Die Bybel se beskouing
Is jou toekoms voorbestem?
Baie mense glo dat hulle lewe en toekoms deur ’n hoër mag voorbestem is. Hulle voel dat ons almal van die oomblik van bevrugting tot die dood ’n weg volg wat reeds deur God bepaal is. ‘God is per slot van rekening almagtig en alwetend’, sê hulle, ‘en daarom moet hy ongetwyfeld elke besonderheid oor die verlede, die hede en die toekoms ken.’
WAT dink jy? Beskik God ons lewensloop en uiteindelike lotsbestemming vooraf? Met ander woorde, is wilsvryheid ’n werklikheid of net ’n illusie? Wat sê die Bybel?
Algehele of selektiewe voorkennis?
Die Bybel laat geen twyfel oor die feit dat God voorkennis het nie. Hy weet “van die begin af die uiteinde”, sê Jesaja 46:10. Hy het selfs menslike sekretarisse gebruik om baie profesieë op te teken (2 Petrus 1:21). Boonop word hierdie profesieë altyd bewaarheid omdat God die wysheid sowel as die krag het om dit tot in die fynste besonderheid te vervul. God het dus nie net die vermoë om vooraf van dinge weet nie, maar hy kan gebeure ook voorbeskik wanneer hy ook al kies om dit te doen. Maar voorbeskik God die lotsbestemming van elke mens of selfs die aantal mense wat gered sal word? Nie volgens die Bybel nie.
Die Bybel leer dat God selektief is wat die voorbeskikking van die toekoms betref. God het byvoorbeeld voorspel dat “’n groot menigte” regverdige mense die vernietiging van die goddeloses aan die einde van die teenswoordige stelsel van dinge sal oorleef (Openbaring 7:9, 14). Let egter daarop dat God nie ’n spesifieke getal vir hierdie groot menigte gegee het nie. Waarom nie? Hy bepaal nie die lot van individue vooraf nie. God is soos die liefdevolle vader van ’n groot gesin. Hy weet dat ten minste sommige van Sy kinders Sy liefde sal beantwoord, maar Hy bepaal nie die getal vooraf nie.
Vergelyk God se gebruik van voorbeskikking met die manier waarop hy sy krag gebruik. As die Almagtige het God absolute krag (Psalm 91:1; Jesaja 40:26, 28). Maar gebruik hy sy krag op ’n onbeheerste manier? Nee. Hy het hom byvoorbeeld daarvan weerhou om teen Babilon, ’n vyand van eertydse Israel, op te tree totdat die regte tyd aangebreek het. “Ek het selfbeheersing bly beoefen”, het God gesê (Jesaja 42:14). Dieselfde beginsel geld vir sy gebruik van voorkennis en voorbeskikking. Jehovah beoefen selfbeheersing ten einde die wilsvryheid wat hy ons gegee het, te respekteer.
God se beheer oor sy kragte beperk hom nie of maak hom nie onvolmaak nie. Inteendeel, dit verheerlik sy grootheid en maak hom geliefd by ons, want dit toon dat sy soewereiniteit werklik nie net met alwetendheid en krag uitgeoefen word nie, maar ook met liefde en respek vir die wilsvryheid van sy intelligente skepping.
Aan die ander kant, as God alles voorbestem, insluitende elke nare ongeluk en gemene daad wat al ooit plaasgevind het, kan ons hom dan nie tereg blameer vir al die ellende en lyding in die wêreld nie? By nadere ondersoek vereer die voorbeskikkingsleer God dus nie, maar stel dit hom eerder in ’n slegte lig. Dit beeld hom uit as wreed, onregverdig en liefdeloos—presies die teenoorgestelde van wat die Bybel oor hom sê.—Deuteronomium 32:4.
Die keuse is joune
Deur middel van sy kneg Moses het God vir die nasie Israel gesê: “Ek [het] jou die lewe en die dood voorgehou . . . ; en jy moet die lewe kies . . . deur Jehovah jou God lief te hê, deur na sy stem te luister en deur hom aan te kleef; want hy is jou lewe en die lengte van jou dae” (Deuteronomium 30:19, 20). As God elke Israeliet voorbestem het om hom lief te hê en die lewe te verkry of anders om hom te minag en die dood te verdien, sou Sy woorde sinloos sowel as huigelagtig gewees het. Glo jy dat God, wat ‘geregtigheid liefhet’ en die verpersoonliking van liefde is, so arbitrêr sal optree?—Psalm 37:28; 1 Johannes 4:8.
God se beroep op sy knegte om die lewe te kies, is selfs meer van toepassing op ons wat vandag lewe, want die vervulling van Bybelprofesieë toon dat ons vinnig die einde van die teenswoordige stelsel van dinge nader (Matteus 24:3-9; 2 Timoteus 3:1-5). Hoe kies ons die lewe? Ons doen dit basies op dieselfde manier as wat die eertydse Israeliete dit gedoen het.
Hoe kan jy “die lewe kies”?
Ons kies die lewe deur “Jehovah . . . lief te hê”, deur “na sy stem te luister” en deur “hom aan te kleef”. Ons kan hierdie dinge natuurlik net doen wanneer ons God as ’n persoon ken en sy vereistes vir ons verstaan. Jesus Christus het in gebed tot God gesê: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”—Ons kursiveer; Johannes 17:3, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.
Hierdie kosbare kennis kan gevind word in die Heilige Bybel, wat tereg die Woord van God genoem word (Johannes 17:17; 2 Timoteus 3:16). Ja, hierdie geestelike gawe is ’n tasbare bewys dat God nie ons toekoms voorbestem het nie, maar wil hê dat ons ingeligte besluite moet maak op grond van die inligting wat hy voorsien het.—Jesaja 48:17, 18.
Deur middel van die Bybel sê God in werklikheid vir ons: ‘Dit is my voorneme vir die mensdom en die aarde, en dit is wat jy moet doen om die ewige lewe te verkry. Jy moet nou self kies of jy na my gaan luister of my gaan minag.’ Ja, hoe volmaak hou God tog nie sy vermoë om voor te beskik in ewewig met sy respek vir ons wilsvryheid nie! Sal jy die lewe kies “deur na [God se] stem te luister en deur hom aan te kleef”?
HET JY AL GEWONDER?
◼ In watter mate gebruik God sy voorkennis?—Deuteronomium 30:19, 20; Jesaja 46:10.
◼ Waarom sou God nie alles, insluitende die slegte dinge wat met mense gebeur, voorbestem nie?—Deuteronomium 32:4.
◼ Wat sal uiteindelik ons toekoms bepaal?—Johannes 17:3.
[Lokteks op bladsy 13]
Die Bybel leer dat God selektief is wat die voorbeskikking van die toekoms betref