Jesus se lewe en bediening
Bediening by die tempel voltooi
JESUS is vir die laaste maal by die tempel. Trouens, hy sluit sy openbare bediening op aarde af buiten die gebeure wat oor drie dae tydens sy verhoor en teregstelling sal plaasvind. Hy sit nou sy veroordeling van die skrifgeleerdes en die Fariseërs voort.
Hy sê nog drie maal: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes.” Hy spreek eerstens wee oor hulle uit, want hulle maak “die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid”. Hy vermaan dus: “Maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word.”
Daarna spreek hy wee oor die skrifgeleerdes en die Fariseërs uit omdat hulle innerlik verrot en bedorwe is en dit agter uiterlike vroomheid probeer verberg. “Julle is net soos gewitte grafte”, sê hy, “wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is.”
Hulle geveinsdheid blyk ten laaste uit hulle gewilligheid om grafte vir die profete te bou en dit te versier om die aandag op hulle eie liefdediens te vestig. Maar hulle is, soos Jesus sê, die “kinders . . . van die wat die profete vermoor het”. Ja, enigeen wat hulle geveinsdheid durf ontbloot, verkeer in gevaar!
Vervolgens spreek Jesus sy sterkste woorde van veroordeling uit. “Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel [“Gehenna”, NW] ontvlug?” Gehenna is die vallei wat as Jerusalem se vullishoop gebruik is. Jesus sê dus dat die skrifgeleerdes en die Fariseërs ewige vernietiging sal ondergaan weens hulle bose lewenswandel.
Jesus sê aangaande diegene wat hy as sy verteenwoordigers uitstuur: “Julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaria, die seun van Beregja [wat in 2 Kronieke Jojada genoem word], wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom.”
Omdat Sagaria Israel se leiers moedig berispe het, het hulle ‘’n sameswering teen hom gesmee en hom op bevel van die koning in die voorhof van die huis van die HERE gestenig’. Maar Jesus voorspel dat Israel vir al sulke regverdige bloed wat vergiet is, sal boet. Hulle boet 37 jaar later, in 70 G.J., wanneer die Romeinse leër Jerusalem vernietig en meer as ’n miljoen Jode sterf.
Jesus is ontsteld as hy oor hierdie skrikwekkende situasie dink. “Jerusalem, Jerusalem”, verklaar hy weer eens, “hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ’n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!”
Jesus voeg dan by: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” Dit sal met Christus se teenwoordigheid wees wanneer hy sy hemelse Koninkryk ontvang en mense hom met oë van die geloof sien.
Jesus gaan nou na ’n plek waar hy die skatkiste in die tempel en die mense wat geld daarin gooi, kan sien. Die rykes gooi baie geldstukke daarin. Maar dan kom ’n arm weduwee en gooi twee klein geldstukkies van baie min waarde in.
Jesus roep sy dissipels nader en sê: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het.” Hulle wonder seker hoe dit moontlik kan wees. Jesus verduidelik dus: “Hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi; maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.” Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, verlaat hy die tempel vir die laaste maal.
Sy dissipels verwonder hulle oor die grootte en prag van die tempel en roep uit: “Meester, kyk watter klippe en watter geboue!” Ja, die klippe is na wat berig word byna 11 meter lank, amper 5 meter wyd en meer as 3 meter hoog!
“Sien jy hierdie groot geboue?” antwoord Jesus. “Daar sal sekerlik nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie!”
Nadat hy hierdie dinge gesê het, steek Jesus en sy apostels die Kidronvallei oor en klim hulle die Olyfberg. Daarvandaan kan hulle op die pragtige tempel afkyk. Mattheüs 23:25–24:3; Markus 12:41–13:3; Lukas 21:1-6; 2 Kronieke 24:20-22.
◆ Wat doen Jesus tydens sy laaste besoek aan die tempel?
◆ Waaruit blyk die geveinsdheid van die skrifgeleerdes en die Fariseërs?
◆ Wat beteken “die oordeel van Gehenna”?
◆ Waarom sê Jesus dat die weduwee meer as die rykes bygedra het?