Die allergrootste naam
“Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: [Jehovah] die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag.”—EXODUS 3:15, vgl. “The New English Bible”.
1. Van watter waarde is ’n naam, in teenstelling met ander woorde wat gebruik kan word om ’n persoon te identifiseer?
ONS het elkeen ’n naam. Ons naam identifiseer ons as ’n persoon. Die aanhoor van die naam van iemand van wie jy glad nie hou nie, wek negatiewe gevoelens, terwyl die naam van iemand wat jy baie liefhet aangename, gelukkige gedagtes wek. Benewens jou naam is daar ander woorde wat meer beperkte aspekte van jou lewe omskryf. Dieselfde persoon kan Professor, Baas, Pa of Oupa genoem word, afhangende van die omstandighede. Elk van hierdie woorde kan ander gedagtes oor die persoon wek en die aandag op ’n ander faset van sy lewe vestig. Maar sy naam herinner ons aan die hele persoon—al sy aspekte, alles wat ons van hom af weet.
2, 3. Hoe kan die woorde wat ons gebruik om God te identifiseer ons denke oor hom beïnvloed?
2 Geld dieselfde beginsel ten opsigte van God? Het die naam wat Jy hom noem ten minste ’n geringe effek op jou beskouing van die Skepper?
3 Die woorde “Skepper” en “Almagtige” vestig die aandag op sekere aspekte van sy aktiwiteit. “HERE” verwys na sy gesag. “God” beskryf hom as iemand met bomenslike hoedanighede en krag. Die leser van die Franse vertalings deur Segond en Darby, wat sien dat God se naam verander is na l’Éternel (die Ewige) kan ’n effens verskillende beeld van God hê as die leser van Afrikaanse Bybels wie se vertalers God se naam na “die HERE” verander het. Een godsdiensskrywer het gevolglik gesê: “Die invoering van God se persoonlike naam in Christelike aanbidding en teologie kan verbasende en skeppende gevolge hê.”
4. (a) Wat kan ons sê oor die verskillende woorde wat ons gebruik wanneer ons van God praat? (b) Hoe omvattend word sy naam in die Skrif gebruik?
4 Die verskillende woorde wat God beskryf—Here, Almagtige, die Skepper—is korrek. Hulle word in die Bybel gebruik. Daar is egter ’n woord wat die Bybel meer as enige van die voorgaande gebruik. Dit is God se persoonlike NAAM, en daardie naam moet ons herinner aan alles wat ons van hom af weet. Daardie naam, wat vandag algemeen as Jehovah of Jahweh uitgespreek word, kom baie meer in die oorspronklike teks van die Bybel voor as enige ander woord vir God. Die Comprehensive Concordance of the New World Translation of the Holy Scriptures gebruik 43 kolomme vir ’n lys van elke plek waar die woord “God” in die Bybel gebruik word, maar 77 kolomme vir die lys van die plekke waar “Jehovah” voorkom.
5. (a) Wat deel Exodus 3:15 ons omtrent God se naam mee? (b) Wat kan gesê word oor dle uitspraak “Jehovah”?
5 Hierdie naam is nie deur mense gekies nie. Die Bybel sê dat God dit gekies het en dat hy gesê het dat dit gebruik moet word. Hy het gesê: “Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: [JEHOVAH], die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag” (Exodus 3:15, vgl. NEB). Waarom gebruik hierdie algemeen aanvaarde hedendaagse vertaling die naam Jehovah in hierdie teks? Omdat dit die algemene Engelse uitspraak van God se naam is wat duisende kere in die oorspronklike Hebreeuse Bybel voorkom.
6. Wat is nog ’n voordeel as ons God se naam gebruik?
6 Wanneer die Bybel ’n naam vir God gebruik, help dit ons om aan hom te dink, nie net as ’n krag nie, maar as ’n persoon. Dit help ons om nader aan hom te kom. Dit voel vir baie mense of God so ver van hulle af is. Die apostel Paulus het egter geskryf: “Hy is nie ver van enigeen van ons af nie.”—Handelinge 17:27, NTP.
Jou reaksie op die naam
7, 8. Wat is jou reaksie wanneer jy die naam Jehovah hoor? Waarom?
7 Wat is jou reaksie wanneer jy hierdie naam hoor wat die Bybel vir God gebruik? Wek dit negatiewe gedagtes of aangename, gelukkige gedagtes? Is jy geleer om negatief te reageer op die naam waaraan God gesê het hy geken moet word, of wek dit ’n gevoel van innige waardering, soos die Bybel toon die geval moet wees?
8 Wanneer ons die naam Jehovah hoor, moet dit ons laat dink aan die Skepper van hemel en aarde. In die oorspronklike Hebreeus sê die Bybel dat “Jehovah God [Jehovah Elohim] die aarde en die hemel gemaak het”. Dit sê ook: “En [Jehovah] God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword” (Genesis 2:4, 7, vgl. NW). Ons is dus ons lewe aan Hom verskuldig. Sy skeppingswerk het dit vir jou moontlik gemaak om te bestaan. Beïnvloed daardie feit jou reaksie wanneer jy God se naam hoor?
9. Waaraan moet hierdie naam ons nog herinner?
9 Hy is nie alleen die Skepper nie, maar ook die Voornemer. Die naam Jehovah beteken vermoedelik “Hy laat word”. Hy laat homself enigiets word wat nodig is sodat sy voornemens en beloftes vir seker volbring sal word.
10. Wat beteken Exodus 6:2?
10 Jehovah het vir Moses gesê: “Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam [Jehovah] het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie” (Exodus 6:2, vgl. NW [6:3]). Beteken dit dat Abraham, Isak en Jakob nooit hierdie naam gehoor het nie? Nee, want Jehovah het vroeër vir Moses gesê dat hy die God van hierdie drie manne is (Exodus 3:15, NEB). En soos die vroeëre artikel “Moet die naam gebruik word?” (bladsy 4) getoon het, het hierdie getroue knegte voortdurend daardie naam gebruik. Maar die naam sou op ’n nuwe manier geopenbaar word. Wat hulle nie geken het nie, was die bykomende betekenis wat hierdie naam sou aanneem wanneer mense eers gesien het hoe ver Jehovah sou gaan om toe te sien dat sy beloftes en voornemens vervul word.
11. Hoe sou die Israeliete Jehovah kort daarna op ’n sinvoller manier leer ken as hulle voorvaders?
11 Watter voornemens? Die mense sou eerlank die ontsagwekkende Tien Plae aanskou. Hulle sou kort daarna droogvoets deur die Rooi See gebring word. Die Wet sou onder ontsagwekkende omstandighede by die berg Sinai aan hulle gegee word. Hulle sou deur die “groot en vreeslike woestyn” heen beskerm en in die Beloofde Land ingebring word.—Deuteronomium 1:19; Exodus 6:6, 7; 14:21-25; 19:16-19.
Sy liefdevolle dade
12, 13. Wat is sommige van die dinge wat die Bybel ons oor Jehovah se liefdevolle dade meedeel?
12 Die hele Bybelverhaal verklaar die Skepper. Dit vertel van sy getrouheid, opregtheid en geregtigheid. Die Bybel sê: “Die Here is goed en opreg.” Dit sê: “O hoe groot is sy goedheid tog!” “Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ’n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy.”—Psalm 25:8, Die Lewende Bybel; Sagaria 9:17, NW; Deuteronomium 32:4.
13 Die Bybel stel Jehovah voor as Koning (Psalm 10:16; Daniël 4:34), Regter (Psalm 50:6; 98:9), Vader (Jesaja 64:8; Mattheüs 6:6-9), Eggenoot of Man (Jesaja 54:5; Jeremia 3:14, NW), Onderrigter (Psalm 71:17; Jesaja 50:4; 54:13) en Helper (Psalm 30:3; 115:9-13; 121:2). Sy naam behoort ons te herinner aan sy liefdevolle dade, aan die feit dat hy regte beginsels daargestel het en dat hy die reg het om gehoorsaamheid en toegewydheid van sy aardse kinders te eis. Die Skrif sê: “Deur die oordeel wat Hy gevel het, het die Here gewys wie Hy is.” “[Jehovah] bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose.”—Psalm 9:17, Die Lewende Bybel; 145:20, vgl. NW.
14. (a) Hoe het die psalmskrywers en singers hulle vertroue in Jehovah se naam getoon? (b) Wat toon Spreuke oor hom?
14 Hierdie naam kom 749 keer in die Bybelboek Psalms voor. Die psalms, of lofliedere, is deur vreugdevolle aanbidders by die tempel in Jerusalem gesing “om die Naam van [Jehovah] te loof” (Psalm 122:1-4, vgl. NW). Die psalmskrywers ensingers het Jehovah se naam geken (Psalm 9:11), op sy naam vertrou (33:21), sy naam aangeroep (80:19; 105:1), dank gebring aan sy heilige naam (106:47, NW), hulp in sy naam gesoek (124:8) en voortdurend sy naam geloof (68:5; 135:3). Dit was nie ’n verborge naam nie, maar ’n geliefde naam (Psalm 89:1; 92:1-5). Jehovah het nie alleen die liefdevolle dade verrig wat in die Psalms geloof word nie, maar hy het die wysheid geïnspireer wat in die Bybelboek Spreuke opgeteken is. Dit sê: “Die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand” (Spreuke 2:6). As jou vertaling van die Bybel “HERE” in hierdie verse gebruik, kan jy daarvan seker wees dat God se naam in die oorspronklike Hebreeus in elk van hulle voorkom.
15. (a) Aan watter betekenisvolle gebeure moet Jehovah se naam ons herinner? (b) Wat bied volgens Daniël 2:20, 21 en 4:17 vir ons ’n grondslag om Jehovah se naam te prys?
15 Die naam moet ons herinner aan die groot geheel van die geskiedenis, profesie, wette en wysheid wat in die Bybel uiteengesit word. Dit behoort ons te herinner aan verstommende profesieë wat gehandel het oor die breë verloop van wêreldgeskiedenis. Jehovah het geskiedkundige gebeure so bestier dat sy profesieë oor Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië, Griekeland en Rome en reg tot ons onstuimige 20ste eeu en selfs daarna vervul sou word.—Daniël, hoofstukke 2, 7, 8.a
Jesus en die Vader se naam
16. (a) Hoe behoort Jesus se lewe op aarde ons waardering vir sy Vader, Jehovah God, te beinvloed? (b) Hoe, in die besonder, het Jesus sy Vader se naam bekend gemaak?
16 Die innige waardering wat die goddelike naam Jehovah in ons harte moet wek, moet ’n selfs belangriker feit insluit—dat hy sy “Eersgeborene”, “die Woord”, wat Jesus Christus geword het, op wonderdadige wyse na die aarde gestuur het (Hebreërs 1:6; Johannes 1:1-3; Romeine 5:6-8). In gebed tot sy hemelse Vader het Jesus gesê: “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. . . . Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak” (Johannes 17:6, 26). Dit wil nie sê dat sy volgelinge nie reeds God se naam geken het nie. Soos in die artikel “God se naam in die Christelike Skrifte” (bladsy 7) getoon is, het hulle hierdie naam in hulle Hebreeuse Bybelrolle sowel as in die Griekse Bybelvertaling wat hulle gebruik het, gesien. Maar as gevolg van Jesus se leer het die naam groter betekenis aangeneem—net soos dit gedoen het as gevolg van Jehovah se dade in Moses se dag. Jesus het ons kennis van en waardering vir Jehovah, sy persoonlikheid en sy voornemens op wonderlike wyse verbreed. Ons ken Jehovah se naam op ’n baie wonderliker manier deur Jesus, wat gesê het: “My leer is nie myne nie, maar van Hom wat My gestuur het.” Jesus het die losprys en die weg om die Vader te nader, voorsien. Daarom het Jesus gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”—Johannes 7:16; 14:6.
17. Watter hemelse gebruik van God se naam is in die boek Openbaring voorspel?
17 In die Bybelboek Openbaring, waarin Johannes se gesig van gebeure in ons dag opgeteken is, word Jehovah se naam nog steeds geloof. Wanneer Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, verwoes word, roep ’n groot menigte in die hemel jubelend uit: “Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God!” Toe het “die vierentwintig ouderlinge en die vier lewende wesens . . . neergeval en God aanbid wat op die troon sit, en gesê: Amen, Halleluja!” (Openbaring 19:1, 4). Wat beteken “Halleluja”? Ons het reeds op bladsy 4 gesien dat “Jah” ’n korter, digterlike vorm van “Jehovah” is. The Random House Dictionary of the English Language sê gevolglik dat “Halleluja” van die Hebreeus vir “Loof Jehovah” kom. God word dus in die hemel geloof met die uitroep: “Loof Jehovah!”—vgl. NW.
Wonderlike werke
18. Wat help kennis van die dinge wat Jehovah “om sy Naam ontwil” gedoen het ons om te waardeer?
18 God se naam moet gebruik word. Dit moet ons herinner aan sy werke en sy goedertierenheid. Die Bybel deel ons mee dat hy hierdie groot dade verrig het “om sy Naam ontwil, om sy mag bekend te maak” (Psalm 106:8). Die wonderlike werke wat hy verrig het “om sy Naam ontwil” is nie uit egotisme gedoen nie, maar om ons te help om te besef dat hy God is, dat hy die reg het om vir ons voor te skryf wat ons moet doen en sodat ons volkome kan vertrou dat sy beloftes vervul sal word (1 Samuel 12:22). Hy het gevolglik gesê: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen; . . . soos Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom; Ek het dit voorberei, Ek sal dit ook doen.”—Jesaja 46:9-11.
19. Watter gerusstellende verklaring oor die betroubaarheid van God se Woord het Josua gedoen?
19 Eeue tevore het Josua die Israeliete aan die volgende herinner: “Julle moet erken met jul hele hart en met jul hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat die Here julle God oor julle gespreek het, onvervuld gebly het nie; alles het vir julle uitgekom, nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie.”—Josua 23:14.
20. Wat is sommige van die dinge waaraan die naam Jehovah jou herinner?
20 Behels jou indruk van Jehovah al hierdie dinge? Word jy aan sy werke, sy krag, sy almag, sy betroubaarheid en die waarheid van sy beloftes herinner wanneer jy sy naam hoor? Assosieer jy sy naam met Die God wat homself laat word net wat nodig is sodat sy voornemens volbring sal word? Dink jy aan die feit dat Jehovah Jesus na die aarde gestuur het om God se naam te regverdig, om ons van sy Vader te leer en om die losprys te voorsien vir almal wat dit sal aanneem? En sluit jou gevoelens vir Jehovah jou waardering vir sy beloftes oor ’n regverdige toekoms vir ’n gereinigde aarde in?—2 Petrus 3:13.
21. Watter gesindheid van regverdige koning Dawid kan ons hê?
21 Kennis van die dinge wat Jehovah gedoen het, bring geloof voort. Geloof spoor ons aan tot optrede. Ons gebruik sy naam, spreek oor sy dade, bied ons gewillig as sy knegte aan, en ons sien uit na die vervulling van sy groot en onfeilbare voorneme om die aarde te bevry van goddeloosheid en om regverdige nuwe toestande vir die gehoorsame mensdom te skep. As ons sulke geloof het, en dienooreenkomstig optree, kan ons sê soos regverdige koning Dawid: “My mond sal die lof van [Jehovah] uitspreek, en laat alle vlees sy heilige Naam loof vir ewig en altyd.”—Psalm 145:21, vgl. NW.
[Voetnoot]
a Kyk die boek “Laat u wil geskied op aarde”, wat deur die Wagtoring-Bybel-en Traktaatgenootskap uitgegee is, vir ’n bespreking van talle van hierdie profesieë.
Ter hersiening—
◻ Wat is die waarde van ’n naam, in teenstelling met ’n ander woord wat ’n persoon kan identifiseer?
◻ Waaraan moet die naam Jehovah ons herinner?
◻ Hoe het Jesus se leer ons waardering vir die naam Jehovah vergroot?
◻ Hoe strek werke wat Jehovah “om sy Naam ontwil” verrig het ons tot groot voordeel?
[Prent op bladsy 11]
Hoe het God sy naam aan die Israeliete bekend gemaak deur hulle deur die Rooi See heen te red?
[Venster op bladsy 12]
Die persoon wie se naam ons nie ken nie, bly altyd in ’n mate ’n vreemdeling. Wanneer God ons nooi om sy naam te gebruik, is dit ’n daad van goddelike vriendskap