Toe die voorsitter van die vergadering ons vra om hierop te reageer, het ek gevra of ek die Bybel in my verweer kan gebruik. Hy het ingestem. Ek het ’n skietgebed gedoen en toe verduidelik wat die Bybel sê oor valse godsdienstradisies, militêre diens en nasionalistiese seremonies. Toe ek klaar was, het die voorsitter opgestaan en gesê dat die Birmaanse wet alle godsdienste toelaat om vryelik te aanbid. Hulle het ons laat gaan en ons toegelaat om voort te gaan met ons predikingswerk, wat die geestelikes diep gekrenk het.”

Later, in Mongpô, ’n dorpie naby die Chinese grens, het ’n woedende skare Baptiste ’n Koninkryksaal afgebrand. Toe die plaaslike Getuies nie deur hierdie skandelike daad geïntimideer is nie, het die skare die huis van ’n spesiale pionier afgebrand en die broers en susters in hulle huise begin terroriseer. Die broers het hulle tot die hoof van die gebied gewend, maar hy het die Baptiste gesteun. Uiteindelik het die owerheid egter tussenbeide getree en die broers toestemming gegee om ’n nuwe Koninkryksaal te bou—nie op die oorspronklike stuk grond aan die rand van die dorp nie, maar reg in die middel van die dorp!

Verder suid, in Leiktho, ’n afgeleë bergdorp in die Kajin-staat, wat aan die Goue Driehoek grens, het Gregory Sarilo hewige teenstand van die Katolieke Kerk ondervind. “Die dorp se priester het sy gemeentelede beveel om my groentetuin te vernietig”, vertel Gregory. “Toe het hulle my kos as geskenke gegee, maar ’n vriend het my gewaarsku dat daar gif in die kos is. Eendag het die priester se trawante my gevra watter roete ek die volgende dag sal volg. Daardie dag het ek met ’n ander pad langs geloop en hulle pogings om my dood te maak, gefnuik. Toe ek hierdie pogings tot moord by die owerheid aangemeld het, het hulle die priester en sy handlangers streng beveel om my uit te los. Jehovah het my beskerm teen ‘dié wat my siel gesoek het’.”—Ps. 35:4.

Hulle het streng neutraal gebly

Deur die jare heen is die broers en susters in Birma se onkreukbaarheid op ’n ander noemenswaardige wyse op die proef gestel. Etniese oorloë en politieke twis het dikwels hulle Christelike neutraliteit beproef.—Joh. 18:36.

In die suidelike dorp Thanbioezajat, die westelike terminus van die berugte “Spoorweg van die dood” tussen Birma en Thailand wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog gebou is, het die spesiale pionier Hla Aoeng hom in die middel van gevegte bevind wat gewoed het tussen separatistiese rebelle en regeringsmagte. “Gewapende soldate het snags klopjagte op dorpe uitgevoer en mans bymekaargemaak en weggeneem om as portiers in die weermag te dien”, vertel hy. “Baie van hulle is nooit weer gesien nie. Een aand het soldate ’n klopjag op ons dorp uitgevoer terwyl ek en Donald Dewar by my huis gesit en gesels het. My vrou het dringend uitgeroep om ons te waarsku, wat ons kans gegee het om in die woud in te vlug. Ná daardie noue ontkoming het ek ’n geheime skuilplek in my huis gebou, waar ek vinnig kon wegkruip as daar weer ’n klopjag was.”

Toe die spesiale pionier Rajan Pandit in Dawei, ’n dorp suid van Thanbioezajat, aangekom het, het hy ná ’n kort rukkie ’n aantal Bybelstudies begin in ’n nabygeleë dorpie wat ’n rebellevesting was. “Terwyl ek van die dorpie af teruggekeer het, is ek deur soldate in hegtenis geneem en geslaan. Hulle het my daarvan beskuldig dat ek kop in een mus is met die rebelle”, vertel hy. “Toe ek vir hulle sê dat ek een van Jehovah se Getuies is, wou hulle weet hoe ek na Dawei gekom het. Ek het vir hulle my vliegtuigkaartjie gewys—wat ek as ’n aandenking gehou het. Dit het bewys dat ek per vliegtuig gekom het, ’n vervoermiddel wat nooit deur rebelle gebruik word nie. Hulle het my nie weer geslaan nie, en ek is uiteindelik vrygelaat. Die soldate het egter een van my Bybelstudente ondervra, en hy het bevestig dat ons bloot die Bybel studeer het. Daarna het die soldate my nie weer lastig geval nie en van hulle het selfs deel van my tydskrifroete geword.”

Soms het amptenare in die dorp druk op die broers geplaas om hulle neutraliteit prys te gee deur in verkiesings te stem of aan nasionalistiese seremonies deel te neem. Toe amptenare in Zaloen, ’n rivierdorp ongeveer 130 kilometer noord van Jangon, druk op plaaslike Getuies geplaas het om in ’n verkiesing te stem, het die broers volstrek geweier om dit te doen en uit die Bybel as hulle gesag aangehaal (Joh. 6:15). Die amptenare het hulle tot die streekowerheid gewend. Maar die streekowerheid het al te goed geweet dat Jehovah se Getuies polities neutraal is. Die broers is sonder versuim van die verkiesingsproses vrygestel.

Toe 23 Getuiekinders in Khampat, ’n dorp aan die grens tussen Birma en Indië, geweier het om voor die landsvlag te buig, het die plaaslike skoolhoof hulle geskors. Sy het toe twee ouer manne ontbied, en hulle het voor ’n groot groep amptenare verskyn, insluitende die dorp se magistraat en die militêre bevelvoerder. “Terwyl ons die skriftuurlike redes vir ons standpunt verduidelik het, kon ons sien dat party van die amptenare ons vyandiggesind is”, sê Paul Khai Khan Thang, een van die ouer manne. “Toe het ons hulle ’n afskrif van ’n staatsbesluit gewys waarvolgens Jehovah se Getuies toegelaat word om ‘gedurende vlagseremonies respekvol te staan sonder om deel te neem’. Die amptenare was uit die veld geslaan. Toe hulle tot verhaal kom, het die militêre bevelvoerder die skoolhoof beveel om die geskorste leerlinge weer in die skool toe te laat. Die skoolhoof het ook afskrifte van die staatsbesluit vir elke departement by die skool gegee.”

Vandag is amptenare op die hoogste vlakke van Mianmar se regering vertroud met die politieke neutraliteit van Jehovah se Getuies. Omdat Jehovah se knegte ’n ferm standpunt vir Bybelbeginsels ingeneem het, het hulle ’n goeie getuienis gegee, net soos Jesus Christus voorspel het.—Luk. 21:13.

Militêre personeel word Christene

Deur Mianmar se onstuimige moderne geskiedenis heen, was baie van die land se burgers militêre personeel of rebelle. Soos die eerste-eeuse Romeinse leëroffisier Kornelius, is sommige van hulle ‘vroom en godvresend’ (Hand. 10:2). Wanneer hulle die waarheid leer, werk hulle hard om hulle lewe in ooreenstemming met Jehovah se regverdige standaarde te bring.

Hierdie twee mans is nou bevry van die kettings van haat en verenig deur bande van liefde, danksy die bevrydende krag van God se Woord

Een van hierdie persone is Hlôn Mang, ’n voormalige onderoffisier in die vloot wat die waarheid geleer het toe hy in Môlamjine gestasioneer was. “Ek wou dadelik begin preek”, sê hy. “Maar net voordat ek uit die weermag bedank het, het ek gehoor dat ek in aanmerking gekom het vir bevordering en vir ’n militêre beurs wat my toegang sou gee tot ’n skool in ’n ryk Westerse land! Maar ek was vasbeslote om God se werk te doen. Tot my meerderes se verbasing het ek my bedanking ingedien en Jehovah begin dien. Vandag, sowat 30 jaar later, is ek nog steeds oortuig dat ek die regte besluit geneem het. Wat kan immers vergelyk word met die voorreg om die ware God te dien?”

Aik Lin (links) en Sa Than Htoen Aoeng (regs) het verskeie kere in hewige bosgevegte aan strydende kante geveg

La Bang Gam het in ’n militêre hospitaal aangesterk toe Robin Zaoeja vir hom die boek Van die Verlore Paradys tot die Herwonne Paradys gewys het.f La Bang Gam het baie van die boek gehou en het gevra of hy dit kan kry. Maar aangesien dit Robin se enigste eksemplaar was, het hy ingestem om dit vir net een aand aan La Bang Gam te leen. Toe Robin die volgende dag terugkom, het La Bang Gam uitgeroep: “Hier is jou boek. Ek het nou my eie boek!” Hy het heelnag opgebly en die hele boek van 250 bladsye in verskeie notaboeke oorgeskryf! Kort daarna het La Bang Gam die weermag verlaat en sy “Paradys”-boek gebruik om baie mense die waarheid te leer.

In die bergagtige Sjan-staat het Sa Than Htoen Aoeng, ’n kaptein in die Birmaanse leër, en Aik Lin, ’n bevelvoerder in die leër van die Verenigde Wa-staat, verskeie kere in hewige bosgevegte aan strydende kante geveg. Toe die leërs uiteindelik ’n skietstilstand beding het, het albei mans hulle in die Sjan-staat gevestig. Later het hulle die waarheid afsonderlik geleer, uit die weermag bedank en is hulle gedoop. Hierdie twee voormalige vyande het by ’n kringbyeenkoms ontmoet, en hulle het mekaar hartlik omhels as Christenbroers! Hulle was nou bevry van die kettings van haat en verenig deur bande van liefde, danksy die bevrydende krag van God se Woord.—Joh. 8:32; 13:35.

Hulle het met “alle soorte mense” geredeneer

Tussen 1965 en 1976 het die aantal verkondigers in Birma met meer as 300 persent toegeneem. Die meeste van die nuwelinge wat gunstig gereageer het op die Getuies se predikingswerk het uit die Christendom gekom. Maar die broers het geweet dat dit God se wil is dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Tim. 2:4). Gevolglik het hulle sedert die middel-1970’s harder probeer om vir Birma se talle ander godsdiensgroepe, insluitende die Boeddhiste, Hindoes en animiste, te preek.

Boeddhistemonnike in tradisionele drag is ’n algemene gesig

Daar was talle uitdagings. Boeddhiste glo nie in ’n persoonlike God of Skepper nie, Hindoes aanbid miljoene gode en Birma se animiste vereer magtige geeste wat natte genoem word. Hierdie godsdienste is deurtrek van bygelowigheid, waarsêery en spiritisme. En hoewel die meeste gelowiges die Bybel as ’n heilige boek beskou, weet hulle gewoonlik min of niks oor die karakters, geskiedenis en kultuur van die Bybel of die konsepte daarin nie.

Maar die broers het geweet dat die kragtige waarhede in God se Woord enigiemand se hart kan raak (Heb. 4:12). Hulle moes eenvoudig op God se gees staat maak en die “onderrigkuns” gebruik—dit wil sê grondige redenasies wat tot mense se hart spreek en wat hulle beweeg om veranderinge in hulle lewe aan te bring.—2 Tim. 4:2.

Kyk byvoorbeeld hoe Rosaline, wat al lank ’n spesiale pionier is, grondige redenasies gebruik wanneer sy met Boeddhiste praat. Sy verduidelik: “Wanneer Boeddhiste geleer word dat daar ’n Skepper is, vra hulle dikwels: ‘Maar wie het die Skepper geskep?’ Omdat Boeddhiste glo dat diere gereïnkarneerde mense is, redeneer ek met hulle deur hulle troeteldiere as ’n voorbeeld te gebruik.

“Ek vra hulle: ‘Weet ’n troeteldier dat sy eienaar bestaan?’

“‘Ja.’

“‘Maar weet die dier enigiets van sy eienaar se werk, huwelik of agtergrond?’

“‘Nee.’”

“‘Net soos diere van mense verskil, verskil mense van God, wat ’n Gees is. Kan ons dan verwag om alles in verband met God se bestaan of oorsprong te verstaan?’

“‘Nee.’”

“Die broers se liefde teenoor my was soos ‘stroop op melasse’”

Sulke redenasies het talle opregte Boeddhiste al beweeg om verdere getuienis te ondersoek wat God se bestaan bewys. Wanneer grondige redenasies met opregte Christelike liefde gepaardgaan, kan dit ’n kragtige uitwerking op mense se hart hê. Ohn Thwin, ’n voormalige Boeddhis, vertel: “Toe ek die Boeddhiste-opvatting van Nirvana met die Bybel se belofte van ’n paradysaarde vergelyk, was die belofte van ’n paradys vir my aantrekliker. Maar omdat ek geglo het dat baie weë na die waarheid lei, het ek nie gedink dat dit nodig is om wat ek geleer het, uit te leef nie. Toe het ek die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon. Die broers se liefde teenoor my was soos ‘stroop op melasse’, ’n Birmaanse uitdrukking om ’n waarlik soet ondervinding te beskryf. Daardie liefde het my beweeg om uit te leef wat ek geweet het die waarheid is.”

’n Groep Getuies in Birma, 1987

Om mense te help om hulle godsdiensbeskouing te verander, vereis natuurlik takt en geduld. Koemar Tjakarabani was tien jaar oud toe sy vader, ’n streng Hindoe, die Betheliet Jimmy Xavier toegelaat het om Koemar te leer lees. Hy vertel: “My pa het vir hom uitdruklik gesê om my net te leer lees; hy moes my nie oor godsdiens leer nie.” “Jimmy het dus vir hom gesê dat My boek met Bybelverhale ’n uitstekende boek is om kinders te leer lees. En ná my leesles het Jimmy gewoonlik ’n bietjie met my pa gesels en opregte belangstelling in hom getoon. Toe my pa vrae oor godsdienssake begin vra het, het Jimmy taktvol vir hom gesê: ‘Die Bybel beantwoord hierdie vrae. Kom ons kyk saam na die antwoorde.’ Met verloop van tyd het my pa sowel as 63 lede van ons familie ook die waarheid aangeneem en Jehovah se Getuies geword.”

Streekbyeenkomste gedurende ’n opstand

In die middel-1980’s het die politieke situasie in Birma al hoe onstabieler geword. Uiteindelik, in 1988, het tienduisende mense in die strate betoog uit protes teen die regering. Maar hulle protes is vinnig onderdruk en krygswet is in die grootste deel van die land afgekondig.

“Die owerheid het ’n streng aandklokreël ingestel, en samekomste van meer as vyf persone is verbied”, vertel die Betheliet Jô Win. “Ons het gewonder of ons ons komende streekbyeenkomste moet kanselleer. Maar met geloof in Jehovah het ons die militêre bevelvoerder van Jangon genader en toestemming gevra om ’n streekbyeenkoms te hou wat deur 1 000 mense bygewoon sou word. Twee dae later het ons ons permit ontvang! Toe ons die permit vir die owerhede in ander gebiede gewys het, het dit hulle beweeg om ook streekbyeenkomste in hulle gebiede toe te laat. Met Jehovah se hulp was die hele reeks streekbyeenkomste ’n reusesukses!”

Hulle het nie Christelike samekomste nagelaat nie

Ná die opstand in 1988 het die ekonomiese situasie in Birma geleidelik versleg. Nogtans het die broers en susters sterk geloof in God getoon deur aan te hou om Koninkryksbelange eerste in hulle lewe te stel.—Matt. 6:33.

Neem as voorbeeld die geval van Jin Khan Dal, wat met sy gesin in ’n afgeleë dorpie in Sagaing gewoon het. “Ons wou die streekbyeenkoms in Tahan bywoon, wat twee dae per boot en vragmotor neem”, sê hy. “Maar niemand wou ons hoenders oppas terwyl ons weg was nie. Ons het nietemin op Jehovah vertrou en die byeenkoms bygewoon. Toe ons by die huis kom, was 19 hoenders weg—’n groot ekonomiese verlies. Maar een jaar later het ons meer as 60 hoenders gehad. En hoewel baie dorpenaars se hoenders daardie jaar weens siekte gevrek het, het ons nie ’n enkele hoender verloor nie.”

Nog ’n egpaar wat hulle geestelike fokus behou het, was Aoeng Tin Njoent en sy vrou, Njein Mia, wat met hulle nege kinders in Jonsja gewoon het, ’n klein dorpie 64 kilometer noordwes van Jangon. Aoeng Tin Njoent vertel: “Ons gesin het gewoonlik net waterige rys en groente geëet. Ons het nie geld gehad of enigiets gehad om te verkoop nie. Ons was egter nie terneergedruk nie. Ek het vir my gesin gesê: ‘Jesus het geen plek gehad om sy kop neer te lê nie. Al moet ek dus onder ’n boom woon of van honger omkom, sal ek God getrou bly dien.’

“Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie. Wat kan die mens aan my doen?”—Heb. 13:6

“Eendag het ons egter nie meer kos in die huis gehad nie. My vrou en kinders het met angstige oë na my gekyk. ‘Moenie bekommerd wees nie’, het ek hulle gerusgestel. ‘God sal ons help.’ Nadat ons die oggend gaan velddiens doen het, het ek en my seuns gaan visvang. Maar ons het net genoeg vis vir een maaltyd gevang. Ons het ons vismandjies naby ’n klompie waterlelies by die rivier gelos. Ek het vir my seuns gesê: ‘Ons kan ná die vergadering terugkom.’ Die wind het daardie middag vreeslik gewaai. Toe ons terugkeer, het ons gesien dat baie visse onder die waterlelies teen die wind skuiling soek. Ons het ons mandjies geneem en heelwat visse gevang, wat ons verkoop het. Ons kon toe ’n hele week se kos koop.”

Jehovah se knegte in Mianmar het keer op keer die vervulling van God se hartverblydende belofte ondervind: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie.” Daarom sê hulle geredelik: “Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie. Wat kan die mens aan my doen?”—Heb. 13:5, 6.

Vooruitgang in publisering

[Grafiek op bladsy 146]

Sedert 1956 het mense in Mianmar baat gevind by die geestelike voedsel wat gereeld in die Mianmese (Birmaanse) uitgawe van Die Wagtoring voorsien word. Ondanks voortgesette etniese oorloë, burgertwis en ekonomiese omwentelinge is nie ’n enkele nommer van die tydskrif oorgeslaan nie. Hoe is die tydskrif gepubliseer?

Die takkantoor het baie jare lank etlike getikte kopieë van die vertaalde tydskrif na die staatsensor gestuur. Wanneer die sensor die teks goedgekeur het, het die takkantoor aansoek gedoen vir ’n permit om drukpapier te koop. Nadat dit gekoop is, het ’n broer die papier en die tydskrif na ’n kommersiële drukker geneem, wat elke bladsy met die hand—letter vir letter—in Mianmees (Birmaans) geset het. Die broer het die teks dan vir akkuraatheid geproeflees, en die drukker het die tydskrif op ’n rammelkaspers gedruk. Kopieë van die tydskrif is dan na die sensor gestuur, wat ’n genommerde sertifikaat uitgereik het wat die publisering van die tydskrif goedgekeur het. Hierdie tydrowende proses het natuurlik weke geneem, en die papier en drukgehalte was taamlik swak.

[Prent]

In 1989, het die takkantoor ’n nuwe setstelsel ontvang wat die drukwerk heeltemal verander het. Die Elektroniese Stelsel vir Veeltalige Fotosetwerk (MEPS), wat by die wêreldhoofkwartier ontwikkel en gebou is, het gebruik gemaak van rekenaars, sagteware en fotosetters om drukbare teks in 186 tale—insluitende Mianmees—te lewer!g

“Jehovah se Getuies was klaarblyklik die eerstes in Mianmar wat lektuur met behulp van rekenaars saamgestel en gepubliseer het”, sê Mia Maoeng, wat by die takkantoor gewerk het. “Die MEPS-stelsel, wat van elegante Mianmese karakters gebruik gemaak het en by ons takkantoor ontwerp is, het groot opspraak in die plaaslike drukkersbedryf gewek. Mense kon nie verstaan hoe ons dit reggekry het om die karakters so netjies te druk nie!” MEPS maak ook rubberdrukwerk moontlik—wat baie beter as hoogdruk is. Daarbenewens het MEPS voorsiening gemaak vir kunswerk van hoë gehalte, wat Die Wagtoring baie aantrekliker gemaak het.

In 1991 het die Mianmese regering die publikasie van die Ontwaak! goedgekeur, en die broers was verheug daaroor. En die publiek was ook! ’n Hoë amptenaar in die Departement van Inligting het die gevoelens van baie lesers uitgedruk: “Die Ontwaak! verskil van ander godsdienstydskrifte. Dit bespreek talle interessante onderwerpe en is maklik verstaanbaar. Ek hou baie daarvan.”

Oor die afgelope 20 jaar het die aantal tydskrifte wat gedruk is, met meer as 900 persent toegeneem!

Oor die afgelope 20 jaar het die aantal tydskrifte wat maandeliks deur die takkantoor gedruk word van 15 000 tot meer as 141 000 toegeneem, ’n vermeerdering van sowat 900 persent! Die Wagtoring en Ontwaak! is nou ’n bekende gesig in Jangon en mense oral in die land geniet om dit te lees.

’n Nuwe takkantoor benodig

Ná die opstand in 1988 het die militêre owerheid maatskaplike en godsdiensorganisasies in Mianmar genooi om by die regering te registreer. Die takkantoor het dit natuurlik dadelik gedoen. Twee jaar later, op 5 Januarie 1990, het die regering “(Wagtoring)genootskap van Jehovah se Getuies” in Mianmar amptelik geregistreer.

Die Bethelhuis het uit sy nate gebars. ’n Suster het klere op die vloer gestryk

Teen hierdie tyd het die broers die takkantoor van 39ste Straat verskuif na ’n tweeverdiepinghuis op ’n erf van 0,2 hektaar in Inja-weg, ’n gegoede buurt noord van die stad. Maar die nuwe fasiliteit het uit sy nate gebars. Viv Mouritz, wat Mianmar gedurende daardie tyd as sone-opsiener besoek het, vertel: “Die 25 lede van die Bethelgesin het onder moeilike omstandighede gewerk. Die kombuis het nie ’n stoof gehad nie—’n suster het kos op ’n elektriese kookplaat voorberei. Die wassery het nie ’n wasmasjien gehad nie, en daarom het ’n suster die klere in ’n gat in die vloer gewas. Die broers wou ’n stoof en ’n wasmasjien koop, maar die toestelle kon eenvoudig nie ingevoer word nie.”

Dit was duidelik dat die broers ’n groter takkantoor nodig gehad het. Die Bestuursliggaam het gevolglik ’n voorstel goedgekeur om die bestaande tweeverdiepinghuis te sloop en ’n nuwe woon- en kantoorgebou van vier verdiepings op dieselfde erf te bou. Maar voordat die broers die voorstel kon deurvoer, moes groot struikelblokke oorkom word. Eerstens, hulle het toestemming van ses staatsdepartemente nodig gehad. Tweedens, plaaslike kontrakteurs kon nie die werk doen nie omdat hulle nie vertroud was met staalraamkonstruksie nie. Derdens, Getuievrywilligers uit die buiteland kon nie die land binnekom nie. En laastens, die boumateriaal kon nie plaaslik verkry word nie, en dit kon ook nie ingevoer word nie. Dit het dus gelyk of die projek tot mislukking gedoem is. Nietemin het die broers op Jehovah vertrou. As dit Jehovah se wil was, sou die nuwe takkantoor gebou word!—Ps. 127:1.

‘Nie deur mag nie, maar deur my gees’

Jô Win, van die takkantoor se Regsafdeling, vertel verder wat gebeur het: “Ons bouaansoek is uiteindelik deur vyf van die ses staatsdepartemente goedgekeur, insluitende die Departement van Godsdienssake. Toe het die Stadsontwikkelingskomitee van Jangon beweer dat ’n vierverdiepinggebou te hoog sal wees en die aansoek afgekeur. Toe ons die aansoek weer indien, is dit weer afgekeur. Die Takkomitee het my aangespoor om te volhard. Ek het dus vurig tot Jehovah gebid en die aansoek ’n derde keer ingedien. Dit is goedgekeur!

“Daarna het ons die Immigrasiedepartement genader. Amptenare daar het vir ons gesê dat buitelanders die land vir net sewe dae op ’n toeristevisum kan binnekom. Maar toe ons vir hulle verduidelik dat ons bekwame buitelandse vrywilligers die plaaslike mense in gevorderde boutegnieke sal oplei, het hulle visums vir ons vrywilligers uitgereik wat hulle toegelaat het om ses maande in die land te bly!

“Ons het toe na die Handelsdepartement gegaan, waar ons uitgevind het dat alle invoere opgeskort is. Maar toe ons vir die amptenare die aard van ons projek verduidelik, het hulle ons ’n lisensie toegestaan om boumateriaal van meer as agtmiljoen rand in te voer. Wat van invoerbelasting? Ons het die Departement van Finansies besoek, en hulle het ons toegelaat om die boumateriaal belastingvry in te voer! Op hierdie en baie ander maniere het ons gesien hoe die woorde van God bewaarheid word: ‘“Nie deur ’n krygsmag of deur krag nie, maar deur my gees”, het Jehovah van die leërs gesê.’”—Sag. 4:6.

Buitelandse en plaaslike broers het skouer aan skouer gewerk

In 1997 het vrywilligers by die bouterrein aangekom. Broers in Australië het die meeste van die boumateriaal geskenk, terwyl ander voorraad van Maleisië, Singapoer en Thailand gekom het. Bruce Pickering, wat gehelp het om oor die projek toesig te hou, vertel: “Verskeie broers van Australië het die hele staalraam vooraf vervaardig en toe na Mianmar gegaan om dit stuk vir stuk aanmekaar te sit. Verbasend genoeg was nie een gaatjie op die verkeerde plek nie!” Ander vrywilligers het van Brittanje, Duitsland, Fidji, Griekeland, Nieu-Seeland en die Verenigde State gekom.

Plaaslike verkondigers kon vir die eerste keer in 30 jaar vryelik assosieer met broers en susters van ander lande. “Ons was vreeslik opgewonde; dit was soos ’n droom”, vertel Donald Dewar. “Die geestelikheid, liefde en selfopofferende gees van die besoekers het ons baie aangemoedig.” ’n Ander broer voeg by: “Ons het ook waardevolle bouvaardighede geleer. Verkondigers wat nog net kerse gebruik het, het geleer om drade vir elektriese ligte aan te lê. Ander wat nog net handwaaiers gebruik het, het geleer om lugversorgers te installeer. Ons het selfs geleer om kraggereedskap te gebruik!”

Die Bethel in Mianmar

Die buitelandse vrywilligers is op hulle beurt diep geraak deur die geloof en liefde van die broers en susters in Mianmar. “Die broers is arm, maar hulle het groot harte”, sê Bruce Pickering. “Baie van hulle het ons na hulle huis genooi vir maaltye en het kos voorgesit wat hulle gesin etlike dae kon gevoed het. Hulle voorbeeld het ons herinner aan wat waarlik belangrik is in die lewe—familie, geloof, ons broederskap, God se seën.”

Op 22 Januarie 2000 is die nuwe takkantoor tydens ’n spesiale samekoms by die Nasionale Teater toegewy. Die plaaslike broers was verheug dat John E. Barr van die Bestuursliggaam die toewydingstoespraak gehou het.

Nuwe Koninkryksale word gebou

Toe die nuwe takkantoor byna klaar was, het die broers hulle begin toespits op ’n ander dringende behoefte—Koninkryksale. In 1999 het Noboehiko en Aja Kojama van Japan af gekom. Noboehiko het gehelp om ’n Koninkryksaalbouafdeling by die takkantoor op die been te bring. Hy vertel: “Ons het eerstens gemeentelike vergaderplekke in die hele land geïnspekteer, wat vereis het dat ons per bus, vliegtuig, motorfiets, fiets, boot en te voet moes reis.” “Ons het dikwels staatspermitte nodig gehad om te reis, aangesien buitelanders in baie gebiede verbied is. Nadat ons vasgestel het waar nuwe sale nodig is, het die Bestuursliggaam goedgunstig geld uit die program vir lande met beperkte middele beskikbaar gestel.

“Nadat ons ’n span vrywilligers saamgestel het, het die werkers op Sjwepjitha, ’n buurt in Jangon, toegesak om die eerste nuwe saal te bou. Buitelandse en plaaslike broers het saam aan die projek gewerk, tot verbasing van die plaaslike polisie, wat die bouwerk ’n paar keer onderbreek het om by hulle meerderes uit te vind of dit toelaatbaar is dat die werkers so met mekaar meng. Ander mense het die broers geprys. ‘Ek het ’n buitelander die toilet sien skoonmaak!’ het ’n man uitgeroep. ‘Ek het buitelanders nog nooit sulke werk sien doen nie. Julle is werklik anders!’

Verkondigers kom per boot by ’n nuwe Koninkryksaal aan

“Intussen het ’n ander bouspan begin werk aan ’n nuwe saal in Tatjileik, ’n dorp aan die grens tussen Mianmar en Thailand. Baie Thai-Getuies het elke dag oor die grens gekom om saam met hulle broers van Mianmar aan die projek te werk. Die twee groepe het in eenheid saam gewerk, al het hulle verskillende tale gepraat. In skerp teenstelling hiermee het gevegte uitgebreek tussen strydende militêre groepe al langs die grens. Dit was omstreeks die tyd toe die saal voltooi is. Bomme en koeëls het om die saal neergereën, maar die saal is nie getref nie. Nadat die gevegte bedaar het, het 72 mense by die saal bymekaargekom om die gebou aan Jehovah, die God van vrede, toe te wy.”

Sedert 1999 het Koninkryksaal-bouspanne meer as 65 Koninkryksale in die land gebou

Sedert 1999 het Koninkryksaalbouspanne meer as 65 nuwe Koninkryksale in die land gebou. Hoe het die plaaslike verkondigers hieroor gevoel? Baie van hulle het gevoel soos een dankbare suster, wat deur trane van vreugde gesê het: “Ek het nooit gedink dat ons so ’n pragtige nuwe saal sal hê nie! Nou sal ek selfs harder probeer om belangstellendes na die vergaderinge te nooi. Ek dank Jehovah en sy organisasie vir hulle goedhartigheid teenoor ons!”

Sendelinge kom in die land aan

Gedurende die 1990’s, ná dekades van afsondering, het Mianmar stadigaan hulle deure vir die buitewêreld begin oopmaak. Die takkantoor het gevolglik toestemming by die regering probeer verkry om weer sendelinge in die land in te bring. Uiteindelik in Januarie 2003 het die Gileadgegradueerdes Hirosji en Joenko Aoki van Japan daar aangekom, die eerste sendelinge ná ongeveer 37 jaar wat Mianmar binnegekom het.

Hirosji en Joenko Aoki, die eerste sendelinge ná ongeveer 37 jaar wat Mianmar binnegekom het

“Met so min buitelanders in die land moes ons versigtig wees sodat die owerheid nie ’n verkeerde indruk van ons predikingswerk sou kry nie”, sê Hirosji. “Aan die begin het ons dus saam met die plaaslike broers en susters na hulle herbesoeke en Bybelstudies gegaan. Ons het gou agtergekom dat die Mianmese lief is daarvoor om oor geestelike dinge te praat. Tydens ons eerste oggend in die bediening het ons vyf nuwe Bybelstudies begin!”

“Ons het dikwels ondervind hoe Jehovah ons lei”, voeg Joenko by. “Terwyl ons eenkeer per motorfiets op pad terug was van ’n Bybelstudie naby Mandalay, het ons ’n pap wiel gekry. Ons het die motorfiets na ’n nabygeleë fabriek gestoot en hulp gevra om die wiel reg te maak. Die sekuriteitswag het Hirosji en die motorfiets ingelaat, maar ek moes by die sekuriteitshokkie wag. Die sekuriteitswag was nuuskierig.

“‘Wat maak julle hier?’ het hy gevra.

“‘Ons besoek vriende’, het ek geantwoord.

“‘Hoekom?’ wou hy weet. ‘Vir ’n godsdiensvergadering?’

“Omdat ek nie seker was van sy motief nie, het ek sy vraag geïgnoreer.

“‘Wees eerlik!’ het hy aangedring. ‘Van watter organisasie is julle?’

“Ek het ’n eksemplaar van Die Wagtoring uit my sak gehaal en dit vir hom gewys.

“‘Ek het dit geweet!’ het hy opgewonde uitgeroep. Hy het na sy medewerkers gedraai en vir hulle gesê: ‘Kyk! ’n Engel het Jehovah se Getuies na ons gestuur deur hulle wiel pap te maak!’

“Die man het toe ’n Bybel en een van ons traktate uit sy tas gehaal. Hy het in ’n ander gebied met die Getuies gestudeer, maar het kontak met hulle verloor toe hy na Mandalay getrek het. Ons het dadelik ’n Bybelstudie met hom begin. Later het party van sy medewerkers ook studeer.”

In 2005 het nog vier sendelinge in Mianmar aangekom, hierdie keer van die Bedieningsopleidingskool (word nou die Bybelskool vir Ongetroude Broers genoem) in die Filippyne. Een van die broers, Nelson Junio, het ’n probleem gehad waarmee baie sendelinge te kampe het—hy het huis toe verlang. “Ek het dikwels gehuil en gebid voordat ek aan die slaap geraak het”, sê hy. “Toe het ’n goedhartige broer vir my Hebreërs 11:15, 16 gewys. Dit vertel hoe Abraham en Sara nie aanhou terugverlang het na hulle vorige tuiste in Ur nie, maar in ooreenstemming met God se voorneme bly optree het. Nadat ek hierdie tekste gelees het, het ek nie meer gehuil nie. Ek het my toewysing as my tuiste begin beskou.”

Goeie voorbeelde strek baie tot voordeel

In die eerste eeu het die apostel Paulus Timoteus vermaan: “Die dinge wat jy by my gehoor het . . . , vertrou dit aan getroue mense toe, wat op hulle beurt voldoende bekwaam sal wees om ander te leer” (2 Tim. 2:2). Die sendelinge het hierdie beginsel ter harte geneem en die plaaslike gemeentes in Mianmar probeer help om meer in lyn te kom met die teokratiese prosedures wat wêreldwyd deur Jehovah se knegte gebruik word.

Die sendelinge het byvoorbeeld opgemerk dat baie plaaslike verkondigers hulle Bybelstudente leer deur hulle hulle antwoorde direk uit die boek te laat lees—’n metode wat in die meeste skole in Mianmar gebruik word. “Ons het die verkondigers geduldig aangemoedig om beskouingsvrae te gebruik om die student te kry om sy gedagtes en gevoelens uit te spreek”, sê Joemar Ubiña. “Die verkondigers het die wenk dadelik toegepas en het gevolglik doeltreffender onderrigters geword.”

Die sendelinge het ook opgemerk dat baie gemeentes net een ouer man of bedieningskneg het. Hoewel daardie aangestelde broers getrou en hardwerkend was, was party van hulle geneig om baasspelerig teenoor die kudde te wees. Dieselfde menslike neiging het moontlik in die eerste eeu bestaan, toe die apostel Petrus ouer manne aangespoor het: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is, . . . nie as persone wat baasspeel oor dié wat God se erfenis is nie, maar deur voorbeelde vir die kudde te word” (1 Pet. 5:​2, 3). Hoe kon die sendelinge hulle broers help? “Ons het hard probeer om ’n goeie voorbeeld te stel deur baie goedhartig, saggeaard en toeganklik te wees”, sê Benjamin Reyes. Hulle goeie voorbeeld het met verloop van tyd ’n positiewe uitwerking gehad. Baie ouer manne het hulle benadering verander en die kudde met groter medelye begin behandel.

’n Beter vertaling lewer goeie resultate

Die broers in Mianmar het baie jare lank ’n 19de-eeuse Bybel gebruik wat een van die Christendom se sendelinge met die hulp van Boeddhistemonnike vertaal het. Hierdie vertaling bevat talle verouderde Pali-woorde en is baie moeilik om te verstaan. Toe die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in 2008 in Mianmees vrygestel is, was die broers dus oorstelp van vreugde. “Die gehoor het lank hande geklap en sommige het selfs van vreugde gehuil toe hulle hulle persoonlike eksemplaar ontvang het”, vertel Maurice Raj. “Die nuwe vertaling is duidelik, eenvoudig en akkuraat. Selfs Boeddhiste vind dit maklik om te verstaan!” Kort nadat die vertaling vrygestel is, het die aantal Bybelstudies in die land met meer as 40 persent vermeerder.

Vandag, byna 50 jaar later, is Doris Raj nog steeds ’n vertaler by die Bethel in Jangon

Soos baie ander tale, is daar twee vorme van Mianmees—’n formele styl wat afkomstig is van Pali en Sanskrit en ’n informele styl wat in die omgangstaal gebruik word. Albei style word in die spreek- en skryftaal gebruik. Die meeste van ons ouer publikasies het die formele styl gebruik, wat al hoe meer mense vandag moeilik vind om te verstaan. Met dit in gedagte het die takkantoor ons publikasies onlangs in alledaagse Mianmees begin vertaal, wat die meeste mense maklik vind om te verstaan.

Vertaalspanne by die takkantoor in Mianmar

Mense het dadelik gunstig op hierdie nuwe publikasies gereageer. Die opsiener van die Vertaalafdeling, Than Htwe Oo, verduidelik: “Mense het altyd gesê: ‘Julle lektuur is van hoë gehalte, maar ek kan dit nie verstaan nie.’ Nou helder hulle gesigte op en hulle begin dit dadelik lees. Baie mense sê: ‘Dit is so maklik om hierdie lektuur te verstaan!’” Selfs die antwoorde wat by gemeentelike vergaderinge gegee word, het verbeter, aangesien die gehoor nou duidelik verstaan wat ons publikasies sê.

Die Vertaalafdeling het tans 26 voltydse vertalers wat in drie tale vertaal—Mianmees, Hakha Tsjin en Sgô Kajin. Lektuur is ook al in 11 ander plaaslike tale vertaal.

Sikloon Nargis

Op 2 Mei 2008 het sikloon Nargis, ’n hewige storm met winde van 240 kilometer per uur, Mianmar getref. Dit het dood en verwoesting vanaf die Eijarwadi-delta tot by die grens van Thailand gesaai. Meer as tweemiljoen mense is deur die sikloon geraak, en ongeveer 140 000 mense het omgekom of was vermis.

Duisende Getuies van Jehovah is swaar getref deur die sikloon, maar verbasend genoeg is nie een beseer nie. Baie het die sikloon oorleef deur in hulle nuwe Koninkryksale te skuil. In Bothingone, ’n kusdorpie in die Eijarwadi-delta, het 20 Getuies sowel as 80 ander dorpenaars nege uur lank binne-in die dak van hulle Koninkryksaal gesit terwyl die vloedwater tot gevaarlik na aan die plafon gestyg het en toe later gesak het.

May Sin Oo buite haar huis terwyl dit herbou word

’n Noodlenigingspan staan saam met broer en suster Htoen Khin voor hulle herboude huis ná die verwoestende sikloon Nargis

Die takkantoor het dadelik ’n noodlenigingspan na die gebied by die mond van die delta gestuur, wat die ergste getref is. Die span het deur verwoeste gebiede gereis wat met lyke besaai was en het met kos, water en medisyne in die dorp aangekom. Hulle was die eerste noodlenigingspan wat die gebied bereik het. Nadat die span die voorraad vir die plaaslike broers en susters gegee het, het hulle bemoedigende Bybeltoesprake gehou en Bybels en Bybellektuur uitgegee, aangesien al die broers se besittings deur die sikloon weggespoel is.

Om die ontsaglike noodlenigingspoging te koördineer, het die takkantoor Noodlenigingskomitees in Jangon en Pathein saamgestel. Hierdie komitees het gereël dat honderde vrywilligers water, rys en ander basiese benodigdhede onder sikloonslagoffers versprei. Hulle het ook gereël dat reisende bouspanne Getuies se huise herbou wat deur die sikloon beskadig of verwoes is.

Een van die vrywilligers wat noodlenigingswerk gedoen het, Tobias Lund, vertel: “Ek en my vrou, Sofia, het die 16-jarige May Sin Oo, die enigste verkondiger in haar gesin, gevind waar sy haar Bybel tussen die puin van haar gesin se huis in die son sit en droogmaak. Sy het geglimlag toe sy ons sien, maar ’n traan het teen haar wang afgerol. ’n Rukkie later het een van ons reisende bouspanne met harde hoede, kraggereedskap en boumateriaal daar aangekom en vir die gesin ’n splinternuwe huis begin bou. Die bure was verstom! Die bouterrein het baie aandag getrek en mense het dae lank om die erf saamgedrom. Mense het gesê: ‘Ons het nog nooit so iets gesien nie! Julle organisasie is so verenig en liefdevol. Ons wil ook Jehovah se Getuies word.’ May Sin Oo se ouers sowel as haar broers en susters woon nou vergaderinge by, en die hele gesin maak goeie geestelike vordering.”

Die noodlenigingswerk het maande lank voortgeduur. Die broers het tonne noodlenigingsvoorraad versprei en 160 huise en 8 Koninkryksale opgeknap of herbou. Sikloon Nargis het rampspoed en ontberinge in Mianmar veroorsaak, maar die stormwolke het iets kosbaars aan die lig gebring—die bande van liefde wat God se volk verenig en Jehovah se naam verheerlik.

’n Onvergeetlike gebeurtenis

Vroeg in 2007 het die takkantoor in Mianmar ’n opwindende brief ontvang. “Die Bestuursliggaam het ons gevra om ’n internasionale byeenkoms in Jangon te organiseer”, sê Jon Sharp, wat die vorige jaar saam met sy vrou, Janet, by die takkantoor aangekom het. “Die byeenkoms in 2009 sou honderde afgevaardigdes van tien lande insluit—iets wat nog nooit in ons takkantoor se geskiedenis gebeur het nie!”

Jon sê verder: “Ons het soveel vrae gehad: ‘Watter plaaslike fasiliteit sal groot genoeg wees vir die byeenkoms? Sal verkondigers van afgeleë gebiede dit bywoon? Waar sal hulle bly? Hoe sal hulle hier kom? Kan hulle bekostig om hulle gesinne te voed? En wat van die owerheid in Mianmar? Sal hulle selfs toelaat dat so ’n byeenkoms gehou word?’ Daar was ’n skynbaar eindelose lys struikelblokke. Ons het egter aan Jesus se woorde gedink: ‘Die dinge wat onmoontlik is by mense, is moontlik by God’ (Lu 18:27). Ons het dus met vertroue in God in alle erns begin planne maak.

“Ons het kort voor lank ’n geskikte plek gevind—Mianmar se Nasionale Binnenshuise Stadion, ’n fasiliteit naby die middestad met 11 000 sitplekke sowel as lugversorging. Ons het dadelik by die owerheid aansoek gedoen vir die fasiliteit. Maar maande later en net weke voor die byeenkoms was ons aansoek nog steeds nie goedgekeur nie. Toe het ons verpletterende nuus ontvang: Die stadionbestuur het ’n skopbokstoernooi by die stadion gereël op dieselfde datums as ons byeenkoms! Omdat ons nie tyd gehad het om ’n ander plek te vind nie, het ons geduldig met die organiseerder van die geleentheid en tientalle beamptes onderhandel om die probleem uit te stryk. Uiteindelik het die organiseerder erken dat hy die toernooi kan uitstel, maar net as die 16 professionele skopboksers wat vir die geleentheid bespreek is, hulle kontrakte verander. Toe die skopboksers hoor dat Jehovah se Getuies die stadion vir ’n spesiale byeenkoms wou hê, het elkeen van hulle tot die verandering ingestem.”

Takkomitee, van links na regs: Jô Win, Hla Aoeng, Jon Sharp, Donald Dewar en Maurice Raj

Jô Win, ’n ander lid van die Takkomitee, sê egter: “Ons het nog steeds nie toestemming van die staat gekry om die stadion te gebruik nie, en ons aansoek is reeds vier keer afgewys! Nadat ons tot Jehovah gebid het, het ons met die generaal vergader onder wie se beheer alle stadions in Mianmar is. Dit was net twee weke voor die byeenkoms, en dit was die eerste keer dat ons toegang gekry het tot iemand op hierdie vlak van die staatsbestuur. Tot ons vreugde het hy ons versoek toegestaan!”

Duisende afgevaardigdes van regoor Mianmar en van die buiteland was per vliegtuig, trein, boot, bus, vragmotor—en te voet—op pad na Jangon, onbewus van hierdie voortslepende drama. Baie Mianmese gesinne het maande lank gespaar om die geleentheid by te woon. Talle broers het gewasse gekweek, ander het varke geteel, party het naaldwerk gedoen en ’n paar van hulle het goud gepan. Baie het nog nooit ’n groot stad besoek of buitelanders gesien nie.

Meer as 1 300 byeenkomsgangers van die noorde van Mianmar het by die Mandalay-spoorwegstasie bymekaargekom van waar ’n gehuurde trein hulle na Jangon sou neem. Een groep van die Naga-Heuwels het ses dae lank gereis en het twee verkondigers op hulle rûe gedra wie se tuisgemaakte rolstoele ingegee het kort nadat hulle vertrek het. Honderde het op die stasieplatform gekampeer terwyl hulle gesels, gelag en Koninkryksliedere gesing het. “Almal was opgewonde”, sê Poem Jin Khai, wat met vervoerreëlings gehelp het. “Ons het vir hulle kos, water en slaapmatte gegee. Toe die trein uiteindelik daar aankom, het ouer manne elke groep gehelp om hulle toegewese treinwa te vind. Uiteindelik was daar ’n harde aankondiging oor ’n luidspreker: ‘Die trein van die Jehovah se Getuies gaan vertrek!’ Ek het na die platform gekyk om te sien of enigiemand agtergebly het en toe op die trein gespring!”

Intussen het byna 700 buitelandse afgevaardigdes in Jangon hulle in hulle hotelle tuisgemaak. Maar waar sou die meer as 3 000 Mianmese byeenkomsgangers gehuisves word? “Jehovah het die harte van die Getuies in Jangon geopen om vir hulle broers en susters te sorg”, sê Mjint Lwin, wat in die Huisvestingafdeling gewerk het. “Sommige gesinne het tot 15 besoekers ingeneem. Hulle het betaal om hulle gaste by die owerheid te registreer en hulle elke dag van ontbyt voorsien, asook van vervoer na en van die stadion. Tientalle byeenkomsgangers het by plaaslike Koninkryksale gebly; honderde ander het by ’n groot fabriek geslaap. Maar ten spyte van al hierdie reëlings het ongeveer 500 byeenkomsgangers nog steeds huisvesting nodig gehad. Ons het ons probleem aan die stadionbestuur verduidelik, en hulle het die byeenkomsgangers toegelaat om by die stadion te slaap—iets wat nog nooit voorheen gedoen is nie!”

Jehovah het die harte van die Getuies in Jangon geopen om vir hulle broers en susters te sorg”

Die “Hou aan waak!”- internasionale byeenkoms in 2009 het die broers se geloof versterk en het ’n groot getuienis in Jangon gegee

Aangesien die stadion nie goed in stand gehou is nie, het meer as 350 vrywilligers tien dae lank gewerk om dit gereed te kry vir die byeenkoms. “Ons het herstelwerk gedoen aan die loodgieter-, elektriese en lugversorgingstelsel en toe die hele fasiliteit geverf en skoongemaak”, sê Htai Win, die byeenkomsopsiener. “Die ontsaglike hoeveelheid werk wat ons gedoen het, het tot ’n goeie getuienis gelei. Die leëroffisier wat vir die stadion verantwoordelik is, het uitgeroep: ‘Dankie! Nogmaals dankie! Ek hoop regtig dat julle my stadion elke jaar sal gebruik!’”

Meer as 5 000 mense het die byeenkoms bygewoon, wat 3-6 Desember 2009 gehou is. Op die laaste dag het baie afgevaardigdes tradisionele klere aangetrek, wat ’n kaleidoskoop van kleur geskep het. “Almal het mekaar omhels en het gehuil—selfs voordat die program begin het!”, het een suster gesê. Nadat Gerrit Lösch van die Bestuursliggaam die slotgebed gedoen het, het die gehoor etlike minute lank hande geklap en vir mekaar gewaai. Een 86-jarige suster het baie se gevoelens soos volg opgesom: “Dit het vir my gevoel asof ek in die nuwe wêreld is!”

Baie staatsamptenare was ook beïndruk. “Hierdie samekoms is uniek”, het een amptenaar gesê. “Niemand vloek, rook of kou betelneut nie. Verskillende etniese groepe is verenig. Ek het nog nooit so ’n groep mense gesien nie!” Maurice Raj vertel: “Selfs die senior militêre bevelvoerder in Jangon vir ons gesê het dat hy en sy kollegas nog nooit so ’n indrukwekkende gebeurtenis gesien het nie.”

Baie byeenkomsgangers het saamgestem dat hulle iets spesiaals waargeneem het. ’n Plaaslike broer het gesê: “Voor die byeenkoms het ons nog net gehoor van ons internasionale broederskap. Nou het ons dit ondervind! Ons sal die liefde wat ons broers teenoor ons betoon het, nooit vergeet nie.”

Voor die byeenkoms het ons nog net gehoor van ons internasionale broederskap. Nou het ons dit ondervind!”

‘Wit vir die oes’

Amper 2 000 jaar gelede het Jesus vir sy dissipels gesê: “Slaan julle oë op en aanskou die lande, dat hulle wit is vir die oes” (Joh. 4:35). Dit kan ook van die hedendaagse Mianmar gesê word. Tans het die land 3 790 verkondigers, ’n verhouding van 1 verkondiger vir elke 15 931 inwoners—inderdaad ’n groot oes! En die feit dat 8 005 mense in 2012 die Gedenkmaal bygewoon het, toon dat die potensiaal vir vermeerdering groot is!

Neem as verdere bewys hiervan die Rakhine-staat, ’n kusstreek wat aan Bangladesj grens en byna viermiljoen inwoners het, maar geen Getuie van Jehovah nie. “Ons ontvang elke maand talle briewe van mense in hierdie streek waarin hulle lektuur en geestelike hulp vra”, sê Maurice Raj. “Daarbenewens toon al hoe meer Boeddhiste in Mianmar, veral jongmense, belangstelling in die waarheid. Gevolglik hou ons aan om die Heer te smeek om meer werkers in die oes uit te stuur.”—Matt. 9:37, 38.

‘Ons hou aan om die Heer te smeek om meer werkers in die oes uit te stuur’

Byna 100 jaar gelede het twee moedige pioniers die goeie nuus na hierdie oorwegend Boeddhisteland gebring. Sedertdien het duisende mense uit verskillende agtergronde ’n standpunt vir die waarheid ingeneem. Ondanks gewelddadige konflikte, politieke omwenteling, wydverspreide armoede, godsdiensvervolging, internasionale isolasie en natuurrampe het Jehovah se Getuies in Mianmar onwrikbare toegewydheid aan Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, geopenbaar. Hulle bly vasbeslote om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en “ten volle te volhard en lankmoedig te wees met vreugde”.—Kol. 1:11.

a Mianmar het voorheen bekend gestaan as Birma, vernoem na die Bamar (Birmaanse) stam, die grootste etniese groep in die land. Die land is in 1989 tot die Unie van Mianmar hernoem, om die talle etniese groepe in die land te verteenwoordig. Ons sal die naam Birma gebruik met verwysing na gebeure voor 1989 en die naam Mianmar met verwysing na gebeure ná daardie jaar.

b Anglo-Indiërs is mense van gemengde Indiese en Britse herkoms. Onder die Britse heerskappy het duisende Indiërs na Birma geïmmigreer, wat destyds as deel van “Brits-Indië” beskou is.

c Bertram Marcelline was die eerste persoon wat as een van Jehovah se Getuies in Birma gedoop is. Hy het in die laat 1960’s in Birma gesterf, getrou tot die einde toe.

d Destyds gelykstaande aan ongeveer R750, ’n groot som geld.

e Sien die 1966 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsy 192.

f Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.

g MEPS verwerk nou meer as 600 tale.

’n Oorsig van Mianmar

Land

Met sy sneeubedekte berge, vogtige oerwoude, uitgestrekte vlaktes, magtige riviere en breë deltas is Mianmar ’n land van verbasende verskeidenheid. Dit is die tweede grootste land in Suidoos-Asië en beslaan ’n gebied wat groter is as Frankryk.

Bevolking

Die geskatte bevolking van 60 miljoen bestaan uit ten minste 135 etniese groepe. Sowat twee-derdes van die bevolking is van die Bamar-, of Birmaanse, etniese groep. Omtrent 90 persent van die bevolking is Theravada-Boeddhiste. Baie mense van die Kajin-, Tsjin- en Katsjin- etniese groepe is verklaarde Christene.

Taal

Mianmees (Birmaans) is die amptelike taal wat landwyd gepraat word, maar die meeste etniese groepe het ook hulle eie stamtaal.

Bestaansmiddele

Die ekonomie berus hoofsaaklik op landbou, bosbou en vissery. Rys is die vernaamste gewas. Die land is ryk aan natuurlike hulpbronne, insluitende kiaat, rubber, jade, robyne, olie en natuurgas.

Voedsel

Vriende geniet ’n tipiese Mianmese ete

Rys vorm deel van byna elke maaltyd. Ngapi, ’n pikante pasta wat van gegiste vis of garnale gemaak word, word dikwels daarby bedien. Liggekruide slaaie en matige kerriegeregte is gewild. Maaltye sluit soms klein hoeveelhede vis, hoender en garnale in. Swart- en groentee is die algemeenste drankies.

Klimaat

Die klimaat word oorheers deur ekwatoriale moesonreëns. Daar is drie seisoene: warm, baie warm en baie warm met reën. Maar in die bergagtige noordelike streek kan dit koud wees.

Hy het nie doekies omgedraai nie

SYDNEY COOTE

GEBORE 1896

GEDOOP 1939

PROFIEL Een van die eerste mense in Mianmar wat die waarheid aangeneem het. Soos vertel deur sy susterskind, Phyllis Tsatos (vroeër D’Souza).

◆ MY OOM het vir ons gesin getuig.

“Glo jy werklik dat God mense vir ewig in die hel laat brand?” het hy my gevra.

“Ja, dit is wat die Katolieke Kerk leer”, het ek geantwoord.

My oom het na ons hond gewys wat voor ons gelê het en gevra: “Wat sal jy doen as jou hond jou byt?”

“Ek sal hom pak gee om hom te leer dat dit verkeerd is”, het ek geantwoord.

“Waarom hang jy hom nie aan sy stert op en steek jy hom met ’n rooiwarm vuuryster nie?” het hy gevra.

Ek het geskok uitgeroep: “Oom! Dit sou verskriklik wreed wees!”

“Wreed?” het hy geantwoord. “Tog sê die kerk dat God sondaars vir ewig in ’n helse vuur folter!”

Sy reguit dog logiese redenasie het my beweeg om my oortuigings weer in oënskou te neem. Kort voor lank het agt lede van ons gesin ywerige Getuies geword.

Kultuur en gebruike in Mianmar

Name

Die meeste mense in Mianmar het nie ’n van, of familienaam, nie. Persoonsname bestaan gewoonlik uit ’n paar eensillabige woorde wat aantreklike eienskappe, voorwerpe of die persoon se etniese agtergrond beskryf. Byvoorbeeld, Tsjo Sandar Mjint beteken “Soet Maan Daarbo”, Htet Aoeng Htoen beteken “Intelligent Verower Skyn” en Nô Sai Wah Phô beteken “Vrou Silwer Blom”.

Groet

In Mianmar groet mense mekaar op verskillende en interessante maniere. Vriende wat mekaar lank nie gesien het nie, sal moontlik lighartig uitroep: “Jy is toe nog nie dood nie!” Om en by etenstyd vra mense miskien: “Het jy al geëet?” Mense sê nie “Totsiens” nie, maar sê bloot “Ek gaan nou”. Die tipiese antwoord hierop is “Goed!” of “Stap stadig!”

Maniere

’n Sagmoedige en vriendelike gesindheid word hoog op prys gestel. Mense het respek vir ouer mense en gebruik beleefde aanspreekvorme soos Oom, Tannie en Onderwyser of Onderwyseres. Wanneer mense vir mekaar iets gee of mekaar met die hand groet, sal hulle dikwels met hulle linkerhand aan hulle regtervoorarm raak as ’n blyk van respek. Hoewel mans en vroue—getroud of ongetroud—liefdesblyke in die openbaar vermy, sal persone van dieselfde geslag dikwels in die openbaar hande vashou.

Kleredrag

Mans en vroue dra die lungi, ’n kleurvolle, buisvormige stuk materiaal wat van die middellyf tot by die enkels strek. Mans knoop die lungi voor vas; vroue steek die kledingstuk by hulle middellyf in. Die motiewe op die materiaal verskil na gelang van geslag en etniese groep.

Persoonsversorging

’n Ma smeer thanaka aan haar dogter se gesig

Die meeste vroue en kinders gebruik thanaka, ’n welriekende pasta wat van die fyngemaalde bas van die thanaka-boom gemaak word, as ’n kosmetiese middel en velbehandeling. Thanaka verfris die vel en is ’n doeltreffende middel teen sonbrand.

Jehovah het my ’n nuwe gees gegee

WILSON THEIN

GEBORE 1924

GEDOOP 1955

PROFIEL Hierdie voormalige rower het hard gewerk om sy per-soonlikheid te verander en dien al 54 jaar as ’n spesiale pionier.

◆ TOE ek jonk was, het ek opleiding ontvang in boks, stoei en judo. Gevolglik het ek ’n gewelddadige, opvlieënde persoonlikheid ontwikkel. Teen die tyd dat ek 19 was, was ek ’n gewapende rower in ’n bende. Ek is uiteindelik gevang en het ’n vonnis van agt jaar uitgedien, waartydens ek nagedink het oor my slegte lewenswyse en baie gebid het. Diep in my hart wou ek meer weet omtrent God.

Ná my vrylating het ek na Jangon getrek, waar ek die vergaderinge van Jehovah se Getuies bygewoon het. Uiteindelik het ek aan die vereistes voldoen om gedoop te word, danksy die geduldige hulp van ’n hele paar liefdevolle broers.

Omdat ek gevoel het dat ek ’n volslae mislukking is, het ek soms ure lank by die rivier gaan sit en huil

Nadat ek gedoop is, het ek nog steeds gesukkel om my ten volle met die Christelike persoonlikheid te beklee (Ef. 4:24). Ek was geneig om baie krities teenoor ander te wees en het dikwels vir hulle kwaad geword. Ek wou ’n beter mens wees, maar het dit moeilik gevind om my emosies te beheers. Omdat ek gevoel het dat ek ’n volslae mislukking is, het ek soms ure lank by die rivier gaan sit en huil.

In 1957 is ek as ’n spesiale pionier aangestel. My eerste toewysing was in Mandalay. Daar het ek saam met die sendeling Robert Richards gewerk. Robert was soos ’n pa vir my. Hy het my geleer om op mense se goeie eienskappe te konsentreer en nederig te onthou dat ek self onvolmaak is (Gal. 5:22, 23). Wanneer ek ook al ontsteld geraak het, het ek Jehovah gesmeek om my “’n nuwe, standvastige gees” te gee wat deur vrede gekenmerk word (Ps. 51:10). Jehovah het my gebede verhoor, en mettertyd het my persoonlikheid verbeter.

Later het ek die Bybel met ’n 80-jarige man gestudeer wat ’n Baptis was. Die lidmate van sy kerk was ontstoke en het my daarvan beskuldig dat ek hulle skape “steel”. Een van hulle het ’n mes teen my gesig gehou en tussen sy tande deur gesê: “Is dit ’n sonde om iemand dood te maak?” Blinde woede het in my opgestoot. Ek het dadelik stilletjies tot Jehovah gebid en toe kalm gesê: “Beantwoord daardie vraag maar self.” Die man het gehuiwer, toe omgedraai en weggestap. Ek het Jehovah gedank omdat hy my gehelp het om kalm te bly. My bejaarde Bybelstudent is kort daarna gedoop en het tot sy dood ’n getroue Getuie gebly.

Oor die jare het ek in 17 verskillende spesialepionier-toewysings gedien en 64 mense gehelp om die waarheid te leer. Wanneer ek nadink oor hoe goed Jehovah vir my was, kry ek trane in my oë. Hy het ’n gewelddadige, woedende, ongelukkige jong man gehelp om ’n vredeliewende nuwe gees te ontwikkel.

Jehovah het dit moontlik gemaak

MAURICE RAJ

GEBORE 1933

GEDOOP 1949

PROFIEL Is al meer as 50 jaar in die voltydse diens in Mianmar en het ’n groot deel van dié tyd as die takop-siener gedien. Hy dien nog steeds op die Takkomitee.h

◆ IN 1988 het gewelddadige betogings Jangon geskud toe duisende mense die strate ingestroom het en politieke hervorming geëis het. Toe die spanning in die land breekpunt bereik het, het die weermag ’n militêre staatsgreep uitgevoer en die grootste deel van die land aan krygswet onderwerp. Duisende betogers is doodgemaak.

Daardie selfde maand moes ons ons jaarlikse takkantoorverslag na die wêreldhoofkwartier in New York stuur, maar alle normale kommunikasiekanale was buite werking, en ons het nie geweet hoe ons die verslag uit die land sou kry nie. Toe het ek gehoor dat die Amerikaanse Ambassade hulle diplomatieke pos per helikopter uit die land neem. Met die gedagte dat die verslag dalk saam met hulle pos gestuur kan word, het ek my beste pak klere en das aangetrek en na die ambassade vertrek.

Terwyl ek deur die reëndeurdrenkte strate gery het, het ek opgelet dat die stad onheilspellend stil is. Toe ek kort daarna by ’n groot versperring van houtpale moes stop, het ek die motor geparkeer en die res van die pad gestap.

Naby die hek van die ambassade het ek honderde mense gesien wat geskreeu het dat hulle wil inkom, maar soldate met stroewe gesigte het die ingang versper. Ek het ’n oomblik stilgestaan en stilletjies gebid. ’n Student wat gesien het dat ek netjies aangetrek is, het uitgeroep: “Hierdie man moet ’n amptenaar van die ambassade wees.” Daarop het ek deur die skare beweeg. Toe ek die ambassade se geslote hek bereik het, het ’n groot soldaat my agterdogtig aangekyk.

“Wie is jy”, het hy gebulder, “en wat wil jy hê?”

“Ek wil die ambassadeur sien”, het ek geantwoord. “Ek het ’n baie belangrike boodskap wat ek na Amerika moet stuur.”

Hy het my aangegluur. Skielik het hy die hek oopgeruk, my na binne gepluk en die hek toe voor die oproerige skare toegeklap.

“Volg my”, het hy nors gesê.

By die ambassade se deur het die soldaat my in die sorg van ’n afgematte amptenaar gelaat, wat my gevra het wat ek wil hê.

“Ek werk by die plaaslike takkantoor van die Wagtoringgenootskap”, het ek verduidelik. “En ek het ’n belangrike verslag wat ons hoofkwartier in New York hierdie maand moet bereik. Kan u dit asseblief saam met u diplomatieke pos stuur?” Ek het my kosbare koevert vir die man gegee en bygevoeg: “Ek is baie jammer, maar ek het nie ’n posseël nie.”

Ek het my kosbare koevert vir die man gegee en gesê: “Ek is baie jammer, maar ek het nie ’n posseël nie”

Die amptenaar was effens uit die veld geslaan en het my ’n paar vrae gevra. Toe het hy my verseker dat hy die verslag sou aanstuur. Ek het later gehoor dat dit die wêreldhoofkwartier betyds bereik het.

h Broer Raj se lewensverhaal het in Die Wagtoring van 1 Desember 2010 verskyn.

’n Regter neem die waarheid aan

MANG JOENG

GEBORE 1934

GEDOOP 1981

PROFIEL ’n Vooraanstaande skool-hoof en regter wat later ’n ywerige pionier geword het.

◆ TOE ’n pionier my die eerste keer ’n eksemplaar van Die Wagtoring aangebied het, het ek vir hom gesê: “Ek het nie tyd om te lees nie. Ek is te besig.” Maar omdat ek ’n strawwe roker was, het ek gedink dat ek die tydskrif se bladsye kan gebruik om my sigare te rol. Ek het dus die tydskrif geneem.

Toe ek ’n bladsy uitgeskeur het om ’n sigaar te rol, het ek gedink dat dit ’n vermorsing sal wees om dit nie eers te lees nie. Dit is hoe ek vertroud geraak het met Die Wagtoring en daarvan begin hou het. Wat ek gelees het, het my beweeg om rook op te gee en my lewe in ooreenstemming te bring met God se ander regverdige standaarde. Kort voor lank is ek gedoop.

Toe ek ná my doop weer in my dorpie aangekom het, het die pastoor en die ouderlinge my geld aangebied om terug te keer na hulle kerk. Toe ek geweier het, het hulle die leuen versprei dat die Getuies my betaal het om gedoop te word. Ek het my nie deur hulle lasterlike praatjies laat intimideer nie. Ek was trots daarop om die ware God te ken en te dien.

Jehovah het my volharding geseën

AH SJE

GEBORE 1952

GEDOOP 1998

PROFIEL Hierdie voor-malige Katolieke lekeprediker het die waarheid aangeneem.

◆ EK WAS baie jare lank ’n Katolieke lekeprediker in die hartjie van die Goue Driehoek. Toe ek Jehovah se Getuies ontmoet het en gesien het hoe hulle die Bybel vaardig gebruik, het ek ingestem om saam met hulle te studeer.

Kort voor lank het ek Sondagoggende in die kerk gepreek en Sondagmiddae vergaderinge by die Koninkryksaal bygewoon. Ná ’n rukkie het ek ware Bybelleringe in my preke in die kerk begin insluit, en dit het party gemeentelede ontstel, om nie eens te praat van die priester nie! Toe ek uit my amp as lekeprediker bedank het, het die gemeentelede my voor die hof gedaag omdat hulle my uit die dorpie wou laat verban. Die magistraat het vir hulle gesê dat ek die reg op vryheid van aanbidding het. Maar my vrou was briesend kwaad. “Loop! Vat jou sak en jou Bybel en maak dat jy wegkom!” het sy geskreeu. Ten spyte van haar woede het ek nooit kwaad met kwaad vergeld nie, en ek het aangehou om vir haar en die kinders te sorg. Tot my groot vreugde het Jehovah my volharding geseën. Vandag is my vrou, Cherry, en ons kinders ook gelukkige knegte van Jehovah.

My agterdog het verdwyn

GREGORY SARILO

GEBORE 1950

GEDOOP 1985

PROFIEL ’n Voormalige kerkwerker wat gedink het dat Jehovah se Getuies moontlik valse profete is.

◆ EK WAS jare lank ’n vroom Rooms-Katoliek wat die leiding geneem het in kerkbedrywighede in my dorpie. In daardie tyd het ek gesien dat kerkleiers onsedelikheid deur die vingers sien, animistiese offerandes bring en spiritisme beoefen. Omdat hulle skynheiligheid my gewalg het, het ek gevra om van my kerklike pligte vrygestel te word, maar ek het steeds vasgehou aan my Katolieke oortuigings.

In 1981 het ek Jehovah se Getuies ontmoet. Ek is beïndruk deur hulle Bybelkennis en het ’n Bybelstudie aanvaar, maar ek was baie agterdogtig oor hulle leringe en het hulle gedurig bevraagteken. Hulle het my vrae kalm uit die Bybel beantwoord.

Ek het ’n streekbyeenkoms bygewoon om te sien of die Getuies verenig is wat hulle leringe betref. Gedurende ’n pouse het ek per ongeluk my sak met my identiteitskaart, geld en ander kosbare besittings onder my sitplek gelos. Ek het gedink dat die sak beslis weg sou wees. Maar die broers het my verseker: “Moenie bekommerd wees nie. Dit sal daar wees wanneer jy teruggaan.” Ek het na my sitplek toe gehardloop, en dit was nog daar! My agterdog teenoor die Getuies het toe verdwyn.

Ek het “alles-oortreffende rykdom” gevind

SA THAN HTOEN AOENG

GEBORE 1954

GEDOOP 1993

PROFIEL ’n Voormalige Boeddhistemonnik en soldaat. Nadat hy die waarheid aangeneem het, het hy jare lank as ’n pionier gedien.

◆ EK KOM uit ’n Boeddhistegesin en was ’n tyd lank ’n Boeddhistemonnik. Ek het nie geglo in ’n persoonlike God of Skepper nie. Toe het ’n vriend wat ’n “Christen” was, my genooi om saam met hom na sy kerk toe te gaan, waar ek gehoor het dat mense ’n Vader in die hemel het. Ek het daarna gesmag om hierdie hemelse Vader te leer ken en nader aan hom te kom.

Nadat ek my dienstyd as ’n monnik voltooi het, het ek by die weermag aangesluit. Terwyl ek in die weermag was, het ek ’n dagboek gehou. Ek het elke inskrywing begin met die woorde: “Vader, God in die hemel.” Later het ek die weermag probeer verlaat om ’n pastoor te word, maar my meerderes het dit nie toegelaat nie. Mettertyd is ek bevorder tot kaptein, ’n posisie wat vir my vernaamheid, invloed en finansiële geleenthede meegebring het. Maar diep binne my was ek geestelik honger.

In 1982 het ek met Htoe Aoeng getrou. Haar ouer suster, een van Jehovah se Getuies, het ons die boek Van die Verlore Paradys tot die Herwonne Paradys gegee. Die boek het gesê dat God se naam Jehovah is, ’n bewering waaroor ek getwyfel het. Ek het vir Htoe Aoeng gesê: “As jy vir my die naam Jehovah in die Mianmese Bybel kan wys, sal ek een van Jehovah se Getuies word!” Sy het oral in haar Bybel gesoek, maar kon dit nie vind nie. Maar vir haar Getuievriendin, Mary, was dit glad nie ’n probleem nie. Sy het my onmiddellik die naam Jehovah gewys! Ná verloop van tyd het ek die Getuies se vergaderinge saam met my vrou en kinders begin bywoon en ook ’n Bybelstudie aanvaar.

Namate my Bybelkennis toegeneem het, het my begeerte om God te dien, al hoe sterker geword. In 1991 het ek weer gevra om uit die weermag ontslaan te word—dié keer om een van Jehovah se Getuies te word. Twee jaar later is ek uiteindelik ontslaan. Daardie selfde jaar is ek en Htoe Aoeng gedoop.

Om my gesin te onderhou, het ek kos by ’n mark begin verkoop. My familielede en vriende het vir my gesê dat ek mal is om ’n belowende militêre loopbaan prys te gee om minderwaardige werk te doen. Maar ek het daaraan gedink dat Moses Farao se koninklike hof verlaat het en ’n herder geword het sodat hy God kon dien (Eks. 3:1; Heb. 11:24-27). Later het ek ’n doelwit bereik wat my na aan die hart gelê het—ek het ’n gewone pionier geword.

Van my vriende in die leër het vooraanstaande offisiere geword en groot rykdom verwerf. Maar ek het “allesoortreffende rykdom” gevind—die seëninge wat daaruit voortspruit om my hemelse Vader te ken en te dien (Ef. 2:7). Vandag is etlike van my broers- en susterskinders in die voltydse diens, en my oudste seun dien by die Bethelhuis in Mianmar.

Goedhartigeid het my weerstand laat verbrokkel

ZÔ BAOEM

GEBORE 1954

GEDOOP 1998

PROFIEL ’n Voormalige dwelmhandelaar en teenstander van die waarheid wie se hart geraak is deur Christelike goedhartigheid.

◆ TOE Loe Mai, my vrou, die Bybel met Jehovah se Getuies begin studeer het, het ek haar hewig teëgestaan. Ek het haar Bybellektuur in die toilet gegooi en die Getuies by my huis weggejaag.

Vandag doen ek nog steeds my belofte gestand deur Jehovah na die beste van my vermoë te dien

Later het ek dwelms begin verkoop, wat daartoe gelei het dat ek in die tronk gegooi is. Ná my eerste nag daar het Loe Mai vir my ’n Bybel gestuur, asook ’n aanmoedigende brief met baie teksverwysings. Later het ek nog geestelik opbouende briewe van haar ontvang. Ek het gou besef dat ek nooit in die tronk sou beland het as ek die Bybel se raad gevolg het nie.

Terwyl ek in die tronk was, het twee mans my onverwags kom besoek. Die mans, wat Jehovah se Getuies was, het verduidelik dat my vrou hulle gevra het om my te kom besoek en my aan te moedig. Hulle het twee dae lank gereis om by my uit te kom. Hulle besoek het my diep getref. Nie een van my talle familielede het my kom besoek nie—slegs die mense wat ek eens hewig teëgestaan het, het gekom.

Kort daarna is ek in die hospitaal opgeneem met ingewands­koors, maar ek kon nie die behandeling bekostig nie. Toe het iemand my onverwags besoek—’n Getuie wat deur my vrou gestuur is. Omdat hy vir my innig jammer gevoel het, het hy vir my behandeling betaal. Ek het verleë en skaam gevoel en myself belowe dat ek een van Jehovah se Getuies sal word. Vyf jaar later, toe ek uit die tronk vrygelaat is, het ek my belofte nagekom.

Ek sal soos ’n takbok klim

LIAN SANG

GEBORE 1950

GEDOOP 1991

PROFIEL ’n Voormalige soldaat wat al twee sy bene tydens ’n geveg verloor het. Hy dien nou as ’n bedieningskneg.

◆ EK IS gebore en grootgemaak in Matoepi, ’n afgeleë bergdorpie in die Tsjin-staat. Ons gesin het natte aanbid, magtige geeste wat glo in sekere woude en berge in ons gebied woon. Wanneer ’n familielid siek geword het, het ons kos op ons huisaltaar gesit en ’n nat opgeroep om die offerande te aanvaar. Ons het geglo dat die nat dan die siekte sou genees.

Toe ek 21 geword het, het ek by die weermag aangesluit. In die daaropvolgende jare was ek betrokke by 20 gevegte. In 1977 het kommunistiese rebelle ons kamp aangeval naby Muse, ’n dorp in die Sjan-staat. Die geveg het 20 dae gewoed. Ons het uiteindelik ’n groot teenaanval geloods, en ek het op ’n landmyn getrap. Ek het na my bene gestaar en gesien dat al die vlees afgeskiet is. My bene het vuurwarm gevoel, en ek was baie dors, maar ek was nie bang nie. Ek is vinnig na die hospitaal geneem, waar my bene afgesit is. Vier maande later is ek uit die hospitaal ontslaan as ’n burgerlike.

In die Paradys sal ek nie net soos ’n takbok klim nie, maar ook hardloop en spring van vreugde!

Ek en my vrou, Sein Ei, het na Sagaing getrek, ’n dorp naby Mandalay, waar ek bamboesstoele begin vleg het om ’n bestaan te maak. Daar het ek ’n Baptistepredikant ontmoet wat vir my gesê het dat ek my bene verloor het omdat dit God se wil was. Later het ek en Sein Ei kennis gemaak met Rebecca, ’n pionier, wat vir ons gesê het dat ek in die komende aardse Paradys my bene sal terugkry. Kort daarna het ons die Bybel gretig begin studeer saam met Rebecca, nie die predikant nie!

Vandag, byna 30 jaar later, woon ek en Sein Ei en ons sewe gedoopte kinders in ’n klein dorpie naby Pjin Oo Lwin, ’n mooi dorp op ’n heuwel omtrent 65 kilometer van Mandalay af. Ek dien as ’n bedieningskneg in die Pjin Oo Lwin-gemeente, en drie van my kinders dien as gewone pioniers. Ek en Sein Ei het hard gewerk om ons kinders in die waarheid groot te maak, en dit is vir ons ’n seën dat hulle gunstig gereageer het op ons geestelike onderrigting.

Ek preek gereeld in my dorpie met behulp van ’n rolstoel, en ek kry ’n geleentheid op ’n motorfiets na die vergaderinge. Ek “loop” ook met behulp van twee houtstutte.

My gunstelingvers is Jesaja 35:6, wat sê: “Dan sal die kreupele net soos ’n takbok klim.” Ek sien so daarna uit om my bene terug te kry! Dan sal ek nie net soos ’n takbok klim nie, maar ook hardloop en spring van vreugde!

Hardwerkende reisende opsieners

[Kaart]

Dwarsdeur hierdie land van verskeidenheid het reisende opsieners onvermoeid gewerk om hulle broers en susters te versterk. Hoe doen hulle hulle werk? Kom ons reis saam met een van hulle terwyl hy gemeentes in die afgeleë Naga-Heuwels besoek. ’n Kringopsiener met die naam Mjint Lwin, wat saam met sy vrou, Lal Loen Mômi, reis, skryf: “In die middel van die oggend vertrek ek en my vrou uit Kalaimjo agterop ’n stampvol bakkie. Ons moet ons bene tussen bokse en groente indruk. Van die ander passasiers hou styf aan die agterklap vas of sit op die dak. Die bakkie hop op die slegte paaie vol slaggate, en stofwolke warrel deur die bakkie. Ons dra maskers sodat ons nie in die stof verstik nie.

“Twee uur later kom ons in Kalaiwa aan, ’n rivierdorp vanwaar ons met ’n boot verder sal reis. Terwyl ons wag, preek ons vir winkeleienaars en medepassasiers, van wie die meeste nog nooit van Jehovah se Getuies gehoor het nie. Wanneer ons boot daar aankom, klim die passasiers uit en klim die nuwe passasiers vinnig in om ’n sitplek te kry. Byna 100 mense klim op die boot, wat so vol is dat dit maklik kan omkantel. Ons sit plastiekbottels in ons reissakke sodat dit sal dryf as ons in die rivier val.

“Vyf uur later bereik ons die dorp Môlaik, waar ons in ’n klein gastehuisie oornag. Vyfuur die volgende oggend reis ons verder. Dit is die droë seisoen, en die rivier is vlak. Daarom sit ons boot vier keer vas op sandbanke onder die water. Ek en die ander mans moet uitklim en stoot. Ons kom 14 uur later, afgemat van die reis, in Homalin aan, waar die plaaslike gemeente op ons wag. Ons sien hulle glimlaggende gesigte, en dit gee ons nuwe krag. Vanaand sal ons hulle opbouende assosiasie geniet. Môre sal ons verder reis na Khamti, sowat 15 uur hiervandaan.

“Ons val weer vroeg in die pad. Vandag is daar nie soveel mense op ons boot nie, en die omgewing is ook anders. Ons vaar stroomop verby honderde dorpenaars wat in die rivier na goud delf. Wanneer ons uiteindelik, styf en seer, in Khamti aankom, is daar niemand om ons te ontmoet nie. Ons brief aan die plaaslike gemeente om hulle van ons besoek in kennis te stel, het seker verlore geraak. Ons neem dus ’n motorfietstaxi na die plaaslike Koninkryksaal se woonstel en klim doodmoeg in die bed.

“Die volgende oggend ontmoet ons die 25 plaaslike verkondigers wat na die Koninkryksaal gekom het om uit te gaan in velddiens. Die meeste is lede van die Naga- etniese groep, wat woon in die berge wat tot in Indië strek. Ons almal vertrek na die gebied. Die dorp is tussen hoë heuwels geleë, langs ’n groot kronkel in die rivier. Ek en my velddiensmaat kom by ’n bamboeshuisie en roep na die huisbewoner. ’n Naga-man kom uit en nooi ons in. Hy en sy vrou luister aandagtig na die Koninkryksboodskap en aanvaar met graagte lektuur. Baie Nagas is verklaarde Christene wat groot belangstelling in die goeie nuus toon. Later die middag woon ons ’n gemeentelike vergadering by, die eerste een van ’n hele paar wat hierdie week gehou sal word.

Ons sien hulle glimlaggende gesigte, en dit gee ons nuwe krag

“’n Week later steek ons die rivier oor om na Sinthe te gaan, ’n dorpie met 12 verkondigers. Ons besoek ook drie afgesonderde groepe, waarvan die mees verafgeleë een 11 kilometer daarvandaan is. Ons loop na elke groep toe om saam met hulle te gaan preek, en ek hou ’n toespraak. Die verkondigers hier is baie arm, en talle het malaria of tering. Hulle verduur ook hewige godsdiensteenstand. Hulle is nietemin ywerige verkondigers. Sondag is ons verheug om te sien dat 76 mense die openbare toespraak bywoon, insluitende baie wat ure lank geloop het om daar uit te kom.

“Die tyd om te vertrek, breek gans te gou aan. Dit is vir ons moeilik om hierdie dierbare broers en susters te verlaat wat keer op keer bewys gelewer het van hulle liefde vir Jehovah. Terwyl ons boot suidwaarts vaar, dink ons na oor hulle sterk geloof. Hoewel hulle arm is, is hulle geestelik ryk! Ons kan nie wag om hulle weer te besoek nie.”

Ek wil vir die hele wêreld preek!

SAGAR RAI

GEBORE 1928

GEDOOP 1968

PROFIEL ’n Soldaat wat die waarheid aangeneem het en aangehou preek het ten spyte van hewige teenstand van die gemeenskap.

◆ EK IS gebore in die Sjan-staat, ’n bergagtige streek in die noordooste van Mianmar. My gesin was Nepalese Ghoerka en was aanhangers van die Hindoegodsdiens. Maar ons het ook tradisionele animisme beoefen. Weens ’n streng Ghoerka-tradisie het ek ’n soldaat geword, net soos my pa en vier ouer broers. Ek het 20 jaar lank in die Birmaanse weermag gedien en aan tallose gevegte deelgeneem. Ek is verbasend genoeg nooit ernstig beseer nie.

Toe ek die eerste keer Die Wagtoring gelees het, het ek geleer dat daar volgens die Bybel net een ware God is—Jehovah. Dit het my belangstelling geprikkel. As ’n Hindoe het ek aan miljoene gode geglo! Ek het die naam Jehovah opgesoek in etlike woordeboeke van verskillende tale—Nepalees, Hindi, Birmaans en Engels. Elke woordeboek het bevestig dat Jehovah die God van die Bybel is.

Later het ek en my vrou, Jyoti, na Pathein getrek, waar die sendeling Frank Dewar vir my ’n Bybelstudie aangebied het. Ek het dit aanvaar, en Jyoti het ook. Ons was kort voor lank daarvan oortuig dat Jehovah die enigste ware God is en het besluit om hom alleen te aanbid. Ons het ons afgode in die Patheinrivier gegooi sodat niemand dit weer sou kon gebruik nie.—Deut. 7:25; Op. 4:11.

Kort daarna het ek die weermag verlaat en met my vrou en kinders na my geboorteplek teruggetrek. Daar het ons aangesluit by ’n klein groepie Getuies, wat ons geleer het om die predikingswerk te doen. Ná ’n ruk het ons materiaal uit die woud bymekaargemaak en ’n klein Koninkryksaal voor my huis gebou. Dit het ’n komitee van die Ghoerka-gemeenskap ontstel, wat gesê het: “Wie het julle toestemming gegee om ’n Christelike ‘kerk’ in ’n Hindoegebied te bou? Julle moenie preek vir mense wat reeds aan ’n godsdiens behoort nie.”

Die Ghoerka-komitee het by die plaaslike owerheid gekla, en hulle het my gevra: “Mnr. Rai, preek jy in jou gebied en oorreed jy mense om Christene te word?”

“Ek is een van Jehovah se Getuies”, het ek geantwoord. “Ek wil nie net hier preek nie—ek wil vir die hele wêreld preek! Maar mense moet self besluit of hulle van godsdiens wil verander of nie.”

Oor die afgelope 40 jaar het ek en Jyoti meer as 100 mense gehelp om die waarheid te leer

Gelukkig het die owerheid ons toegelaat om vryelik aan te hou preek. Oor die afgelope 40 jaar het ek en Jyoti meer as 100 mense gehelp om die waarheid te leer. Baie van hulle dien nou as spesiale pioniers, reisende opsieners of Betheliete. Ons is ook verheug dat die meeste van ons kinders en hulle gesinne Jehovah getrou dien.

Ek kan nie “Jehovah se Koninkryk” vind nie

SOE LWIN

GEBORE 1960

GEDOOP 2000

PROFIEL ’n Voormalige Boeddhis wat van “Jehovah se Koninkryk” gelees het en dit wou besoek.

◆ TOE ek werk toe gestap het in die dorp Tatjileik, naby die grens met Thailand, het ek ’n paar Wagtorings langs die pad sien lê en dit opgetel. Die tydskrifte het gepraat van wonderlike seëninge onder Jehovah se Koninkryk. Ek was ’n Boeddhis en ek het nog nooit van Jehovah gehoor nie. Daarom het ek tot die slotsom gekom dat “Jehovah se Koninkryk” ’n land in Afrika moet wees. Ek het in ’n atlas gesoek na “Jehovah se Koninkryk”, maar kon dit nie vind nie. Ek het ander mense gevra, maar hulle kon my nie help nie.

Later het ek uitgevind dat ’n jong man by my werk saam met Jehovah se Getuies studeer. Ek het vir hom gesê: “Kan jy vir my sê waar ek Jehovah se Koninkryk kan vind?” Toe ek leer dat Jehovah se Koninkryk ’n hemelse regering is wat die aarde in ’n paradys sal verander, was ek verbaas en opgewonde. Ek het my hare gesny, opgehou om betelneut te kou en dwelms te gebruik en het my Boeddhistiese tradisies die rug toegekeer. Nou is ek selfs gretiger om onder Jehovah se Koninkryk te lewe.—Matt. 25:34.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel