Loof Jehovah se heilige naam!
“My mond sal die lof van die HERE uitspreek, en laat alle vlees sy heilige Naam loof vir ewig en altyd.”—PSALM 145:21.
1, 2. (a) Hoe het Satan God se heerskappy in twyfel getrek? (b) Watter vrae word aangaande Psalm 145:11-21 geopper?
JEHOVAH is ongetwyfeld die Universele Soewerein. Maar Satan het die regverdigheid en regmatigheid van God se heerskappy in twyfel getrek (Genesis 2:16, 17; 3:1-5). Die Duiwel het ook die onkreukbaarheid van al God se knegte in die hemel en op aarde bevraagteken (Job 1:6-11; 2:1-5; Lukas 22:31). Jehovah het derhalwe tyd toegelaat sodat alle intelligente skepsele die wrange vrugte van opstand teen sy heerskappy kan sien en kan toon waar hulle ten opsigte van hierdie geskille staan.
2 Psalm 145 help ons om ’n ferm standpunt in te neem vir God se heerskappy. Hoe so? Wat sê Dawid oor Jehovah se koningskap? En hoe behandel God die voorstanders daarvan? Nuttige antwoorde verskyn in Psalm 145:11-21.
Praat oor Jehovah se koningskap
3. Wat sal ons doen as Jehovah se koningskap ons na aan die hart lê?
3 Jehovah se heerskappy was baie belangrik vir Dawid, wat gesê het: “Hulle maak melding van die heerlikheid van u koninkryk en spreek van u mag, om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk” (Psalm 145:11, 12). Mense praat van dinge waarin hulle belangstel. Daarom praat ’n man van sy gesin, sy huis, sy oeste. Jesus het gesê: “Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is” (Lukas 6:45). As God se heerskappy ons na aan die hart lê, sal ons bid dat sy Koninkryk kom, en sal ons ander van die geregtigheid, vrede en regverdigheid vertel wat onder sy heerskappy sal heers. Ons sal Jehovah as die “Koning van die ewigheid” loof, en ons sal praat oor die beliggaming van sy soewereiniteit in die vorm van die Messiaanse Koninkryk in die hande van sy geliefde Seun, Jesus Christus (Openbaring 15:3, NW; Jesaja 9:5, 6). Wat ’n voorreg is dit tog om te praat van die hemelse heerlikheid van Jehovah se koningskap, wat binnekort weerspieël sal word in die skoonheid van ’n aardse paradys wat gevul is met skepsele wat volmaak gelukkig is!—Lukas 23:43, NW.
4. Wanneer het ons die geleentheid om van Jehovah se “mag” te praat, en hoe word ons in hierdie bedrywigheid ondersteun?
4 Waardering sal ons ook beweeg om van Jehovah se “mag” te praat. Hoewel hy “groot van krag” is, misbruik hy dit nooit (Job 37:23). Hy het sy krag gebruik om die aarde en die mens te skep en sal dit gebruik om die goddeloses te vernietig. Ons het die geleentheid om van God se mag te praat wanneer ons die goeie nuus verkondig. En is ons nie dankbaar dat hierdie allergrootste Bron van krag ons in staat stel om hierdie werk te doen nie? (Jesaja 40:29-31). Ja, as Jehovah se Getuies, word ons deur God se krag en gees in heilige diens ondersteun. Dit is slegs op hierdie manier dat die Koninkryksboodskap wêreldwyd met soveel sukses verkondig word.—Psalm 28:7, 8; Sagaria 4:6.
5. Wat moet ons doen aangesien menigtes nie van Jehovah se “magtige dade” weet nie?
5 Ons moet die “magtige dade” van Jehovah aan die mensekinders bekendmaak, net soos die Israeliete hulle kinders vertel het hoe God hulle uit slawerny in Egipte verlos het (Exodus 13:14-16). Die mens bou monumente ter ere van mense wat volgens hulle belangrike dinge gedoen het, maar hoeveel mense weet van die magtige dade van God? Een geleerde het gesê: “Hulle graveer die dade van hulle helde op brons, maar die glorieryke dade van Jehovah word op sand geskryf, en die gety van die tyd spoel dit uit die geheue.” Hierdie dade word nie werklik weggespoel nie, al weet menigtes nie van hulle nie. Laat ons derhalwe ywerig van God se magtige dade praat wanneer ons aan die huis-tot-huiswerk deelneem, tuisbybelstudies hou en wanneer ander geleenthede hulle voordoen.
6. (a) Met watter geleentheid jare gelede is die ywerige gees waarmee ons ons bediening uitvoer goed uitgedruk? (b) Kortom, wat is in 1922 gesê oor die advertering van die Koninkryk?
6 Ons moet ook die heerlikheid van God se koningskap ywerig bekendmaak. Ywer vir sodanige Koninkryksdiens kon beslis gesien word toe J. F. Rutherford, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, in 1922 die volgende woorde aan byeenkomsgangers in Cedar Point, Ohio, gerig het: “Sedert 1914 het die Koning van heerlikheid sy mag aangeneem . . . Die koninkryk van die hemel is ophande; die Koning regeer; Satan se ryk val; miljoene wat nou leef, sal nooit sterf nie. Glo jy dit? . . . Keer dus terug na die veld, o seuns van die allerhoogste God! Gord julle wapenrusting aan! Wees nugter, wees waaksaam, wees bedrywig, wees dapper. Wees getroue en ware getuies vir die Here. Gaan voort met die stryd totdat elke oorblyfsel van Babilon verlate lê. Verkondig die boodskap wyd en syd. Die wêreld moet weet dat Jehovah God is en dat Jesus Christus die Koning van die konings en die Here van die here is. Dit is die dag der dae. Kyk, die Koning heers! Julle is sy reklame-agente. Adverteer, adverteer, adverteer dus die Koning en sy koninkryk.”
7. Hoe moet ons oor ons bedrywigheid as Koninkryksverkondigers voel?
7 Wat ’n vreugde is dit tog om ‘aan God se naam te dink’, om ander van sy heerskappy te vertel en om die Messiaanse Koninkryk van sy geliefde Seun te adverteer! (Maleagi 3:16, NW). As verkondigers en voorstanders van die Koninkryk beskou ons ons voorreg om die goeie nuus te verkondig en die harte van ander na God, Christus en die Koninkryk te wend as iets kosbaars. Daar moet ’n brandende begeerte in ons binneste wees om ander van die glansryke heerlikheid van Jehovah se koningskap te vertel.—Vergelyk Jeremia 20:9.
8. (a) Waarin word Jehovah se heerskappy vandag beliggaam? (b) Waarom kan daar gesê word dat God “deur al die geslagte” heerskappy uitoefen?
8 Ons moet beweeg word om God se Koninkryk met groot ywer aan te kondig, want Dawid het vervolgens gesê: “U koninkryk is ’n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte” (Psalm 145:13). Terwyl die psalmdigter verder oor Jehovah se koningskap gepeins het, het hy die voornaamwoord “u” pleks van “sy” gebruik en sy biddende woorde direk tot God gerig. Jehovah se heerskappy soos dit in die Messiaanse Koninkryk beliggaam word, vervang natuurlik nie God se ewige koningskap nie. Trouens, wanneer die gehoorsame mense tot volmaaktheid verhef is, sal Christus die Koninkryk aan sy Vader oorhandig (1 Korinthiërs 15:24-28). God oefen dus wel heerskappy “deur al die geslagte” uit. Jehovah was Koning toe Adam geskep is en sal vir ewig oor regverdige mense heers.
9. Wat kan met betrekking tot Psalm 145 gesê word oor ’n vers wat met die Hebreeuse letter noen begin?
9 In hierdie alfabetiese psalm laat die Masoretiese teks ’n vers weg wat met die Hebreeuse letter noen begin. Maar volgens die Griekse Septuagint, die Siriese Pesjitta en die Latynse Vulgaat, sê een Hebreeuse manuskrip: “Jehovah is getrou in al sy woorde en op liefdevolle wyse goed [of “lojaal”] in al sy werke” (Voetnoot in NW-naslaanuitgawe). God vervul al sy beloftes en is lojaal, liefdevol en goed teenoor almal wat sy goedheid waardeer.—Josua 23:14.
Jehovah se ondersteuning faal nooit
10. Hoe “ondersteun” God ons?
10 Die Ewige Koning ignoreer nooit die toestand waarin sy diensknegte verkeer nie. Daarom kon Dawid sê: “Die HERE ondersteun almal wat val, en Hy rig almal op wat neergeboë is” (Psalm 145:14). Jehovah ondersteun sy knegte al sedert die dae van Abel. As ons aan onsself oorgelaat word, sal ons baie maal onder ons laste val. Ons is nie sterk genoeg om al die sorge van die lewe en die vervolging te dra wat oor ons as God se volk kom nie, maar Jehovah ondersteun ons. Die vorm van die Hebreeuse werkwoord wat hier gebruik word, toon dat God ons voortdurend “ondersteun”. Dit kan genoem word dat Johannes die Doper en God se eie Seun gevalle sondaars gehelp het om sedelik opgerig te word. Toe hierdie persone berou getoon en knegte van Jehovah geword het, het hulle die wonderlike seëning van goddelike ondersteuning geniet.—Mattheüs 21:28-32; Markus 2:15-17.
11. Hoe ‘rig Jehovah al die wat neergeboë is op’?
11 Dit is gerusstellend om te weet dat ‘Jehovah almal oprig wat neergeboë is’ weens verskeie beproewinge. Hy beur die terneergedruktes onder ons op, vertroos ons bedroefdes en help ons om sy woord met vrymoedigheid te spreek wanneer ons vervolg word (Handelinge 4:29-31). As ons sy hulp aanvaar, laat hy nooit toe dat ons laste ons verpletter nie (Psalm 55:23). Wanneer God ons liefdevol oprig, moet ons hom dus “verheerlik”, soos die “dogter van Abraham” wat “inmekaargetrek” was maar wat fisies deur Jesus genees is (Lukas 13:10-17). Gesalfdes wat gebuk gegaan het onder Babiloniese gevangenskap was dankbaar toe God hulle in 1919 opgerig het, en sedert 1935 rig hy waarderende “ander skape” op.—Johannes 10:16.
12. Waarom kan daar gesê word dat ‘die oë van almal op God wag’?
12 Jehovah laat sy volk nooit in die steek nie, soos Dawid vervolgens duidelik maak deur te sê: “Die oë van almal wag op U, en U gee hulle hul spys op die regte tyd. U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae” (Psalm 145:15, 16). Dit is asof die oë van alle lewende wesens hoopvol op die Universele Soewerein gerig is. Die engele vertrou op God vir voortgesette lewe. En soos ’n kind op ’n ouer vertrou vir die dinge wat hy nodig het, vertrou ons op ons hemelse Vader. Trouens, hy onderhou die lewe van mense sowel as diere. Niemand anders kan in hulle behoeftes voorsien nie. God gee hulle “hul spys op die regte tyd”, dit wil sê, wanneer dit nodig is.
13. Op watter maniere maak Jehovah ‘sy hand oop en versadig hy alles wat lewe met welbehae’?
13 God ‘maak sy hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae’ (Psalm 104:10-28). Party diere verhonger weliswaar. Baie mense ly honger omdat hulle slagoffers is van selfsug, verdrukking en die misbruik van hulpbronne. Daarbenewens het Jesus gesê dat “hongersnode” ’n deel van “die teken” van sy teenwoordigheid in hierdie laaste dae sou wees (Mattheüs 24:3, 7). Maar geeneen van hierdie dinge gebeur omdat Jehovah suinig is of nie kan voorsien nie. Dink aan die miljarde skepsele wat onderhou word! Hierdie psalm gee ons boonop die versekering dat God, onder die Koninkryksheerskappy, wanneer ‘een mens nie oor die ander heers tot sy ongeluk nie’, in ons materiële en geestelike behoeftes sal voorsien (Prediker 8:9; Jesaja 25:6). Selfs vandag hoef ons nie meer na geestelike voedsel te honger nie, want God voorsien dit oorvloedig op die regte tyd deur “die getroue en verstandige dienskneg” (Mattheüs 24:45-47; 1 Petrus 2:2). Geestelik gesproke is Jehovah se Getuies die mense op aarde wat die beste gevoed word. Toon jy innige waardering vir sulke gawes?
Jehovah beskerm diegene wat hom liefhet
14. Waarom kon Dawid sê: “Die HERE is regverdig in al sy weë en goedgunstig in al sy werke”?
14 Ons sotheid kan ‘ons weg bederf’ en moeilikheid oor ons bring, maar ons moet God nooit vir hierdie moeilikhede blameer nie (Spreuke 19:3). Dawid verstrek die rede wanneer hy sê: “Die HERE is regverdig in al sy weë en goedgunstig in al sy werke” (Psalm 145:17). God tree altyd op ’n opregte, regverdige en barmhartige manier op. Sy barmhartigheid blyk veral uit sy voorsiening vir redding deur Jesus se losprysoffer (Handelinge 2:21; 4:8-12). Jehovah is ook “goedgunstig in al sy werke”, altyd getrou, liefdevol en onpartydig. Laat ons dan as “navolgers van God” opreg, regverdig, barmhartig, onpartydig en lojaal wees.—Efesiërs 5:1, 2; Deuteronomium 32:4; Psalm 7:11; 25:8; Jesaja 49:7; Handelinge 10:34, 35.
15. Hoe het ons ‘God in waarheid aangeroep’, en waartoe het dit gelei?
15 Ons word na God aangetrek omdat hy regverdig en lojaal is. Daarbenewens verseker Dawid ons: “Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid” (Psalm 145:18). Deur as toegewyde gelowiges gedoop te word, het ons die naam van Jehovah aangeroep (Handelinge 8:12; 18:8; Romeine 10:10-15). Aangesien ons sodoende tot God genader het, nader hy tot ons (Jakobus 4:8). Ons ‘roep hom in waarheid aan’ omdat ons dit op die regte manier, deur Jesus Christus, doen. En Jehovah sal na aan ons bly as ons hom ‘in gees en waarheid aanbid’, “ongeveinsde geloof” aan die dag lê en ‘volhou soos een wat die Onsienlike sien’ (Johannes 4:23, 24; 1 Timotheüs 1:5; Hebreërs 11:27). Dan sal ons nie tevergeefs bid of Satan se wêreld alleen moet trotseer nie, maar ons sal steeds goddelike hulp en leiding geniet (Psalm 65:3; 1 Johannes 5:19). Wat ’n gevoel van sekuriteit bied dit ons tog!
16. Waarom en hoe vervul Jehovah “die wens van die wat Hom vrees”?
16 Ons het ook ware sekuriteit weens ander dinge wat Jehovah ten behoewe van ons doen. Dawid het gesê: “Hy vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle” (Psalm 145:19). Jehovah ‘vervul ons wense’ omdat ons diepe eerbied vir God het sowel as ’n gesonde vrees om hom te mishaag (Spreuke 1:7). Ons gehoorsame hart het ons beweeg om ons aan Jehovah toe te wy, en ons gesindheid is: “Laat u wil geskied.” Aangesien dit sy wil is dat ons die Koninkryksboodskap verkondig, vervul hy ons begeerte om daardie werk te doen (Mattheüs 6:10; Markus 13:10). God ‘vervul ons wense’ omdat ons nie selfsugtig bid nie maar vir dinge volgens sy wil vra. Hy staan dinge toe wat in ooreenstemming met sy wil en vir ons eie beswil is.—1 Johannes 3:21, 22; 5:14, 15; vergelyk Mattheüs 26:36-44.
17. Waarom kan ons seker wees dat ons “hulpgeroep” deur God gehoor sal word?
17 As Jehovah se lojale Getuies kan ons ook seker wees dat Jehovah nooit ons “hulpgeroep” sal ignoreer nie. God het Dawid uit onheil verlos en het Jesus gered deur hom selfs uit die dood op te wek. Ons kan seker wees dat Jehovah ons sal red wanneer die vyand ons aanval, veral tydens Gog se aanslag (Esegiël 38:1–39:16). Trouens, ons kan gedurende enige tyd van verdrukking met vertroue soos Dawid bid: “Wees my genadig, HERE, want ek is benoud; . . . Want ek het die skindertaal van baie gehoor—skrik rondom!—terwyl hulle saam raad hou teen my; hulle is van plan om my lewe te neem. Maar ék vertrou op U, o HERE! Ek sê: U is my God.”—Psalm 31:10-15.
18. Hoe trek ons voordeel uit die wete dat Jehovah ‘almal bewaar wat hom liefhet’, maar dat hy ‘die goddelose sal verdelg’?
18 Jehovah God is altyd gereed om ons te help. Soos Dawid sê: “Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose” (Psalm 145:20). Ja, as ons God liefhet, sal hy ons seën en behoed (Numeri 6:24-26). Hy ‘vergeld die wat trots handel oorvloedig’ maar hy bewaar sy nederige diensknegte en laat niks gebeur wat hulle permanent sal skaad nie. Laat ons moedig wees, want Jehovah is met ons (Psalm 31:21-25; Handelinge 11:19-21). ‘Geen wapen wat teen ons gesmee word, sal iets uitrig nie’ (Jesaja 54:17; Psalm 9:18; 11:4-7). Dit is die ondervinding van diegene wat hulle liefde vir God as sy getroue toegewyde knegte bewys. Jehovah se Getuies sal as ’n groep veilig deur “die groot verdrukking” gaan wat oor die goddelose gebring gaan word (Openbaring 7:14). En wat ’n seën sal dit tog vir “almal wat hom liefhet” wees as die groot geskil oor Jehovah se universele koningskap besleg is!
Hou aan om Jehovah se heilige naam te loof
19. Waarom spreek ons monde “die lof van die HERE” uit?
19 Dawid sluit hierdie hartroerende psalm af deur te sê: “My mond sal die lof van die HERE uitspreek, en laat alle vlees sy heilige Naam loof vir ewig en altyd” (Psalm 145:21). As Jehovah se Getuies waardeer ons God se grootheid, goedheid, welwillende koningskap, onfeilbare ondersteuning en onuitputlike, waaksame sorg. Soos Dawid spreek ons monde dus die lof van God. Ons word beweeg om uitsluitlike toegewydheid aan hom te gee, hom vir al sy seëninge te dank en sy “heerlike Naam” te prys.—1 Kronieke 29:10-13; Exodus 20:4-6, NW.
20. Met die ewigheid in die vooruitsig, wat moet ons voorneme nou wees?
20 Aangesien Jehovah ons daagliks seën, laat ons hom gereeld loof, of goed praat van hom. Laat ons die goeie nuus ywerig tot eer van God verkondig en ander vertel dat ‘alle vlees binnekort sy heilige Naam sal loof’. Hoe wonderlik sal dit tog wees om te leef wanneer alle bewoners van die aarde—ja, alle intelligente skepsele in die heelal—lofliedere voor ons hemelse Vader sal sing! (Psalm 148:1-13). Geseënd is Jehovah omdat hy sy naam geopenbaar het en ons die voorreg gegee het om sy Getuies te wees (Psalm 83:18, NW; Jesaja 43:10-12). Mag ons ons altyd gedra op ’n manier wat pas by diegene wat daardie naam as heilig beskou en bid dat dit geheilig word (Lukas 11:2). Laat ons God lojaal dien, sodat ons stem in sy nuwe stelsel gehoor kan word in die koor van diegene wat Jehovah se naam vir ewig loof.
Wat is jou kommentaar?
◻ Wat sal ons doen as Jehovah se koningskap ons na aan die hart lê?
◻ Waarin word God se koningskap vandag beliggaam?
◻ Hoe ‘rig Jehovah almal op wat neergeboë is’?
◻ Op watter maniere ‘maak God sy hand oop en versadig hy alles wat leef met welbehae’?
◻ Hoe kan ons Jehovah se heilige naam loof?
[Prent op bladsy 17]
In 1922 het die woorde ‘adverteer die Koning en die Koninkryk’ voorstanders van Jehovah se koningskap tot groter aktiwiteit aangespoor