Hoofstuk Dertien
’n Groot menigte voor Jehovah se troon
1. (a) Wat moet met voor-Christelike knegte van God sowel as die 144 000 gebeur voordat hulle hulle beloning kan ontvang? (b) Wat sal moontlik wees vir “’n groot menigte” wat nou lewe?
GETROUE knegte van God van Abel tot Johannes die Doper het die uitvoering van God se wil eerste in hulle lewe gestel. Maar hulle het almal gesterf en wag vir hulle opstanding tot lewe op die aarde in God se nuwe wêreld. Die 144 000, wat saam met Christus in God se hemelse Koninkryk gaan regeer, moet ook sterf voordat hulle hulle beloning kan ontvang. Maar Openbaring 7:9 toon dat daar in hierdie laaste dae “’n groot menigte” uit alle nasies sal wees wat nie sal sterf nie, maar wat die vooruitsig sal hê om vir ewig op die aarde te lewe. Is jy een van hulle?
Die groot menigte word geïdentifiseer
2. Wat het gelei tot ’n duidelike begrip van die identiteit van die groot menigte van Openbaring 7:9?
2 In 1923 het Jehovah se knegte besef dat “die skape” van Jesus se gelykenis in Matteus 25:31-46 en die “ander skape” waarvan hy in Johannes 10:16 gepraat het, mense is wat die geleentheid sal hê om vir ewig op die aarde te lewe. In 1931 het hulle gesien dat diegene wat volgens Esegiël 9:1-11 ’n merk op hulle voorkop ontvang, ook dié is wat die aardse hoop het. Toe het hulle in 1935 geleer dat die groot menigte deel uitmaak van die “ander skape”-klas waarvan Jesus gepraat het. Vandag is daar miljoene in hierdie begunstigde groot menigte.
3. Waarom verwys die uitdrukking ‘wat voor die troon staan’ nie na ’n hemelse klas nie?
3 In Openbaring 7:9 word die groot menigte nie in die hemel gesien nie. Hulle hoef nie in die hemel te wees om “voor die troon” van God te staan nie. Hulle is bloot waar God hulle kan sien (Psalm 11:4). Die feit dat die groot menigte, “wat geen mens kon tel nie”, nie ’n hemelse klas is nie, word duidelik wanneer ’n mens die onbepaalde getal daarvan vergelyk met wat in Openbaring 7:4-8 en Openbaring 14:1-4 opgeteken staan. Hierdie tekste openbaar dat die getal mense wat van die aarde na die hemel geneem word, 144 000 is.
4. (a) Wat is “die groot verdrukking” wat die groot menigte oorleef? (b) Wie neem volgens Openbaring 7:11, 12 die groot menigte waar en aanbid saam met hulle?
4 Openbaring 7:14 sê van die groot menigte: “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom.” Hulle oorleef die ergste toestande wat daar nog ooit in die mensegeskiedenis was (Matteus 24:21). Wanneer hulle uit dankbaarheid hulle redding aan God en Christus toeskryf, sal alle getroue wesens in die hemel saam met hulle sê: “Amen! Aan ons God die seën en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte vir ewig en altyd. Amen.”—Openbaring 7:11, 12.
Bewys dat hulle waardig is
5. Hoe kan ons vasstel wat vereis word om deel van die groot menigte te wees?
5 Die behoud van die groot menigte deur die groot verdrukking heen vind in ooreenstemming met Jehovah se regverdige standaarde plaas. Die kenmerkende eienskappe van diegene wat verlos sal word, word duidelik in die Bybel uiteengesit. Dit is dus moontlik vir liefhebbers van geregtigheid om nou so op te tree dat hulle kan bewys dat hulle waardig is om behoue te bly. Wat moet hulle doen?
6. Waarom kan die groot menigte tereg met skape vergelyk word?
6 Skape is saggeaard en gehoorsaam. Toe Jesus dus gesê het dat hy ander skape het wat nie van die hemelse klas is nie, het hy verwys na mense wat nie net vir ewig op die aarde sou wou lewe nie, maar wat hulle ook aan sy leringe sou onderwerp. “My skape luister na my stem, en ek ken hulle, en hulle volg my”, het hy gesê (Johannes 10:16, 27). Hulle is mense wat werklik na Jesus se woorde luister en dit gehoorsaam en so sy dissipels word.
7. Watter eienskappe moet die volgelinge van Jesus aankweek?
7 Watter ander eienskappe moet elkeen van hierdie volgelinge van Jesus aankweek? God se Woord antwoord: “Julle [moet] die ou persoonlikheid . . . aflê, wat met julle vroeëre lewenswandel ooreenkom en . . . julle met die nuwe persoonlikheid . . . beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is” (Efesiërs 4:22-24). Hulle kweek eienskappe aan wat die eenheid van God se knegte versterk—“liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing”.—Galasiërs 5:22, 23.
8. Waarvoor sal die groot menigte te staan kom wanneer hulle die oorblyfsel ondersteun?
8 Die groot menigte ondersteun die klein groepie wat die hemelse hoop het en die leiding neem in die predikingswerk (Matteus 24:14; 25:40). Die ander skape gee hierdie ondersteuning al weet hulle dat hulle voor teenstand te staan sal kom omdat Christus Jesus en sy engele Satan en sy demone aan die begin van hierdie laaste dae uit die hemel gewerp het. Dit het “wee [beteken vir] die aarde . . . , want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydjie het” (Openbaring 12:7-12). Satan verskerp dus sy teenstand teen God se knegte namate die einde van hierdie stelsel nader kom.
9. Hoe suksesvol is God se knegte in hulle verkondiging van die goeie nuus, en waarom?
9 Ten spyte van wrede vervolging gaan die predikingswerk nog steeds vooruit. Aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog was daar net ’n paar duisend Koninkryksverkondigers, maar nou is daar miljoene, want Jehovah het belowe: “Geen wapen wat teen jou gesmee sal word, sal enige sukses hê nie” (Jesaja 54:17). Selfs ’n lid van die Joodse Hoë Raad het erken dat ’n werk van God nie gestuit kan word nie. Hy het vir die Fariseërs in die eerste eeu aangaande die dissipels gesê: “Laat staan hulle (want as hierdie plan of hierdie werk uit mense is, sal dit omvergewerp word; maar as dit uit God is, sal julle hulle nie kan keer nie); anders kan daar miskien bevind word dat julle eintlik teen God stry.”—Handelinge 5:38, 39.
10. (a) Wat beteken “die merk” op die lede van die groot menigte? (b) Hoe gehoorsaam God se knegte die “stem uit die hemel”?
10 Die lede van die groot menigte word uitgebeeld as mense wat vir oorlewing gemerk word (Esegiël 9:4-6). “Die merk” is die bewys dat hulle aan Jehovah toegewy is, as dissipels van Jesus gedoop is en besig is om ’n Christelike persoonlikheid aan te kweek. Hulle gehoorsaam die “stem uit die hemel” wat van Satan se wêreldryk van valse godsdiens sê: “Gaan uit haar uit, my volk, as julle nie met haar in haar sondes wil deel nie, en as julle geen deel van haar plae wil ontvang nie.”—Openbaring 18:1-5.
11. In watter belangrike opsig toon die lede van die groot menigte dat hulle Jehovah se knegte is?
11 Jesus het ook vir sy volgelinge gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). In teenstelling hiermee maak lidmate van hierdie wêreld se godsdienste mekaar in oorloë dood, dikwels bloot omdat hulle van verskillende nasionaliteite is! God se Woord sê: “Die kinders van God en die kinders van die Duiwel word aan hierdie feit geken: elkeen wat nie regverdigheid beoefen nie, het nie sy oorsprong by God nie, ook nie hy wat sy broer nie liefhet nie. . . . Ons [moet] liefde vir mekaar . . . hê; nie soos Kain, wat sy oorsprong by die bose gehad het en sy broer doodgemaak het nie.”—1 Johannes 3:10-12.
12. Hoe sal Jehovah tydens die groot verdrukking optree teen godsdiens-‘bome’ wat waardelose vrugte voortbring?
12 Jesus het gesê: “Elke goeie boom [bring] goeie vrugte voort, maar elke slegte boom bring waardelose vrugte voort; ’n goeie boom kan nie waardelose vrugte dra nie, en ’n slegte boom kan ook nie goeie vrugte voortbring nie. Elke boom wat nie goeie vrugte voortbring nie, word afgekap en in die vuur gegooi. So sal julle daardie mense dan aan hulle vrugte herken” (Matteus 7:17-20). Die vrugte wat deur hierdie wêreld se godsdienste voortgebring word, identifiseer hulle as slegte ‘bome’, wat binnekort tydens die groot verdrukking deur Jehovah vernietig gaan word.—Openbaring 17:16.
13. Hoe toon die groot menigte dat hulle in eenheid “voor die troon” van Jehovah staan?
13 Openbaring 7:9-15 vestig die aandag op faktore wat tot die behoud van die groot menigte lei. Dit toon dat hulle in eenheid “voor die troon” van Jehovah staan, terwyl hulle sy universele soewereiniteit ondersteun. Hulle het “hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam”, wat toon dat hulle die soenoffer van Jesus erken (Johannes 1:29). Hulle het hulle aan God toegewy en het dit deur waterdoop gesimboliseer. Hulle geniet dus ’n rein posisie voor God, wat deur die wit klere voorgestel word, en “verrig dag en nag heilige diens aan hom”. Is daar maniere waarop jy jou lewe in groter mate in ooreenstemming kan bring met wat hier beskryf word?
Voordele nou
14. Wat is van die unieke voordele wat Jehovah se knegte nou al geniet?
14 Jy het heel moontlik gesien watter unieke voordele diegene wat Jehovah dien, nou al geniet. Toe jy byvoorbeeld van Jehovah se regverdige voornemens geleer het, het jy begryp dat daar ’n wonderlike hoop vir die toekoms is. Jy kan dus nou werklik ’n doel in die lewe hê—om die ware God te dien met die vreugdevolle vooruitsig op ewige lewe op ’n paradysaarde. Ja, die Koning Jesus Christus “sal [die groot menigte] na fonteine van waters van die lewe lei”.—Openbaring 7:17.
15. Hoe strek dit Jehovah se Getuies tot voordeel wanneer hulle by Bybelbeginsels oor politieke en sedelike sake bly?
15 ’n Wonderlike voordeel wat die groot menigte geniet, is die liefde, eenheid en harmonie wat wêreldwyd onder Jehovah se knegte heers. Aangesien ons almal met dieselfde geestelike voedsel gevoed word, is ons almal gehoorsaam aan dieselfde wette en beginsels wat in God se Woord gevind word. Daarom word ons nie deur politieke of volksideologieë verdeel nie. Ons handhaaf ook die hoë sedelike standaarde wat God van sy volk vereis (1 Korintiërs 6:9-11). Jehovah se volk word dus nie geteister deur die tweedrag, onenigheid en onsedelikheid wat so algemeen in die wêreld is nie, maar geniet eerder wat ’n geestelike paradys genoem kan word. Let op hoe dit in Jesaja 65:13, 14 beskryf word.
16. Watter hoop het die groot menigte ondanks die probleme wat eie aan die lewe is?
16 Nee, Jehovah se menseknegte is nie volmaak nie. En hulle word geraak deur die probleme wat eie is aan die lewe in hierdie wêreld, soos om moeilike tye te beleef of onskuldige slagoffers in die oorloë van die nasies te word. Hulle kom ook voor siekte, lyding en die dood te staan. Maar hulle glo dat God in die nuwe wêreld “elke traan van hulle oë [sal] afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie”.—Openbaring 21:4.
17. Watter wonderlike toekoms wag daar op diegene wat die ware God aanbid, ongeag wat nou met ons gebeur?
17 Al verloor jy nou jou lewe as gevolg van ouderdom, siekte, ’n ongeluk of vervolging, sal Jehovah jou tot lewe in die Paradys opwek (Handelinge 24:15). Dan sal jy voortgaan om ’n geestelike feesmaal gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus te geniet. Jou liefde vir God sal toeneem wanneer jy sien hoe sy voornemens op glorieryke wyse verwesenlik word. En die fisiese seëninge wat Jehovah dan sal voorsien, sal jou liefde vir hom nog verder laat toeneem (Jesaja 25:6-9). Wat ’n wonderlike toekoms wag daar tog op God se volk!
Hersieningsbespreking
• Met watter buitengewone gebeurtenis verbind die Bybel die groot menigte?
• Wat moet ons nou doen as ons werklik ingesluit wil word by daardie groot menigte wat God se guns geniet?
• Hoe belangrik is die seëninge wat die groot menigte nou geniet en nog in God se nuwe wêreld gaan geniet vir jou?
[Prent op bladsy 123]
Miljoene lede van die groot menigte aanbid die ware God in eenheid