Wederkoms
Definisie: Voordat Jesus Christus die aarde verlaat het, het hy beloof om terug te kom. Opwindende gebeure wat met God se Koninkryk verband hou, word met daardie belofte geassosieer. Ons moet daarop let dat daar ’n verskil bestaan tussen koms en teenwoordigheid. Hoewel ’n persoon se koms (geassosieer met sy aankoms of terugkeer) op ’n gegewe tyd plaasvind, kan sy teenwoordigheid daarna oor ’n tydperk van jare strek. In die Bybel word die Griekse woord erʹkho·mai (wat beteken “om te kom”) ook gebruik om aan te dui hoe Jesus sy aandag op ’n bepaalde tyd gedurende sy teenwoordigheid op ’n belangrike taak gaan vestig, naamlik op sy werk as Jehovah se skerpregter in die oorlog van die groot dag van die almagtige God.
Vind die gebeure wat met Christus se teenwoordigheid geassosieer word in ’n kort rukkie of oor ’n tydperk van jare plaas?
Matt. 24:37-39: “Net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms [“teenwoordigheid”, NW, Yg, Ro, ED; Grieks, parou·siʹa] van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms [“teenwoordigheid”, NW] van die Seun van die mens wees.” (Die gebeure in “die dae van Noag” wat hier beskryf word, het oor ’n tydperk van baie jare plaasgevind. Jesus het sy teenwoordigheid vergelyk met wat destyds gebeur het.)
In Mattheüs 24:37 word die Griekse woord pa·rou·siʹa gebruik. Dit beteken letterlik “om langsaan te wees”. Liddell en Scott se Greek-English Lexicon (Oxford, 1968) gee “teenwoordigheid, van persone” as sy eerste definisie van pa·rousiʹa. Die betekenis van die woord word duidelik getoon in Filippense 2:12, waar Paulus ’n teenstelling tref tussen sy teenwoordigheid (pa·rou·siʹa) en sy afwesigheid (a·pou·siʹa). In Mattheüs 24:30, wat vertel van die ‘koms van die Seun van die mens op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid’ as Jehovah se skerpregter tydens die Armageddon-oorlog, word andersyds die Griekse woord er·khoʹme·non gebruik. Sommige vertalers gebruik ‘koms’ vir albei Griekse woorde, maar die wat noukeuriger is, toon die verskil tussen die twee woorde.
Sal Christus terugkeer op ’n wyse wat vir mense-oë sigbaar is?
Joh. 14:19: “Nog ’n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle [Jesus se getroue apostels] sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe.” (Jesus het sy apostels beloof dat hy weer sou kom en hulle hemel toe sou neem om by hom te wees. Hulle sou hom kon sien, omdat hulle geesskepsele sou wees soos hy is. Maar die wêreld sou hom nie weer sien nie. Vergelyk 1 Timotheüs 6:16.)
Hand. 13:34: “[God het] Hom [Jesus] opgewek . . . uit die dode, sodat Hy nie meer tot verderwing sou terugkeer nie.” (Menseliggame is van nature verderflik. Dit is waarom 1 Korinthiërs 15:42, 44 die woord “verganklikheid” in ’n parallelle konstruksie met “natuurlike liggaam” gebruik. Jesus sal nooit weer so ’n liggaam hê nie.)
Joh. 6:51: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.” (Nadat Jesus dit gegee het, neem hy dit nie weer terug nie. Sodoende ontneem hy die mensdom nie die voordele van die offer van sy volmaakte menselewe nie.)
Kyk ook bladsye 431, 432, onder “Wegraping”.
Wat beteken dit dat Jesus sou kom “op dieselfde wyse” as wat hy opgevaar het hemel toe?
Hand. 1:9-11: “Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle [Jesus se apostels] dit sien; en ’n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem. En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle, wat sê: Galilese manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so [“op dieselfde wyse”, NW] kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.” (Let op dat dit sê “net so” of “op dieselfde wyse”, nie met dieselfde liggaam nie. Wat was die “wyse” van sy hemelvaart? Soos vers 9 toon, het hy uit die gesig verdwyn en het net sy dissipels hom sien opvaar. Die wêreld in die algemeen was nie bewus van wat gebeur het nie. Dieselfde sou waar wees van Christus se wederkoms.)
Wat word bedoel wanneer daar gesê word dat hy “met die wolke” sou kom en dat ‘elke oog Hom sou sien’?
Openb. 1:7: “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf.” (Ook Mattheüs 24:30; Markus 13:26; Lukas 21:27)
Wat word deur “wolke” aangedui? Onsigbaarheid. Wanneer ’n vliegtuig in ’n dik wolk of bokant die wolke is, kan mense op die grond dit gewoonlik nie sien nie, hoewel hulle die gedreun van die motore kan hoor. Jehovah het vir Moses gesê: “Ek sal in ’n dik wolk na jou toe kom.” Moses het God nie gesien nie, maar daardie wolke het Jehovah se onsigbare teenwoordigheid aangedui. (Ex. 19:9; kyk ook Levitikus 16:2; Numeri 11:25.) Indien Christus sigbaar in die hemele sou verskyn, is dit duidelik dat nie “elke oog” hom sou sien nie. As hy byvoorbeeld bokant Australië verskyn het, sou hy mos nie in Europa, Afrika en Noord- en Suid-Amerika sigbaar wees nie, of hoe?
In watter sin sal ‘elke oog hom sien’? Hulle sal uit gebeure op aarde besef dat hy sigbaar teenwoordig is. Met verwysing na ’n ander manier van sien as met die letterlike oë berig Johannes 9:41: “Jesus antwoord hulle [die Fariseërs]: As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie; maar nou sê julle: Ons sien! Daarom bly julle sonde.” (Vergelyk Romeine 1:20.) Ná Christus se wederkoms toon sommige persone geloof; hulle herken die teken van sy teenwoordigheid. Ander verwerp die getuienis, maar wanneer Christus as God se skerpregter teenoor die goddeloses begin optree, sal selfs hulle uit die verskyning van sy krag onderskei dat die vernietiging nie van mense kom nie, maar uit die hemel. Hulle sal weet wat gebeur omdat hulle vooraf gewaarsku is. Hulle sal “rou bedryf” weens die dinge wat hulle tref.
Wie is die “wat Hom deursteek het”? Romeinse soldate het dit letterlik ten tye van Jesus se teregstelling gedoen. Maar hulle is lankal dood. Dit moet dus betrekking hê op persone wat Christus se ware volgelinge gedurende “die laaste dae” op dieselfde wyse mishandel of ‘deursteek’.—Matt. 25:40, 45.
Kan daar werklik gesê word dat iemand ‘gekom’ het of dat hy ‘teenwoordig’ is as hy nie sigbaar is nie?
Die apostel Paulus het gesê dat hy “liggaamlik afwesig maar in die gees teenwoordig” was by die gemeente in Korinthe.—1 Kor. 5:3.
Jehovah het gesê dat hy wou “neerdaal” om die taal van die bouers van die toring van Babel te verwar (Gen. 11:7). Hy het ook gesê dat hy “neergedaal” het om Israel uit slawerny aan Egipte te verlos. En God het Moses verseker dat ‘Hyself sou meegaan’ om Israel na die Beloofde Land te lei (Ex. 3:8; 33:14). Maar geen mens het God ooit gesien nie.—Ex. 33:20; Joh. 1:18
Wat is sommige van die gebeure wat die Bybel met Christus se teenwoordigheid assosieer?
Dan. 7:13, 14: “Met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ’n mens [Jesus Christus], en Hy het gekom tot by die Oue van dae [Jehovah God], en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer.”
1 Thess. 4:15, 16: “Dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.” (Diegene wat saam met Christus gaan regeer, sal dus opgewek word om saam met hom in die hemel te wees—eers diegene wat voor sy wederkoms gesterf het en dan diegene wat ná die Here se wederkoms sou sterf.)
Matt. 25:31-33: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.”
2 Thess. 1:7-9: “Aan julle wat verdruk word, verligting . . . saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan ’n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte.”
Luk. 23:42, 43, NW: “Hy [die simpatieke kwaaddoener wat langs Jesus aan die paal gehang is] sê verder: ‘Jesus, dink aan my wanneer u in u koninkryk kom.’ En hy sê vir hom: ‘Voorwaar, ek sê vandag vir jou: Jy sal saam met my in die Paradys wees.’” (Onder Jesus se heerskappy sal die hele aarde ’n paradys word; die dode wat in God se geheue is, sal opgewek word met die geleentheid om vir ewig volmaakte lewe op aarde te geniet.)
Kyk ook bladsye 259-263, onder “Laaste dae”.