Hoe toon Jehovah dat hy ons liefhet?
“Kyk watter liefde het die Vader ons gegee.”—1 JOHANNES 3:1.
1. Waaroor moet ons nadink, en waarom?
DIE apostel Johannes het ons aangespoor om diep na te dink oor Jehovah se groot liefde vir ons. In 1 Johannes 3:1 lees ons: “Kyk watter liefde het die Vader ons gegee.” Wanneer ons nadink oor hoe lief Jehovah vir ons is en hoe hy sy liefde vir ons toon, kom ons nader aan hom en word ons selfs liewer vir hom.
2. Waarom vind party dit moeilik om te glo dat God hulle liefhet?
2 Ongelukkig vind party dit moeilik om te glo dat God hulle liefhet. Hulle dink dat God nie vir mense omgee nie. Hulle glo dalk dat God net reëls maak en diegene straf wat ongehoorsaam is aan hom. Valse leringe laat party selfs dink dat God wreed is en dat dit onmoontlik is om vir hom lief te wees. Ander meen dat God alle mense liefhet, ongeag wat hulle doen. Maar jou studie van die Bybel het jou gehelp om die waarheid omtrent Jehovah te leer. Jy weet dat liefde sy vernaamste eienskap is en dat hy sy Seun as ’n losprys vir jou gegee het (Johannes 3:16; 1 Johannes 4:8). Maar weens jou ondervindinge in die lewe is dit dalk vir jou moeilik om te verstaan hoe lief Jehovah vir jou is.
3. Wat sal ons help om Jehovah se liefde vir ons te verstaan?
3 As ons Jehovah se liefde vir ons wil verstaan, moet ons eers besef dat Jehovah ons Skepper is. Hy het ons die lewe gegee. (Lees Psalm 100:3-5.) Daarom beskryf die Bybel die eerste mens as ’n “seun van God” (Lukas 3:38). En Jesus het ons geleer om Jehovah “ons Vader in die hemele” te noem (Matteus 6:9). Jehovah is dus ons Vader en hy is lief vir ons, soos ’n goeie pa lief is vir sy kinders.
4. (a) Watter soort Vader is Jehovah? (b) Wat sal ons in hierdie en die volgende artikel bespreek?
4 Party vind dit moeilik om aan ’n pa as ’n liefdevolle persoon te dink. Hulle het dalk pynlike herinneringe aan hulle kinderjare omdat hulle pa hulle mishandel het. Jehovah sal dit nooit aan sy kinders doen nie. Hy is die beste Vader wat ons ooit kan hê (Psalm 27:10). Hy is baie lief vir ons en sorg op talle maniere vir ons. Hoe meer ons Jehovah se liefde ervaar, hoe sterker sal ons liefde vir hom word (Jakobus 4:8). In hierdie artikel sal ons vier maniere bespreek waarop Jehovah sy liefde vir ons toon. En in die volgende artikel sal ons vier maniere bespreek waarop ons ons liefde vir hom kan toon.
JEHOVAH IS LIEFDEVOL EN VRYGEWIG
5. Wat gee God aan alle mense?
5 Toe die apostel Paulus in Atene, Griekeland, was, het hy opgemerk dat daar baie afgode was en dat mense geglo het dat hulle gode hulle lewe gee. Daarom het hy hulle vertel van “die God wat die wêreld en alles daarin gemaak het”. Hy het gesê dat God “aan almal lewe en asem en alles gee” en dat ons “deur hom . . . lewe [het] en beweeg en bestaan” (Handelinge 17:24, 25, 28). Jehovah gee ons alles wat ons nodig het om te lewe en om die lewe te geniet. Dink aan ’n paar van die dinge wat hy ons gegee het omdat hy ons liefhet.
6. Watter soort tuiste het Jehovah ons gegee? (Sien prent aan begin van artikel.)
6 Jehovah het ons ’n pragtige tuiste gegee (Psalm 115:15, 16). Die aarde is ’n unieke planeet. Wetenskaplikes het al baie ander planete in die ruimte ontdek, maar hulle het nog nie ’n ander planeet gevind wat die regte toestande het om menselewe te onderhou nie. Jehovah het ons nie net alles gegee wat ons nodig het om aan die lewe te bly nie, maar hy het ook gesorg dat die aarde ’n pragtige, gemaklike en veilige plek is waar ons die lewe kan geniet (Jesaja 45:18). Wanneer ons dink aan die tuiste wat ons Vader, Jehovah, ons gegee het, is dit vir ons duidelik dat hy ons liefhet.—Lees Job 38:4, 7; Psalm 8:3-5.
7. Hoe toon die manier waarop Jehovah ons geskep het dat hy ons werklik liefhet?
7 Nog iets wat toon dat Jehovah ons liefhet, is die feit dat hy ons geskep het met die vermoë om hom na te volg (Genesis 1:27). Gevolglik kan ons sy liefde ervaar en ook ons liefde vir hom toon. Dit is wat ons waarlik gelukkig maak. Kinders is immers op hulle gelukkigste wanneer hulle kan aanvoel dat hulle ouers vir hulle lief is. En onthou dat Jesus ons geleer het dat ons gelukkig sal wees as ons na aan ons Vader, Jehovah, is (Matteus 5:3). Hy gee ons al die dinge wat ons geniet. Dit is duidelik dat hy baie vrygewig is en dat hy baie lief is vir ons.—1 Timoteus 6:17; Psalm 145:16.
JEHOVAH LEER ONS DIE WAARHEID
8. Waarom wil ons deur Jehovah geleer word?
8 Vaders is lief vir hulle kinders en wil nie hê dat hulle mislei of bedrieg moet word nie. Maar baie ouers van vandag aanvaar nie die Bybel se standaarde van reg en verkeerd nie. Daarom kan hulle hulle kinders nie behoorlike leiding gee nie, en dit lei dikwels tot ongelukkigheid en verwarring (Spreuke 14:12). Maar Jehovah gee sy kinders die heel beste leiding omdat hy “die God van waarheid” is (Psalm 31:5). Hy leer ons met graagte die waarheid omtrent homself. Hy leer ons ook hoe om hom te aanbid en hy wys vir ons wat die beste lewenswyse is. (Lees Psalm 43:3.) Wat het Jehovah ons geleer wat toon hoe lief hy vir ons is?
Christenvaders volg Jehovah na deur hulle kinders die waarheid te leer en hulle te help om ’n verhouding met hulle hemelse Vader te hê (Sien paragraaf 8-10)
9, 10. (a) Waarom vertel Jehovah ons omtrent homself? (b) Wat leer hy ons omtrent ons rol in sy voorneme?
9 Eerstens vertel Jehovah ons omtrent homself. Hy wil hê dat ons hom moet leer ken (Jakobus 4:8). Daarom sê hy vir ons wat sy naam is. Trouens, Jehovah se naam kom meer in die Bybel voor as enige ander naam. Jehovah sê ook vir ons watter soort Persoon hy is. Wanneer ons kyk na die dinge wat hy gemaak het, leer ons dat hy groot krag en wysheid het (Romeine 1:20). En wanneer ons die Bybel lees, leer ons hoe regverdig hy is en hoe lief hy vir ons is. Hoe meer ons omtrent Jehovah se pragtige persoonlikheid leer, hoe nader kom ons aan hom.
Hoe meer ons omtrent Jehovah se pragtige persoonlikheid leer, hoe nader kom ons aan hom
10 Jehovah leer ons ook wat sy voorneme is. Hy sê vir ons dat ons deel van sy gesin is. Hy verduidelik ook wat hy van ons verwag sodat ons in eenheid en in vrede saam met almal in sy gesin kan werk. Die Bybel toon duidelik dat God ons nie geskep het met die reg om self te besluit wat goed en wat sleg is nie (Jeremia 10:23). Jehovah weet wat vir ons die beste is. En slegs as ons sy gesag aanvaar en hom gehoorsaam, kan ons ’n vreedsame en bevredigende lewe lei. Jehovah het ons hierdie belangrike waarheid geleer omdat hy ons liefhet.
11. Wat het ons liefdevolle Vader ons omtrent die toekoms vertel?
11 ’n Liefdevolle vader dink ernstig na oor die toekoms van sy kinders. Hy wil hê dat hulle ’n bevredigende lewe moet lei. Ongelukkig weet die meeste mense vandag nie wat die toekoms inhou nie, en baie gebruik hulle lewe om nietige dinge na te jaag (Psalm 90:10). Hoe dankbaar is ons tog dat ons Vader, Jehovah, ons nie net leer hoe om nou ’n bevredigende lewe te lei nie, maar ons ook ’n wonderlike toekoms belowe!
JEHOVAH LEI EN DISSIPLINEER SY KINDERS
12. Hoe het Jehovah Kain en Barug probeer help?
12 Toe Jehovah gesien het dat Kain op die punt was om iets te doen wat baie sleg is, het hy Kain probeer help en hom gevra: “Waarom het jy kwaad geword, en waarom het jou gesig somber geword? As jy jou daartoe wend om goed te doen, sal daar dan nie ’n verheffing wees nie?” (Genesis 4:6, 7). Kain het nie Jehovah se hulp aanvaar nie en hy het die gevolge daarvan gedra (Genesis 4:11-13). Jehovah het ook opgemerk toe Barug se verkeerde gesindheid veroorsaak het dat hy moeg en mismoedig word. Daarom het Jehovah vir Barug gesê dat sy denke verkeerd is en dat hy moet verander. Barug het na Jehovah se raad geluister, en dit het sy lewe gered.—Jeremia 45:2-5.
13. Waarom het Jehovah toegelaat dat sy getroue knegte beproewinge deurmaak?
13 Jehovah lei en dissiplineer ons omdat hy ons liefhet. Hy gee ons nie net teregwysing wanneer dit nodig is nie, maar hy lei ons ook op (Hebreërs 12:6). In die Bybel lees ons van getroue knegte wat deur Jehovah opgelei is om beter mense te word. Josef, Moses en Dawid het byvoorbeeld uiters moeilike tye deurgemaak. Gedurende hulle beproewinge was Jehovah met hulle. En die dinge wat hulle gedurende hulle beproewinge geleer het, het hulle gehelp toe Jehovah hulle groter verantwoordelikhede gegee het. Wanneer ons in die Bybel lees hoe Jehovah sy knegte ondersteun en oplei, besef ons dat Jehovah ons werklik liefhet.—Lees Spreuke 3:11, 12.
14. Hoe betoon Jehovah sy liefde aan ons as ons iets verkeerds gedoen het?
14 Selfs as ons iets verkeerds gedoen het, hou Jehovah aan om liefde aan ons te betoon. As ons gunstig op sy dissipline reageer en berou toon, sal hy ons “ryklik vergewe” (Jesaja 55:7). Wat beteken dit? Dawid se woorde oor Jehovah se vergifnis toon hoe barmhartig ons Vader is: “Hy wat al jou oortredings vergewe, wat al jou kwale genees, wat jou lewe uit die kuil terugeis, wat jou met liefderyke goedhartigheid en barmhartighede kroon, so ver as die sonsopgang verwyderd is van die sonsondergang, so ver het hy ons oortredings van ons verwyder” (Psalm 103:3, 4, 12). Jehovah lei ons en dissiplineer ons op verskillende maniere. Reageer jy daarop deur veranderinge so gou as moontlik aan te bring? Hou altyd in gedagte dat Jehovah ons dissiplineer omdat hy ons liefhet.—Psalm 30:5.
JEHOVAH BESKERM ONS
15. Wat is nog ’n manier waarop Jehovah toon dat hy ons liefhet?
15 ’n Liefdevolle vader beskerm sy gesin teen gevaar. Dit is wat ons Vader, Jehovah, vir ons doen. Die psalmis sê omtrent Jehovah: “Hy bewaar die siel van sy lojales; uit die hand van die goddeloses verlos hy hulle” (Psalm 97:10). Dink hieraan: Net soos jy gou is om jou oë te beskerm omdat hulle vir jou kosbaar is, is Jehovah gou om sy volk te beskerm omdat hulle vir hom kosbaar is.—Lees Sagaria 2:8.
Jehovah is gou om sy volk te beskerm omdat hulle vir hom kosbaar is
16, 17. Hoe het Jehovah sy volk in die verlede en in ons tyd beskerm?
16 Een manier waarop Jehovah sy volk beskerm, is deur middel van sy engele (Psalm 91:11). Een engel het 185 000 Assiriese soldate in een nag doodgemaak en God se volk gered (2 Konings 19:35). In die eerste eeu het engele Petrus, Paulus en ander uit die gevangenis bevry (Handelinge 5:18-20; 12:6-11). Onlangs was daar ’n verskriklike oorlog in ’n land in Afrika. Daar was chaos in die land weens die gevegte, diefstal, verkragtings en moord. Hoewel nie een van ons broers hulle lewe verloor het nie, het baie alles verloor wat hulle besit het. Maar hulle almal het Jehovah se liefde ervaar en geweet dat hy na hulle omsien. Ten spyte van alles wat hulle deurgemaak het, was hulle nog steeds gelukkig. Toe ’n hoofkwartierverteenwoordiger hulle besoek het en vir die broers en susters gevra het hoe dit met hulle gaan, het hulle gesê: “Dit gaan goed, danksy Jehovah!”
17 Party van Jehovah se knegte het al weens hulle getrouheid gesterf, soos die dissipel Stefanus. Jehovah keer nie altyd dat dit gebeur nie. Maar hy beskerm sy volk wel as ’n groep deur hulle te waarsku teen die verskillende maniere waarop Satan hulle probeer verstrik (Efesiërs 6:10-12). Ons vind hierdie waarskuwings in die Bybel en in die publikasies wat Jehovah se organisasie voorsien. Ons leer byvoorbeeld oor die gevare wat die Internet, liefde vir geld sowel as onsedelike en gewelddadige rolprente, boeke en speletjies inhou. Dit is duidelik dat Jehovah ons liefhet en ons wil beskerm.
’N GROOT EER
18. Hoe voel jy oor Jehovah se liefde vir jou?
18 Toe Moses teruggedink het aan al die jare dat hy Jehovah gedien het, was hy daarvan oortuig dat Jehovah hom liefhet. Moses het gesê: “Versadig ons in die oggend met u liefderyke goedhartigheid, sodat ons met vreugde kan uitroep en bly kan wees gedurende al ons dae” (Psalm 90:14). Ons is geseënd omdat ons besef hoe lief Jehovah vir ons is en omdat ons sy liefde ervaar. Wat ’n groot eer is dit tog! Ons voel soos die apostel Johannes, wat gesê het: “Kyk watter liefde het die Vader ons gegee.”—1 Johannes 3:1.