Sal jy ’n getuie vir die ware God wees?
“Julle is my getuies, spreek [Jehovah], en Ek is God.”—JESAJA 43:12, vgl. NW.
1. Waarom moet ons die ware God eer?
KORT voordat Jesus gesterf het, het hy “sy oë na die hemel opgehef” om te bid. Hy het die Een tot wie hy gebid het as “die enige ware God” aangespreek (Johannes 17:1, 3, NW). Daar kan redelikerwys net een lewende en ware God, die Soewerein van die heelal, die Skepper, wees. Aangesien ons ons bestaan aan die ware God verskuldig is, moet ons hom die eer gee wat hom toekom. Soos Openbaring 4:11 (vgl. NW) dit stel: “U is waardig, o [Jehovah, onse God], om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.”
2. (a) Wat kan ’n mens logieserwys omtrent die ware God glo? (b) Hoe kommunikeer hy met diegene wat hom wil aanbid?
2 Dit sou logies wees om te verwag dat die ware God nie vir ewig die slegte toestande sal duld wat sy aardse skeppings nadelig beïnvloed het nie. En dit sou ook logies wees om te glo dat hy sy aanbidders op die hoogte sou hou van wat hy gaan doen en wat hy wil hê dat hulle moet doen voordat hy sy oordeel voltrek (Amos 3:7). Hoe kommunikeer hy met waarheidsoekers? Hy gebruik gewillige mense as sy woordvoerders. “‘Julle is my getuies’, spreek Jehovah . . . ‘Vóór my is geen God geformeer nie, en na my was daar steeds nie een nie. Ek—ek is Jehovah, en buiten my is daar geen redder nie’” (Jesaja 43:10, 11, NW). Maar hoe kan ’n mens diegene uitken wat die ware God as sy getuies gebruik? Hoe verskil hulle, en hulle boodskap, van aanbidders van ander gode?
’n Uitdaging aan ander gode
3. Watter uitdaging rig Jehovah aan alle ander gode?
3 Jehovah het Jesaja geïnspireer om hierdie uitdaging aan alle ander gode op te teken: “Wie onder hulle [die gode van die nasies en volke] kan dit [akkurate profesie] vertel? Of kan hulle ons selfs die eerste dinge [wat in die toekoms sal gebeur] laat hoor? Laat hulle [as gode] hulle getuies bring, sodat hulle [as gode] regverdig verklaar kan word, of laat hulle [die mense van die nasies] hoor en sê: ‘Dit is die waarheid!’” (Jesaja 43:9, NW). So daag Jehovah al die gode wat deur mense aanbid word uit om te bewys dat hulle gode is. Hulle getuies moet bewyse voorlê dat hulle gode betroubaar is en waardig is om aanbid te word.
4. Hoe weet ons dat die gode van eertydse nasies waardeloos was?
4 Maar wat het daardie gode en hulle aanbidders voortgebring? Het hulle ons tot ware vrede, voorspoed, gesondheid en lewe gelei? Die geskiedenis getuig dat die talle gode van eertydse nasies waardeloos en magteloos was. Hulle kon nie eers as voorwerpe van aanbidding behoue bly nie, want hulle bestaan vandag nie. Die talryke gode van eertydse Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië, Griekeland, die Romeinse Ryk en ander nasies was vals. Hulle bestaan net in geskiedenisboeke of in museums waar beelde van hulle bloot besienswaardighede is.
5. Wat kan ons omtrent die hedendaagse gode vra?
5 Maar is die hedendaagse gode en hulle aanbidders enigsins beter as dié van die ou tyd? Die Hindoe-godsdiens alleen het miljoene gode. Boeddhiste, Katolieke, Confuciane, Jode, Protestante, Sjintoïste, Taoïste en baie ander het hulle eie gode. In Afrika, Asië en elders word die natuurkragte, diere en voorwerpe as gode aanbid. Nasionalisme en materialisme, en selfs die eie ek, het gode geword in die sin dat baie mense hul toewyding allereers daaraan gee. Watter vorm van aanbidding verteenwoordig werklik die een wat sê: “Ek is [Jehovah], en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie”?—Jesaja 45:5, vgl. NW.
“Aan hulle vrugte sal julle hulle ken”
6. Hoe kan ons tussen ware aanbidding en valse aanbidding onderskei?
6 Jesus het ’n betroubare reël vasgestel om te bepaal wat met betrekking tot godsdiens waar of vals is. Hy het gesê: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. . . . elke goeie boom [dra] goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. . . . Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi” (Mattheüs 7:16-19). Ten einde die ware God van valse gode, en ware aanbidders van valse aanbidders, te onderskei, moet ons dus hulle vrugte ondersoek. Is hulle vrugte ‘goed’, of is dit ‘sleg’?
7. Wat vertel die geskiedenis van hierdie eeu ons omtrent hierdie wêreld se godsdienste?
7 Watter van die wêreld se godsdienste het byvoorbeeld oor die hele wêreld ware vrede onder die aanhangers daarvan bewerkstellig? Lede van die ware godsdiens, geestelike broers, moet mekaar sekerlik nie doodmaak nie. Maar honderdmiljoen mense het in die oorloë van hierdie 20ste eeu omgekom, en al daardie oorloë is deur die godsdienste van hierdie wêreld gesteun. Gevolglik het godsdienstige mense ander godsdienstige mense doodgemaak. Hulle het baie dikwels mense van hulle eie godsdiens doodgemaak. Katolieke het Katolieke doodgemaak, Protestante het Protestante doodgemaak, Moslems het Moslems doodgemaak, en diegene van ander godsdienste het dieselfde weg ingeslaan.
8. Wat sê waarnemers omtrent die mislukking van godsdiens in ons tyd?
8 In ’n hoofartikel met die titel “Die geweld wat in God se naam gepleeg word” het Mike Royko, asof hy met God praat, die volgende van hierdie wêreld se godsdienste gesê: “Hulle openbaar hulle toegewydheid aan u deur mekaar by honderde dood te maak. Hulle meen seker maar dat as een kant die ander kant kan uitwis, dit sal beteken dat die manier waarop hulle u aanbid reg is.” Hy het gesê dat hoewel die pous hom as ’n vreedsame man voordoen, “dit bekend is dat sy volgelinge ’n paar miljoen [liters] bloed kan vergiet as hulle kwaad is”. En toe voormalige Amerikaanse president Carter opgemerk het dat ‘die wêreld mal geword het’, het hy gesê: “Blykbaar is sterk godsdiensoortuiging, wat mense in liefde behoort te verenig, dikwels ’n deel van die waansin en moord.”
9. Waarom moet ons nie “waardelose gode” aanhang nie?
9 Sulke slegte vrugte is die teenoorgestelde van wat aanbidders van die ware God moet voortbring (Galasiërs 5:19-23). Diegene wat strydende godsdienste en filosofieë steun, maak dus net so gewis ’n deel van valse aanbidding uit soos die eertydse Egiptenaars, Assiriërs, Babiloniërs en ander wat vertrou het op “waardelose gode wat nie kan praat nie” (Habakuk 2:18, NW). En net soos eertydse, valse godsdiens die vervulling van die ware God se profetiese woord ondergaan het, sal dit ook in ons tyd wees: “Die [waardelose gode] sal geheel en al verdwyn” (Jesaja 2:18, vgl. NW). Sy waarskuwing is betroubaar: “Wend julle nie tot waardelose gode nie.”—Levitikus 19:4, NW.
Wie getuig vir Jehovah?
10. Is die aanhangers van hierdie wêreld se godsdienste getuies vir die ware God?
10 ’n Getuie vir die ware God moet van Hom getuig. Lewer die aanhangers van hierdie wêreld se godsdienste sulke getuienis? Hoe dikwels praat mense van hierdie godsdienste met jou oor hulle aanbidding? Wanneer het hulle jou tuis besoek om van hulle god te getuig? Die uitdaging wat die ware God aan valse gode gerig het om getuies te bring, word veronagsaam. Die mense van hierdie wêreld se godsdienste lewer nie hierdie getuienis nie. Hulle kan jou nie vertel wie die ware God is of wat sy voornemens is nie. Hulle geestelikes het hulle nie die waarheid geleer nie. “Hulle is blinde leiers . . . En as ’n blinde ’n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val.”—Mattheüs 15:14.
11. Alleenlik wie getuig van die naam van die ware God?
11 Wie is bereid om tyd, middele, selfs hulle lewe, op te offer om vir die ware God te getuig? Wie vertel mense dat die ware God sê: “Ek is [Jehovah], dit is my Naam”? (Jesaja 42:8, vgl. NW). Wie leer ander dat “U, wie se Naam [Jehovah] is, alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde”? (Psalm 83:19, vgl. NW). Jesus kon in sy tyd vir die ware God sê: “Ek het u Naam geopenbaar” (Johannes 17:6). In ons tyd kan net Jehovah se Getuies dit sê. Hoe gepas is hulle naam tog—Jehovah se Getuies!
Getuig van die Koninkryk
12. Watter lewensbelangrike leer moet ware Getuies aan ander verkondig?
12 Wat in die besonder sal die ware God se getuies omtrent sy voornemens sê, buiten die feit dat hulle sy naam bekend maak? Jesus het die voorbeeld gestel deur sy volgelinge te leer om soos volg tot die ware God te bid: “Laat u koninkryk kom” (Mattheüs 6:10). God se hemelse Koninkryk is die regering wat uiteindelik oor die hele aarde gaan regeer (Daniël 2:44). Dit was die tema van Jesus se leer (Mattheüs 4:23). Omdat die Koninkryk die enigste oplossing vir die mensdom se probleme is, het hy gemaan: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid.”—Mattheüs 6:33.
13. (a) Wat toon die feite aangaande Jehovah se Getuies se verkondiging van God se Koninkryk? (b) Hoe is die verkondiging van die Koninkryk ’n bewys dat Jehovah die enigste God van ware profesie is?
13 Wie getuig vandag van God se Koninkryk? Professor C. S. Braden, ’n toegewyde student van die wêreld se godsdienste, het gesê: “Jehovah se Getuies het die aarde letterlik met hulle getuieniswerk oordek. . . . Daar kan werklik gesê word dat geen enkele godsdiensgroep in die wêreld meer ywer en volharding as Jehovah se Getuies getoon het in hulle poging om die goeie nuus van die Koninkryk te versprei nie.” Maar hy het dit nagenoeg 40 jaar gelede geskryf! Vandag word ’n veel groter Koninkryksgetuienis gegee, want daar is nou meer as tien keer soveel Getuies! Sowat drie-en-’n-halfmiljoen Getuies, in meer as 54 900 gemeentes oor die hele aarde, getuig van die Koninkryk, en hulle getalle neem vinnig toe. Hierdie goeie vrugte is ’n bewys dat Jehovah die God van ware profesie is. Dit was hy wat sy Seun, Jesus, geïnspireer het om aangaande ons tyd te voorspel: “Hierdie evangelie [“goeie nuus”, NW] van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Mattheüs 24:14; Johannes 8:28.
Volg God se liefde na
14. Watter eienskap moet God se ware getuies aan die dag lê, en wat beteken dit as hulle dit nie doen nie?
14 Die ware getuies van God moet sy vernaamste eienskap—liefde—aan die dag lê. “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde” (1 Johannes 4:8). Trouens, “hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie. . . . Ons [moet] mekaar . . . liefhê; nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie.”—1 Johannes 3:10-12.
15. Waarom kan ons sê dat Jehovah se Getuies ware liefde openbaar?
15 Net Jehovah se Getuies het daardie soort liefde. Hulle onderwerp hulle nie aan die gode van oorlog, nasionalisme en rassisme nie. Hulle ondersteun geen oorloë van hierdie wêreld nie en bevind hulle dus nooit in ’n situasie waar hulle die moord van hulle geestelike broers in ander wêrelddele sou steun nie. Hulle is, soos Jesus gesê het, “geen deel van die wêreld” nie, en hulle het ‘die swaard neergelê’.—Johannes 17:14, NW; Mattheüs 26:52.
16. Hoe help ander om die ware getuies van God te identifiseer?
16 ’n Studie met die titel “Meer omtrent die regverdiging van geweld” het gesê: “Jehovah se Getuies [het] konsekwent hulle standpunt van nie-gewelddadige ‘Christelike neutraliteit’ . . . gehandhaaf. Hulle volgehoue standpunt teen landsdiens van enige aard, hetsy militaristies of burgerlik, en hulle weiering om volksimbole te vereer, het gelei tot tydperke van vervolging, gevangesetting en gepeupeloptrede in talle lande . . . Die Getuies het dit egter nooit met geweld beantwoord nie.” Die Brasiliaanse koerant O Tempo het van hulle gesê: “Hoewel daar in alle wêrelddele talle indrukwekkende godsdienste met hulle propaganda is, bestaan daar vandag nie ’n enkele godsdiens op aarde wat dieselfde liefde openbaar nie.” Jesus het gesê dat hierdie opregte liefde die ware getuies van God identifiseer. “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:35.
Vervolging vergroot die getuienis
17, 18. Watter onlangse voorbeeld toon hoe vervolging die Koninkryksgetuienis kan vergroot?
17 Vervolging kan selfs tot ’n omvattender Koninkryksgetuienis lei. In Indië is daar byvoorbeeld net sowat 8 000 getuies van Jehovah. Maar Jehovah se naam en voornemens het onlangs baie publisiteit in daardie land geniet as gevolg van 11 Getuie-kinders se handelwyse in navolging van eerste-eeuse Christene wat vir ’n hof gesê het: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Handelinge 5:29). Die Indiese kinders is uit die skool gesit omdat hulle nie die volkslied gesing het nie. Maar Indië se Hooggeregshof het beslis, soos in die Deccan Herald van Bangalore berig is, dat “daar geen verpligting in hierdie land is om die Volkslied te sing nie”. Die Hof het daarop gewys dat die kinders “gepaste eerbied getoon het” en dat die feit dat hulle nie gesing het nie “geensins op verset neergekom het nie”. Die Hof het beveel dat die kinders weer tot die skool toegelaat word.
18 Dieselfde koerant het ook gesê: “Hierdie kinders het geweier om die Volkslied te sing omdat Jehovah se Getuies hulleself as Christene beskou wat volkome aan die Koninkryk van God toegewy is. . . . Hulle neem derhalwe aan geen politieke bedrywigheid van die Staat deel nie.” En The Telegraph van Kalkutta het berig: “Die skoliere se optrede het ook . . . Jehovah se Getuies, wat tot onlangs in ons land grotendeels onbekend was, . . . op die voorgrond gebring.” Ja, ‘hierdie goeie nuus van die koninkryk sal verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies’ voordat die einde kom.—Mattheüs 24:14, vgl. NW.
Die insameling van getuies vir die ware God
19. Wat moet regskapenes doen as hulle die ware God wil aanbid?
19 Die ware God, Jehovah, laat sy volk vandag van sy soewereiniteit en voornemens getuig. Namate hulle sy boodskap al hoe kragtiger verkondig, versamel hy al hoe meer regskapenes uit alle nasies om met sy aanbidders om te gaan (Jesaja 2:2-4). Hulle verlaat hulle valse gode en wend hulle tot die aanbidding van die ware God, net soos diegene wat Jehovah wou aanbid, bevry is uit gevangenskap in eertydse Babilon, waar die aanbidding van valse gode aan die orde van die dag was.—Jesaja 43:14.
20, 21. Waarom is dit dringend om valse gode nou te verlaat en nie bloot toeskouers te wees nie?
20 Sal jy ’n getuie vir die ware God wees? Sal jy jou standpunt vir ware aanbidding inneem en voorkom dat jy die bloedskuld en morele strafbaarheid van hierdie wêreld en sy valse gode deel? God se Woord spoor ons aan: “Gaan uit haar [Babiloniese valse aanbidding] uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:4). Ja, “gaan uit”, tree handelend op voordat dit te laat is! Moenie soos die man wees wat soos volg geantwoord het toe ’n Katolieke tydskrif hom sy godsdiensvoorkeur gevra het nie: “Ek is seker maar ’n Jehovahstoeskouer. Ek glo min of meer wat Jehovah se Getuies glo—maar ek wil nie betrokke raak nie.”
21 Elke persoon op aarde sal egter binnekort daarby betrokke wees wanneer Jehovah die valse gode van hierdie wêreld en hulle aanbidders teregstel: “Die gode wat die hemel en die aarde nie gemaak het nie, sal vergaan van die aarde af en onder hierdie hemel uit” (Jeremia 10:11). Dan sal daar geen toeskouers wees nie. Daar sal net diegene wees wat getuies vir die ware God is en diegene wat nie is nie (Mattheüs 24:37-39; 2 Petrus 2:5; Openbaring 7:9-15). Sal jy ’n getuie vir die ware God wees? Jy behoort te wees, want “die ware God is vir ons ’n God van reddingsdade; en aan Jehovah, die Soewereine Heer, behoort die weë wat uit die dood lei”.—Psalm 68:20, NW.
Hersieningsvrae
◻ Watter uitdaging rig die ware God aan valse gode?
◻ Met behulp van watter betroubare reël kan ons tussen ware aanbidding en valse aanbidding onderskei?
◻ Watter vrugte toon dat die gode van hierdie wêreld net so waardeloos soos eertydse gode is?
◻ Watter goeie vrugte moet getuies van die ware God voortbring, en wie openbaar dit?
◻ Waarom is dit dringend om nou handelend op te tree om valse aanbidding te laat vaar?
[Prente op bladsy 16]
Die waardelose gode van eertydse nasies bestaan nie meer as voorwerpe van aanbidding nie
[Prent op bladsy 17]
In ons eeu het ongeveer honderdmiljoen mense omgekom in oorloë wat deur die godsdienste van hierdie wêreld ondersteun is
[Erkenning]
Foto van die Amerikaanse Weermag
[Prent op bladsy 18]
Jesus het gesê dat ware getuies geken sou word aan die liefde wat hulle onder mekaar het