Wie sal die mensdom na vrede lei?
BETEKEN die feit dat mense nie vrede kan bring nie dat ons nooit vrede sal sien nie? Nee. Net soos Satan, wat magtiger as ons is, die primêre struikelblok vir vrede op aarde is, so is daar Iemand wat selfs magtiger as Satan is en wat die mensdom uiteindelik na vrede gaan lei. Die Bybel, wat ons oor Satan inlig, lig ons ook oor hierdie Persoon in. Dit sê: “Die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors” (Jesaja 9:5, 6). Wie is hierdie Vredevors? Niemand anders nie as Jesus Christus, en hy kan vrede bring omdat hy baie bevoegder as ons is. In watter opsigte?
Meer as menslike bevoegdhede
Vir eers is Jesus nie sterflik, aan die dood onderworpe, nie. Hy het weliswaar as ’n mens geleef en ’n offerdood gesterf. Maar hy is opgewek tot onsterflike hemelse lewe, en dit is in hierdie toestand dat hy die Vredevors word. Dit is waarom ’n profesie sê: “Aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie” (Lukas 1:32, 33). Anders as die Oosterse keiser Asjoka sal Jesus eindeloos lewe om te verseker dat sy goeie werk nie deur minderwaardige opvolgers vernietig word nie.
Boonop is Jesus onaangetas deur sonde. Sy heerskappy berus op goddelike wysheid en regte beginsels. Die profeet Jesaja het voorspel: “Op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE . . . Hy sal nie regspreek na wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie; maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen” (Jesaja 11:2-4). Anders as Europeërs van ’n vroeëre eeu sal Jesus nie tuis vrede bewaar maar dan in die buiteland oorlog voer nie. Onder hom sal daar wêreldvrede wees.
Jesus het boonop die mag om vrede te bring. Die profesie sê: “Die Gees van die HERE . . . , die Gees van raad en sterkte,” is op hom. Dit is deur hierdie gees dat die skepping van die heelal sowel as al die kragtige dade van regverdigheid waarvan die Bybel vertel, plaasgevind het. Selfs die groot teenstander, Satan, het geen wapens om die krag van God se gees met welslae teen te werk nie.
Die stappe tot vrede
Hoe sal Jesus die mensdom na vrede lei? Jy sal dalk verbaas wees om te weet dat hy reeds begin het. In die profetiese boek Openbaring word Jesus gesien waar hy in ’n hemelse Koninkryk koningskap van God ontvang (Openbaring 11:15). As ons die Bybel se profesieë noukeurig ondersoek en dit met gebeure in ons eeu vergelyk, sien ons dat Jesus se inhuldiging as Koning reeds in 1914 in die hemel plaasgevind het (Mattheüs 24:3-42). Dit was ’n vername stap om vrede op aarde te bewerkstellig.
Maar as dit die geval is, waarom het die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek? En waarom was daar erger oorloë in ons eeu as in enige ander eeu in die geskiedenis? Omdat die hemelse Koning se eerste daad was om Satan vir altyd uit die hemele te verdryf en hom na die omgewing van die aarde neer te werp. Die gevolg? Die profesie sê: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:7-12). Die groot oorloë van ons eeu hou verband met Satan se woede. Maar let op: Satan se woede duur ’n kort rukkie. Die krisis sal spoedig verby wees!
Voor dit verby is, tref die Vredevors egter verdere lewensbelangrike voorbereidsels vir vrede. Eerstens moet die mensdom weet van God se voorneme om vrede deur Christus te bring. Trouens, Jesus het voorspel dat “hierdie evangelie [“goeie nuus”, NW] van die koninkryk” in ons tyd ‘in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies verkondig sal word’ (Mattheüs 24:14). Ter vervulling hiervan verkondig Jehovah se Getuies vandag die goeie nuus in elke uithoek van die aarde.
Dan moet mense met die regte harttoestand in die weë van vrede geleer word. Die Bybel beloof: “Al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees” (Jesaja 54:13). Miljoene mense met die regte harttoestand ontvang nou hierdie onderrig.
Die volgende stap
Dit is nou byna tyd vir ’n ander beslissende stap in die proses om vrede te stig. Wat is dit? ’n Stap waarvan baie die naam ken maar waarvan min weet wat die ware doel is. Die Bybel noem dit “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”, oftewel Armageddon (Openbaring 16:14-16). Baie dink aan Armageddon as ’n kernoorlog wat die mensdom sal uitwis. In teenstelling daarmee is dit ’n regstreekse daad deur Jesus, die Vredevors, om dinge te volbring wat noodsaaklik is vir vrede.
Ten eerste sal Armageddon alle mense wat struikelblokke vir vrede is, verwyder. Die profesie in Psalm 37:10 sê: “Nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie.” Ja, Jesus sal “die goddelose”—dié wat oorlog voer, die misdadigers, die terroriste, sowel as dié wat weier om die groot Vredevors te aanvaar—van die aardse toneel verwyder. Hulle sal nie meer die reg hê om op hierdie planeet te bly lewe nie.—Openbaring 19:19-21.
Ten tweede sal hierdie profesie van Daniël met Armageddon vervul word: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44). Die nasionale skeidings wat so dikwels tot oorlog gelei het, sal verdwyn. Uiteindelik sal daar ’n wêreldregering wees onder ’n heerser wat ons kan vertrou!
Wanneer sal Armageddon kom? Die Bybel sê nie. Maar wêreldgebeure ter vervulling van profesie dui daarop dat dit binnekort sal wees. Die Bybel voorspel duidelik ’n gebeurtenis wat dit onmiddellik sal voorafgaan. Die apostel Paulus sê: “Wanneer hulle sê: ‘Vrede en veiligheid!’ dan sal ’n skielike vernietiging oombliklik oor hulle kom” (1 Thessalonicense 5:3, NW). Dan, onmiddellik na die skielike vernietiging wat sy klimaks met Armageddon bereik, sal die grootste struikelblok vir vrede verwyder word. Satan se “min tyd” sal om wees, en hy sal in ’n situasie geplaas word waar hy nie meer probleme hier op aarde sal kan veroorsaak nie (Openbaring 20:1-3). Wat ’n verligting!
’n Vreedsame wêreld
Stel jou die situasie dan voor. Die psalmis het voorspel: “Die ootmoediges . . . sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede” (Psalm 37:11). Hierdie ootmoediges sal aanhou om die pragtige profesie van Jesaja te vervul: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”—Jesaja 2:4.
Uiteindelik, vir die eerste keer sedert Eden, sal alle mense wat leef Jehovah God se seën geniet, en hy sal sy belofte vervul: “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4.
’n Vaste hoop
Wie sal dus die mensdom na vrede lei? Jesus Christus, die aangestelde Vredevors. Is dit ’n praktiese hoop vir ons wat vandag leef? Wel, as die Bybel se beloftes nie betroubaar was nie, sou daar geen ware hoop op vrede gewees het nie. Mense sou aanhou om te veg en mekaar dood te maak, met geen einde daaraan in sig nie. Maar die Bybel is betroubaar, en God se Koninkryk onder Christus sal vrede bring. Ons moedig jou aan om te luister na die goeie nuus van die Koninkryk wat Jehovah se Getuies na jou huis bring sodat jy dit self kan insien. Mag jy dan, wanneer die tyd aanbreek, onder die ootmoediges wees wat die aarde sal beërwe en hulle sal verlustig oor groot vrede.
Die hoop op vrede wat in hierdie artikel bespreek is, kom uit die Bybel. Vandag, wanneer baie nie meer in die Bybel glo nie, twyfel jy dalk daaraan dat hierdie hoop prakties is. Jehovah se Getuies glo vas dat dit prakties is. Hulle aanvaar die Bybel as die geïnspireerde Woord van God en gevolglik as heeltemal betroubaar. In 1989 het hulle ’n boek, Die Bybel—God se Woord of die mens s’n?, uitgegee wat hierdie feit oor en oor bewys. Van die inligting in daardie boek word in die volgende twee artikels bespreek, en ons nooi jou om dit te lees.
Meer inligting oor die Bybel se belofte van vrede sal verskyn in die artikel “Wêreldvrede—Wat sal dit werklik beteken?” in Die Wagtoring van 15 April 1990.
[Lokteks op bladsy 8]
Net Jesus het die vermoë om die mensdom na vrede te lei
[Lokteks op bladsy 9]
Vandag word die goeie nuus van die Koninkryk in elke uithoek van die aarde verkondig