Welkom by die “Liefhebbers van Vryheid”-Streekbyeenkomste!
VRYHEID! Hoe soet klink daardie woord tog! Niemand geniet dit om in slawerny of in gevangenskap te verkeer nie. In onlangse jare het ons meer aksie in die strewe na gekoesterde politieke vryheid gesien as in enige ander tyd in menseheugenis.
Maar al is politieke vryheid ook hoe begeerlik, daar is ’n vryheid wat baie belangriker en begeerliker is. Dit is die vryheid waarvan Jesus Christus, die Seun van God, gepraat het toe hy aan sy dissipels gesê het: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31, 32). Dit is vryheid van valse godsdiensopvattinge, vryheid van mensevrees, vryheid van slawerny aan sondige verslawende gebruike en veel meer.
Dit is hierdie vryheid wat die tema vorm van die “Liefhebbers van Vryheid”-Streekbyeenkomste wat Jehovah se Getuies in 1991 oor die hele wêreld gaan hou en wat reeds in die noordelike somer begin het. God se volk geniet sedert 1919—toe diegene wat onder hulle die leiding geneem het, bevry is van inperking deur die regering—toenemende vryheid wat hulle reine aanbidding betref.
Dit is uiters gepas dat die onderwerp vryheid oor die jare heen by teokratiese byeenkomste beklemtoon is, deur temas soos die “‘Vrye Nasie’ se Teokratiese Byeenkoms” en die “‘God se Seuns van Vryheid’-Streekbyeenkomste”. Vryheid is ook breedvoerig bespreek in publikasies soos “Die waarheid sal julle vrymaak” en Die ewige lewe in vryheid van die seuns van God.
Die godgegewe vryheid wat Jehovah se knegte het, is nie net vir hulle eie welsyn en genot nie. Soos ons in Galasiërs 5:13 lees: “Julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ’n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde.” Die “Liefhebbers van Vryheid”-Streekbyeenkoms sal ons help om die doel van ons vryheid te waardeer, ons in staat stel om aan ons kosbare vryheid vas te kleef en aan ons toon hoe om dit ten beste te gebruik.
Die byeenkoms sal Vrydagoggend om 10:20 met ’n musiekprogram begin wat ons in die regte gemoedstemming sal bring vir die geestelike voedsel wat gaan volg. Die tema vir die eerste dag is “Ken die waarheid wat ons vrymaak”, gebaseer op Johannes 8:32. In die oggend sal die voorsitter se verwelkomingsopmerkinge en die programrede, “Die doel en gebruik van ons godgegewe vryheid”, aangebied word. Hierdie toespraak sal duidelik die verskil toon tussen Jehovah se absolute vryheid en die betreklike vryheid wat God aan ons gee. Dit sal ons ook aanmoedig om die vryheid wat ons het ten beste te gebruik. Die middagprogram sal handel oor die verskillende aspekte van ons vryheid en ons bediening en sal afsluit met ’n drama: Bevry om ware aanbidding te bevorder.
Die tema vir die tweede dag is “Staan vas in ons godgegewe vryheid”, gebaseer op Galasiërs 5:1. Die oggendprogram sal ’n simposium insluit wat sal toon hoe die onderskeie lede van ’n gesin godgegewe vryheid binne die gesinskring kan geniet. Diegene wat gereed is om gedoop te word, sal veral die opmerkinge waardeer oor hoe vryheid deur toewyding en doop verkry word. Die middagprogram sal ’n interessante bespreking insluit oor die vraag of die huwelik die sleutel tot geluk is of nie. Daar sal ook ’n simposium wees oor die verskillende aspekte van vryheid en dan ’n slottoespraak wat die aandag sal vestig op God se Hoofbewerker deur wie hy vryheid en die ewige lewe voorsien.
Sondag het die tema “Gebruik ons vryheid in ooreenstemming met God se gees”, gebaseer op 2 Korinthiërs 3:17. Die program sal ’n uiters interessante simposium insluit oor Jesus se gelykenis wat in Mattheüs 13:47-50 opgeteken is en wat toon hoe Jehovah se Getuies as vissers van mense dien. Die openbare toespraak in die middag is “Verwelkom God se nuwe wêreld van vryheid!” Dit sal gevolg word deur ’n nuwe programdeel vir ’n streekbyeenkoms: ’n opsomming van die Wagtoring-les vir daardie week. En die program sal afsluit met die skriftuurlike vermaning aan ons almal om steeds vordering te maak deur ons godgegewe vryheid in ons gedrag en in ons getuieniswerk ten beste te gebruik.
Aan alle liefhebbers van vryheid sê ons in die woorde van die psalmis Dawid: “Smaak en sien dat Jehovah goed is” (Psalm 34:8, NW). Laat geen steen onaangeroer in jou pogings om by hierdie byeenkoms te kom nie. Sorg dat jy van die openingsessie Vrydagoggend tot die slottoespraak Sondagmiddag teenwoordig is. As jy met ’n gesonde geestelike aptyt kom, en ten volle bewus is van jou geestelike behoefte, sal jy inderdaad gelukkig wees! (Mattheüs 5:3, NW). En ons kan gerus ook die beginsel in gedagte hou: “Wie volop saai, sal ook volop maai.” Dit is ook van toepassing op hoe ernstig ons voorbereidsels tref om die byeenkoms by te woon, hoe aandagtig ons na die program luister wanneer dit aangebied word en hoe geesdriftig ons enige voorregte van vrywilligerdiens aanpak wat in verband met ons “Liefhebbers van Vryheid”-Streekbyeenkoms vir ons aangebied word.—2 Korinthiërs 9:6.