Hoofstuk 10
Toename in juiste kennis van die waarheid
JEHOVAH SE GETUIES het nie probeer om nuwe leerstellings, ’n nuwe manier van aanbidding, ’n nuwe godsdiens, te begin nie. Hulle hedendaagse geskiedenis weerspieël eerder ’n pligsgetroue poging om ander te leer wat in die Bybel, God se geïnspireerde Woord, aangetref word. Hulle vestig die aandag daarop as die grondslag vir alles wat hulle glo en vir hulle lewenswyse. Hulle het eerder daarna gestrewe om hulle lewe al hoe meer in ooreenstemming met die Bybelse leringe en gebruike van die eerste-eeuse Christelike godsdiens te bring as om leringe te ontwikkel wat die losbandige neigings van die moderne wêreld weerspieël.
Charles Taze Russell en sy metgeselle het aan die begin van die 1870’s met ’n ernstige studie van die Bybel begin. Dit het vir hulle duidelik geword dat die Christendom ver van die leringe en gebruike van die vroeë Christelike godsdiens afgedwaal het. Broer Russell het nie beweer dat hy die eerste een is wat dit raakgesien het nie, en hy het openlik erken dat hy dank verskuldig is aan ander wat hom gedurende die vroeë jare van sy studie van die Skrif gehelp het. Hy het met waardering gepraat van die goeie werk wat deur verskeie bewegings tydens die Hervorming gedoen is sodat die lig van waarheid helderder kon skyn. Hy het manne wat ouer as hy was, soos Jonas Wendell, George Stetson, George Storrs en Nelson Barbour, by name genoem as manne wat in verskeie opsigte persoonlik tot sy begrip van God se Woord bygedra het.a
Hy het ook gesê: ‘Verskeie leerstellings waarin ons glo en wat so nuut en vars en anders lyk, is lank gelede in die een of ander vorm bely: byvoorbeeld—die Uitverkiesing, Vrye Genade, Herstelling, Regverdigmaking, Heiligmaking, Verheerliking, Opstanding.’ Maar dit was dikwels die geval dat een godsdiensgroep ’n duideliker begrip van ’n sekere Bybelwaarheid gehad het; ’n ander groep weer van ’n ander waarheid. Hulle vooruitgang is dikwels belemmer omdat hulle gebind was aan leerstellings en geloofsbelydenisse wat opvattinge ingesluit het wat in eertydse Babilon en Egipte gefloreer het of wat aan Griekse filosowe ontleen is.
Maar watter groep sou, met behulp van God se gees, mettertyd weer vashou aan die hele “patroon van gesonde woorde” wat vir die eerste-eeuse Christene so kosbaar was? (2 Tim. 1:13, NW). Van wie sou dit waar wees dat hulle pad “soos die lig van die môreglans [is], wat al helderder word tot die volle dag toe”? (Spr. 4:18). Wie sou werklik die werk doen wat Jesus beveel het toe hy gesê het: “Julle sal my getuies wees . . . tot aan die uiterste van die aarde”? Wie sou nie net dissipels maak nie, maar hulle ook ‘leer om alles te onderhou’ wat Jesus hulle beveel het? (Hand. 1:8; Matt. 28:19). Trouens, was die tyd op hande wanneer die Here ’n duidelike onderskeid sou tref tussen daardie ware Christene wat hy vergelyk het met koring en die valses wat hy bestempel het as onkruid (in werklikheid ’n soort onkruid wat baie soos koring lyk totdat dit volgroei is)?b (Matt. 13:24-30, 36-43). Wie sou “die getroue en verstandige dienskneg” wees aan wie die Heer, Jesus Christus, tydens sy teenwoordigheid in Koninkryksmag groter verantwoordelikheid sou toevertrou in die werk wat vir die voleinding van hierdie stelsel van dinge voorspel is?—Matt. 24:3, 45-47.
Hulle laat die lig skyn
Jesus het sy dissipels opdrag gegee om die lig van Goddelike waarheid wat hulle van hom ontvang het aan ander te verkondig. “Julle is die lig van die wêreld”, het hy gesê. ‘Laat julle lig skyn voor die mense’ (Matt. 5:14-16; Hand. 13:47). Charles Taze Russell en sy metgeselle het besef dat hulle verplig was om dit te doen.
Het hulle geglo dat hulle al die antwoorde, die volle lig van die waarheid, gehad het? Broer Russell het daardie vraag reguit geantwoord: “Beslis nie; en ons sal dit ook nie hê voor die ‘volmaakte dag’ nie” (Spr. 4:18, KJ). Hulle het dikwels van hulle skriftuurlike opvattinge as “die huidige waarheid” gepraat—glad nie met die gedagte dat die waarheid self verander nie, maar met die gedagte dat hulle begrip daarvan progressief was.
Hierdie ywerige Bybelstudente het nie weggeskram van die gedagte dat daar in godsdiensaangeleenthede so iets soos waarheid is nie. Hulle het Jehovah as “die God van waarheid” en die Bybel as sy Woord van waarheid erken (Ps. 31:5, NW; Jos. 21:45; Joh. 17:17). Hulle het besef dat daar nog baie was wat hulle nie geweet het nie, maar hulle het nie geskroom om met oortuiging te vertel wat hulle uit die Bybel geleer het nie. En wanneer tradisionele godsdiensleerstellings en -gebruike weerspreek het wat hulle gesien het duidelik in God se geïnspireerde Woord gesê word, het hulle, in navolging van Jesus Christus, valse leringe blootgelê, al het hulle hulle daardeur die bespotting en die haat van die geestelikes op die hals gehaal.—Matt. 15:3-9.
C. T. Russell het in Julie 1879 die tydskrif Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence begin publiseer om ander te bereik en geestelik te voed.
Die Bybel—waarlik die Woord van God
Charles Taze Russell se vertroue in die Bybel het nie beteken dat hy bloot ’n tradisionele beskouing gehuldig het wat destyds gewild was nie. Inteendeel, wat destyds onder talle gewild was, was hoër kritiek. Die voorstanders daarvan het die betroubaarheid van die Bybelverslag betwis.
As jong man het broer Russell by die Kongregasionalistiese Kerk aangesluit en was hy bedrywig in die kerk se werk, maar die onredelikheid van tradisionele leerstellings het daartoe gelei dat hy ’n skeptikus geword het. Hy het gevind dat dít wat hy geleer is nie op bevredigende wyse uit die Bybel bewys kon word nie. Hy het dus die leerstellings van die kerk se geloofsbelydenis asook die Bybel verwerp. Daarna het hy vername Oosterse godsdienste ondersoek, maar ook hulle het hy onbevredigend gevind. Toe het hy begin wonder of die Christendom se geloofsbelydenisse nie miskien die Bybel verdraai nie. Hy is aangespoor deur iets wat hy een aand by ’n Adventistevergadering gehoor het en het begin om die Skrif stelselmatig te ondersoek. Wat hy begin verstaan het, was inderdaad die geïnspireerde Woord van God.
Die interne harmonie van die Bybel en die persoonlikheid van die Een wat as die Goddelike Outeur daarvan geïdentifiseer word, het hom diep beïndruk. Om ander te help om hierby baat te vind, het hy later die boek The Divine Plan of the Ages geskryf wat hy in 1886 gepubliseer het. Hierdie boek het onder andere ’n groot bespreking bevat oor “Die Bybel as ’n Goddelike openbaring in die lig van die rede beskou”. Aan die einde van hierdie hoofstuk het hy onomwonde gesê: “Die diepte en krag en wysheid en omvang van die Bybel se getuienis oortuig ons dat die almagtige God, en nie die mens nie, die outeur van die planne en openbarings daarvan is.”
Vertroue in die hele Bybel as God se Woord is steeds ’n hoeksteen van wat Jehovah se hedendaagse Getuies glo. Wêreldwyd het hulle studiemiddele wat hulle persoonlik in staat stel om die bewyse te ondersoek dat dit geïnspireer is. Aspekte van hierdie onderwerp word dikwels in hulle tydskrifte bespreek. In 1969 het hulle die boek Is die Bybel werklik die Woord van God? (in Engels) uitgegee. Twintig jaar later het die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n? opnuut na die onderwerp oor die betroubaarheid van die Bybel gekyk, die aandag op bykomende bewyse daarvoor gevestig en tot dieselfde slotsom gekom: Die Bybel is inderdaad die geïnspireerde Woord van God. Nog een van hulle boeke is: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”, wat in 1963 (in Engels) uitgegee en in 1990 bygewerk is. Nog besonderhede word in hulle Bybelensiklopedie Insight on the Scriptures gevind, wat in 1988 uitgegee is.
Deur hulle persoonlike en gemeentelike studie van sulke materiaal is hulle oortuig dat God self die skryfwerk daadwerklik deur sy gees gerig het, hoewel sowat 40 mense oor ’n tydperk van 16 eeue gebruik is om die dinge neer te skryf wat in die 66 boeke van die Bybel staan. Die apostel Paulus het geskryf: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer” (2 Tim. 3:16, NW; 2 Pet. 1:20, 21). Hierdie oortuiging is ’n kragtige faktor in die lewe van Jehovah se Getuies. ’n Britse koerant het hieroor kommentaar gelewer en gesê: “Alles wat ’n Getuie doen, berus op skriftuurlike grond. Trouens, hulle een grondleerstelling is die aanvaarding van die Bybel as . . . waaragtig.”
Hulle leer die ware God ken
Dit het broer Russell en sy metgeselle nie lank geneem terwyl hulle die Bybel bestudeer het om te sien dat die God wat in die Bybel uitgebeeld word nie die god van die Christendom is nie. Dit was ’n belangrike saak, aangesien Jesus Christus gesê het dat mense se vooruitsigte op die ewige lewe daarvan afhang of hulle die enige waaragtige God en die een wat hy gestuur het, sy Hoofbewerker van redding, ken (Joh. 17:3; Hebr. 2:10, NW). C. T. Russell en die groep wat saam met hom die Bybel bestudeer het, het gesien dat God se geregtigheid in volmaakte balans is met Goddelike wysheid, liefde en krag en dat hierdie eienskappe in al sy werke geopenbaar word. Op grond van die kennis wat hulle op daardie stadium van God se voorneme gehad het, het hulle ’n bespreking voorberei oor waarom boosheid toegelaat word, en die materiaal het verskyn in een van hulle vroegste en wydverspreidste publikasies, die boek met 162 bladsye: Food for Thinking Christians, wat aanvanklik in September 1881 as ’n spesiale uitgawe van Zion’s Watch Tower verskyn het.
Hulle studie van God se Woord het hulle help besef dat die Skepper ’n persoonlike naam het en dat hy dit vir mense moontlik maak om hom te ken en ’n intieme verhouding met hom te geniet (1 Kron. 28:9; Jes. 55:6; Jak. 4:8). Die Wagtoring (Engelse uitgawe) vir Oktober-November 1881 het op die volgende gewys: “JEHOVAH is die naam van niemand anders nie as die Opperwese—ons Vader, en hy wat deur Jesus Vader en God genoem is.”—Ps. 83:18, NW; Joh. 20:17.
Die daaropvolgende jaar is daar in antwoord op die vraag: “Sê julle dat die Bybel nie leer dat daar drie persone in een God is nie?” gesê: “Ja, dit sê daarenteen wel vir ons dat daar een God en Vader van ons Here Jesus Christus is uit wie alles is (of wat alles geskep het). Ons glo dus in een God en Vader, en ook in een Here Jesus Christus . . . Maar hulle is twee en nie een wese nie. Hulle is een net in die sin dat hulle eensgesind is. Ons glo ook aan ’n gees van God . . . Maar dit is net so min ’n persoon as wat die gees van duiwels en die gees van die Wêreld en die gees van die Antichris ’n persoon is.”—Zion’s Watch Tower, Junie 1882; Joh. 17:20-22.
Toenemende waardering vir God se naam
Daardie Bybelstudente het al hoe meer bewus geraak van die belangrikheid wat die geïnspireerde Skrif aan God se persoonlike naam heg. Daardie naam is in Engels verberg deur die Rooms-Katolieke Douay- en die Protestantse King James-weergawes van die Bybel, soos dit later in die 20ste eeu die geval was met die meeste vertalings in baie tale. Maar ’n verskeidenheid vertalings sowel as Bybelnaslaanwerke het getoon dat die naam Jehovah duisende kere in die teks in die oorspronklike tale voorkom—trouens, baie meer as enige ander naam, en meer as wat titels soos God en Here gesamentlik voorkom. As ‘’n volk vir sy Naam’ het hulle waardering vir die Goddelike naam toegeneem (Hand. 15:14). In Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Januarie 1926 het hulle ’n geskil bespreek waaroor hulle besef het elkeen moet besluit, naamlik “Wie sal Jehovah eer?”
Die klem wat hulle op God se naam geplaas het, was nie bloot ’n saak van godsdienskennis nie. Soos verduidelik is in die boek Prophecy (wat in 1929 uitgegee is), behels die naam en woord van Jehovah God die vernaamste geskil waarby die hele intelligente skepping betrokke is. Jehovah se Getuies beklemtoon dat die Bybel toon dat almal God se naam moet ken en dit as iets heiligs moet beskou (Matt. 6:9; Eseg. 39:7, NW). Dit moet gesuiwer word van al die oneer wat daarop gebring is, nie net deur diegene wat Jehovah openlik uittart nie, maar ook deur diegene wat hom deur hulle leerstellings en dade verkeerd voorstel (Eseg. 38:23, NW; Rom. 2:24). Die Getuies besef op grond van die Skrif dat die welsyn van die heelal en sy bewoners afhang van die heiliging van Jehovah se naam.
Hulle besef dat dit die plig en voorreg van Jehovah se getuies is om vir ander die waarheid aangaande hom te vertel voordat hy ingryp en die goddeloses vernietig. Jehovah se Getuies doen dit wêreldwyd. Hulle kom daardie verantwoordelikheid so ywerig na dat enigeen wat die naam Jehovah vryelik gebruik internasionaal gou as een van Jehovah se Getuies geïdentifiseer word.
Die Drie-eenheidsleerstelling word blootgelê
C. T. Russell en sy metgeselle het, as getuies van Jehovah, ’n sterk verantwoordelikheid gevoel om die leringe wat God verkeerd voorgestel het, bloot te lê om liefhebbers van die waarheid te help besef dat hierdie leringe nie op die Bybel gegrond is nie. Hulle was nie die eerstes wat besef het dat die Drie-eenheid onskriftuurlik is nie,c maar hulle het besef indien hulle getroue knegte van God wou wees hulle die waarheid daaroor bekend moes maak. Hulle het, tot voordeel van alle liefhebbers van die waarheid, die heidense oorsprong van hierdie sentrale leerstelling van die Christendom moedig blootgelê.
Die Wagtoring (Engelse uitgawe) vir Junie 1882 het gesê: “Baie heidense filosowe wat gedink het dat dit ’n goeie beleid sou wees om hulle te skaar by die geledere van die opkomende godsdiens [’n afvallige vorm van die Christelike godsdiens wat deur Romeinse keisers in die vierde eeu G.J. gesteun is] het begin om ’n maklike weg daarvoor te baan deur ooreenkomste tussen die Christelike godsdiens en die Heidendom te probeer vind en die twee dan so te laat saamsmelt. Hulle pogings was maar alte geslaagd. . . . Aangesien die ou teologie ’n aantal hoofgode gehad het, met baie halfgode van albei geslagte, het die Heiden-Christene (as ons ’n woord mag maak) die lys vir die nuwe teologie begin rekonstrueer. Dit is dus tóé dat die leerstelling van drie Gode versin is—God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees.”
Sommige van die geestelikes het hulle leer ’n Bybelse grondslag probeer gee deur tekste soos 1 Johannes 5:7 aan te haal, maar broer Russell het bewyse aangevoer wat getoon het dat geleerdes goed vertroud is met die feit dat ’n gedeelte van daardie teks ’n interpolasie is, ’n valse invoeging wat deur ’n oorskrywer gemaak is om ’n leerstelling te steun wat nie in die Skrif aangetref word nie. Ander apologete van die Drie-eenheid het Johannes 1:1 as bewys aangevoer, maar Die Wagtoring het daardie teks op grond van die inhoud sowel as die konteks ontleed om te toon dat dit geensins geloof in die Drie-eenheid steun nie. Die Wagtoring (Engelse uitgawe) het in ooreenstemming hiermee in sy nommer vir Julie 1883 gesê: “Meer studie van die Bybel pleks van die gesangboek sou die onderwerp vir almal duideliker gemaak het. Die leerstelling van die drie-eenheid is lynreg in stryd met die Skrif.”
Broer Russell het openlik gewys hoe dwaas dit is om te bely dat ’n mens die Bybel glo as jy terselfdertyd ’n leerstelling soos die Drie-eenheid leer, wat weerspreek wat die Bybel sê. Hy het aldus geskryf: “In watter doolhof van strydighede en verwarring bevind diegene hulle tog wat sê dat Jesus en die Vader een God is! Dit sou die gedagte insluit dat ons Here Jesus ’n huigelaar was toe hy op aarde was en dat hy net voorgegee het dat hy God in gebed aanspreek, terwyl hyself daardie God was. . . . Ook was die Vader nog altyd onsterflik, en hy kon dus nie sterf nie. Hoe kon Jesus dan gesterf het? Die Apostels is almal valse getuies as hulle Jesus se dood en opstanding verkondig as Hy nie gesterf het nie. Die Skrif sê egter dat Hy wel gesterf het.”d
Jehovah se Getuies het derhalwe vroeg in hulle hedendaagse geskiedenis die Christendom se Drie-eenheidsleerstelling onomwonde verwerp ten gunste van die redelike, hartverblydende leer van die Bybel self.e Die werk wat hulle gedoen het om hierdie waarhede bekend te maak en mense op alle plekke die geleentheid te gee om dit te hoor, word nou op so ’n groot skaal gedoen soos nog nooit deur enige ander persoon of groep, in die verlede of in die hede, gedoen is nie.
Wat is die toestand van die dooies?
C. T. Russell was sedert hy ’n jong man was diep besorg oor wat die toekoms inhou vir mense wat nie God se voorsiening vir redding aanneem nie. As jong seun het hy geglo wat die geestelikes oor die helse vuur gesê het; hy het gedink dat hulle God se Woord verkondig. Hy het saans uitgegaan en Bybeltekste met kryt op plekke geskryf waar almal dit kon sien sodat werkers wat daar verbyloop, gewaarsku kon word en van die verskriklike oordeel van ewige pyniging gered kon word.
Later, nadat hy self gesien het wat die Bybel werklik leer, het hy volgens een van sy metgeselle gesê: “As die Bybel wel leer dat ewige pyniging die lot van almal behalwe die heiliges is, moet dit verkondig word—ja, weekliks, daagliks, uurliks van die dakke af uitgebasuin word; as die Bybel dit nie leer nie, moet die feit bekend gemaak en die verfoeilike klad verwyder word wat God se heilige naam onteer.”
C. T. Russell het vroeg in sy studie van die Bybel duidelik gesien dat die hel nie ’n plek van pyniging vir siele ná die dood is nie. George Storrs, redakteur van die Bible Examiner, het hom waarskynlik hiermee gehelp, want hy het self baie geskryf oor wat hy uit die Bybel ten opsigte van die toestand van die dooies geleer het, en broer Russell het met innige waardering van hom in sy geskrifte melding gemaak.
Maar wat van die siel? Het die Bybelstudente die opvatting gesteun dat dit ’n onstoflike deel van die mens is, iets wat voortlewe nadat die liggaam gesterf het? Inteendeel, in 1903 het Die Wagtoring gesê: “Ons moet sorgvuldig daarop let dat die les nie is dat die mens ’n siel het nie, maar dat die mens ’n siel, of wese, is. Kom ons neem ter toeligting iets in die natuur—die lug wat ons inasem: dit bestaan uit suurstof en stikstof, en nie een van die twee is atmosfeer, of lug, nie; maar wanneer die twee verbind, wat wel in die regte chemiese verhoudings gebeur, is die resultaat atmosfeer. So ook die siel. God spreek met ons vanuit hierdie standpunt, naamlik dat ons almal siele is. Hy spreek nie ons liggaam of ons lewensasem aan nie, maar hy spreek ons as intelligente wesens, of siele, aan. Toe hy die straf vir die verbreking van sy wet uitgespreek het, het hy nie spesifiek Adam se liggaam aangespreek nie, maar die mens, die siel, die intelligente wese: ‘Die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.’ ‘Die siel wat sondig, dié moet sterwe.’—Gen. 2:17; Eseg. 18:20.” Dit was in ooreenstemming met wat Die Wagtoring (Engelse uitgawe) reeds in April 1881 gesê het.f
Hoe het die opvatting van die inherente onsterflikheid van mensesiele dan ontstaan? Wie het dit begin? Nadat broer Russell die Bybel sowel as godsdiensgeskiedenis sorgvuldig ondersoek het, het hy in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 April 1894 geskryf: “Dit is duidelik dat dit nie in die Bybel staan nie . . . Die Bybel sê uitdruklik dat die mens sterflik is, dat hy kan doodgaan. . . . Wanneer ons die bladsye van die geskiedenis ondersoek, vind ons dat, hoewel die leerstelling oor menslike onsterflikheid nie deur God se geïnspireerde getuies geleer word nie, dit die wese van alle heidense godsdienste is. . . . Dit is dus nie waar dat Sokrates en Plato die eerstes was wat die leerstelling verkondig het nie: dit het ’n vroeër, en ’n selfs bekwamer, leraar as enigeen van die twee gehad. . . . Die eerste vermelding van hierdie valse leerstelling word aangetref in die oudste geskiedenis wat aan die mens bekend is—die Bybel. Die valse leraar was Satan.”g
Die “brandslang” word op die hel gerig
In ooreenstemming met broer Russell se vurige begeerte om die verfoeilike klad te verwyder wat deur die leerstelling van ’n helse vuur van ewige pyniging op God se naam gewerp is, het hy ’n traktaat geskryf oor die onderwerp “Leer die Skrif dat ewige pyniging die loon van die sonde is?” (The Old Theology, 1889). Daarin het hy gesê:
“Die teorie oor ewige pyniging het ’n heidense oorsprong, maar soos die heidene daaraan geglo het, was dit nie die genadelose leerstelling wat dit agterna geword het toe dit ’n deel geword het van die sogenaamde Christelike godsdiens toe dié gedurende die tweede eeu geleidelik met heidense filosofieë vermeng geraak het nie. Dit was die groot afvalligheid wat aan die heidense filosofie die aaklighede geheg het waaraan mense nou oor die algemeen glo; wat dit op die kerkmure geverf het, soos in Europa gedoen is; wat dit in hulle geloofsbelydenisse en gesange laat opneem het en wat die Woord van God só verdraai het dat dit oënskynlik Goddelike steun aan hierdie godonterende lastering gee. Die goedgelowigheid van vandag laat mense dit dus as ’n erfenis aanvaar, nie van die Here of die apostels of die profete af nie, maar van die kompromitterende gees af wat waarheid en rede ingeboet het en die leerstellings van die Christelike godsdiens skandelik verdraai het in ’n onheilige sug en strewe na mag en rykdom en getalle. Ewige pyniging as die straf vir sonde was iets onbekends vir die aartsvaders van vervloeë tye; dit was iets onbekends vir die profete van die Joodse tyd, en dit was iets onbekends vir die Here en die apostels; maar dit is die hoofleerstelling van die sogenaamde Christelike godsdiens sedert die groot afvalligheid—die straf waarmee die goedgelowiges, oningeligtes en bygelowiges van die wêreld tot slaafse gehoorsaamheid aan tirannie gedwing is. ’n Vonnis van ewige pyniging is uitgespreek oor almal wat die Roomse gesag weerstaan of dit minagtend verwerp het, en die Roomse Kerk het reeds dié straf in die huidige lewe opgelê in soverre dit in sy mag was.”
Broer Russell was terdeë bewus daarvan dat die meeste verstandige mense nie werklik aan die helvuurleerstelling geglo het nie. Maar, soos hy in 1896 in die boekie What Say the Scriptures About Hell? getoon het, “aangesien hulle dink dat die Bybel dit leer, is elke tree wat hulle in die rigting van ware intelligensie en broederlike welwillendheid gee . . . in die meeste gevalle ’n tree weg van God se Woord af, wat deur hulle valslik van hierdie leerstelling beskuldig word”.
Om sulke denkende mense na God se Woord terug te bring, het hy elke teks in die King James Version waarin die woord hel aangetref is in hierdie boekie aangegee, sodat lesers self kon sien wat hierdie tekste sê, en hy het toe gesê: “Ons dank God dat ons nie so ’n plek van ewige pyniging vind as wat die geloofsbelydenisse en gesangboeke en baie preekstoele so verkeerdelik leer nie. Tog het ons ’n ‘hel’, sjeool, hades, gevind waartoe die hele menslike geslag as gevolg van Adam se sonde veroordeel is en waaruit almal deur ons Here se dood vrygekoop is; en daardie ‘hel’ is die graf—die doodstoestand. En ons vind dat nog ’n ‘hel’ (gehenna—die tweede dood—algehele vernietiging) onder ons aandag gebring word as die finale straf wat almal opgelê word wat, nadat hulle vrygekoop is en die waarheid ten volle verstaan het en die volle vermoë het om dit te gehoorsaam, nogtans die dood kies deur ’n weg van verset teen God en geregtigheid te kies. En ons hart sê, Amen. Waaragtig en regverdig is u weë, o Koning van die nasies; Wie sal u nie vereer nie, o Here, en u naam nie verheerlik nie? Want u alleen is absoluut heilig. Al die nasies sal kom en voor u aanbid, omdat u regverdige dade openbaar geword het.”—Openb. 15:3, 4.
Wat hy geleer het, was ’n bron van irritasie en verleentheid vir die geestelikes van die Christendom. In 1903 is hy tot ’n openbare debat uitgedaag. Die toestand van die dooies was een van die geskille in die daaropvolgende reeks debatte tussen C. T. Russell en dr. E. L. Eaton, wat as woordvoerder opgetree het vir ’n nieamptelike bondgenootskap van Protestantse predikante in die westelike deel van Pennsilvanië.
Gedurende daardie debatte het broer Russell onwrikbaar daarby gehou dat “die dood die dood is, en dat ons geliefdes, wanneer ons hulle verloor, werklik dood is en dat hulle nie saam met die engele lewe of saam met demone in ’n plek van wanhoop is nie”. Om dit te steun, het hy tekste soos Prediker 9:5, 10; Romeine 5:12; 6:23 en Genesis 2:17 genoem. Hy het ook gesê: “Die Skrif stem ten volle ooreen met wat ek en jy en enige ander verstandige, redelike mens in die wêreld sal erken die redelike en ware persoonlikheid van ons God is. Wat word van ons hemelse Vader gesê? Dat hy regverdig is, dat hy wys is, dat hy liefdevol is en dat hy magtig is. Alle Christenmense sal erken dat God hierdie eienskappe besit. As dit die geval is, kan ons vra of dit enigsins sin maak om te sê dat God regverdig is en tog ’n skepsel wat Sy handewerk is vir ewig sal straf ongeag wat die sonde was? Ek is nie ’n apologeet vir die sonde nie; ek leef self nie in sonde nie en ek verkondig nooit sonde nie. . . . Maar ek sê vir julle dat al hierdie mense hier rond wat ons broeder [dr. Eaton] sê oneerbiedig teen God en die heilige naam van Jesus Christus laster almal mense is wat hierdie leerstelling van ewige pyniging geleer is. En al die moordenaars, diewe en kwaaddoeners in die strafgevangenisse is almal hierdie leerstelling geleer. . . . Dit is slegte leerstellings; hulle skaad die wêreld al so lank; hulle maak hoegenaamd nie deel uit van die Here se leer nie, en ons liewe broeder het nog nie die rook van die duister Middeleeue uit sy oë gevryf nie.”
’n Geestelike wat daar teenwoordig was, het glo ná die debat na broer Russell toe gekom en gesê: “Ek is bly om te sien dat jy die brandslang op die hel rig en die vuur blus.”
Om die waarheid oor die toestand van die dooies selfs groter publisiteit te gee, het broer Russell van 1905 tot 1907 ’n uitgebreide reeks eendagbyeenkomste bedien waartydens hy die openbare toespraak gehou het: “Hel toe en terug! Wie is daar? Die hoop dat baie sal terugkeer.” Dit was ’n interessante titel en het baie aandag getrek. Gehore het byeenkomssale in groot en klein stede in die Verenigde State en Kanada van hoek tot kant volgesit om die toespraak te hoor.
Onder diegene wat diep getref is deur wat die Bybel oor die toestand van die dooies sê, was ’n universiteitstudent in Cincinnati, Ohio, wat vir ’n Presbiteriaanse predikant geleer het. Sy broer het in 1913 vir hom die boekie Where Are the Dead? gegee, wat geskryf is deur John Edgar, ’n Bybelstudent wat ook ’n mediese dokter in Skotland was. Die student wat die boekie ontvang het, was Frederick Franz. Nadat hy dit sorgvuldig deurgelees het, het hy vasbeslote gesê: “Dit is die waarheid.” Hy het sonder aarseling sy doelwitte in die lewe verander en die voltydse bediening as ’n kolporteurbedienaar betree. In 1920 het hy ’n lid van die Wagtoringgenootskap se hoofkwartierpersoneel geword. Baie jare later het hy ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies geword, en later die president van die Wagtoringgenootskap.
Jesus Christus se losprysoffer
In sy ondersoek van die Skrif het broer Russell en sy metgeselle in 1872 die onderwerp van herstelling opnuut beskou vanuit die standpunt van die losprys wat deur Jesus Christus gegee is (Hand. 3:21, KJ). Hy was verheug toe hy in Hebreërs 2:9 gesien het dat ‘Jesus deur die genade van God vir elkeen die dood gesmaak het’. Dit het nie daartoe gelei dat hy aan universele redding begin glo het nie, want hy het geweet dat die Skrif ook sê dat ’n mens geloof in Jesus Christus moet beoefen om gered te kan word (Hand. 4:12; 16:31). Maar hy het begin verstaan—hoewel nie meteens nie—watter wonderlike geleentheid die losprysoffer van Jesus Christus vir die mensdom moontlik gemaak het. Dit het die weg vir hulle geopen om te hê wat Adam verloor het, die vooruitsig op die ewige lewe in menslike volmaaktheid. Broer Russell was nie passief oor die saak nie; hy het besef hoe uiters belangrik die losprys is en het dit ywerig verdedig, selfs toe intieme metgeselle toegelaat het dat filosofiese beskouinge hulle denke verderf.
Broer Russell was teen die middel van 1878 ongeveer anderhalf jaar reeds die assistentredakteur van die tydskrif Herald of the Morning, waarvan N. H. Barbour die hoofredakteur was. Maar toe mnr. Barbour die skriftuurlike leerstelling van die losprys in hulle tydskrif se nommer vir Augustus 1878 gekleineer het, het broer Russell daarop gereageer deur daardie lewensbelangrike Bybelwaarheid vurig te verdedig.
Mnr. Barbour het onder die opskrif “Die versoening” verduidelik hoe hy oor die leerstelling voel en gesê: “Wanneer James sy sussie byt, sê ek vir my seun, of vir een van die bediendes, vang ’n vlieg, steek ’n speld deur sy liggaam en pen hom aan die muur vas, en ek sal James vergewe. Dit lig die leerstelling van plaasvervanging toe.” Hoewel mnr. Barbour gesê het dat hy aan die losprys glo, het hy gesê die gedagte dat Christus deur sy dood vir Adam se nakomelinge die prys vir die sonde betaal het “onskriftuurlik en aanstootlik vir ons hele begrip van geregtigheid is”.h
Broer Russell het in die volgende nommer van die Herald of the Morning (September 1878) sterk beswaar gemaak teen wat mnr. Barbour geskryf het. Broer Russell het ’n uiteensetting gegee van wat die Skrif werklik sê en hoe dit strook met “die volmaaktheid van [God se] geregtigheid en ten slotte sy groot genade en liefde” soos dit deur middel van die losprysvoorsiening weerspieël word (1 Kor. 15:3; 2 Kor. 5:18, 19; 1 Pet. 2:24; 3:18; 1 Joh. 2:2). Teen die volgende lente het broer Russell, ná herhaalde pogings om mnr. Barbour te help om dinge volgens die Skrif te sien, sy steun aan die Herald onttrek; en van die nommer vir Junie 1879 af het sy naam nie meer as ’n assistentredakteur van daardie publikasie verskyn nie. Sy moedige, beginselvaste standpunt ten opsigte van hierdie hoofleerstelling van die Bybel het verreikende gevolge gehad.
Jehovah se Getuies het deur hulle hele hedendaagse geskiedenis heen die skriftuurlike leerstelling van die losprys standvastig verdedig. Die heel eerste nommer van Zion’s Watch Tower (Julie 1879) het beklemtoon dat “verdienste voor God . . . in Christus se volmaakte offerande lê”. Op die gedrukte program van ’n byeenkoms wat in 1919 deur die Internasionale Bybelstudente-vereniging in Cedar Point, Ohio, gereël is, het die woorde “Welkom! almal wat aan die groot losprysoffer glo” opvallend verskyn. Die tweede bladsy van Die Wagtoring vestig steeds die aandag op die losprys waar dit oor die doel van die tydskrif sê: “Dit staan geloof voor in God se tans heersende Koning, Jesus Christus, wie se vergote bloed die weg vir die mensdom open om die ewige lewe te verkry.”
Progressief, nie gebonde aan geloofsbelydenisse nie
Die Bybelstudente het nie eensklaps ’n duidelike begrip van God se Woord gehad nie. Hulle het in baie gevalle een besonderheid van die patroon van waarheid verstaan maar nog nie die geheelbeeld gesien nie. Maar hulle was gewillig om te leer. Hulle was nie gebonde aan geloofsbelydenisse nie; hulle was progressief. Wat hulle geleer het, het hulle vir ander vertel. Hulle het nie die eer geneem vir die dinge wat hulle ander geleer het nie; hulle het hulle deur ‘God laat leer’ (Joh. 6:45). En hulle het besef dat Jehovah dit in sy eie tyd en op sy eie manier vir hulle moontlik maak om die besonderhede van sy voorneme te verstaan.—Dan. 12:9; vergelyk Johannes 16:12, 13.
Wanneer ’n mens nuwe dinge leer, moet jy jou beskouing verander. As ’n mens jou foute wil erken en nuttige veranderinge wil aanbring, moet jy nederig wees. Hierdie eienskap en die vrugte daarvan is vir Jehovah wenslik, en so ’n weg vind sterk byval by liefhebbers van waarheid (Sef. 3:12, NAV). Maar dit word bespot deur diegene wat hulle beroem op geloofsbelydenisse wat, hoewel hulle deur onvolmaakte mense geformuleer is, baie eeue lank onveranderd gebly het.
Hoe die Here sou terugkeer
Broer Russell en diegene wat die Skrif ywerig saam met hom ondersoek het, het in die middel van die 1870’s ingesien dat wanneer die Here weer kom hy onsigbaar vir mense-oë sou wees.—Joh. 14:3, 19.
Broer Russell het later gesê: “Ons was diep bedroef oor die dwaalleer van die Second Adventists, wat Christus in die vlees verwag en leer dat die wêreld en almal daarin, behalwe die Second Adventists, in 1873 of 1874 sou verbrand, en wie se tydsbepalinge en teleurstellings en vae idees oor die algemeen met betrekking tot die doel en wyse van sy koms in mindere of meerdere mate oneer gebring het op ons en op almal wat na sy toekomstige Koninkryk uitsien en dit verkondig. Hierdie verkeerde beskouings wat so algemeen gehuldig word oor die doel en die wyse van die Here se wederkoms het daartoe gelei dat ek ’n pamflet geskryf het—‘The Object and Manner of Our Lord’s Return’.” Hierdie pamflet is in 1877 uitgegee. Broer Russell het sowat 50 000 eksemplare daarvan laat druk en versprei.
In daardie pamflet het hy geskryf: “Ons glo die Skrif leer dat Hy, wanneer Hy kom en ’n tyd lank nadat Hy gekom het, onsigbaar sal bly; en dat Hy hom daarna deur oordele en in verskeie vorme openbaar sal maak of sal vertoon, sodat ‘elke oog Hom sal sien’.” Hy het tekste soos Handelinge 1:11 (‘hy sal net so kom soos julle Hom sien wegvaar het’—dit wil sê sonder dat die wêreld hom sien) en Johannes 14:19 (“nog ’n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie”) ter ondersteuning hiervan bespreek. Broer Russell het ook die feit gemeld dat The Emphatic Diaglott, wat die eerste keer in 1864 volledig met ’n Engelse interlineêre woord-vir-woord-vertaling uitgegee is, bewys gelewer het dat die Griekse woord pa·rou·siʹa “teenwoordigheid” beteken. Waar broer Russell in hierdie pamflet die Bybel se gebruik van daardie woord ontleed het, het hy verduidelik: “Die Griekse woord wat gewoonlik gebruik word wanneer daar gepraat word van die tweede advent—Parousia, wat dikwels met koms vertaal word—beteken sonder uitsondering persoonlike teenwoordigheid, met ander woorde dat hy reeds gekom, aangekom het, en dit beteken nooit op pad wees, soos ons die woord koms gebruik nie.”
Toe broer Russell die doel van Christus se teenwoordigheid bespreek het, het hy dit duidelik gestel dat dit nie iets is wat in een wêreldskokkende oomblik sou plaasvind nie. “Die tweede advent strek, soos die eerste een”, het hy geskryf, “oor ’n tydperk en vind nie in ’n oogwink plaas nie.” Gedurende daardie tyd, het hy geskryf, sal die “klein kuddetjie” hulle beloning ontvang en saam met die Here as mede-erfgename in sy Koninkryk wees; ander, moontlik miljarde, sal die geleentheid gebied word om volmaakte lewe te geniet op ’n aarde wat tot Edeniese prag herstel is.—Luk. 12:32.
Broer Russell het op grond van verdere studie van die Skrif binne ’n kwessie van ’n paar jaar besef dat Christus nie net by sy wederkoms onsigbaar sou wees nie, maar dat hy onsigbaar sou bly, selfs wanneer hy sy teenwoordigheid deur sy oordeel oor die goddeloses openbaar.
In 1876, toe broer Russell die eerste keer ’n eksemplaar van die Herald of the Morning gelees het, het hy uitgevind dat daar nog ’n groep was wat destyds geglo het dat Christus se wederkoms onsigbaar sou wees en dat daardie wederkoms gepaard sou gaan met seëninge vir alle geslagte van die aarde. Mnr. Barbour, die redakteur van daardie publikasie, het broer Russell ook oortuig dat Christus se onsigbare teenwoordigheid in 1874 begin het.i Die aandag is later hierop gevestig deur die onderartikel “Kondig Christus se teenwoordigheid aan”, wat op die voorblad van Zion’s Watch Tower verskyn het.
Die besef dat Christus se teenwoordigheid onsigbaar sou wees, het ’n belangrike grondslag geword waarop die begrip van talle Bybelprofesieë gebou sou word. Daardie vroeë Bybelstudente het besef dat die teenwoordigheid van die Here vir alle ware Christene van primêre belang moet wees (Mark. 13:33-37). Hulle het baie belanggestel in die Heer se wederkoms en het geweet dat hulle die verantwoordelikheid het om dit bekend te maak, maar hulle het nog nie al die besonderhede duidelik verstaan nie. Tog is dit werklik merkwaardig wat Jehovah se gees hulle wel baie vroeg reeds in staat gestel het om te verstaan. Een van hierdie waarhede het ’n uiters belangrike jaartal behels waarop Bybelprofesieë gedui het.
Einde van die Heidense Tye
Bybelstudente stel al lank baie in Bybelchronologie belang. Kommentators het al verskeie verduidelikings gegee van Jesus se profesie oor “die tye van die Heidene” en die profeet Daniël se verslag oor Nebukadnesar se droom oor die boomstomp wat “sewe tydperke” lank gebind was.—Luk. 21:24, KJ; Dan. 4:10-17.
John A. Brown, wie se werk in Londen, Engeland, gepubliseer is, het reeds in 1823 uitgereken dat die “sewe tydperke” van Daniël hoofstuk vier 2 520 jaar lank is. Maar hy het nie duidelik verstaan wanneer die profetiese tydperk begin het of wanneer dit sou eindig nie. Maar hy het wel hierdie “sewe tydperke” met die Heidense Tye van Lukas 21:24 verbind. In 1844 het E. B. Elliott, ’n Britse predikant, die aandag gevestig op 1914 as ’n moontlike jaar vir die einde van die “sewe tydperke” van Daniël, maar hy het ook ’n alternatiewe beskouing uiteengesit wat na die Franse Revolusie heengewys het. Robert Seeley, van Londen, het dit in 1849 op soortgelyke wyse verduidelik. ’n Publikasie wat deur Joseph Seiss en sy metgeselle geredigeer en in Philadelphia, Pennsilvanië, gedruk is, het reeds in 1870 berekeninge uiteengesit wat op 1914 as ’n belangrike jaar gedui het, hoewel die redenasie waarop dit gegrond was later deur C. T. Russell verwerp is.
Toe het N. H. Barbour, in die Herald of the Morning se nommers vir Augustus, September en Oktober 1875, gehelp om die besonderhede waarop ander gewys het met mekaar in ooreenstemming te bring. Mnr. Barbour het die chronologie gebruik wat deur Christopher Bowen, ’n geestelike in Engeland, saamgestel en deur E. B. Elliott uitgegee is om die begin van die Heidense Tye te identifiseer met koning Sedekia se afsetting as koning, soos voorspel in Esegiël 21:25, 26, en hy het gesê dat die Heidense Tye in 1914 sou eindig.
C. T. Russell het vroeg in 1876 ’n eksemplaar van die Herald of the Morning ontvang. Hy het dadelik aan mnr. Barbour geskryf en toe gedurende die somer tyd saam met hom in Philadelphia deurgebring en onder andere profetiese tydperke bespreek. Broer Russell het kort daarna, in ’n artikel “Die Heidense Tye: Wanneer kom dit tot ’n einde?” ook uit die Skrif daaroor geredeneer en gesê die getuienis toon dat “die sewe tydperke in 1914 n.C. sal eindig”. Hierdie artikel het in die Bible Examiner se nommer vir Oktober 1876 verskyn.j Die boek Three Worlds, and the Harvest of This World, wat in 1877 deur N. H. Barbour in samewerking met C. T. Russell uitgegee is, het tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Daarna het vroeë nommers van Die Wagtoring (Engelse uitgawe), soos dié vir Desember 1879 en Julie 1880, die aandag op 1914 G.J. gevestig as ’n uiters belangrike jaar vanuit die standpunt van Bybelprofesieë. In 1889 is die hele vierde hoofstuk van Deel II van Millennial Dawn (wat later Studies in the Scriptures genoem is) aan ’n bespreking van “Die tye van die Heidene” gewy. Maar wat sou die einde van die Heidense Tye beteken?
Die Bybelstudente was nie heeltemal seker wat sou gebeur nie. Hulle was oortuig dat die aarde nie verbrand en menselewe nie uitgewis sou word nie. Hulle het geweet dat dit eerder ’n belangrike tyd met betrekking tot Goddelike heerskappy sou wees. Hulle het aanvanklik gedink dat die Koninkryk van God teen daardie tyd algehele, universele beheer sou verkry het. Toe dit nie gebeur nie, het hulle nie vertroue verloor in die Bybelprofesieë wat daardie jaar aangedui het nie. Hulle het eerder tot die slotsom gekom dat die jaar net ’n beginpunt met betrekking tot Koninkryksheerskappy aangedui het.
Hulle het aanvanklik ook gedink dat wêreldwye probleme wat op anargie sou uitloop (wat volgens hulle begrip gepaard sou gaan met die oorlog van “die groot dag van die almagtige God”) daardie jaar sou voorafgaan (Openb. 16:14). Maar toe het Die Wagtoring, tien jaar voor 1914, te kenne gegee dat die wêreldwye onrus wat tot die vernietiging van menslike instellings sou lei onmiddellik ná die einde van die Heidense Tye sou kom. Hulle het verwag dat die jaar 1914 ’n belangrike keerpunt vir Jerusalem sou wees, aangesien die profesie gesê het dat ‘Jerusalem vertrap sou word’ totdat die Heidense Tye vervul is. Toe hulle gesien het dat 1914 nader kom en dat hulle nog nie as mense gesterf het en nog nie “in wolke weggevoer” is om—ooreenkomstig hulle vroeëre verwagtinge—die Here tegemoet te gaan nie, het hulle werklik gehoop dat hulle verandering aan die einde van die Heidense Tye sou plaasvind.—1 Thess. 4:17.
Namate die jare verbygegaan en hulle die Skrif ondersoek en nogmaals ondersoek het, het hulle geloof in die profesieë sterk gebly, en hulle het nie stilgebly oor die dinge wat hulle verwag het sou gebeur nie. Hulle het dit in mindere of meerdere mate probeer vermy om dogmaties te wees oor besonderhede wat nie regstreeks in die Skrif gemeld word nie.
Het die “wekker” te vroeg gelui?
Die wêreld het met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914, wat baie jare lank bloot die Groot Oorlog genoem is, beslis ’n tydperk van groot onrus binnegegaan, maar dit het nie dadelik tot die omverwerping van alle bestaande menseheerskappye gelei nie. Namate gebeure met betrekking tot Palestina ná 1914 plaasgevind het, het die Bybelstudente gedink dat daar belangrike veranderinge ten opsigte van Israel gaan plaasvind. Maar die Bybelstudente het met verloop van maande en toe jare steeds nie hulle hemelse beloning ontvang soos hulle verwag het nie. Hoe het hulle daarop gereageer?
Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Februarie 1916 het die aandag spesifiek op 1 Oktober 1914 gevestig en toe gesê: “Dit was die laaste datum wat Bybelchronologie vir ons aangedui het met die Kerk se ondervindinge verband hou. Het die Here vir ons gesê dat ons dan [hemel toe] geneem sou word? Nee. Wat het Hy gesê? Sy Woord en die vervulling van profesieë het blykbaar onmiskenbaar getoon dat hierdie datum die einde van die Heidense Tye aangedui het. Ons het hieruit afgelei dat die Kerk se ‘verandering’ voor of op daardie datum sou plaasvind. Maar God het nie vir ons gesê dat dit so sou wees nie. Hy het toegelaat dat ons daardie afleiding maak; en ons glo dat dit nodig was dat die toets oor al God se geliefde heiliges moes kom.” Maar het hierdie gebeure bewys dat hulle wonderlike hoop vergeefs was? Nee. Dit het eenvoudig beteken dat alles nie so gou gebeur het as wat hulle verwag het nie.
Broer Russell het etlike jare voor 1914 geskryf: “Die doel van chronologie (tydprofesieë oor die algemeen) was blykbaar nie om God se volk juiste chronologiese inligting deur al die eeue heen te gee nie. Dit is blykbaar bedoel om eerder as ’n wekker te dien om die Here se volk op die regte tyd wakker en bedrywig te maak. . . . Maar kom ons veronderstel byvoorbeeld dat Oktober 1914 verbygaan en daar geen noemenswaardige val van Heidense mag plaasvind nie. Wat sal daardeur bewys of weerlê word? Dit sal geen aspek van die Goddelike Plan van die Eeue weerlê nie. Die losprys wat by Kalvarie betaal is, sal steeds ’n waarborg wees dat die groot Goddelike Program vir menslike herstel eindelik in vervulling sal gaan. Die ‘hoë roeping’ van die Kerk om saam met die Verlosser te ly en saam met hom verheerlik te word as lede van hom of as sy Bruid sal steeds dieselfde wees. . . . Al wat deur die chronologie beïnvloed sou word, is die tyd wanneer hierdie heerlike hoop vir die Kerk en vir die wêreld verwesenlik sal word. . . . En as daardie datum verbygaan, sal dit net bewys dat ons chronologie, ons ‘wekker’, ’n bietjie te vroeg gelui het. Sal ons dit as ’n groot ramp beskou as ons wekker ons die oggend van die een of ander groot dag vol vreugde en plesier ’n paar oomblikke te vroeg wakker lui? Beslis nie!”
Maar daardie “wekker” het nie te vroeg gelui nie. Dit was in werklikheid die ondervindinge waarvoor die ‘wekker’ hulle wakker gelui het wat nie presies was wat hulle verwag het nie.
’n Paar jaar later, toe die lig helderder geword het, het hulle erken: “Baie van die geliefde heiliges het gedink dat al die werk klaar is. . . . Hulle was verheug oor die duidelike bewys dat die wêreld geëindig het, dat die koninkryk van die hemel op hande was en dat die dag van hulle verlossing naby was. Maar hulle het iets anders wat gedoen moes word oor die hoof gesien. Die goeie nuus wat hulle ontvang het, moes aan ander verkondig word; want Jesus het beveel: ‘Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom’ (Mattheüs 24:14).”—Die Wagtoring (Engelse uitgawe), 1 Mei 1925.
Namate die gebeure ná 1914 ontplooi het en die Bybelstudente dit vergelyk het met wat die Heer voorspel het, het hulle geleidelik begin besef dat hulle in die laaste dae van die ou stelsel lewe en dat dit reeds sedert 1914 die geval was. Hulle het toe ook verstaan dat Christus se onsigbare teenwoordigheid in 1914 begin het en dat dit nie plaasgevind het deurdat hy persoonlik (selfs al was dit onsigbaar) na die omgewing van die aarde teruggekeer het nie, maar deurdat hy sy aandag as heersende Koning op die aarde gevestig het. Hulle het gesien dat hulle ’n lewensbelangrike verantwoordelikheid het om gedurende hierdie kritieke tyd van die mensegeskiedenis “hierdie evangelie van die koninkryk” tot ’n getuienis vir al die nasies te verkondig en hulle het hierdie verantwoordelikheid aanvaar.—Matt. 24:3-14.
Wat presies was die boodskap oor die Koninkryk wat hulle moes verkondig? Was dit enigsins anders as die boodskap van die eerste-eeuse Christene?
God se Koninkryk, die enigste hoop vir die mensdom
Die Bybelstudente wat met broer Russell geassosieer het, het uit ’n sorgvuldige studie van God se Woord verstaan dat God se Koninkryk die regering is wat Jehovah belowe het hy deur sy Seun tot seën van die mensdom sou oprig. Jesus Christus sou, in die hemel, ’n “klein kuddetjie” medeheersers hê wat deur God onder die mensdom uitgekies is. Hulle het verstaan dat hierdie regering verteenwoordig sou word deur getroue manne van die ou tyd wat dwarsoor die aarde as vorste sou dien. Daar is van hulle as “waardiges uit die ou tyd” gepraat.—Luk. 12:32; Dan. 7:27; Openb. 20:6; Ps. 45:17.
Die Christendom het lank die leerstelling oor ‘die Goddelike reg van konings’ geleer om die mense in onderworpenheid te hou. Maar hierdie Bybelstudente het uit die Skrif gesien dat die toekoms van menseregerings nie deur enige Goddelike waarborg verseker is nie. In ooreenstemming met wat hulle geleer het, het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) vir Desember 1881 gesê: “Die oprigting van hierdie koninkryk sal natuurlik die omverwerping van al die koninkryke van die aarde behels, aangesien hulle almal—selfs die bestes—gegrond is op ongeregtigheid en ongelyke regte en die verdrukking van baie en die begunstiging van ’n paar—soos ons lees: ‘Dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.’”—Dan. 2:44.
Die Bybelstudente het nog baie gehad om te leer oor die manier waarop hierdie tirannieke koninkryke verbrysel sou word. Hulle het tot op daardie stadium nog nie duidelik verstaan hoe die seëninge van God se Koninkryk na die hele mensdom sou versprei nie. Maar hulle het nie die Koninkryk van God verwar met ’n vae gevoel in ’n mens se hart of met heerskappy deur ’n godsdienshiërargie wat die Staat as sy werktuig gebruik nie.
Teen 1914 is die getroue voor-Christelike knegte van God nog nie op aarde opgewek as vorstelike verteenwoordigers van die Messiaanse Koning soos daar verwag is nie, en die oorblywende lede van die “klein kuddetjie” het ook nie daardie jaar al by Christus in die hemelse Koninkryk aangesluit nie. Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 Februarie 1915 het nietemin met oortuiging gesê dat 1914 die bestemde tyd was “vir ons Here om Sy groot mag aan te neem en te heers” en sodoende die millenniums van ononderbroke Heidense oorheersing te beëindig. Die Wagtoring (Engelse uitgawe) het daardie standpunt in sy nommer van 1 Julie 1920 herbevestig en dit met die goeie nuus in verband gebring wat Jesus voorspel het wêreldwyd voor die einde verkondig sou word (Matt. 24:14). Hierdie standpunt is in 1922 by die byeenkoms van die Bybelstudente in Cedar Point, Ohio, in ’n algemene resolusie herhaal, en broer Rutherford het die byeenkomsgangers aangespoor: “Adverteer, adverteer, adverteer die Koning en sy koninkryk.”
Maar die Bybelstudente het destyds gemeen dat die oprigting van die Koninkryk, sy volle totstandbrenging in die hemel, nie sal plaasvind voordat die laaste lede van Christus se bruid verheerlik is nie. ’n Ware mylpaal is dus in 1925 bereik toe die artikel “Geboorte van die nasie” in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Maart verskyn het. Dit het ’n insiggewende studie van Openbaring hoofstuk 12 bevat. Die artikel het bewyse verstrek dat die Messiaanse Koninkryk in 1914 gebore—opgerig—is, dat Christus toe op sy hemelse troon begin regeer het en dat Satan daarna uit die hemel na die omgewing van die aarde neergewerp is. Dit was die goeie nuus wat verkondig moes word, die nuus dat God se Koninkryk reeds aan die bewind was. Hoe het hierdie verligte begrip hierdie Koninkryksverkondigers tog aangespoor om tot aan die eindes van die aarde te preek!
Jehovah se volk het op alle gepaste maniere getuig dat net God se Koninkryk blywende verligting kan bring en die diepgewortelde probleme wat die mensdom teister, kan oplos. Hierdie boodskap is in 1931 oorgedra tydens ’n radio-uitsending deur J. F. Rutherford oor die grootste internasionale radiokoppeling tot op daardie tydstip. Die teks van daardie uitsending is ook in baie tale gepubliseer in die boekie Die Koninkryk, die hoop van die wêreld—waarvan daar miljoene eksemplare binne ’n paar maande versprei is. Benewens die baie eksemplare wat onder die publiek versprei is, is ’n spesiale poging aangewend om eksemplare in die hande van politici, belangrike sakemanne en die geestelikes te kry.
Daardie boekie het onder andere gesê: “Die teenwoordige onregverdige regerings van die wêreld kan geen hoop hoegenaamd vir die mense voorhou nie. Gods oordele teen hulle verklaar dat hulle moet val. Die hoop van die wêreld, ja, die enigste hoop, is dus die regverdige koninkryk of regering van God met Christus Jesus as die onsigbare Regeerder daarvan.” Hulle het besef dat daardie Koninkryk ware vrede en veiligheid vir die mensdom gaan bring. Die aarde sal ’n ware paradys onder die heerskappy daarvan word, en daar sal nie meer siekte en dood wees nie.—Openb. 21:4, 5.
Die goeie nuus van God se Koninkryk is steeds een van die hoofleringe van Jehovah se Getuies. Hulle vernaamste tydskrif, wat nou in meer as 110 tale verskyn, dra al sedert 1 Maart 1939 die opskrif Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan.
Maar die huidige goddelose stelsel sal vernietig moet word voor die Koninkryksheerskappy die aarde in ’n paradys kan verander. Hoe sal dit tot stand gebring word?
Die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God
Die wêreldoorlog wat in 1914 begin het, het die bestaande stelsel van dinge tot in sy fondamente geskud. Dit het ’n tyd lank gelyk of dinge volgens die Bybelstudente se verwagtinge sou gebeur.
Broer Russell het in Augustus 1880 geskryf: “Ons verstaan dat alvorens die mensegesin herstel of enigsins geseën sal word die huidige koninkryke van die aarde wat die mensdom nou knel en onderdruk, omvergewerp sal word en dat God se koninkryk die bewind sal oorneem en dat die seëninge en die wederoprigting deur die nuwe koninkryk sal kom.” Hoe sal hierdie ‘omverwerping van koninkryke’ plaasvind? Broer Russell het, op grond van die toestande wat hy toe in die wêreld sien ontwikkel het, geglo dat God gedurende die oorlog van Armageddon strydende faksies van die mensdom sou gebruik om die bestaande instellings omver te werp. Hy het gesê: “Die werk om menseheerskappy te vernietig, begin. Die mag wat dit sal omverwerp, is nou aan die werk. Die mense organiseer reeds hulle magte onder die naam Kommuniste, Sosialiste, Nihiliste, ens.”
Die boek The Day of Vengeance (wat later The Battle of Armageddon genoem is), wat in 1897 uitgegee is, het verder uitgewei oor hoe die Bybelstudente die saak destyds verstaan het en gesê: “Die Here sal, deur sy oorheersende voorsienigheid, beheer neem oor hierdie groot leër ontevrede mense—patriotte, hervormers, sosialiste, moraliste, anargiste, oningeligtes en wanhopiges—en hulle hoop, vrese, dwaashede en selfsug volgens sy Goddelike wysheid gebruik om sy eie grootse voornemens te bewerkstellig deur die omverwerping van huidige instellings, en om die mensdom op die Koninkryk van Geregtigheid voor te berei.” Hulle het dus verstaan dat die oorlog van Armageddon met gewelddadige sosiale revolusie gepaard sou gaan.
Maar sou Armageddon net ’n geveg tussen strydende faksies van die mensdom wees, ’n sosiale revolusie wat deur God gebruik gaan word om bestaande instellings omver te werp? Namate daar verdere aandag geskenk is aan die tekste wat met hierdie saak verband hou, het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 Julie 1925 die aandag op Sagaria 14:1-3 gevestig en gesê: “Hiermee verstaan ons dat al die nasies van die aarde onder die aanvoering van Satan versamel sal word om teen die Jerusalem-klas oorlog te voer, met ander woorde diegene wat hulle aan die Here se kant skaar . . . Openbaring 16:14, 16.”
Die aandag is die volgende jaar in die boek Verlossing op die eintlike doel van hierdie oorlog gevestig waar dit sê: “Nou sal Jehowa, volgens sy Woord, sy mag so duidelik en onmiskenbaar vertoon dat die mense van hulle goddelose gedragslyn mag oortuig word en kan verstaan dat Jehowa God is. Dit is die rede waarom God die groot vloed teweeggebring het, die Toring van Babel neergegooi het, die krygsmag van Sanherib die Assiriese koning verdelg het en die Egiptenare verswelg het en dit is ook die rede waarom hy nou ’n ander groot verdrukking oor die wêreld gaan bring. Die vorige rampe was maar skaduwees van die een wat nou dreig. Die byeenvergadering is tot die groot dag van God Almagtig. Dit is ‘die groot en vreeslike dag van die Here’ (Joël 2:31), wanneer God vir homself ’n naam sal maak. In hierdie groot en laaste stryd sal die volke van iedere nasie, geslag en taal die les leer dat Jehowa die almagtige, alwyse en regverdige God is.” Maar Jehovah se knegte op aarde is gemaan: “In hierdie groot stryd sal geen Christen ’n slag slaan nie. Die rede waarom hulle dit nie doen nie, is omdat Jehowa gesê het: ‘Want dit is nie u stryd nie, maar Gods.’” Die oorlog wat hier bespreek word, is beslis nie die een wat onder die nasies gevoer is en wat in 1914 begin het nie. Dit moes nog kom.
Daar was nog ander vrae wat op grond van die Skrif beantwoord moes word. Een hiervan het gegaan oor die identiteit van die Jerusalem wat vertrap moes word totdat die Heidense Tye vervul is, soos Lukas 21:24 sê; en wat hiermee verband gehou het, was die identifikasie van die Israel waarvan daar in so baie herstellingsprofesieë gepraat word.
Sou God die Jode in Palestina herstel?
Die Bybelstudente was goed bewus van die talle herstellingsprofesieë wat deur God se profete aan eertydse Israel oorgedra is (Jer. 30:18; 31:8-10; Amos 9:14, 15; Rom. 11:25, 26). Hulle het tot 1932 gedink dat hierdie profesieë spesifiek op die natuurlike Jode van toepassing is. Hulle het dus gedink dat God Israel weer sou begunstig deur die Jode geleidelik in Palestina te herstel en hulle oë te open vir die waarheid aangaande Jesus as die Verlosser en Messiaanse Koning en hulle te gebruik as ’n werktuig om seëninge aan alle nasies te bring. Omdat hulle daardie mening gehuldig het, het broer Russell groot Joodse gehore in New York sowel as in Europa toegespreek oor die onderwerp “Sionisme in die profesieë”, en in 1925 het broer Rutherford die boek Comfort for the Jews geskryf.
Maar dit het mettertyd begin duidelik word dat dít wat met betrekking tot die Jode in Palestina plaasgevind het nie die vervulling van Jehovah se grootse herstellingsprofesieë is nie. Die eerste-eeuse Jerusalem is verwoes omdat die Jode God se Seun, die Messias, die een wat in Jehovah se naam gestuur is, verwerp het (Dan. 9:25-27; Matt. 23:38, 39). Dit het al hoe duideliker geblyk dat hulle as ’n volk nie hulle gesindheid verander het nie. Hulle het nie berou gehad oor die verkeerde daad wat deur hulle voorvaders gepleeg is nie. Die feit dat sommige na Palestina teruggekeer het, was nie omdat hulle God liefgehad het of ’n begeerte gehad het dat sy naam deur die vervulling van sy Woord verheerlik moes word nie. Dit is goed verduidelik in die tweede deel van Regverdiging wat in 1932 deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee is.k Dat hierdie standpunt reg was, is in 1949 bevestig toe die staat Israel, wat toe kort tevore as ’n nasie en as ’n tuisland vir die Jode gevorm is, ’n lid van die Verenigde Nasies geword het en so getoon het dat hulle nie hulle vertroue in Jehovah nie, maar op die politieke nasies van die wêreld stel.
Die dinge wat ter vervulling van daardie herstellingsprofesieë plaasgevind het, het op iets anders gedui. Jehovah se knegte het begin besef dat dit geestelike Israel is, “die Israel van God”, wat uit geesgesalfde Christene bestaan, wat ter vervulling van God se voorneme deur Jesus Christus vrede met God geniet (Gal. 6:16). Hulle oë is nou geopen sodat hulle in God se handelinge met sulke ware Christene ’n wonderlike geestelike vervulling van daardie herstellingsprofesieë kon sien. Hulle het mettertyd ook besef dat die Jerusalem wat aan die einde van die Heidense Tye verhef is nie bloot ’n aardse stad of selfs ’n volk op aarde was wat deur daardie stad voorgestel is nie, maar eerder die “hemelse Jerusalem” waar Jehovah sy Seun, Jesus Christus, in 1914 met regeringsmag aan bewind gestel het.—Hebr. 12:22.
Toe Jehovah se Getuies duidelikheid oor hierdie sake gekry het, was hulle in ’n beter posisie om die toewysing te vervul om die goeie nuus van die Koninkryk sonder begunstiging van enige groep “in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” te verkondig.—Matt. 24:14.
Wie moet die eer kry vir al hierdie verduidelikings van die Bybel wat in die Wagtoringpublikasies verskyn?
Die manier waarop Jehovah se knegte geleer word
Jesus Christus het voorspel dat hy ná sy terugkeer na die hemel die heilige gees vir sy dissipels sou stuur. Dit sou as ’n helper dien en hulle “in die hele waarheid lei” (Joh. 14:26; 16:7, 13). Jesus het ook gesê dat hy as die Heer van ware Christene ’n “getroue en verstandige dienskneg”, ’n ‘getroue bestuurder’, sou hê wat geestelike “voedsel op tyd” aan die diensvolk, die huisgenote van die geloof, sou gee (Matt. 24:45-47; Luk. 12:42). Wie is die getroue en verstandige dienskneg?
Die heel eerste nommer van Die Wagtoring (Engelse uitgawe) het op Mattheüs 24:45-47 gesinspeel toe dit gesê het dat dit die oogmerk van die uitgewers van daardie tydskrif is om wakker te wees vir gebeure in verband met Christus se teenwoordigheid en om geestelike “voedsel op tyd” aan die huisgenote van die geloof te gee. Maar die redakteur van die tydskrif het nie beweer dat hyself die getroue en verstandige dienskneg is nie.
C. T. Russell het dus in die tydskrif se nommer vir Oktober-November 1881 (Engelse uitgawe) gesê: “Ons glo dat elke lid van hierdie liggaam van Christus, of dit nou direk of indirek is, besig is met hierdie geseënde werk om die voedsel op tyd te gee. ‘Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het’ om hulle hulle voedsel op tyd te gee? Is dit nie daardie ‘klein kuddetjie’ toegewyde knegte—die liggaam van Christus—wat hulle toewydingsgeloftes getrou nakom nie, en is dit nie die hele liggaam wat individueel en as ’n groep die voedsel op tyd aan die huisgenote van die geloof—die groot groep gelowiges—gee nie? Geseënd is daardie dienskneg (die hele liggaam van Christus) wie se Heer hom, wanneer hy kom (Gr. elthon), daarmee besig sal vind. ‘Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.’”
Maar broer Russell se vrou het meer as ’n dekade later openlik gesê dat broer Russell self die getroue en verstandige dienskneg is.l Die mening wat sy oor die identiteit van die getroue dienskneg uitgespreek het, is sowat 30 jaar deur die Bybelstudente in die algemeen gehuldig. Broer Russell het nie hulle beskouing verwerp nie, maar hyself het dit vermy om die teks so toe te pas, wat beklemtoon het dat hy gekant was teen die idee van ’n geestelikeklas wat die opdrag het om God se Woord te leer in teenstelling met ’n lekeklas wat nie hierdie opdrag het nie. Die gedagte wat in 1881 deur broer Russell uitgespreek is dat die getroue en verstandige dienskneg in werklikheid ’n kollektiewe dienskneg is, wat bestaan uit al die lede van die geesgesalfde liggaam van Christus op aarde, is in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 Februarie 1927 herbevestig.—Vergelyk Jesaja 43:10.
Hoe het broer Russell sy eie rol beskou? Het hy beweer dat hy die een of ander spesiale openbaring van God af gehad het? Broer Russell het nederig in Die Wagtoring van 15 Julie 1906 (bladsy 229 [Engelse uitgawe]) geantwoord: “Nee, liewe vriende, ek beweer nie dat ek voorrang geniet nie en ook nie dat ek bonatuurlike krag, waardigheid of gesag het nie; ek wil my ook nie verhoog in die aansien van my broeders van die huisgenote van die geloof nie, behalwe in die sin wat die Heer dit aangemoedig het toe hy gesê het: ‘Elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees’ (Matt. 20:27). . . . Die waarhede wat ek as God se spreekbuis voorlê, is nie in gesigte of drome of deur God se hoorbare stem geopenbaar nie, en ook nie alles op een slag nie, maar geleidelik . . . Die feit dat hierdie waarheid so duidelik geopenbaar word, is ook nie te danke aan enige menslike vernuf of skerpsinnigheid nie, maar aan die blote feit dat God se bestemde tyd aangebreek het; en as ek nie gespreek het nie, en as geen ander werktuig gevind kon word nie, sou die klippe dit uitgeroep het.”
Lesers van Die Wagtoring is aangespoor om hulle oë op Jehovah as hulle Groot Onderrigter gevestig te hou, net soos al Jehovah se Getuies vandag ook daartoe aangespoor word (Jes. 30:20). Dit is sterk beklemtoon in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 November 1931 in die artikel “Deur God geleer”, wat gesê het: “Die Wagtoring erken dat die waarheid aan Jehovah behoort en nie aan enige van sy skepsele nie. Die Wagtoring is nie die instrument van enige mens of groep mense nie, en dit word ook nie volgens die giere van mense uitgegee nie. . . . Jehovah God is die groot Onderwyser van sy kinders. Hierdie waarhede word weliswaar deur onvolmaakte mense gepubliseer, en daarom is hierdie waarhede nie absoluut volmaak nie; maar hulle word só uiteengesit dat hulle God se waarheid weergee wat hy aan sy kinders leer.”
Wanneer daar in die eerste eeu vrae oor leerstellings of prosedure ont-staan het, is dit na ’n sentrale bestuursliggaam verwys wat uit geestelike ouere manne bestaan het. Besluite is geneem nadat daar gekyk is na wat die geïnspireerde Skrif gesê het, asook na bewyse van bedrywighede wat in ooreenstemming met daardie tekste was en wat vanweë die werking van die heilige gees voorspoedig was. Die besluite is dan skriftelik aan die gemeentes bekend gemaak (Hand. 15:1–16:5). Dieselfde metode word vandag onder Jehovah se Getuies gevolg.
Geestelike onderrig word voorsien deur middel van tydskrifartikels, boeke, byeenkomsprogramme en sketse vir gemeentelike toesprake—wat alles onder toesig van die Bestuursliggaam van die getroue en verstandige dienskneg gedoen word. Die inhoud daarvan toon duidelik dat wat Jesus voorspel het vandag waar is—dat hy inderdaad ’n “getroue en verstandige dienskneg”-klas het wat ‘alles wat hy beveel het’ lojaal aan ander leer; dat hierdie werktuig “waak” en wakker is vir alle gebeure wat ter vervulling van Bybelprofesieë en veral met betrekking tot Christus se teenwoordigheid plaasvind; dat dit godvresende mense help om te verstaan wat dit behels om die dinge te “onderhou” wat Jesus beveel het en sodoende te bewys dat hulle waarlik sy dissipels is.—Matt. 24:42; 28:19; Joh. 8:31, 32.
Gebruike in verband met die voorbereiding van geestelike voedsel wat te veel aandag op sekere mense kon vestig, is progressief oor die jare uitgeskakel. Tot sy dood het C. T. Russell se naam as redakteur in byna elke nommer van Die Wagtoring verskyn. Die name of voorletters van ander wat materiaal bygedra het, het dikwels aan die einde van die artikels wat hulle voorberei het, verskyn. Toe het Die Wagtoring (Engelse uitgawe), van die nommer van 1 Desember 1916 af, die name van ’n redaksiekommissie pleks van die naam van die redakteur aangegee. In die nommer van 15 Oktober 1931 (Engelse uitgawe) is selfs hierdie lys verwyder, en Jesaja 54:13 het die plek daarvan ingeneem. Dit lui soos volg in die American Standard Version: “En al jou kinders sal deur Jehovah geleer word, en die vrede van jou kinders sal groot wees.” Dit is sedert 1942 die algemene reël dat lektuur wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word nie die aandag op enigiemand as die skrywer vestig nie.a Onder toesig van die Bestuursliggaam het toegewyde Christene in Noord- en Suid-Amerika, Europa, Afrika, Asië en die eilande van die see ’n aandeel aan die voorbereiding van sulke materiaal wat deur gemeentes van Jehovah se Getuies wêreldwyd gebruik word. Maar Jehovah God kry al die eer.
Die lig skyn al hoe helderder
Soos ons in die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies kan sien, het hulle ondervind wat in Spreuke 4:18 beskryf word: “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.” Die lig skyn progressief, net soos die lig van die vroeë dagbreek gevolg word deur die sonsopkoms en die volle lig van ’n nuwe dag. Aangesien hulle sake beskou het in die lig wat beskikbaar was, het hulle by tye ’n onvolledige, selfs onjuiste, begrip van dinge gehad. Hoe hard hulle ook al probeer het, daar was sekere profesieë wat hulle eenvoudig nie kon verstaan totdat dit in vervulling begin gaan het nie. Namate Jehovah deur middel van sy heilige gees meer lig op sy Woord gewerp het, was sy knegte nederig bereid om die nodige veranderinge aan te bring.
Sulke progressiewe begrip was nie beperk tot die vroeë tydperk van hulle hedendaagse geskiedenis nie. Dit is vandag nog die geval. In 1962 was daar byvoorbeeld ’n verandering wat hulle begrip van “die hoër owerhede” van Romeine 13:1-7 (NW) betref.
Die Bybelstudente het baie jare lank geleer dat “die hoër magte” (KJ) Jehovah God en Jesus Christus is. Waarom? In Die Wagtorings (Engelse uitgawes) van 1 Junie en 15 Junie 1929 is verskeie sekulêre wette aangehaal, en daar is getoon dat wat in een land toegelaat word in ’n ander verbied word. Die aandag is ook gevestig op sekulêre wette wat van mense vereis om te doen wat deur God verbied word of wat verbied wat God sy knegte beveel het om te doen. Vanweë hulle sterk begeerte om die oppergesag van God te respekteer, het dit vir die Bybelstudente gelyk of “die hoër owerhede” Jehovah God en Jesus Christus moet wees. Hulle het steeds sekulêre wette gehoorsaam, maar hulle het beklemtoon dat gehoorsaamheid aan God eerste is. Dit was ’n belangrike les, ’n les wat hulle versterk het gedurende die daaropvolgende jare van wêreldonrus. Maar hulle het nie duidelik verstaan wat Romeine 13:1-7 sê nie.
Die teks is jare later weer deeglik ontleed, asook die konteks en die betekenis daarvan in die lig van die res van die Bybel. Gevolglik is daar in 1962 erken dat “die hoër owerhede” die sekulêre regeerders is, maar die beginsel van relatiewe onderdanigheid is met behulp van die New World Translation duidelik verstaan.b Dit het nie ’n groot verandering in Jehovah se Getuies se gesindheid ten opsigte van regerings van die wêreld vereis nie, maar dit het hulle gehelp om ’n belangrike deel van die Skrif reg te verstaan. Die Getuies het elkeen sodoende die geleentheid gehad om sorgvuldig na te dink of hulle werklik hulle verantwoordelikhede teenoor God sowel as die sekulêre owerhede nakom. Hierdie duidelike begrip van “die hoër owerhede” het as ’n beskerming vir Jehovah se Getuies gedien, veral in daardie lande waar golwe van nasionalisme en die aandrang op groter vryheid tot geweld en die vorming van nuwe regerings gelei het.
Die volgende jaar, 1963, is daar ’n wyer toepassing van “Babilon die Grote” gegeec (Openb. 17:5, NW). ’n Hersiening van sekulêre en godsdiensgeskiedenis het getoon dat nie net die Christendom nie, maar elke deel van die aarde deurtrek is van die invloed van eertydse Babilon. Daar is dus gesien dat Babilon die Grote die hele wêreldryk van valse godsdiens is. Die feit dat Jehovah se Getuies hiervan bewus geraak het, het hulle in staat gestel om nog baie mense van uiteenlopende agtergronde te help om gehoor te gee aan die Bybelse bevel: “Gaan uit haar uit, my volk.”—Openb. 18:4.
Namate gebeure wat in die hele boek Openbaring voorspel is, plaasgevind het, was daar inderdaad ’n oorvloed geestelike lig. In 1917 is ’n studie van Openbaring in die boek The Finished Mystery gepubliseer. Maar “die dag van die Here”, waarvan daar in Openbaring 1:10 gepraat word, het destyds net begin; baie van wat voorspel is, het toe nog nie gebeur nie en is destyds nie duidelik verstaan nie. Maar gebeure gedurende die daaropvolgende jare het groter lig gewerp op die betekenis van daardie deel van die Bybel, en hierdie gebeure het ’n belangrike uitwerking op die baie insiggewende studie van Openbaring gehad wat in 1930 in die twee boeke getiteld Lig verskyn het. Die inligting is gedurende die sestigerjare verder bygewerk en het in die boeke “Babylon the Great Has Fallen!” God’s Kingdom Rules! en “Then Is Finished the Mystery of God” verskyn. Daar is twee dekades later nog ’n grondiger studie oor daardie deel van die Bybel gedoen. Die figuurlike taal van Openbaring is sorgvuldig in die lig van soortgelyke uitdrukkings in ander dele van die Bybel ontleed (1 Kor. 2:10-13). Gebeure in die twintigste eeu wat daardie profesieë vervul, is hersien. Die resultate het in 1988 in die opwindende boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande! verskyn.
Die grondslag is gedurende die vroeë jare van hulle hedendaagse geskiedenis gelê. Baie waardevolle geestelike voedsel is voorsien. In onlangser jare is daar ’n groter verskeidenheid Bybelstudiemateriaal voorsien om in die behoeftes van ryp Christene en nuwe studente van baie uiteenlopende agtergronde te voorsien. Volgehoue studie van die Skrif sowel as die vervulling van Goddelike profesieë het dit in baie gevalle moontlik gemaak om Bybelleringe duideliker te stel. Omdat hulle studie van God se Woord progressief is, het Jehovah se Getuies ’n oorvloed geestelike voedsel, soos die Skrif voorspel het die geval met God se knegte sou wees (Jes. 65:13, 14). Veranderinge ten opsigte van hulle standpunt word nooit aangebring met die doel om hulle aanvaarbaarder te maak vir die wêreld deur die wêreld se verslegtende sedelike waardes aan te neem nie. Inteendeel, die geskiedenis van Jehovah se Getuies toon dat veranderinge aangebring word met die oog daarop om selfs nougesetter by die Bybel te bly en meer soos die getroue eerste-eeuse Christene te wees en sodoende aanneemliker vir God te wees.
Wat hulle ondervind, stem dus ooreen met die gebed van die apostel Paulus, wat aan mede-Christene geskryf het: “Ons [hou] ook nie op . . . om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die [juiste] kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig nie, sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die [juiste] kennis van God mag groei.”—Kol. 1:9, 10, vgl. NW.
Daardie groei in juiste kennis van God het ook betrekking op hulle naam—Jehovah se Getuies.
[Voetnote]
a Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence, 15 Julie 1906, bl. 229-31.
b Sien Insight on the Scriptures, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee is, Deel 2, bladsy 1176.
c Byvoorbeeld: (1) Antitrinitariese bewegings was teen die 16de eeu sterk in Europa. Ferenc Dávid (1510-79), ’n Hongaar, het byvoorbeeld geweet en geleer dat die Drie-eenheidsleerstelling onskriftuurlik is. Vanweë sy oortuiging het hy in die gevangenis gesterf. (2) Die Kleinere Gereformeerde Kerk, wat gedurende die 16de en 17de eeu ongeveer honderd jaar lank in Pole gefloreer het, het ook die Drie-eenheid verwerp, en aanhangers daarvan het lektuur oral oor Europa versprei totdat die Jesuïte daarin geslaag het om hulle uit Pole te laat verban. (3) Sir Isaac Newton (1642-1727) het die Drie-eenheidsleerstelling in Engeland verwerp en breedvoerige geskiedkundige en skriftuurlike redes daarvoor opgeteken, maar hy het dit blykbaar uit vrees vir die gevolge nie gedurende sy lewe laat publiseer nie. (4) Henry Grew was een van dié in Amerika wat die Drie-eenheid as onskriftuurlik blootgelê het. Hy het hierdie saak in 1824 breedvoerig bespreek in An Examination of the Divine Testimony Concerning the Character of the Son of God.
d Sien ook Studies in the Scriptures, Deel V, bladsye 41-82.
e Deeglike besprekings van die geskiedkundige en skriftuurlike bewyse wat met hierdie onderwerp verband hou, is al verskeie kere deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap gepubliseer. Sien “The Word”—Who Is He? According to John (1962), “Dinge waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg” (1965, in Engels), Redenering uit die Skrif (1985) en Moet jy aan die Drie-eenheid glo? (1989).
f Joodse geleerdes sowel as geleerdes van die Christendom weet wat die Skrif oor die siel sê, maar dit word selde in hulle plekke van aanbidding geleer. Sien die New Catholic Encyclopedia (1967), Deel XIII, bladsye 449-50; The Eerdmans Bible Dictionary (1987), bladsye 964-5; The Interpreter’s Dictionary of the Bible, onder redaksie van G. Buttrick (1962), Deel 1, bladsy 802; The Jewish Encyclopedia (1910), Deel VI, bladsy 564.
g In ’n breedvoeriger bespreking van die onderwerp het die boekie What Do the Scriptures Say About “Survival After Death”? in 1955 daarop gewys dat die Bybelverslag toon dat Satan Eva in werklikheid aangemoedig het om te glo dat sy nie in die vlees sou sterf as sy God se verbod op die eet van die vrugte van “die boom van die kennis van goed en kwaad” sou ignoreer nie (Gen. 2:16, 17; 3:4). Daar is mettertyd natuurlik gesien dat dit ’n leuen was, maar daar het nog dinge ontwikkel wat hulle oorsprong in daardie eerste leuen gehad het. Mense het die beskouing begin huldig dat ’n onsigbare deel van die mens voortlewe. Ná die Vloed van Noag se dag is hierdie beskouing versterk deur demoniese, spiritistiese gebruike wat van Babilon afkomstig was.—Jes. 47:1, 12; Deut. 18:10, 11.
h Mnr. Barbour het beweer dat hy aan die losprys glo, dat Christus vir ons gesterf het. Wat hy verwerp het, was die gedagte van “plaasvervanging”—dat Christus in ons plek gesterf het, dat Christus deur sy dood vir Adam se nakomelinge die prys vir die sonde betaal het.
i Dit is beïnvloed deur die opvatting dat die sewende millennium van mensegeskiedenis in 1873 begin het en dat ’n tydperk van Goddelike onguns (wat net so lank sou duur as ’n vorige tydperk wat as ’n tydperk van guns beskou is) oor natuurlike Israel in 1878 ten einde sou loop. Die chronologie was gebrekkig omdat dit gebaseer was op ’n onjuiste vertaling van Handelinge 13:20 in die King James Version, omdat daar geglo is dat ’n oorskrywingsfout in 1 Konings 6:1 begaan is en omdat Bybelse sinchronismes nie in aanmerking geneem is met die datering van die heerskappye van die konings van Juda en van Israel nie. ’n Duideliker begrip van Bybelchronologie is gepubliseer in die boek “Die waarheid sal julle vrymaak”, wat in 1943 (in Engels) uitgegee is, en dit is toe die volgende jaar in die boek “The Kingdom Is at Hand” sowel as in ander publikasies bygewerk.
j ’n Tydskrif wat deur George Storrs, Brooklyn, New York, uitgegee is.
k In 1978, toe die Bestuursliggaam om ’n persverklaring gevra is wat die standpunt van Jehovah se Getuies ten opsigte van Sionisme is, het hulle gesê: “Jehovah se Getuies neem steeds die Bybelse standpunt in van neutraliteit met betrekking tot alle politieke bewegings en regerings. Hulle is oortuig dat geen mensebeweging sal regkry wat net God se hemelse koninkryk kan doen nie.”
l Ongelukkig het sy hom net ’n kort rukkie hierna verlaat weens haar eie begeerte na vernaamheid.
a Maar in lande waar die wet dit vereis, word ’n plaaslike verteenwoordiger moontlik genoem as die een wat verantwoordelik is vir wat gepubliseer word.
b Die Wagtoring, 15 Januarie, 1 Februarie en 15 Februarie 1963 (Engelse uitgawes, 1 November, 15 November en 1 Desember 1962).
c Die Wagtoring, 1 Februarie en 15 Februarie 1963 (Engelse uitgawes, 15 November en 1 Desember 1963).
[Lokteks op bladsy 120]
C. T. Russell het openlik erken dat ander hom gedurende sy vroeë jare van Bybelstudie gehelp het
[Lokteks op bladsy 122]
Hulle het die bewyse dat die Bybel waarlik die Woord van God is persoonlik ondersoek
[Lokteks op bladsy 123]
Die Bybelstudente het gesien dat God se geregtigheid in volmaakte balans is met sy wysheid, liefde en krag
[Lokteks op bladsy 127]
C. T. Russell het duidelik gesien dat die hel nie ’n plek van pyniging ná die dood is nie
[Lokteks op bladsy 129]
Die meeste verstandige mense het nie aan die helvuurleerstelling geglo nie
[Lokteks op bladsy 132]
Broer Russell se onwrikbare standpunt ten opsigte van die losprys het verreikende gevolge gehad
[Lokteks op bladsy 134]
Hulle kon duidelik sien dat Bybelprofesieë op 1914 gedui het
[Lokteks op bladsy 136]
Nie alles het so gou gebeur as wat hulle verwag het nie
[Lokteks op bladsy 139]
Die goeie nuus wat verkondig moet word: God se Koninkryk is reeds aan die bewind!
[Lokteks op bladsy 140]
Sou Armageddon net ’n sosiale revolusie wees?
[Lokteks op bladsy 141]
In 1932 is die ware “Israel van God” eindelik geïdentifiseer
[Lokteks op bladsy 143]
“Die getroue en verstandige dienskneg”—’n persoon of ’n klas?
[Lokteks op bladsy 146]
Gebruike wat te veel aandag op sekere mense kon vestig, is progressief uitgeskakel
[Lokteks op bladsy 148]
Veranderinge is aangebring met die oog daarop om selfs nougesetter by God se Woord te bly
[Venster op bladsy 124]
Hulle maak God se naam bekend
◆ Die naam Jehovah se Getuies word sedert 1931 gebruik om diegene te onderskei wat Jehovah as die enigste ware God aanbid en dien.
◆ God se persoonlike naam, Jehovah, verskyn sedert 15 Oktober 1931 op die voorblad van elke nommer van “Die Wagtoring”.
◆ Gedurende ’n tydperk dat God se persoonlike naam uit die meeste moderne vertalings van die Bybel weggelaat is, het Jehovah se Getuies in 1950 begin om die “New World Translation” uit te gee, wat die Goddelike naam in sy regmatige plek herstel het.
◆ Benewens die Bybel self is daar baie ander lektuur deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee wat die aandag veral op die Goddelike naam gevestig het—byvoorbeeld, die boeke “Jehova” (1934), “‘Laat u Naam geheilig word’” (1961, in Engels) en “‘Die nasies sal weet dat ek Jehovah is’”—Hoe? (1971) sowel as die brosjure “Die goddelike naam wat vir ewig sal bestaan” (1984)
[Venster op bladsy 126]
‘Moet ons Christus self weerspreek’?
Nadat C. T. Russell die onskriftuurlikheid en onredelikheid van die Drie-eenheidsleerstelling blootgelê het, het hy regverdige verontwaardiging uitgespreek toe hy gevra het: “Moet ons dan die Apostels en Profete en Jesus self weerspreek, en die rede en gesonde verstand ignoreer om aan ’n leerstelling vas te hou wat uit die duistere, bygelowige verlede deur ’n verdorwe, afvallige Kerk aan ons oorgedra is? Nee! ‘Tot die Wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie Woord nie, is dit omdat daar geen lig in hulle is nie.’”—“Die Wagtoring” (Engelse uitgawe), 15 Augustus 1915.
[Venster op bladsy 133]
Progressiewe waarheid
C. T. Russell het in 1882 geskryf: “Die Bybel is ons enigste standaard, en die leringe daarvan is ons enigste geloofsbelydenis, en omdat ons die progressiewe aard van die ontvouing van skriftuurlike waarhede besef, is ons gereed en bereid om tot ons geloofsbelydenis (geloof—oortuiging) by te voeg of daaraan te verander namate ons meer lig van ons Standaard ontvang.”—“Die Wagtoring” (Engelse uitgawe), April 1882, bl. 7.
[Venster op bladsy 144, 145]
Wat Jehovah se Getuies glo
◆ Die Bybel is God se geïnspireerde Woord (2 Tim. 3:16, 17).
Die Bybel bevat nie blote geskiedenis of menslike idees nie, maar is die woord van God wat tot ons nut opgeteken is (2 Pet. 1:21; Rom. 15:4; 1 Kor. 10:11).
◆ Jehovah is die enigste ware God (Ps. 83:18, “NW”; Deut. 4:39, “NW”).
Jehovah is die Skepper van alles, en as sodanig verdien hy alleen om aanbid te word (Openb. 4:11; Luk. 4:8).
Jehovah is die Universele Soewerein, die een aan wie ons ten volle gehoorsaam moet wees (Hand. 4:24; Dan. 4:17; Hand. 5:29).
◆ Jesus Christus is die eniggebore Seun van God, die enigste een wat regstreeks deur God geskep is (1 Joh. 4:9; Kol. 1:13-16).
God het Jesus eerste geskep; Jesus het dus in die hemel gewoon voordat hy as ’n mens in die baarmoeder ontvang en gebore is (Openb. 3:14; Joh. 8:23, 58).
Jesus aanbid sy Vader as die enigste ware God; Jesus het nooit beweer dat hy aan God gelyk is nie (Joh. 17:3; 20:17; 14:28).
Jesus het sy volmaakte menselewe as ’n losprys vir die mensdom afgelê. Sy offerande maak dit moontlik vir almal wat werklik geloof daarin beoefen om vir ewig te lewe (Mark. 10:45; Joh. 3:16, 36).
Jesus is as ’n onsterflike geespersoon uit die dood opgewek (1 Pet. 3:18, “NW”; Rom. 6:9).
Jesus het teruggekeer (in die sin dat hy sy aandag as Koning op die aarde gevestig het) en hy is nou teenwoordig as ’n glorieryke geespersoon (Matt. 24:3, 23-27; 25:31-33; Joh. 14:19).
◆ Satan is die onsigbare “owerste van hierdie wêreld” (Joh. 12:31; 1 Joh. 5:19).
Hy was oorspronklik ’n volmaakte seun van God, maar hy het toegelaat dat gevoelens van eiewaan in sy hart ontwikkel, het aanbidding begeer wat net Jehovah toekom en Adam en Eva verlei om hom te gehoorsaam pleks van na God te luister. Hy het homself sodoende Satan gemaak, wat “Teëstander” beteken. (Joh. 8:44; Gen. 3:1-5; vergelyk Deuteronomium 32:4, 5; Jakobus 1:14, 15; Lukas 4:5-7.)
Satan ‘verlei die hele wêreld’; hy en sy demone is verantwoordelik vir die toename in ellende op die aarde in hierdie tyd van die einde (Openb. 12:7-9, 12).
Satan en sy demone sal op God se vasgestelde tyd vir ewig vernietig word (Openb. 20:10; 21:8).
◆ God se Koninkryk onder Christus sal alle menseregerings vervang en sal die enigste regering oor die hele mensdom word (Dan. 7:13, 14).
Die huidige goddelose stelsel van dinge sal heeltemal vernietig word (Dan. 2:44; Openb. 16:14, 16; Jes. 34:2).
God se Koninkryk sal in geregtigheid regeer en ware vrede vir sy onderdane bring (Jes. 9:5, 6; 11:1-5; 32:17; Ps. 85:11-13).
Goddeloses sal vir ewig vernietig word, en aanbidders van Jehovah sal blywende veiligheid geniet (Spr. 2:21, 22; Ps. 37:9-11; Matt. 25:41-46; 2 Thess. 1:6-9; Miga 4:3-5).
◆ Ons lewe nou, sedert 1914,d in die “tyd van die einde” van hierdie goddelose wêreld (Matt. 24:3-14; 2 Tim. 3:1-5; Dan. 12:4).
Gedurende hierdie tydperk word daar ’n getuienis aan al die nasies gegee; daarna sal die einde kom, nie van die aardbol nie, maar van die bose stelsel en van goddelose mense (Matt. 24:3, 14; 2 Pet. 3:7; Pred. 1:4).
◆ Daar is net een weg na die lewe; nie alle godsdienste of godsdiensgebruike word deur God goedgekeur nie (Matt. 7:13, 14; Joh. 4:23, 24; Ef. 4:4, 5).
Ware aanbidding beklemtoon nie rituele en uiterlike vertoon nie, maar ware liefde vir God, wat getoon word deur gehoorsaamheid aan sy gebooie en deur liefde vir jou medemens (Matt. 15:8, 9; 1 Joh. 5:3; 3:10-18; 4:21; Joh. 13:34, 35).
Mense uit alle nasies, rasse en taalgroepe kan Jehovah dien en sy goedkeuring wegdra (Hand. 10:34, 35; Openb. 7:9-17).
Gebed moet deur Jesus aan Jehovah alleen gerig word; beelde moet nie gebruik word as voorwerpe van verering of as hulpmiddele in aanbidding nie (Matt. 6:9; Joh. 14:6, 13, 14; 1 Joh. 5:21; 2 Kor. 5:7; 6:16; Jes. 42:8).
Spiritistiese gebruike moet vermy word (Gal. 5:19-21; Deut. 18:10-12; Openb. 21:8).
Daar is geen geestelike- en lekeklas onder ware Christene nie (Matt. 20:25-27; 23:8-12).
Die ware Christelike godsdiens vereis nie dat ’n weeklikse sabbat gehou word of dat daar gehoor gegee word aan ander vereistes van die Mosaïese Wet om redding te verkry nie; as ’n mens dit doen, verwerp jy Christus, wat die Wet vervul het (Gal. 5:4; Rom. 10:4; Kol. 2:13-17).
Diegene wat ware aanbidding beoefen, laat hulle nie in met godsdiensvermenging nie (2 Kor. 6:14-17; Openb. 18:4).
Almal wat waarlik dissipels van Jesus is, word deur algehele onderdompeling gedoop (Matt. 28:19; Mark. 1:9, 10; Hand. 8:36-38).
Almal wat Jesus se voorbeeld volg en sy gebooie gehoorsaam, getuig vir ander oor die Koninkryk van God (Luk. 4:43; 8:1; Matt. 10:7; 24:14).
◆ Die dood is ’n gevolg van die oorerwing van sonde van Adam af (Rom. 5:12; 6:23).
Wanneer ’n mens sterf, sterf die siel self (Eseg. 18:4).
Die dooies is van niks bewus nie (Ps. 146:4; Pred. 9:5, 10).
Die hel (Sjeool, Hades) is die mensdom se gemeenskaplike graf (Job 14:13, “Dy”; Openb. 20:13, 14, “KJ”, kanttekening).
Die ‘poel van vuur’ waaraan verstokte goddeloses oorgelewer word, is, soos die Bybel self sê, die “tweede dood”, die ewige dood (Openb. 21:8).
Die opstanding is die hoop vir die dooies en diegene wat geliefdes aan die dood moes afstaan. (1 Kor. 15:20-22; Joh. 5:28, 29; vergelyk Johannes 11:25, 26, 38-44; Markus 5:35-42.)
Die dood weens Adamitiese sonde sal tot die verlede behoort (1 Kor. 15:26; Jes. 25:8; Openb. 21:4).
◆ ’n “Klein kuddetjie”, net 144 000, gaan hemel toe (Luk. 12:32; Openb. 14:1, 3).
Dit is hulle wat “weer gebore” word as geestelike seuns van God (Joh. 3:3; 1 Pet. 1:3, 4).
God kies hulle uit alle volke en nasies om as konings saam met Christus in die Koninkryk te regeer (Openb. 5:9, 10; 20:6).
◆ Die ander wat God se goedkeuring wegdra, sal vir ewig op die aarde woon (Ps. 37:29; Matt. 5:5; 2 Pet. 3:13).
Die aarde sal nooit vernietig of ontvolk word nie (Ps. 104:5; Jes. 45:18).
Die hele aarde sal in ooreenstemming met God se oorspronklike voorneme ’n paradys word (Gen. 1:27, 28; 2:8, 9; Luk. 23:42, 43).
Daar sal geskikte behuising en ’n oorvloed voedsel wees wat almal sal kan geniet (Jes. 65:21-23; Ps. 72:16).
Siekte, alle gebreke en die dood self sal tot die verlede behoort (Openb. 21:3, 4; Jes. 35:5, 6).
◆ Sekulêre owerhede moet met die gepaste respek behandel word (Rom. 13:1-7; Tit. 3:1, 2).
Ware Christene neem nie deel aan opstande teen die regeringsgesag nie (Spr. 24:21, 22; Rom. 13:1).
Hulle gehoorsaam alle wette wat nie met God se wet bots nie, maar gehoorsaamheid aan God is eerste (Hand. 5:29).
Hulle volg Jesus na deur neutraal te bly wat die wêreld se politieke sake betref (Matt. 22:15-21; Joh. 6:15).
◆ Christene moet in ooreenstemming met Bybelstandaarde ten opsigte van bloed sowel as geslagsedelikheid optree (Hand. 15:28, 29).
As ’n mens bloed deur jou mond of deur die are in jou liggaam inneem, verbreek jy God se wet (Gen. 9:3-6; Hand. 15:19, 20).
Christene moet sedelik rein wees; hoerery, owerspel en homoseksualiteit, asook dronkenskap en dwelmmisbruik moet geen plek in hulle lewe hê nie (1 Kor. 6:9-11; 2 Kor. 7:1).
◆ Persoonlike eerlikheid en getrouheid wat huweliks- en gesinsverantwoordelikhede betref, is vir Christene belangrik (1 Tim. 5:8; Kol. 3:18-21; Hebr. 13:4).
Oneerlikheid in spraak of in sakeaangeleenthede, asook deur skynheilig te wees, pas nie by ’n Christen nie (Spr. 6:16-19; Ef. 4:25; Matt. 6:5; Ps. 26:4).
◆ Om Jehovah op ’n aanvaarbare wyse te aanbid, vereis dat ons hom bo alles moet liefhê (Luk. 10:27; Deut. 5:9).
Om Jehovah se wil te doen, en sodoende eer op sy naam te bring, is die allerbelangrikste saak in die lewe van ’n ware Christen (Joh. 4:34; Kol. 3:23; 1 Pet. 2:12).
Hoewel Christene sover moontlik aan alle mense goed doen, besef hulle dat hulle ’n spesiale verpligting teenoor medeknegte van God het; hulle sal dus ten tye van siekte of rampe in die besonder aan medeknegte hulp verleen (Gal. 6:10; 1 Joh. 3:16-18).
Liefde vir God vereis dat ware Christene nie net sy gebod moet gehoorsaam om hulle medemens lief te hê nie, maar ook dat hulle nie die onsedelike en materialistiese lewenswyse van die wêreld moet liefhê nie. Ware Christene is geen deel van die wêreld nie en hulle neem dus nie deel aan bedrywighede wat sal toon dat hulle die gees van die wêreld het nie (Rom. 13:8, 9; 1 Joh. 2:15-17; Joh. 15:19; Jak. 4:4).
[Voetnote]
d Sien die boek “Let Your Kingdom Come” vir besonderhede.
[Prent op bladsy 121]
C. T. Russell het die “Zion’s Watch Tower” in 1879 begin uitgee toe hy 27 was
[Prent op bladsy 125]
Sir Isaac Newton en Henry Grew was onder diegene wat die Drie-eenheid vroeër as onskriftuurlik verwerp het
[Prente op bladsy 128]
Broer Russell het in ’n openbare debat getoon dat die dooies werklik dood is en dat hulle nie saam met die engele lewe of saam met demone in ’n plek van wanhoop is nie
Carnegie-saal, Allegheny, Pennsilvanië—waar die debat gehou is
[Prent op bladsy 130]
Broer Russell het na groot en klein stede gereis om die waarheid oor die hel te vertel
[Prent op bladsy 131]
Toe Frederick Franz, ’n universiteitstudent, die waarheid oor die toestand van die dooies geleer het, het hy sy doelwitte in die lewe heeltemal verander
[Prent op bladsy 135]
Die Bybelstudente het groot publisiteit aan 1914 as die einde van die Heidense Tye gegee, soos in hierdie IBSA-traktaat wat in 1914 versprei is
[Prente op bladsy 137]
In 1931 het J. F. Rutherford die grootste radiokoppeling tot op daardie tydstip gebruik en getoon dat net God se Koninkryk blywende verligting vir die mensdom kan bring
Die toespraak “Die Koninkryk, die hoop van die wêreld” is gelyktydig deur 163 stasies uitgesaai en is later deur nog 340 stasies heruitgesaai
[Prent op bladsy 142]
A. H. Macmillan is in 1925 per skip na Palestina gestuur omdat daar besonder belanggestel is in die rol van die Jode in verband met Bybelprofesieë