Watter soort ster het die “wyse manne” na Jesus gelei?
Gewilde Kersverhale beeld die ster uit as ’n goeie teken uit die hemel. Was dit werklik?
◼ Die unieke aard van die ster het die aandag getrek van “wyse manne” uit die Ooste en het hulle uiteindelik na die jong Jesus gelei, vertel die Bybelskrywer Matteus (Matteus 2:1-12, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Gewilde Kersverhale beeld die ster uit as ’n goeie teken uit die hemel. Een naslaanwerk verwys na die ster as deel van ’n “goddelike beskikking waardeur . . . die kind Jesus deur die Vader geëer en as sy geliefde Seun erken is”. Selfs Kersliedere vereer hierdie ster. Wat was hierdie ster?
Party het aan die hand gedoen dat dit ’n natuurlike hemelverskynsel was. ’n Paar geleerdes het voorgestel dat dit ’n samestand van planete was. Maar soos The New Bible Dictionary toon, “kan so ’n verskynsel uiteraard nie ‘’n ster’ genoem word nie”. ’n Paar planete wat naby mekaar verbybeweeg, sal nog steeds soos afsonderlike ligkolletjies lyk en nie soos ’n enkele ster nie. Party meen dat dit ander hemelverskynsels kon gewees het, soos ’n komeet of ’n supernova. Maar nie een van hierdie verskynsels kon so deur die lug beweeg dat dit die manne na ’n spesifieke stad sou lei en dan bo ’n spesifieke huis tot stilstand sou kom nie.
Was die ster dalk ’n natuurverskynsel of kon dit deur ’n goddelike bestiering verskyn het? Dink aan ’n paar feite: Die “wyse manne” was nie wat ons vandag geleerdes sou noem nie; hulle was ook nie konings nie. Hulle was, soos talle hedendaagse Bybelvertalings sê, “sterrewiggelaars”. Hulle het ’n gebruik beoefen wat in die Heilige Skrif veroordeel word (Deuteronomium 18:10-12). Let daarop dat net hierdie sterrewiggelaars volgens die verslag die ster “gesien” het. As die ster ’n werklike ster was, sou dit soos ’n ligbaken vir die algemene publiek sigbaar gewees het. Maar selfs koning Herodes moes hulle oor die besonderhede van die ster se verskyning uitvra. Hierdie ster het die sterrewiggelaars eers na Jerusalem, na Herodes, ’n aartsvyand van die toekomstige Messias, gelei. Hy was van plan om die kindjie Jesus dood te maak. Toe het die ster van rigting verander en die sterrewiggelaars suid gelei na Betlehem waar Jesus was en sodoende Jesus se lewe in gevaar gestel.
Hierdie feite dui daarop dat die ster ’n bose oorsprong gehad het, heel moontlik Satan die Duiwel. Die Bybel beskryf hom as iemand wat van “leuenagtige tekens en voortekens” gebruik maak (2 Tessalonisense 2:9). Dit behoort ware Christene dus nie te verbaas nie dat Satan sake so kon bewerk dat net sterrewiggelaars ’n steragtige voorwerp kon sien en dat hy die “ster” kon rig om hulle te lei na God se Seun, wat hy wou vernietig. Niemand kan Jehovah God natuurlik uitoorlê nie. Dit is dus nie verbasend dat die Duiwel se listige plan om ’n vroeë dood oor Jesus te bring, gefnuik is nie.
Dit is egter noemenswaardig dat God Jesus se geboorte wel op ’n wonderdadige wyse aangekondig het. Die aand toe Jesus gebore is, het ’n engel aan ’n groep herders verskyn en die geboorte van ’n “Redder” aangekondig. Die engel het ook aanwysings voorsien sodat die herders Jesus kon besoek. Daarna het ’n menigte engele verskyn en God begin loof (Lukas 2:8-14). God het hierdie engele, en nie die ster nie, gebruik om mense van Jesus se geboorte in te lig.