Word jou toekoms bepaal deur die noodlot?
SOU jy dink dat jy deur die noodlot begunstig is as jy ’n noodlottige ongeluk vryspring? Of sou jy eerder dankbaar wees dat jy maar net op die regte oomblik op die regte plek was?
Die wyse man Salomo het gesê: “Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die vinnigstes wat die reisies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges wat ryk word nie, nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en geleentheid” (Prediker 9:11, NAV). Hoe dikwels vind die onverwagte nie plaas nie! ’n Gunsteling-atleet word beseer, en die swakkere wen. ’n Fratsongeluk veroorsaak finansiële ondergang vir ’n eerlike sakeman en laat sy oneerlike mededinger ryk word. Maar het Salomo hierdie ongerymdhede aan die noodlot toegeskryf? Glad nie. Hulle is net die gevolge van “tyd en geleentheid”.
Jesus Christus het ’n soortgelyke opmerking gemaak. Jesus het na ’n gebeurtenis verwys waarvan sy luisteraars blykbaar almal geweet het, en gesê: “Daardie agttien op wie die toring van Siloam geval en hulle gedood het—dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon?” (Lukas 13:4). Jesus het nie hierdie sterfgevalle aan die een of ander geheime noodlot of die wil van God toegeskryf nie, hy het ook nie geglo dat die slagoffers in enige opsig meer skuldig was as ander nie. Die tragiese ongeluk was net nog ’n voorbeeld van die gevolg van tyd en geleentheid.
Die Bybel staan nêrens die idee voor dat God ons sterfdag vooraf bepaal het nie. Dit is waar dat Prediker 3:1, 2 sê: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd: ’n tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterwe, ’n tyd om te plant en ’n tyd om uit te roei wat geplant is.” Maar Salomo het slegs die onvolmaakte mensdom se onophoudelike kringloop van die lewe en die dood bespreek. Ons word gebore en wanneer die tyd aanbreek, wanneer ons die normale lewensverwagting bereik—gewoonlik ná sowat 70 of 80 jaar—sterf ons. Nogtans word die presiese oomblik van ons dood net so min vooraf bepaal deur God as die oomblik waarop ’n boer besluit om “te plant” of “uit te roei wat geplant is”.
Trouens, Salomo het later getoon dat ’n mens voor jou tyd kan sterf: “Wees nie alte goddeloos, en wees nie dwaas nie: waarom sou jy sterwe voor jou tyd?” (Prediker 7:17). Watter sin sou hierdie raad hê as ’n mens se sterfdag onveranderlik vooraf bepaal is? Die Bybel verwerp dus die idee van die noodlot. Afvallige Israeliete wat hierdie heidense opvatting oorgeneem het, is sterk deur God veroordeel. Jesaja 65:11 sê: “Julle wat die HERE verlaat, wat my heilige berg vergeet, wat ’n tafel dek vir die geluksgod en die mengsel inskink vir die godin van die noodlot.”
Hoe dwaas is dit dus tog om ongelukke en teenspoed aan die noodlot of, nog erger, aan God self toe te skryf! “God is liefde”, sê die Bybel, en om die aantyging te maak dat hy die bron van menslike lyding is, is ’n direkte weerspreking van hierdie fundamentele waarheid.—1 Johannes 4:8.
God se voornemens vir die toekoms
Maar wat is ons vooruitsigte op redding? Beteken die feit dat ons lewe nie deur ’n onvermydelike noodlot beheer word nie dat ons doelloos deur die lewe moet gaan? Glad nie, want God het die toekoms van die mensdom oor die algemeen vooruit bepaal. Die Bybel praat van die skepping van “’n nuwe aarde” waarin “geregtigheid woon”.—2 Petrus 3:13.
Om dit tot stand te bring, sal God direk in die mens se aangeleenthede ingryp. Jy het moontlik onwetend gebid dat dit moet plaasvind deur die volgende gebed op te sê: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6:10). Hierdie Koninkryk is ’n werklike regering wat in die hemel opgerig is. Deur te bid dat dit moet kom, bid jy dat daardie Koninkryk beheer oor die aarde by die hedendaagse regerings moet oorneem.—Daniël 2:44.
Verseker jou eie toekoms
Hoe hierdie dramatiese gebeure jou toekoms gaan raak, hang nie van die noodlot of selfs van tyd en geleentheid af nie, maar van die weg wat jy kies om te volg. Dink aan daardie tragedie wat by die toring van Siloam plaasgevind het. Jesus het daardie tragiese gebeurtenis gebruik om ’n belangrike les te leer. Die slagoffers van daardie toring wat ineengestort het, kon nie wegkom toe dit op hulle geval het nie. Jesus se luisteraars kon daarenteen die vernietiging vermy wat as gevolg van goddelike misnoeë oor hulle sou kom. Jesus het hulle gewaarsku: “As julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom” (Lukas 13:4, 5). Dit is duidelik dat hulle hul eie toekoms kon kies.
Ons word vandag dieselfde geleentheid gegun—om ons eie redding te bewerk (Filippense 2:12, NW). God wil hê dat “alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Timotheüs 2:4). En hoewel ons almal in ’n mate deur oorerflikheid en ons agtergrond beïnvloed word, het God ons keusevryheid gegee—die vermoë om te bepaal hoe ons ons lewe wil gebruik (Mattheüs 7:13, 14). Ons kan doen wat reg is, óf ons kan doen wat verkeerd is. Ons kan ’n gunstige posisie voor Jehovah God verkry en die lewe ontvang, óf ons kan in opstand teen hom kom en sterf.
Baie mense verkies om onafhanklik van God te leef. Hulle wy hulle lewe aan die najaging van materiële dinge, plesier of roem. Maar Jesus het gewaarsku: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie” (Lukas 12:15, NAV). Waarvan is ons lewe dan afhanklik? Die Bybel verduidelik in 1 Johannes 2:15-17: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. . . . Alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”
Hoe jy die lewe kan kies
Hoe kan jy seker wees dat jy waarlik die wil van God doen? Jesus het gesê: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). Juiste kennis uit die Bybel verskaf die grondslag vir geloof. “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Die kennis wat jy moet opdoen, is geredelik beskikbaar. Jehovah se Getuies het miljoene gehelp om dit deur ’n gereelde studie van die Bybel op te doen.a
As jy God wil behaag, moet jy sekere veranderinge in jou lewe aanbring. Daar is dalk slegte gewoontes wat jy moet baasraak of selfs onsedelike gewoontes wat jy moet staak. Moenie moed opgee asof dit onmoontlik vir jou is om te verander nie. Die idee dat jy nie dinge kan verander nie, is net nog ’n uitspruitsel van die valse leerstelling van fatalisme. Met Jehovah se hulp is dit vir enigiemand moontlik om ‘sy denke te vernuwe’ en hom met “die nuwe persoonlikheid” te beklee (Romeine 12:2, NAV; Efesiërs 4:22-24, NW). Jou pogings om God te behaag, sal nie ongemerk gaan nie. Hy is gereed om diegene te seën wat sy wil doen.
Om kennis van die Bybel op te doen, sal weliswaar nie al jou probleme oplos nie. Toegewyde knegte van God is net soos ander mense blootgestel aan ongelukke en ongunstige toestande. Maar God kan ons die wysheid gee om dinge te verwerk wanneer ons swaarkry (Jakobus 1:5). Daar is ook die vreugde om te weet dat ’n mens ’n goeie verhouding met God het. “Hy wat op die HERE vertrou, is gelukkig”, sê Spreuke 16:20.
In die herstelde Paradys onder God se Koninkryk sal ons nie meer deur tyd en geleentheid bedreig word nie. Trouens, God sal alle dinge verwyder wat die mens se geluk vandag bederf. “God sal al die trane van [ons] oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie”, belowe die Bybel (Openbaring 21:4). Tallose slagoffers van ongelukke sal ’n opstanding kry.—Johannes 5:28, 29.
Sal jy in hierdie glorieryke toekoms kan deel? Toe die Israeliete op die punt gestaan het om die Beloofde Land binne te gaan, het Moses vir hulle gesê: “Die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur die HERE jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae.”—Deuteronomium 30:19, 20.
Nee, ons is nie hulpelose pionne in die hande van ’n genadelose noodlot nie. Jy is in beheer van jou toekomstige geluk, trouens jou ewige toekoms. Ons spoor jou aan om die lewe te kies.
[Voetnoot]
a So ’n studie kan gereël word deur aan die uitgewers van hierdie tydskrif te skryf.
[Lokteks op bladsy 5]
Afvallige Israeliete wat die heidense opvatting van die noodlot oorgeneem het, is sterk deur God veroordeel