Die herstelde Paradys verheerlik God
“Ek sal die plek van my voete heerlik maak.”—JESAJA 60:13.
1, 2. (a) Wat het God deur sy profeet Jesaja aangaande die aarde voorspel? (b) Wat sien ons as ons duisend jaar in die toekoms in kyk?
JEHOVAH het die aarde as ’n planeet onder sy voete, as sy figuurlike voetbank, geskep. God het deur sy profeet Jesaja voorspel dat hy ‘die plek van sy voete heerlik sou maak’ (Jesaja 60:13). Met behulp van die geïnspireerde Bybel kan ons, asof met ’n sterk teleskoop, duisend jaar in die mens se toekoms in kyk. Wat ’n verruklike gesig sien ons tog nie! Die hele aarde gloei van die vlekkelose skoonheid wat deur die grootste Tuinier in die heelal voortgebring is. Die Paradys sal oor die hele aarde vir die mensdom herstel wees!
2 Ja, die goddelike Opperwese wat die mens in ’n tuinparadys geskep het, dra die mens se grootste geluk op die hart. Wat ’n liefdevolle Skepper het die mens tog nie, van wie ’n mens sonder oordrywing kan sê: “God is liefde”! (1 Johannes 4:8, 16). In die herstelde Paradys lewe volwasse mans en vroue in vlekkelose mensevolmaaktheid as liefdevolle broers en susters saam (Jesaja 9:5). Omdat hulle deur liefde beweeg word, is hulle volmaak onderworpe aan die glorieryke Skepper van hemel en aarde, Jehovah God.
3, 4. (a) In watter opsig sal die hemel en die aarde ooreenstem? (b) Hoe sal die engele reageer wanneer die Paradys op die aarde herstel word?
3 Duisende jare vantevore het God, in ’n goddelik geïnspireerde beskrywing van sy ryk, hierdie indrukwekkende woorde aan sy uitverkore volk gerig: “Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete” (Jesaja 66:1). Die skitterende heerlikheid van sy “voetbank”, die Paradysaarde, moet gepas ooreenstem met die heerlikheid van sy troon in die onsigbare hoogtes.
4 Toe die aarde geskep is, het diegene wat by God se troon in die hemelse ryk diens gedoen het na die aardse toneel onder hulle gekyk. Hulle moes in vervoering gewees het toe hulle die pragtige glans daarvan aanskou het! Hoe kon hulle anders as om spontaan te begin sing? (Vergelyk Sefanja 3:17; Psalm 100:2.) Die tevrede en gelukkige Skepper het sy aardse skrywer geïnspireer om ’n juiste beskrywing van die hemelse toneel te gee deur te sê: ‘Die môresterre het saam gejubel en al die seuns van God het gejuig’ (Job 38:7). Hoeveel te meer sal die engeleseuns van God tog tot Sy heerlikheid jubel wanneer die Paradys herstel is!
5. Hoe moet ons die verwesenliking van God se oorspronklike voorneme ten opsigte van die aarde beskou?
5 Dit is inderdaad verblydend vir ons om deur die geïnspireerde Heilige Skrif verseker te word dat dit reg van die begin af Jehovah God se doel was om ’n paradysaarde te bewerkstellig. Hierdie vreugdevolle, loflike hoogtepunt van God se voorneme met hierdie aarde is wat ons tereg kan verwag van ’n God wat al hoe roemryker word en nooit versuim om sy voortreflikheid te toon nie. Alle lof kom hom toe!—Psalm 150:1, 2; Jesaja 45:18; Openbaring 21:3-5.
Verresenes help om die Paradys te herstel
6. Hoe sal die aarde ná Armageddon bevolk word?
6 Hoewel daar betreklik min Armageddonoorlewendes sal wees, sal die aarde nie uitsluitlik deur natuurlike aanwas gevul word nie. Jehovah sal ook ‘die plek van sy voete heerlik maak’ deur diegene wat in die gedenkgrafte is en wat die voordele van Christus se losprysoffer kan ontvang op te wek. Hulle sal op hulle beurt die voorreg hê om deel te neem aan die aangename werk om ons aardbol in ’n weergaloos pragtige paradys te omskep.—Handelinge 24:15.
7. Watter woorde van Jesus sal die Armageddonoorlewendes in gedagte hou?
7 Die Armageddonoorlewendes sal altyd die Here Jesus Christus se aangrypende woorde in gedagte hou toe hy beweeg is om te sê: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die [gedenkgrafte] is, sy stem sal hoor en sal uitgaan” (Johannes 5:28, 29, vgl. NW). Hoe wonderlik sal dit tog wees wanneer die dooie mense in hul gedenkgrafte die stem van die Seun van God woorde hoor sê soortgelyk aan dié wat tot Lasarus gerig is, wie se lyk in die graf in Betanië gelê het: “Lasarus, kom uit!”—Johannes 11:43.
8, 9. Wie sal waarskynlik die eerstes wees wat tot hernieude lewe op aarde opgewek word, en waarom sal dit vir Armageddonoorlewendes aangenaam wees?
8 Wie sal waarskynlik die eerstes wees wat tot hernieude lewe op aarde onder Jesus Christus se Duisendjarige Heerskappy opgewek sal word wanneer hulle sy bevel gehoorsaam om op te staan? Dit sal redelikerwys die “ander skape” wees wat gedurende die laaste dae voor die einde van hierdie stelsel van dinge gesterf het. Hulle sal ’n vroeër opstanding ontvang (Johannes 10:16). Hulle sal waarskynlik die minste sukkel om hulle by die nuwe wêreld aan te pas.—Vergelyk Mattheüs 25:34; Johannes 6:53, 54.
9 Hoe aangenaam sal dit tog vir Armageddonoorlewendes wees om te sien hoe die “ander skape” wat gedurende die geslag voor die “groot verdrukking” gesterf het, opgewek word! (Mattheüs 24:21). Die Armageddonoorlewendes sal hulle met helder herkenningsvermoë identifiseer, hulle verwelkom en saam met hulle hul verenigde diens aan die Allerhoogste God hervat!
10. Wat sal jy dalk sien as jy Armageddon oorleef?
10 As jy een van die Armageddonoorlewendes is, sal jy dalk sien hoe die eerste van jou aardse familielede opgewek word. Hoe kan die emosionele uitwerking wat dit op jou sal hê enigsins anders wees as dié op die ouers wat gesien het hoe die Here Jesus hulle 12-jarige dogter lewend in hulle smagtende arms terugbesorg? “Hulle was onmiddellik buite hulleself in groot verrukking” (Markus 5:42, NW). Ja, jy sal inderdaad onbeskryflik bly wees wanneer die dode uit Hades en die see opgewek word (Openbaring 20:13, vgl. NW). O, watter glorieryke toekoms sal dit wees, ’n toekoms wat ophande is!
‘Vorste op die hele aarde’
11, 12. (a) Wat beklemtoon Psalm 45:17? (b) Uit watter groepe kan die Koning, Jesus Christus, “vorste op die hele aarde” aanstel?
11 Deur die uitoefening van sy vermoë om die dooie mense vir wie hy sy volmaakte menselewe as ’n losprysoffer gegee het op te wek, sal Jesus Psalm 45:17 kan vervul. Hierdie psalm word profeties tot Jesus Christus as die aangestelde Koning gerig: “In die plek van u [aardse] vaders sal u seuns wees; U sal hulle aanstel as vorste in die hele land [“aarde”, NW].” Hierdie psalm beklemtoon die feit dat Jesus Christus ’n hemelse vader van kinders hier op die aarde sal word en dat hy seuns onder hulle as ‘vorste op die hele aarde’ sal aanstel. As die “seun van Dawid” en as die eersgebore seun van die Judese maagd Maria het Jesus aardse, menslike voorvaders gehad wat tot by die eerste vader, Adam, teruggestrek het.—Lukas 3:23-38.
12 Sê Psalm 45:17 dat dié wat vroeër Jesus se natuurlike voorvaders was sy seuns sal word omdat hy hulle uit die dode opwek? Ja. Sê Psalm 45:17 ook dat Jesus hulle, uit agting vir sy afstamming van hulle, spesiale koninklike voorkeur sal gee en alleenlik húlle as ‘vorste op die hele Paradysaarde’ sal aanstel? Nee. As die profesie só vervul word, sal daar net ’n beperkte aantal “vorste” op die hele aarde wees. Daarbenewens was nie al sy voorvaders so uitsonderlik dat hulle verdien om gedurende sy Duisendjarige Heerskappy besonder vernaam op aarde te wees nie. Die Koning, Jesus Christus, sal ontelbaar meer as sy aardse voorvaders hê om as “vorste” aan te stel—bekwame Armageddonoorlewendes en van die verrese “ander skape”, waaronder die voor-Christelike geloofsmanne. Hy kan bekwame, verdienstelike persone uit hierdie groepe aanstel om as sy aardse verteenwoordigers ’n vorstelike amp te beklee.
13, 14. Die Armageddonoorlewendes sal die voorreg hê om watter verresenes met hulle eie oë te sien?
13 Dink aan sulke persone wat in aanmerking kom vir ’n opstanding onder die Messiaanse Koninkryk. Kyk! Kan ons ons oë glo? Daar is Abel, die eerste mensemartelaar, en Henog, wat met die ware God gewandel het. Daar is Noag, die arkbouer, ook. Daar is Abraham, Isak en Jakob, voorvaders van die nasie Israel. Daar is Moses (uit die priesterlike stam van Levi) en Dawid, met wie die ewige verbond vir die Koninkryk gesluit is. En daar is Jesaja, Jeremia, Esegiël, Daniël en al die ander Hebreeuse profete wat die Bybel geskryf het, tot die laaste profeet Maleagi, en natuurlik Johannes die Doper en ook Josef, Jesus se pleegvader.
14 Jesus het by een geleentheid vir die Jode gesê dat hulle “Abraham en Isak en Jakob en al die profete in die koninkryk van God sal sien, maar [hulle] self uitgedryf [sou word] buitentoe” (Lukas 13:28). Die “groot menigte” aardse oorlewendes van “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” sal die voorreg hê om die verrese “Abraham en Isak en Jakob en al die profete” letterlik hier op die Paradysaarde en in koninklike diens onder die Koninkryk van God in die hande van die “Ewige Vader”, Jesus Christus, te sien.—Openbaring 7:9, 14; 16:14; Jesaja 9:5.
15. Watter onvergelyklike voorreg lê vir die Armageddonoorlewendes voor?
15 Dink net hoe aangrypend dit sal wees vir julle wat die einde van hierdie huidige, bose wêreld sal oorleef om indrukke te wissel met Noag en sy gesin, ‘agt siele’, wat die einde van die eerste wêreld tydens die wêreldwye sondvloed in 2370 v.G.J. oorleef het! Tot in alle ewigheid sal niemand anders dieselfde ondervindinge as julle gehad het en dus in hierdie merkwaardige, eenmalige opsig as ’n Getuie van Jehovah God kan dien nie.—1 Petrus 3:20; Markus 13:19; 2 Petrus 3:5-7.
’n Simpatieke kwaaddoener word onthou
16, 17. (a) Watter voorreg sal die Armageddonoorlewendes en ander wat dan lewe te beurt val wanneer Jesus die simpatieke kwaaddoener onthou? (b) Watter hoop word aangaande die verrese kwaaddoener gekoester?
16 Teen daardie tyd sal die herstelling van die Paradys op aarde ongetwyfeld al heelwat gevorder het. Die kwaaddoener wat op Kalvarie langs Jesus aan ’n paal genael is en wat ter erkenning van die teken bokant Sy kop gesê het: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom”, sal tot aardse lewe in die herstelde Paradys opgewek word (Lukas 23:42). Die Armageddonoorlewendes en die ander wat dan lewe, sal die voorreg hê om hom uit die dode te verwelkom. Hulle sal hom alles leer van die tans regerende Koning, Jesus Christus, met wie hy op 14 Nisan 33 G.J. diep meegevoel gehad het.
17 Die Here Jesus Christus sal nie versuim om hom op die een of ander tyd gedurende Sy duisendjarige heerskappy te onthou nie. Daardie simpatieke, verrese kwaaddoener sal ongetwyfeld sy waardering toon vir die regerende Koning, Jesus Christus, aan wie hy sy opstanding te danke het, deur aan die Universele Soewerein, Jehovah God, getrou te wees. Dan sal hy waardig geag word om tot in alle ewigheid saam met die res van die herstelde, gehoorsame mensdom in die Paradysagtige nuwe wêreld te lewe.
Die lewe in die aardomvattende, herstelde tuin van Eden
18. Beskryf die lewe in die herstelde Paradys.
18 In die herstelde Paradys is almal vriende. Die bande van die wêreldwye gesinsverwantskap raak elke persoon baie diep. Almal verstaan mekaar. Hulle praat ’n gemeenskaplike wêreldtaal. Dit is waarskynlik die mensdom se oorspronklike taal, wat deur almal op aarde gepraat is gedurende die eerste 1 800 jaar van die mens se bestaan—van Adam se skepping in 4026 v.G.J. tot in Peleg se dag (2269 tot 2030 v.G.J.), want “in sy dae het die aardbewoners verdeeld geraak” (Genesis 10:25; 11:1). Almal geniet die voorreg om te lewe en begroet elke nuwe dag met dankbaarheid vir nog ’n lewensdag. Hulle gesondheid word nie slegter met verloop van tyd nie. Hulle liggaamlike krag neem toe, en hul liggame gaan nie agteruit nie.—Vergelyk Job 33:25.
19. Wat sal gebeur met diegene wat voorheen gestrem was?
19 En kyk! Diegene wat vroeër kreupel was, loop, ja, hulle huppel van vreugde. Verlore arms en bene is wonderdadig herstel. Dié wat blind was, sien, die dowes hoor, die stommes praat en sing van loutere vreugde. (Vergelyk Jesaja 35:5, 6.) Onooglikhede van die menslike gestalte en postuur, verdwyn. Menslike manlikheid is in pragtige ewewig met menslike vroulikheid (Genesis 2:18). Mensevolmaaktheid verheerlik Jehovah God, die Skepper van die menseliggaam.
20. Wat sal geld ten opsigte van die natuurkragte, voedselvoorraad, die diereskepping en die gebruik van die aarde?
20 Die hele aarde is besig om ’n aardomvattende pragstuk te word. Uit geen deel van die aarde is daar ’n verslag van droogte of nadelige reënbuie of verwoestende siklone, orkane, tifone en tornado’s nie. (Vergelyk Markus 4:37-41.) Al die natuurkragte word in volmaakte ewewig gebring sodat die hele aarde ’n wonderskone woonplek kan wees. Daar is nêrens ’n gebrek aan voedsel nie, want die aarde lewer sy volle opbrengs (Psalm 72:16). Daar is wêreldwyd vir mens sowel as dier vrede en veiligheid, net soos Jehovah sê: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie.” (Jesaja 11:9; kyk ook verse 6-8.) Sodoende sal die aarde omskep word in ’n verruklike tuiste waarin ’n mens Jehovah God, die Skepper en Besitter van die aarde, kan aanbid en dien. Aangesien die aarde op grond van skeppingsreg sy eiendom is, is dit net reg dat dit gebruik moet word op ’n manier wat hom behaag en wat hom verheerlik.—Vergelyk Jesaja 35:1, 2, 6, 7.
21. Hoe sal die vrygekoopte mensdom alles op die aarde beskou, en watter musiek sal gehoor word?
21 Alles op aarde is verkwikkend nuut vir die vrygekoopte mense wat nooit in die Paradystuin van Eden was waar menselewe in pragtige volmaaktheid begin het nie! (Openbaring 21:5). Watter pragtige instrumentale en sangmusiek sal dan gehoor word—alles tot lof van Jehovah!—1 Kronieke 23:4, 5; Psalm 150:3-6.
22. Hoe sal dit voel om in die paradysagtige nuwe wêreld te lewe?
22 Hoe wonderlik sal dit tog wees om te lewe op ’n aarde waar mense lewe in oorvloed geniet en waar al die stadiums van die sterfproses, die gevolg van die oorspronklike sonde van Adam, uit die weg geruim sal wees! (Vergelyk Johannes 10:10.) Ja, dit sal ’n aarde wees waarin elke goedgekeurde menseskepsel die beeld en gelykenis van Jehovah God, waarna die eerste mens Adam geskep is, weerspieël! (Genesis 1:26, 27). Die aarde sal dan nie meer ’n onooglikheid vir die serafs, vir die gerubs en vir die stralende engele van die hemel wees nie. Wanneer hulle met groot liefde na die aarde kyk en uit die hemel sien hoe dit met paradysagtige prag verfraai is, sal hulle lof en dank betuig aan Jehovah, die Universele Soewerein—wie se aangesig hulle die voorreg het om direk te aanskou.—Mattheüs 18:10.
’n Gelukkige, eindelose toekoms
23. Wat sal moontlik aangaande die gesalfde Christene bekendgemaak word, en hoe sal dit die bewoners van die aardse Paradys raak?
23 Dit is moontlik en waarskynlik dat die name van al die gesalfde Christene wat hulle “roeping en verkiesing” tot die hemelse Koninkryk seker gemaak het en met hierdie verhewe opstanding geseën is eendag in die toekoms volledig ter inligting van die mensegesin in hulle aardse Paradys gepubliseer sal word (2 Petrus 1:10; Psalm 87:5, 6). Die 144 000 geesverwekte dissipels van Jesus Christus se afwesigheid van die aardse Paradys sal dus ten volle verstaan word, sodat almal tevrede sal wees en hulle heelhartig oor hulle en saam met hulle sal verheug.
24. (a) Wat sal Jehovah ten opsigte van sy “voetbank” bewerkstellig het? (b) Hoe weet ons dat die nuwe wêreld nooit sal eindig nie, en watter profetiese lied sal vervul word?
24 Die eindelose toekoms sal gelukkig wees vir almal wat onverbreekbare toegewydheid aan Jehovah, die ideale Soewerein van die heelal, handhaaf. Die gevulde Paradysaarde sal ’n gepaste, ’n verdienstelike, “voetbank” wees waarop God se voete figuurlik kan rus. Ja, Jehovah sal ‘die plek van sy voete’ vir alle ewigheid verheerlik het, en die hele mensdom sal onversetlik aan hom onderworpe wees! (Mattheüs 5:34, 35; Handelinge 7:49). Die nuwe wêreld sal ’n wêreld sonder einde wees, want “aan die oorvloed van die vorstelike heerskappy en aan vrede sal daar geen einde wees nie” (Jesaja 9:7, NW). Dan sal die profetiese lied wat die hemelse engele in 2 v.G.J. ten tyde van Jesus se geboorte in Betlehem van Judea gesing het, vervul word: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ’n welbehae.”—Lukas 2:13, 14.
25. (a) Wat waardeer die lede van die “groot menigte” “ander skape” nou? (b) Wat moet ons hartgrondige begeerte wees?
25 Die lede van die “groot menigte” van die Goeie Herder se “ander skape” waardeer die aangrypende belofte van ’n herstelde Paradys. Dit is hulle voorreg om tans met God se organisasie om te gaan en ywerig deel te neem aan die werk wat deur die Here Jesus Christus voorspel is, naamlik die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk in die hele bewoonde aarde as die finale getuienis (Mattheüs 24:14; Markus 13:10). Ons opregte, hartgrondige begeerte as Jehovah se Getuies is om ons onkreukbaarheid tot in alle ewigheid onbeklad te handhaaf, tot die ewige heerlikheid en regverdiging van die Universele Soewerein, Jehovah God, en onder die koninklike heerskappy van sy eniggebore Seun, Jesus Christus. “Halleluja!”—Openbaring 19:1, 3, 4, 6; Spreuke 10:9.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Watter belofte het Jehovah aangaande sy figuurlike voetbank, die aarde, gedoen?
◻ Wie sal help om die Paradys te herstel?
◻ Uit watter groepe sal die Koning, Jesus Christus, “vorste op die hele aarde” aanstel?
◻ Watter aangrypende ondervinding sal jy dalk hê wanneer die opstanding plaasvind?
◻ Watter toekoms lê voor vir diegene wat onverbreekbare toegewydheid aan Jehovah handhaaf?