Jesus se lewe en bediening
Die opstandingshoop
JESUS kom uiteindelik in die buitewyke van Betanië, ’n dorp ongeveer drie kilometer van Jerusalem af, aan. Dit is slegs ’n paar dae sedert Lasarus se dood en begrafnis. Sy susters Maria en Martha treur nog en baie het na hulle huis gekom om hulle te troos.
Terwyl hulle rou, vertel iemand vir Martha dat Jesus op pad is. Sy gaan dus uit en gaan hom haastig tegemoet, blykbaar sonder om haar suster te vertel. Toe sy by Jesus kom, herhaal Martha wat sy en haar suster dikwels gedurende die afgelope vier dae moes gesê het: “Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie.”
Martha spreek egter hoop uit en gee te kenne dat Jesus moontlik nog iets vir haar broer kan doen. “Maar selfs nou weet ek dat alles wat U van God vra, God U sal gee”, sê sy.
“Jou broer sal opstaan”, belowe Jesus.
Martha neem aan dat Jesus van ’n toekomstige aardse opstanding praat, iets waarna Abraham en ander knegte van God ook uitgesien het. Sy antwoord dus: “Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag.”
Maar Jesus gee hoop vir onmiddellike verligting deur te antwoord: “Ek is die opstanding en die lewe.” Hy herinner Martha daaraan dat God hom mag oor die dood gegee het en sê: “Wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.”
Jesus gee nie aan Martha te kenne dat getroue persone wat op daardie tydstip lewe nooit sal sterf nie. Nee, maar die punt wat hy stel, is dat die beoefening van geloof in hom tot ewige lewe kan lei. Die meeste mense sal sodanige lewe geniet omdat hulle in die laaste dag opgewek sal word. Maar ander wat getrou is, sal die einde van hierdie stelsel van dinge op aarde oorlewe, en vir hulle sal Jesus se woorde in ’n baie letterlike sin geld. Hulle sal nooit sterf nie! Na hierdie merkwaardige verklaring vra Jesus vir Martha: “Glo jy dit?”
“Ja, Here”, antwoord sy. “Ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom.”
Martha haas haar dan terug om haar suster te roep en sê stilletjies vir haar: “Die Meester is hier en Hy roep jou.” Maria verlaat dadelik die huis. Toe ander haar sien gaan, volg hulle haar in die veronderstelling dat sy na die graf gaan.
Toe Maria by Jesus kom, val sy huilend aan sy voete neer. “Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie”, sê sy. Jesus is diep ontroer toe hy sien dat Maria en die skare wat haar volg, huil. “Waar het julle hom neergelê?” vra hy.
“Here, kom kyk”, antwoord hulle.
Jesus begin huil, en dit laat die Jode sê: “Kyk, hoe lief Hy hom gehad het!”
Sommige onthou dat Jesus tydens die Huttefees ’n paar maande vroeër ’n jong man wat blind gebore was gesond gemaak het, en hulle vra: “Kon Hy wat die oë van die blinde man geopen het, nie maak dat hierdie man ook nie gesterf het nie?” Johannes 5:21; 6:40; 9:1-7; 11:17-37.
◆ Wanneer kom Jesus uiteindelik naby Betanië aan, en wat is die situasie aldaar?
◆ Watter grondslag het Martha vir geloof in ’n opstanding?
◆ Hoe raak Lasarus se dood Jesus?