Vrae van lesers
▪ Is die oorblyfsel van die Here se gesalfdes op aarde ’n deel van Jehovah se hemelse gemalin-organisasie, “Jerusalem daarbo”?
Daar kan gesê word dat die gesalfdes op aarde die sigbare deel van God se organisasie, sy universele gesin van intelligente Wesens, is.
As individue wat “weer gebore” is, word hulle geestelike seuns van Jehovah (Johannes 3:3, 5; Romeine 8:15-17). Jehovah is hulle Vader. Maar hulle het ook ’n “moeder”, want die apostel Paulus het geskryf: “Jerusalem daarbo is . . . die moeder van ons almal.” Dit moet ’n verwysing wees na ’n hemelse organisasie van lojale geeste wat deur Jehovah as ’n figuurlike “vrou” beskou word (Galasiërs 4:26). Wanneer gesalfde Christene hulle hemelse beloning ontvang, neem hulle hulle plek in daardie hemelse organisasie in.—Openbaring 4:4; 14:1-5.
Die gesalfde oorblyfsel op aarde is nog nie letterlik ’n deel van die “Jerusalem daarbo” nie. Maar vanweë hulle unieke posisie as geestelike seuns met die vooruitsig op hemelse lewe, en omdat hulle God se hemelse “vrou” verteenwoordig, sluit Jehovah hulle soms op ’n reflektiewe wyse in by opdragte, profesieë, beloftes en trooswoorde wat aan sy gemalin-organisasie in die hemel gerig word.
Ons kan dit toelig met woorde ten opsigte van eertydse Israel. Deur Jesaja het Jehovah ’n vrou beskryf wat in boeie en in die stof is, wat moet ontwaak en haar lig moet laat skyn (Jesaja 51:9, 14; 52:1, 2; 60:1, NAV). Hierdie toestande het nie bestaan onder Jehovah se lojale geesseuns wat sy hemelse “vrou” uitmaak nie. Maar dit het onder die nasie Israel bestaan. Toe die Israeliete in 537 v.G.J. uit gevangenskap in Babilon vrygelaat is, het hulle ontwaak, uit die stof opgestaan en begin om Jehovah se lig te laat skyn. Herboude Jerusalem (wat die nasie voorstel) was soos ’n vrou wat verlaat is, maar toe teruggeneem is en kinders voortgebring het, naamlik die Jode in die herstelde nasie (Jesaja 54:1-8; 60:1-22; 66:7-14). Jesaja se woorde oor die situasie van die “vrou” (waarvan Jehovah die “man” was) het dus die aardse nasie wat haar verteenwoordig het, ingesluit.
Kom ons wend nou ons aandag tot die geestelike nasie vir wie God sou aanvaar sodra hy (en sy hemelse “vrou”) opgehou het om natuurlike Israel te gebruik (Galasiërs 6:16). Nadat die “Jerusalem daarbo” eeue lank ‘onvrugbaar’ was, het sy geestelike seuns begin voortbring. In 29 G.J. was Jesus die eerste een wat voortgebring is, en hy sou gevolg word deur 144 000 ander, van die apostels af tot op ons dag (Galasiërs 4:21-31). Die oorblyfsel van geestelike Israeliete het aan die begin van hierdie eeu ’n kort rukkie voor druk geswig en as ’t ware in gevangenskap gekom. In 1919 is hulle uit Babiloniese gevangenskap bevry as ’n nuwe nasie in ’n geestelike land. Ons kan sien dat Jesaja se profetiese woorde omtrent eertydse Jerusalem dus ’n parallel in geestelike Israel op aarde het.
Kyk ook na Openbaring 12:1-17. Aan die einde van die Tye van die Nasies in 1914 het God se hemelse “vrou” die Koninkryksregering as ’n “manlike kind” voortgebring. Die neergewerpte Satan “was vertoornd op die vrou”. Maar sy aanval was nie regstreeks teen God se gemalin-organisasie in die hemel waartoe hy nie meer toegang gehad het nie. Satan het eerder oorlog gevoer “teen haar ander nakomelinge” wat haar hier op aarde verteenwoordig.
Soos dit in die verlede met aardse Israel was, is dit dus met geestelike Israel. Die situasie in die “Jerusalem daarbo” word onder haar kinders op aarde weerspieël. Die bevele, teregwysing, vertroosting en beloftes wat aan Jehovah se hemelse vrou gerig word, raak in ’n praktiese sin hoofsaaklik diegene op die aarde wat haar verteenwoordig en wat die vooruitsig het om deel te word van God se hemelse organisasie.
▪ Word die “groot menigte” ’n deel van Jehovah se universele organisasie?
Nou, voor die “groot verdrukking”, dien al Jehovah se Getuies God vreugdevol in eenheid (Mattheüs 24:21). Daar is geen verdeeldheid oor die feit dat ’n paar met die gees gesalf is en daarna uitsien om hemel toe te gaan terwyl die meeste die hoop op die ewige lewe op ’n aardse paradys koester nie. Soos Jesus getoon het, is die “skape” sowel as die “ander skape” verenig in “een kudde” (Johannes 10:11, 16). Jehovah se huidige organisasie van dienaars bestaan dus uit persone van albei groepe met beide verwagtinge.
Jehovah het voorsien dat sy vrou sulke voorspoed sou geniet. Hy het getoon dat baie mense, wat nie geestelike Israeliete is nie, uit alle nasies versamel sou word (Jesaja 60:1-22; 61:5-9). Die boek Openbaring beskryf “’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam”. Hulle is diegene met aardse verwagtinge, nie lede van die geestelike nasie van gesalfdes wat vandag in die besonder Jehovah se universele organisasie verteenwoordig nie. Die “groot menigte” staan nietemin voor die troon van God en die Lam in klere wat wit gemaak is in die bloed van die Lam. Wat ’n voortreflike posisie het hulle tog selfs nou!—Openbaring 7:9-17.
Die onkreukbaarheid van die “groot menigte” word ook op die proef gestel. Hulle volgehoue getrouheid nou en dwarsdeur die Duisendjarige Heerskappy en die finale toets sal daartoe lei dat Jehovah hulle, sowel as die verresenes wat deel van Jesus se “ander skape” word, as volmaakte mense regverdig verklaar. Wanneer hulle dan “vrygemaak [is] van die slawerny van die verganklikheid” sal hulle “die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” geniet (Romeine 8:21). Hulle sal dan, soos oorspronklik die geval met Adam en Eva was, die sigbare deel van Jehovah se universele organisasie uitmaak. Hulle sal volmaakte, intelligente kinders van Jehovah en sy gemalin-organisasie in die hemel wees.