Bybelboek nommer 22—Hooglied
Skrywer: Salomo
Waar geskryf: Jerusalem
Geskrif voltooi: ca. 1020 v.G.J.
1. In watter opsig is hierdie die “Lied der liedere”?
“DIE hele wêreld was die dag nie waardig waarop hierdie verhewe Lied aan Israel gegee is nie.” So het die Joodse “rabbi” Akiba, wat in die eerste eeu van die Gewone Jaartelling gelewe het, sy waardering vir Die Hooglied van Salomo uitgespreek.a Die boek se titel is ontleen aan die openingswoorde: “Die hooglied van Salomo.” Volgens die Hebreeuse woord-vir-woordteks is dit die “Lied der liedere”, wat op skitterende voortreflikheid dui, soortgelyk aan die uitdrukking “hemele der hemele” vir die hoogste hemele (Deut. 10:14, NW). Dit is nie ’n versameling liedere nie, maar een lied, “’n lied van die grootste volmaaktheid, een van die bestes wat bestaan of ooit opgeteken is”.b
2. (a) Wie was die skrywer van Die Hooglied van Salomo, waarom was hy bevoeg daarvoor, en waarom kan die boek ’n lied van gefrustreerde liefde genoem word? (b) Waar is die boek geskryf, en wanneer?
2 Koning Salomo van Jerusalem was die skrywer van hierdie lied, soos blyk uit die inleiding. Hy was uiters bevoeg om hierdie allerpragtigste voorbeeld van Hebreeuse digkuns te skryf (1 Kon. 4:32). Dit is ’n idilliese gedig vol betekenis en uiters kleurryk in sy beskrywing van skoonheid. Die leser wat hom die Oosterse agtergrond kan voorstel, sal dit nog meer besef (Hoogl. 4:11, 13; 5:11; 7:4). Die rede vir die skrywe daarvan was uniek. Die groot koning Salomo, met sy roemryke wysheid, magtige invloed en verbysterende, skitterende materiële rykdom wat selfs die bewondering van die koningin van Skeba afgedwing het, kon ’n eenvoudige meisie van die platteland op wie hy verlief geraak het, nie beïndruk nie. Weens die bestendigheid van haar liefde vir ’n jong herder het die koning se toenadering misluk. Die boek kan dus tereg ‘Die lied van Salomo se gefrustreerde liefde’ genoem word. Jehovah God het hom geïnspireer om hierdie lied te komponeer tot nut van Bybellesers in die eeue wat sou volg. Hy het dit in Jerusalem geskryf. Dit was moontlik omstreeks 1020 v.G.J., enkele jare na die tempel voltooi is. Teen die tyd dat hy die lied geskryf het, het Salomo “sestig koninginne en tagtig byvroue” gehad, in vergelyking met “sewehonderd vroue, vorstinne . . . en driehonderd byvroue” teen die einde van sy regering.—Hoogl. 6:8; 1 Kon. 11:3.
3 . Watter bewyse is daar vir die kanonisiteit van Die Hooglied van Salomo?
3 Die kanonisiteit van Die Hooglied van Salomo is nooit in vroeë tye bevraagteken nie. Dit is lank voor die Gewone Jaartelling as ’n integrerende en geïnspireerde deel van die Hebreeuse kanon beskou. Dit is in die Griekse Septuagint opgeneem. Josephus het dit in sy katalogus van heilige boeke geplaas. Die bewyse van die boek se kanonisiteit is derhalwe dieselfde as wat gewoonlik vir enige ander boek van die Hebreeuse Geskrifte aangevoer word.
4. (a) Bewys die afwesigheid van die woord “God” dat Die Hooglied van Salomo nie ’n kanonieke boek is nie? (b) Wat laat die boek in aanmerking kom vir sy unieke plek in die Bybelkanon?
4 Party het egter die boek se kanonisiteit bevraagteken omdat dit geen melding van God maak nie. Die afwesigheid van enige vermelding van God sou die boek net so min diskwalifiseer as wat die blote voorkoms van die woord “God” dit kanoniek sou maak. Die goddelike naam kom wel in sy verkorte vorm in vers 6 van hoofstuk 8 (NW) voor, waar dit sê dat liefde “die vlam van Jah” is. Die boek maak ongetwyfeld deel uit van daardie geskrifte waarna Jesus Christus met goedkeuring verwys het toe hy gesê het: “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het” (Joh. 5:39). Daarbenewens laat Die Hooglied van Salomo se kragtige uitbeelding van die voortreflikheid van wedersydse liefde, wat in geestelike sin tussen Christus en sy “bruid” bestaan, die boek vir sy unieke plek in die Bybelkanon in aanmerking kom.—Openb. 19:7, 8; 21:9.
INHOUD VAN DIE HOOGLIED VAN SALOMO
5. (a) Hoe word die karakters in die drama geïdentifiseer? (b) Watter roerende tema word na vore gebring?
5 Die materiaal in die boek word in die vorm van ’n reeks gesprekke aangebied. Daar is ’n voortdurende afwisseling van sprekers. Die persone wat praat, is Salomo, koning van Jerusalem, ’n herder, sy geliefde Sulammitiese meisie, haar broers, hofdames (“dogters van Jerusalem”) en vroue van Jerusalem (“dogters van Sion”) (Hoogl. 1:5-7; 3:5, 11). Hulle word geïdentifiseer deur wat hulle oor hulleself sê of deur wat aan hulle gesê word. Die drama ontvou hom naby Sunem, of Sulem, waar Salomo met sy hofstoet kamp opgeslaan het. Dit bring ’n roerende tema na vore—die liefde van ’n plattelandse meisie van die dorpie Sunem vir haar herdervriend.
6. Watter gesprek vind plaas tussen die meisie en die hofdames van Salomo se kamp?
6 Die Sulammitiese meisie in Salomo se kamp (1:1-14). Die meisie verskyn in die koninklike tente waarin die koning haar ingebring het, maar sy verlang net om haar beminde herder te sien. Vol verlange na haar beminde praat sy asof hy aanwesig is. Die hofdames wat die koning bedien, die “dogters van Jerusalem”, kyk nuuskierig na die Sulammitiese meisie as gevolg van haar donker gelaatskleur. Sy verduidelik dat sy deur die son verbrand is omdat sy haar broers se wingerde oppas. Dan praat sy met haar beminde asof sy vry is en vra sy waar sy hom kan vind. Die hofdames sê haar aan om uit te gaan en haar kudde by die tente van die herders te laat wei.
7. Hoe soek Salomo toenadering, maar met watter gevolg?
7 Salomo tree na vore. Hy wil haar nie laat gaan nie. Hy prys haar skoonheid en beloof om haar te versier met “goue kettinkies” en “silwerknoppe”. Die Sulammitiese meisie weerstaan sy pogings tot toenadering en laat hom weet dat sy net liefde vir haar beminde kan voel.—1:11.
8. Hoe moedig die meisie se beminde haar aan? Waarna smag sy?
8 Die beminde herder verskyn (1:15–2:2). Die Sulammitiese meisie se beminde kom in Salomo se kamp in en moedig haar aan. Hy verseker haar van sy liefde. Die Sulammitiese meisie smag na die nabyheid van haar geliefde en die eenvoudige genot om saam met hom in die veld en woude te woon.
9. Hoe takseer die meisie en haar beminde haar skoonheid?
9 Die Sulammitiese meisie is beskeie. “Ek is ’n narsing van Saron”, sê sy. Haar beminde herder meen dat sy sonder gelyke is en sê: “Soos ’n lelie tussen die dorings, so is my vriendin onder die dogters.”—2:1, 2.
10. Wat onthou die meisie oor haar beminde?
10 Die meisie verlang na haar herder (2:3–3:5). Weer eens geskei van haar beminde, toon die Sulammitiese meisie hoe sy hom hoër as al die ander ag, en sy sê vir die dogters van Jerusalem dat hulle onder eed staan om nie in haar ’n ongewenste liefde vir ’n ander te probeer wek nie. Die Sulammitiese meisie onthou die keer toe haar herder haar geroep beantwoord het en haar in die lente na die heuwels genooi het. Sy sien hom op die berge klim, huppelend van vreugde. Sy hoor hom na haar roep: “Staan op, my vriendin, my skone, kom dan tog!” Haar broers, wat nie seker was van haar bestendigheid nie, het egter kwaad geword en haar ingespan om die wingerde te bewaak. Sy sê: “My beminde is myne, en ek is syne”, en sy smeek hom om hom na haar te haas.—2:13, 16.
11. Aan watter eed herinner die Sulammitiese meisie die dogters van Jerusalem weer eens?
11 Die Sulammitiese meisie beskryf haar gedwonge verblyf in Salomo se kamp. Snags in die bed verlang sy na haar herder. Weer herinner sy die dogters van Jerusalem dat hulle onder eed staan om nie ’n ongewenste liefde in haar wakker te maak nie.
12. Watter verdere aanmoediging gee die meisie se beminde haar wanneer sy deur Salomo na Jerusalem geneem word?
12 Die Sulammitiese meisie in Jerusalem (3:6–5:1). Salomo keer met koninklike prag en praal terug na Jerusalem en die volk bewonder sy gevolg. Die beminde herder laat nie die Sulammitiese meisie in hierdie kritieke uur in die steek nie. Hy volg sy vriendin, wat gesluier is, en kom met haar in aanraking. Hy versterk sy geliefde met innige liefdesbetuiginge. Sy vertel hom dat sy wil vry kom en die stad wil verlaat, en dan roep hy in liefdesvervoering uit: “Alles is mooi aan u, my vriendin” (4:7). Net ’n vlugtige blik van haar laat sy hart vinniger klop. Haar liefdesbetuiginge is beter as wyn, haar geur is soos dié van die Libanon en haar vel is soos ’n park van granate. Die meisie nooi haar beminde om in “sy tuin” in te kom, en hy aanvaar dit. Vriendelike vroue van Jerusalem moedig hulle aan: “Eet, vriende, drink en word dronk [met liefdesbetuiginge].”—4:16; 5:1, vgl. NW.
13. Watter droom het die meisie, en hoe beskryf sy haar beminde aan die hofdames?
13 Die meisie se droom (5:2–6:3). Die Sulammitiese meisie vertel die hofdames van ’n droom waarin sy ’n klop hoor. Haar beminde staan buite en smeek dat sy hom inlaat. Maar sy is in die bed. Wanneer sy eindelik opstaan om die deur oop te maak, het hy in die nag verdwyn. Sy gaan soek hom, maar hy kan nie gevind word nie. Die wagte mishandel haar. Sy sê vir die hofdames dat hulle, as hulle haar beminde sien, onder verpligting is om hom te vertel dat sy siek van liefde is. Hulle vra haar waarom hy so uitsonderlik is. Sy gee ’n pragtige beskrywing van hom en sê hy is “skitterend wit en rooi, uitnemender as tienduisend” (5:10). Die hofdames vra haar waar hy is. Sy sê dat hy skape in die tuin gaan oppas het.
14. Hoe verloor Salomo sy stryd ondanks al sy pogings?
14 Salomo se finale toenadering (6:4–8:4). Koning Salomo nader die Sulammitiese meisie. Weer vertel hy haar hoe mooi sy is, liefliker as “sestig koninginne en tagtig byvroue”, maar sy verwerp hom (6:8). Sy is hier net omdat die uitvoering van ’n taak haar naby sy kamp gebring het. ‘Wat sien u in my?’ vra sy. Salomo maak van haar onskuldige vraag gebruik om haar van haar skoonheid te vertel, van haar voetsole tot haar kruin, maar die meisie weerstaan al sy pogings. Sy verklaar moedig haar toegewydheid aan haar herder en roep na hom. Vir die derde keer herinner sy die dogters van Jerusalem daaraan dat hulle onder eed staan om nie teen haar sin liefde in haar wakker te maak nie. Salomo laat haar huis toe gaan. Hy het sy stryd om die Sulammitiese meisie se liefde verloor.
15. (a) Met watter versoek keer die meisie na haar broers terug? (b) Hoe het uitsluitlike toegewydheid geseëvier?
15 Die Sulammitiese meisie keer terug (8:5-14). Haar broers sien haar nader kom, maar sy is nie alleen nie. Sy “leun op haar beminde”. Sy meld dat sy haar beminde onder ’n appelboom ontmoet het en verklaar die onverbreekbaarheid van haar liefde vir hom. Enkele van haar broers se vroeëre kommentare oor hulle besorgdheid oor haar toe sy “’n klein sustertjie” was, word gemeld, maar sy verklaar dat sy bewys het dat sy ’n volwasse en bestendige vrou is (8:8). Laat haar broers nou tot haar huwelik toestem. Koning Salomo kan sy rykdom hou! Sy is tevrede met haar een wingerd, want sy het iemand lief wat uitsluitlik dierbaar is vir haar. In haar geval is hierdie liefde so sterk soos die dood en die gloed daarvan soos “die vlam van Jah”. Aandrang op uitsluitlike toegewydheid wat “so onversetlik soos Sjeool” is, het geseëvier en het gelei tot die glorieryke hoogtes van eenheid met haar beminde herder.—8:5, 6, NW.
WAAROM NUTTIG
16. Watter waardevolle lesse word in hierdie lied geleer?
16 Watter lesse word in hierdie liefdeslied geleer wat vandag vir die mens van God nuttig kan wees? Getrouheid, lojaliteit en onkreukbaarheid teenoor godvrugtige beginsels word duidelik getoon. Die lied wys hoe pragtig deugsaamheid en onskuld in iemand is wat werklik liefhet. Dit leer dat opregte liefde onoorwinlik, onuitblusbaar en nie te koop is nie. Jong Christenmans en -vroue, sowel as getroude mans en hul vrouens, kan baat vind by hierdie gepaste voorbeeld van onkreukbaarheid wanneer versoekings ontstaan en verlokkinge hulle voordoen.
17. (a) Hoe toon Paulus dat hierdie lied vir die lering van die Christengemeente geskryf is? (b) Waarom het Paulus dit heel moontlik in gedagte gehad toe hy aan die Korinthiërs en die Efesiërs geskryf het? (c) Watter interessante vergelykings kan met geïnspireerde geskrifte van Johannes gemaak word?
17 Maar hierdie geïnspireerde lied is ook uiters nuttig vir die Christengemeente as ’n geheel. Christene van die eerste eeu het dit as ’n deel van die geïnspireerde Skrif erken, en een van hulle het geskryf: “Alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê” (Rom. 15:4). Dieselfde geïnspireerde skrywer, Paulus, het heel moontlik die Sulammitiese meisie se uitsluitlike liefde vir haar herder in gedagte gehad toe hy aan die Christengemeente geskryf het: “Ek is jaloers oor julle met ’n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ’n reine maagd aan Christus voor te stel.” Paulus het ook geskryf oor die liefde van Christus vir die gemeente, soos dié van ’n man vir sy vrou (2 Kor. 11:2; Ef. 5:23-27). Jesus Christus is nie net die Goeie Herder vir hulle nie, maar hy is ook hulle Koning wat vir sy gesalfde volgelinge die onbeskryflike vreugde van ’n huwelik met hom in die hemele in die vooruitsig stel.—Openb. 19:9; Joh. 10:11.
18. In watter opsig kan die gesalfde volgelinge van Christus Jesus by die voorbeeld van die Sulammitiese meisie baat vind?
18 Hierdie gesalfde volgelinge van Christus Jesus kan gewis grootliks baat vind by die voorbeeld van die Sulammitiese meisie. Hulle moet ook lojaal wees in hulle liefde en nie deur die materialistiese glans van die wêreld verlok word nie, terwyl hulle balans in hulle onkreukbaarheid behou totdat hulle die beloning ontvang. Hulle gees is op die hemelse dinge gerig, en hulle ‘soek eers die koninkryk’. Hulle verwelkom die liefdevolle betuiginge van hulle Herder, Jesus Christus. Hulle verheug hulle grootliks in die wete dat hierdie beminde, hoewel onsigbaar, na aan hulle is en hulle aanspoor om moed te skep en die wêreld te oorwin. Omdat hulle daardie onblusbare liefde, so sterk soos “die vlam van Jah”, vir hulle Herder-Koning het, sal hulle inderdaad oorwin en met hom as mede-erfgename in die roemryke Koninkryk van die hemele verenig word. Aldus sal Jah se naam geheilig word!—Matt. 6:33; Joh. 16:33.
[Voetnote]
a Die Joodse Misjna (Jadajim 3:5).
b Clarke se Commentary, Dl. III, bladsy 841.