Bybel- glanspunte Die Hooglied van Salomo 1:1–8:14
Ware liefde is seëvierend!
Daar is liefde wat nooit vergaan nie. Dit is standvastig, duursaam, seëvierend. Sulke onwrikbare liefde bestaan tussen Jesus Christus en sy “bruid”, of geesverwekte gemeente (Openbaring 21:2, 9; Efesiërs 5:21-33). En hoe mooi word hierdie liefde tog in die Hooglied van Salomo beskryf!
Hierdie “hooglied” (1:1), wat ongeveer 3 000 jaar gelede deur wyse koning Salomo van Israel gekomponeer is, vertel van die liefde tussen ’n herder en ’n boeremeisie van die dorpie Sunem (Sulam). Die koning kon met al sy rykdom en praal nie die Sulammitiese meisie se liefde win nie, want sy was lojaal teenoor haar beminde herder.
As hierdie poëtiese boek met behoorlike sorg en waardering gelees word, gee dit ongetroude en getroude knegte van Jehovah baie stof tot nadenke ten opsigte van die reinheid, teerheid, lojaliteit en blywende liefde wat kenmerke van Christelike huwelike behoort te wees. Ons almal kan waarlik baat vind by hierdie lied oor die oorwinning van ware liefde.
Die Sulammitiese meisie in Salomo se kamp
Lees asseblief die Hooglied van Salomo 1:1-14. In die koninklike tente het die Sulammitiese meisie gepraat asof haar beminde herder daar was. Salomo het haar skoonheid geprys en het belowe om haar met voorwerpe van goud en silwer te tooi. Maar die meisie het sy toenaderings verwerp en hom laat verstaan dat sy net vir die herder ware liefde het.
◆ 1:2, 3 (NW)—Waarom was hierdie vergelykings met wyn en olie van pas?
Wyn verbly die hart en versterk die terneergedrukte siel (Psalm 104:15; Spreuke 31:6). Salf is op begunstigde gaste uitgegiet weens die strelende eienskappe daarvan (Psalm 23:5; Lukas 7:38). Die bedroefde Sulammitiese meisie is dus versterk en vertroos deur aan die herder se “liefdesbetuiginge” en sy “naam” terug te dink. Hoewel hulle nog in die wêreld is en van hom geskei is, word die oorblyfsel van Christus se gesalfde volgelinge eweneens bemoedig deur oor die liefde en versekeringe van hulle Herder, Jesus Christus, te peins.
Les vir ons: Salomo sou die Sulammitiese meisie met “goue kettinkies” en “silwerknoppe” getooi het, maar sy het hierdie materiële versoekings weerstaan en haar volgehoue liefde vir die herder bevestig (1:11-14). Die “bruid”-klas kan hulle besluit versterk om die wêreld se verleidende materialisme te verag en getrou aan hulle hemelse Bruidegom te bly deur oor haar gesindheid te peins. Mag hierdie meisie se voorbeeld ons beweeg om geestelike in plaas van materiële belange eerste te stel as ons ’n aardse hoop en trouplanne het.
Wedersydse verlange
Lees 1:15–3:5. Die herder het die koninklike kamp binnegegaan en uiting gegee aan sy liefde vir die beskeie Sulammitiese meisie, wat hom bo alle ander geag het. Toe hulle geskei is, het die meisie aan vreugdevolle tye saam met haar beminde teruggedink en gesmeek dat hy hom na haar toe haas. Snags het sy na hom verlang.
◆ 2:1-3—Wat beteken hierdie beeldspraak?
Die Sulammitiese meisie het haarself “’n narsing van Saron” genoem omdat sy ’n nederige, beskeie jong vrou was wat haarself as slegs een van talle alledaagse blomme beskou het. Die herder het egter besef dat sy “’n lelie tussen die dorings” was, want sy was aantreklik, bekwaam en getrou aan Jehovah. Vir die meisie was die herder “soos ’n appelboom onder die bome van die bos”, omdat hy ’n geestelik gesinde jong man was wat eweneens aan God toegewy was en hoogs begeerlike eienskappe en vermoëns gehad het. ’n Ongetroude Christen wat ’n lewensmaat soek, moet net ’n getroue medegelowige oorweeg wat eienskappe soos dié van die Sulammitiese meisie of haar beminde herder het.
◆ 3:5 (NW)—Waarom is dié eed met hierdie diere verbind?
Gaselle en hindes is sagaardige, sierlike en mooi diere wat ook vinnig en vasvoetig is. In wese het die meisie die “dogters van Jerusalem” dus deur alles wat sierlik en mooi is onder eed gestel. Sy het hierdie vroue by hierdie diere onder verpligting gestel om nie te probeer om liefde vir enigiemand behalwe haar beminde herder in haar te wek nie.
Les vir ons: Die meisie het die “dogters van Jerusalem”, of hofvroue wat die koning bedien het, onder eed gestel ‘om nie die liefde in haar te wek voordat dit die liefde behaag nie’ (2:7; 3:5). Dit toon dat dit nie moontlik is om romantiese liefde vir sommer enigiemand te hê nie. Die meisie het self nie tot Salomo aangetrokke gevoel nie. Hoe verstandig is dit dus dat ’n Christen wat aan trou dink net ’n bekwame en getroue aanbidder van Jehovah wat werklik bemin kan word, oorweeg!—1 Korinthiërs 7:39.
Die meisie in Jerusalem
Lees 3:6–6:3. Salomo het met luister na Jerusalem teruggekeer. Die herder het daar met die meisie in aanraking gekom en haar met liefdesbetuiginge versterk. Sy het in ’n droom die klop van haar beminde te laat beantwoord en is deur wagte mishandel toe sy wanhopig na hom gesoek het. Toe sy gevra is wat haar beminde uitsonderlik maak, het sy die “dogters van Jerusalem” ’n vurige beskrywing van hom gegee.
◆ 5:12—Hoe was die herder se oë ‘soos duiwe in melk gewas’?
Vroeër is die Sulammitiese meisie se oë met dié van ’n duif vergelyk omdat dit sag en teer was (1:15; 4:1). Trouens, die herder het die meisie self sy “duif” genoem (5:2). Hier het die smoorverliefde jong vrou die herder se oë vergelyk met blougrys duiwe wat in poele melk bad (5:8, 12). Hierdie vergelyking het waarskynlik geslaan op die herder se donker iris wat deur die spierwit van sy oë omring is.
Les vir ons: Die Sulammitiese meisie was soos “’n geslote tuin” (4:12). ’n Tuin in eertydse Israel was dikwels soos ’n park, ’n ware paradys met ’n goeie waterbron en ’n verskeidenheid groente, blomme en bome. Dit is gewoonlik deur ’n heining of ’n muur omhein en kon net deur ’n gesluite hek binnegegaan word (Jesaja 5:5). Vir die herder was die Sulammitiese meisie se kuisheid en lieflikheid soos ’n tuin met ’n seldsame skoonheid, goeie vrugte, verruklike geure en verfrissende aangenaamheid. Haar liefde was nie vir sommer enige man beskikbaar nie, want sy was rein, soos ‘’n geslote tuin’ wat vir ongenooide indringers gesluit en net vir sy regmatige eienaar oop was. Die Sulammitiese meisie het dus wat sedelike opregtheid en lojaliteit betref ’n goeie voorbeeld gestel vir Christinne van vandag wat nog ongetroud is.
“Die vlam van Jah”
Lees 6:4–8:14. Salomo het die meisie se skoonheid geprys, maar sy het hom verwerp en haar toegewydheid aan die herder verklaar. Salomo, wat nie haar liefde kon win nie, het haar huis toe laat gaan. Sy het, met haar “beminde” aan haar sy, as ’n volwasse vrou wat haar standvastigheid bewys het, na Sunem teruggekeer. Die liefde tussen haar en die herder was so sterk soos die dood, en die vlamme daarvan soos “die vlam van Jah”.
◆ 6:4—Wat was “Tirsa”?
Hierdie uitdrukking wat “Aangenaamheid, Genoeglikheid” beteken, kan as “Aangename Stad” vertaal word. Tirsa was ’n stad, beroemd om sy skoonheid, wat die eerste hoofstad van die noordelike koninkryk van Israel geword het.—1 Konings 14:17; 16:5, 6, 8, 15.
◆ 7:4—Hoe was die meisie se nek “soos ’n ivoortoring”?
Dit het klaarblyklik die gladheid van ivoor en die slankheid van ’n toring gehad. Haar nek is vroeër vergelyk met “die Dawidstoring”, miskien die toring van die Koningshuis langs Jerusalem se oostelike muur. Daaraan het ‘duisend skilde van helde gehang’, wat te kenne gegee het dat die Sulammitiese meisie se statige nek versier was met ’n halssnoer waaraan ronde ornamente of juwele ingeryg was.—4:4; Nehemia 3:25-27.
◆ 8:6, 7—Hoe is liefde “sterk soos die dood”?
Die dood het sonder uitsondering die lewens van sondige mense geëis, en ware liefde is so sterk. Sulke liefde is, wat sy aandrang op uitsluitlike toegewydheid betref, net so onversetlik soos wat Sjeool (die graf) is om die liggame van die afgestorwenes op te eis. Aangesien Jehovah God die vermoë om lief te hê in mense geplaas het, is hierdie eienskap van hom afkomstig en word dit gepas “die vlam van Jah” genoem. Nie eens ryk koning Salomo kon sulke liefde koop nie.
Les vir ons: Die Sulammitiese meisie se ondervinding met koning Salomo was ’n deurtastende toets wat sy met welslae geslaag het. Sy was wat liefde en deugsaamheid betref nie wisselvallig soos ’n deur wat maklik op sy skarniere draai en met ’n sederplank versper moet word om te verhoed dat dit vir ’n ongenooide of onheilsame persoon oopswaai nie. Nee, die meisie het oor die verlokkings van die koning geseëvier en het soos ’n muur teen al die materiële aanloklikhede van hierdie wêreld gestaan. Deur op God te vertrou en die Sulammitiese meisie se goeie voorbeeld in gedagte te hou, kan Christinne vandag eweneens bewys dat hulle individue is wat deugsame beginsels standvastig handhaaf tot lof van Jehovah.—8:8-10.
Hierdie “hooglied”, met liefde as tema, verhoog waarlik ons waardering vir die band wat bestaan tussen Jesus en diegene wat as sy hemelse “bruid” uitverkies is. Maar alle jong manne en vroue, asook getroude mans en vrouens wat aan Jehovah toegewy is, kan daarby baat vind as hulle die onkreukbaarheid van die Sulammitiese meisie en die herder navolg wanneer hulle beproewinge en versoekinge teëkom. En hierdie pragtige gedeelte van God se Woord moet ons almal beweeg om altyd lojaal aan Jehovah, die Bron van seëvierende liefde, te bly.