Hoe word die Drie-eenheid verduidelik?
DIE Rooms-Katolieke Kerk verklaar: “Die Drie-eenheid is die term wat gebruik word om die sentrale leerstelling van die Christelike godsdiens aan te dui . . . Met ander woorde, soos die Athanasiaanse Geloofsbelydenis sê: ‘die Vader is God, die Seun is God, en die Heilige Gees is God, en tog is daar nie drie Gode nie maar een God.’ In hierdie Drie-eenheid . . . is die Persone mede-ewig en gelyk: almal is ongeskape en alvermoënd.”—The Catholic Encyclopedia.
Feitlik al die ander kerke in die Christendom stem hiermee saam. Die Grieks-Ortodokse Kerk bestempel die Drie-eenheid byvoorbeeld ook as “die fundamentele leerstelling van die Christelike godsdiens” en sê selfs: “Christene is mense wat Christus as God aanvaar.” In die boek Our Orthodox Christian Faith sê dieselfde kerk: “God is drie-enig. . . . Die Vader is volkome God. Die Seun is volkome God. Die Heilige Gees is volkome God.”
Die Drie-eenheid word dus beskou as “een God in drie Persone”. Na bewering het geeneen ’n begin gehad nie, omdat elkeen van ewigheid af bestaan. Verder word daar beweer dat elkeen almagtig is en dat geeneen groter of minder as die ander is nie.
Is dit moeilik om so ’n redenasie te volg? Talle opregte gelowiges het gevind dat dit verwarrend is, strydig met die normale rede en anders as enigiets wat hulle al teëgekom het. Hoe, vra hulle, kan die Vader God wees, Jesus God wees en die heilige gees God wees, en daar nogtans nie drie Gode wees nie, maar net een God?
“Onbegryplik vir die menseverstand”
HIERDIE verwarring kom algemeen voor. The Encyclopedia Americana sê dat die Drie-eenheidsleer as “onbegryplik vir die menseverstand” beskou word.
Baie wat die Drie-eenheid aanvaar, beskou dit ook so. Monseigneur Eugene Clark sê: “God is een, en God is drie. Aangesien daar niks dergeliks in die skepping is nie, kan ons dit nie verstaan nie, maar dit net aanvaar.” Kardinaal John O’Connor sê: “Ons weet dat dit ’n baie diep verborgenheid is wat ons nie eens begin verstaan nie.” En pous Johannes Paulus II praat van “die ondeurgrondelike verborgenheid van God die Drie-eenheid”.
A Dictionary of Religious Knowledge sê derhalwe: “Trinitariërs is dit oneens met mekaar oor wat die leerstelling presies is, of liewer oor hoe dit presies verduidelik moet word.”
Ons kan dus verstaan waarom die New Catholic Encyclopedia sê: “Daar is min leraars van die Drie-eenheidsleer in Katolieke seminaries wat nie die een of ander tyd lastig geval is nie met die vraag: ‘Maar hoe verkondig ’n mens die Drie-eenheid?’ En as die vraag ’n uitvloeisel is van verwarring onder die studente, is dit miskien ewe veel ’n uitvloeisel van soortgelyke verwarring onder hulle professore.”
Die waarheid van daardie opmerking kan bevestig word deur na ’n biblioteek te gaan en boeke wat die Drie-eenheid steun te ondersoek. Tallose bladsye is al geskryf om dit te probeer verduidelik. Maar nadat lesers deur die doolhof van verwarrende teologiese terme en verduidelikings gesukkel het, het hulle steeds nie klaarheid nie.
In hierdie verband sê die Jesuïet Joseph Bracken in sy boek What Are They Saying About the Trinity?: “Priesters wat . . . die Drie-eenheid gedurende hulle jare in die seminarie met aansienlike inspanning geleer het, het begryplikerwys gehuiwer om, selfs op Drie-eenheidsondag, van die preekstoel af met hul gemeente daaroor te praat. . . . Waarom sou ’n mens ander verveel met iets wat hulle op die ou end tog nie behoorlik sal verstaan nie?” Hy sê ook: “Die Drie-eenheid is ’n kwessie van formele geloof, maar dit het min of geen [invloed] op die alledaagse Christelike lewe en aanbidding nie.” En tog is dit “die sentrale leerstelling” van die kerke!
Katolieke teoloog Hans Küng sê in sy boek Christianity and the World Religions dat die Drie-eenheid een rede is waarom die kerke nie juis by nie-Christelike volke ingang kon vind nie. Hy sê: “Selfs goed ingeligte Moslems kan eenvoudig nie die Drie-eenheid begryp nie, net soos die Jode [dit] tot dusver ook nie kon verstaan nie. . . . Die onderskeid wat die Drie-eenheidsleer tussen een God en drie hipostases maak, is nie vir Moslems oortuigend nie, want teologiese terme wat aan Siries, Grieks en Latyn ontleen is, is vir hulle verwarrend pleks van insiggewend. Moslems beskou die hele saak as ’n woordespel. . . . Waarom sou iemand iets by die begrip van God se eenheid en enigheid wil voeg as dit daardie eenheid en enigheid slegs kan afwater of uitwis?”
“Nie ’n God van wanorde nie”
HOE het so ’n verwarrende leerstelling ontstaan? The Catholic Encyclopedia beweer: “’n Dogma wat so geheimsinnig is, impliseer ’n Goddelike openbaring.” Katolieke geleerdes Karl Rahner en Herbert Vorgrimler sê in hulle Theological Dictionary: “Die Drie-eenheid is ’n verborgenheid . . . in engere sin . . . , wat nie sonder openbaring bekend kon wees nie en wat selfs ná openbaring nie heeltemal verstaanbaar kan word nie.”
Maar die bewering dat die Drie-eenheid van ’n goddelike openbaring afkomstig moet wees omdat dit so ’n verwarrende verborgenheid is, skep nog ’n groot probleem. Waarom? Omdat goddelike openbaring self nie so ’n beskouing van God toelaat nie: “God is nie ’n God van verwarring nie.”—1 Korinthiërs 14:33, Revised Standard Version.
Sou God, in die lig van daardie woorde, verantwoordelik wees vir ’n leerstelling oor homself wat so verwarrend is dat selfs kenners van Hebreeus, Grieks en Latyn dit nie werklik kan verduidelik nie?
Wat meer is: Moet mense teoloë wees om ‘die enige waaragtige God en Jesus Christus wat hy gestuur het te ken’? (Johannes 17:3). As dit die geval is, waarom het so min van die geleerde Joodse godsdiensleiers Jesus as die Messias herken? Sy getroue dissipels was eerder nederige boere, vissers, tollenaars en huisvroue. Daardie gewone mense was so seker van wat Jesus hulle omtrent God geleer het dat hulle dit aan ander kon leer en selfs bereid was om vir hulle oortuiging te sterf.—Mattheüs 15:1-9; 21:23-32, 43; 23:13-36; Johannes 7:45-49; Handelinge 4:13.
[Prent op bladsy 4]
Jesus se dissipels was die nederige, gewone mense, nie die godsdiensleiers nie