Van ons lesers
Crack-verslawing Baie dankie vir julle artikel van 22 Julie 1990 “Crack-verslawing—die ongeborenes se verknorsing”. Dit is nodig dat die publiek meer bewus hiervan moet wees en dat hulle oor hierdie onderwerp voorligting moet ontvang. Ek weet, want ek werk in ’n program wat swanger dwelmverslaafdes behandel.
D. P., Verenigde State
Selfmoordslagoffers Baie dankie vir die artikel “Selfmoordslagoffers—Sal hulle opgewek word?” (8 September 1990). Dit het my gehelp om te besef hoeveel Jehovah vir ons omgee en dat ons die lewe wat hy ons gegee het, moet respekteer. Dit het my ook geleer om nooit die krag van onverdiende goedheid gering te ag nie.
M. R., Verenigde State
My moeder het selfmoord gepleeg toe ek 14 jaar oud was. ’n Groot deel van my het saam met haar gesterf. Maar nou is ek 26 en ’n toegewyde kneg van God. Julle artikel wat bewys gelewer het dat my moeder dalk opgewek sal word, sê vir my dat ek die deel wat ek verloor het, kan terugkry wanneer ek haar weer sien.
L. R., Verenigde State
“Jongmense vra”-boek Ek het die artikel “Lesers se reaksie op die Jongmense Vra-boek” (8 September 1990) met lewendige belangstelling gelees. Net voordat ek hierdie nommer ontvang het, het ek die boek vir ’n bejaarde Bybelstudent gegee en voorgestel dat sy dit vir haar kleinkind moet gee. Toe ek haar egter die volgende keer besoek, het die bejaarde vrou die boek self al deurgelees. Ek het haar die gedeelte in die artikel gewys waar dit praat van ’n vrou wat “74 jaar jonk” is en wat daarby baat gevind het om dit te lees. Toe sy dit lees, het sy gesê: ‘Ek stem saam. Ek het gedink ek moet weet waaroor die boek gaan voordat ek dit vir my kleinkind gee, maar kort voor lank was ek heeltemal daarin verdiep.’ Terloops, sy is 80 jaar “jonk”!
K. H., Japan
Jongmense—uitdaging van die negentigerjare Ek het vanmiddag die nommer van 8 September 1990 ontvang wat oor jongmense handel. Ek het dit dadelik gelees en elke artikel geniet. In die laaste tyd het ek gevoel dat niemand my verstaan nie. Maar nadat ek die tydskrif gelees het, het ek besef hoe verkeerd ek was. Baie dankie dat julle vir ons jongmense omgee.
B. P., Verenigde State
Natuurartikels Die nommer van 22 Mei 1990 het my geboei. Dit het ’n artikel oor Point Lobos bevat, voorwaar ’n wonderlike plek vir diere- en natuurliefhebbers. Julle het ons ook gehelp om die Haida te ontdek, ’n volk wat verder noord in die Stille Oseaan-gebied woon. Natuurlik kan nie almal soontoe gaan nie. Maar met ’n bietjie verbeelding kan ’n groot deel van die toer voor die gees geroep word as ’n mens die materiaal lees en na die foto’s kyk. Dankie vir hierdie goed saamgestelde artikels.
R. F., Frankryk
Lupus Die verslag oor lupus in die Ontwaak! van 8 Mei 1990 het my dronkgeslaan. Terwyl ek daardeur gelees het, het ek die gedeeltes onderstreep wat my eie toestand beskryf het. Toe het ek na my dokter gegaan met ’n eksemplaar van die Ontwaak!. Hy het die verslag gelees en dadelik bloedtoetse laat doen. Nou word ek behandel vir my immuunstelsel, nie vir rumatiek nie.
C. K., Bondsrepubliek Duitsland
Tienerswangerskap Baie dankie vir die artikel “Tienerswangerskap—Wat moet ’n meisie doen?” (8 Mei 1990). Op 16 Augustus 1989 is ek geseën met ’n pragtige babadogtertjie. Toe ek swanger was, het ek nie geweet wat om te doen nie. Ek was verward oor die huwelik en aanneming, maar het aborsie nie eers oorweeg nie. Toe die artikel verskyn, het ek geweet dat ek die regte besluit geneem het. Ek woon tans Christenvergaderinge by met my dogtertjie en hoop om binnekort ’n toegewyde Getuie te wees.
D. A., Verenigde State