Wat hou die sterre vir jou in?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRASILIË
“HAVE you heard it’s in the stars, next July we collide with Mars?” Hierdie woorde van Cole Porter se opgewekte liedjie is ’n goeie weerspieëling van die algemene en oeroue opvatting dat die mens se toekoms op die een of ander manier met die sterre verband hou.a Maar is daar enige werklike verband tussen die hemelliggame en die mensdom se lewe op hierdie aarde? Indien wel, hoe raak dit die mensdom? Indien nie, wat presies is die doel van die sterre?
Dit is glad nie verbasend dat soveel mense in die toekoms belangstel nie, veral nie as ons party onlangse dramatiese gebeure beskou nie—die val van die Berlynse Muur en die skielike ineenstorting van die eertydse Sowjetunie, die gebrek aan vertroue in politieke leiers, die etniese haat in Afrika en Europa, die godsdiensvyandigheid in Indië en Ierland, die weghol-inflasie wat soveel lande teister en die rebelsheid van die jeug. Volgens ’n verslag van die Universiteit van Hamburg was 1992 die gewelddadigste jaar sedert die Tweede Wêreldoorlog ten einde geloop het, met 52 gewapende konflikte in verskillende lande. Vredeliewende mense vra vanselfsprekend: ‘Waarheen kan ons ons wend vir bestendigheid, vrede en veiligheid?’
Die onsekerheid oor die toekoms het gelei tot ’n oplewing in verskeie vorme van fortuinvertellery. Astrologie is waarskynlik die bekendste. In teenstelling met die wetenskap van astronomie, is astrologie “die voorspelling van die vermeende invloede wat sterre en planete op menseaangeleenthede en gebeure hier op aarde het deur hulle posisies en hulle liggings ten opsigte van mekaar”. Vandag kan miljoene mense dit eenvoudig nie weerstaan om hulle horoskoop vir wenke oor hulle toekoms te lees nie.b
Ander gebiede waarop astroloë beweer dat hulle die toekoms kan voorspel, is die afloop van huweliks- en gesondheidsprobleme, die opkoms en ondergang van politieke leiers, die beste tyd om ’n nuwe sakeonderneming te begin en die nommers wat jy moet gebruik om ’n lotery te wen.
’n Reuters-nuusitem het gesê dat die astroloog Joan Quigley gereeld deur Nancy Reagan geraadpleeg is oor wanneer haar man, destyds die president van die Verenigde State, sy toesprake moes hou en wanneer sy vliegtuig moes opstyg en land. Die New Catholic Encyclopedia het aan die lig gebring dat “pous Julius II [1503-13] van astrologie gebruik gemaak het om die dag van sy kroning te bepaal en Paulus III [1534-49] om die regte uur vir elke Konsistorie te bepaal”. Alfred Hug, direkteur van ’n Switserse firma wat van astrologie gebruik maak om beleggers op die effektemark te adviseer, waarborg uitstekende resultate. “Dit staan in die sterre geskryf”, sê hy.
Baie meen klaarblyklik dat die lewe van mense wel deur die sterre beïnvloed word. Hoe het astrologie begin? Het die antieke boek die Bybel enigiets oor astrologie en astroloë te sê?
[Voetnote]
a “In antieke China . . . het hulle gemeen dat tekens in die hemel asook natuurrampe die dade en wandade van die Keiser en sy regering weerspieël.”—The International Encyclopedia of Astronomy.
b Die horoskoop is “’n diagram van die onderlinge stand van planete en sterrebeelde op ’n spesifieke tydstip (soos met iemand se geboorte)” en word deur astroloë gebruik om toekomstige gebeure in ’n persoon se lewe te probeer voorspel.