Sal jy ag slaan op God se waarskuwing?
MENSE ignoreer dikwels lewensreddende waarskuwings. Die meeste inwoners van Pompeji het verkies om die onheilspellende gedreun van die berg Vesuvius te ignoreer. Die meeste mense ignoreer vandag op soortgelyke wyse die waarskuwings van ’n naderende wêreldwye ramp. Maar vir diegene wat gewillig is om die feite onder die oë te sien, is die waarskuwing net so werklik soos die weerligstrale en vuur wat in die eerste eeu uit die berg Vesuvius gekom het. Twee wêreldoorloë, honderde kleiner gewapende konflikte, hongersnode, groot aardbewings, pessiektes, vlaag na vlaag van misdaad en geweld en ’n wêreldwye predikingskampanje maak alles deel uit van ’n dramatiese waarskuwing dat die mensegemeenskap vinnig ’n rampspoedige krisis nader.
Die Bybel maak hierdie belangrike voorspelling: “Daar [sal] groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Mattheüs 24:21). Soos dit in die ramp by Pompeji die geval was, sal daar diegene wees wat ontsnap—“’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale” sal dit oorleef, dit wil sê, “uit die groot verdrukking kom”.—Openbaring 7:9, 14.
Die vraag is: Wanneer sal hierdie vernietiging plaasvind? Daar is dwingende rede om te glo dat die verdrukking op hande is. Jesus se dissipels wou blykbaar uitvind wanneer hierdie gebeure sou plaasvind en het gevra: “Wat sal die teken wees van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge?” (Mattheüs 24:3, NW). Let op die antwoord wat Jesus Christus gegee het.
Oorlog—’n belangrike aspek van die saamgestelde teken
Jesus het nie net een uitstaande gebeurtenis voorspel nie. Hy het eerder van ’n reeks gebeurtenisse gepraat wat, as geheel, ’n Goddelike waarskuwing sou uitmaak—’n saamgestelde teken van die voleinding van die stelsel van dinge. Die eerste gebeurtenis wat voorspel is, word in Mattheüs 24:7 beskryf: “Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander.” In ’n ooreenstemmende profesie in Openbaring 6:4 het die Bybel voorspel dat ‘die vrede van die aarde af weggeneem sou word’. Dit het oorlog op ’n ongeëwenaarde skaal beteken.
Die geskiedenis toon dat hierdie profesie van wêreldwye oorlog sedert die gedenkwaardige jaar 1914 in vervulling begin gaan het. Die boek American Adventures sê aangaande die jare voor 1914: “Baie Amerikaners het die nuwe eeu vol hoop betree. Hierdie was die ‘goeie jare’ en het tot die tweede dekade van die eeu voortgeduur. . . . Toe, op 28 Julie 1914, is hierdie stemming deur een woord versteur: oorlog.” So het die Eerste Wêreldoorlog begin, wat van 1914 tot 1918 geduur het en deur sommige die “oorlog waardeur alle oorloë beëindig sal word”, genoem is. Agt-en-twintig nasies was direk daarby betrokke. En as jy hulle afhanklike state insluit, het die strydende nasies amper 90 persent van die destydse wêreldbevolking verteenwoordig.
Tydens die Eerste Wêreldoorlog is nuwe en uiters dodelike werktuie van oorlogvoering, soos die masjiengeweer, gifgas, vlamwerpers, tenks, vliegtuie en duikbote, ook gebruik. Amper tienmiljoen soldate is gedood—meer as al die soldate in al die groot oorloë wat gedurende die voorafgaande 100 jaar gevoer is! Ongeveer 21 miljoen is gewond. Dit was waarlik ’n wêreldwye oorlog, wat 1914 as die begin van “die laaste dae” gekenmerk het (2 Timotheüs 3:1). Maar oorlog was net een aspek van Jesus se teken.
Ander aspekte van die teken
Jesus het voorts gesê: “Daar sal hongersnode en aardbewings op verskillende plekke wees. Al hierdie dinge is ’n begin van weë van benoudheid” (Mattheüs 24:7, 8, NW). Lukas 21:11 voeg “pessiektes” by daardie lys. Voor die einde van die Eerste Wêreldoorlog het die Spaanse griep-epidemie soos ’n veldbrand deur die aarde begin versprei. Dit het uiteindelik tot die dood van 20 miljoen mense gelei, meer as almal wat in die oorlog gesterf het.
Gedurende en na die oorlog het miljoene ander weens hongersnood gesterf. Aardbewings het ook die lewe van baie geëis. In 1915 het meer as 30 000 in Italië gesterf; in 1920 het ongeveer 200 000 in China omgekom; in 1923 het amper 143 000 in Japan gesterf. Maar al hierdie dinge was, soos Jesus gesê het, net die begin van weë van benoudheid. Een woordeboek definieer “weë” as “’n kort, stekende spasme van pyn”. Hierdie wêreld het sedert 1914 met immertoenemende intensiteit en gereeldheid van die een spasme van pyn na die volgende gesteier. Byvoorbeeld, net 21 jaar na die Eerste Wêreldoorlog het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek, wat 50 miljoen slagoffers geëis het en die atoomeeu ingelui het.
Baie is al in onlangse jare gesê oor nog ’n oorsaak van benoudheid: die mens se vernietiging van die omgewing. Hoewel Jesus dít nie spesifiek in sy profesie genoem het nie, toon Openbaring 11:18 dat die mens voor die naderende vernietiging “verderwers van die aarde” sou wees. Daar is oorvloedige bewyse dat hierdie verderwing plaasvind. Die omgewingsvoorligter Norman Myers gee in die boek State of the World 1988 hierdie skrikwekkende boodskap: “Geen geslag in die verlede het die vooruitsig op massa-uitwissing binne sy lewe gehad nie. Geen geslag in die toekoms sal ooit deur ’n soortgelyke uitdaging in die gesig gestaar word nie: as hierdie teenswoordige geslag nie die probleem oplos nie, sal die skade al klaar aangerig wees en sal daar nie ’n ‘tweede kans’ wees nie.”
Beskou die verslag in die tydskrif Newsweek van 17 Februarie 1992 wat oor die uitputting van osoon in die atmosfeer handel. Alexandra Allen, ’n osoonspesialis vir Groenvrede, is aangehaal en sy het gewaarsku dat die verlies van osoon “nou ’n bedreiging inhou vir die toekoms van alle lewe op die aarde”.—Sien die venster op hierdie bladsy vir verdere bewyse van omgewingsvernietiging van die aarde.
Die ruimte ontbreek om ’n breedvoerige bespreking van alle aspekte van Jesus se profesie te hê. (Sien die tabel op bladsy 5 vir ’n oorsig van ander profetiese aspekte.) Een aspek wat egter nie oor die hoof gesien kan word nie, word in Mattheüs 24:14 beskryf: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Daar bestaan geen twyfel oor wie hierdie wêreldwye predikingswerk verrig nie. Net in 1992 het Jehovah se Getuies in 229 lande meer as eenmiljard uur aan hierdie werk bestee. Hulle werk dien derhalwe as een van die duidelikste bewyse dat ons in die laaste dae leef.
Moenie bedrieg word nie!
Maar party maak dalk beswaar en sê dat al hierdie praatjies oor “die laaste dae” net pessimisme is. ‘Wat van die onlangse val van Kommunisme in Oos-Europa?’ vra hulle, ‘of die pogings van die supermoondhede om vrede te bewerkstellig? Is dit nie bewys dat dinge verbeter nie?’ Nee. Let daarop dat Jesus nie gesê het dat die hele wêreld heeltyd oorloë, aardbewings en hongersnode gedurende die laaste dae sou ondervind nie. Daar sou ten minste ’n paar tydperke van relatiewe kalmte moes wees sodat die goeie nuus wêreldwyd verkondig kan word.
Hou ook in gedagte dat Jesus die laaste dae vergelyk het met die dae voor die Vloed van Noag se dag. Mense was op daardie tydstip voortdurend besig om te eet, te drink en te trou—die normale bedrywighede van die lewe (Mattheüs 24:37-39). Dit toon dat hoewel toestande gedurende die laaste dae onrusbarend sou wees dinge nie só sou versleg dat die alledaagse dinge van die lewe onmoontlik sou wees nie. Soos in Noag se dag is die meeste mense so besig met die daaglikse dinge dat hulle nie ag slaan op hoe ernstig die tye is nie.
Daarom sal dit gevaarlik wees om onverskillig te raak omdat daar skynbaar sekere gunstige politieke ontwikkelinge plaasvind. (Vergelyk 1 Thessalonicense 5:3.) Daar is oorvloedige bewyse dat Jesus se profesie nou vervul word—’n waarskuwing dat vernietiging op hande is!
Die glorieryke nadraai
Die vernietiging van Pompeji het dood en ellende meegebring. Maar die einde van hierdie teenswoordige stelsel sal die weg baan vir ewige lewe op ’n pragtige paradysaarde (Openbaring 21:3, 4). Strydwekkende menseregerings sal nie meer die aarde deur oorloë verniel nie. Mense sal nie meer bewe weens die bedreiging van ’n kernslagting nie. Die fabrieke wat toksiese chemikalieë in die omgewing vrylaat, sal nie meer bestaan nie.—Daniël 2:44.
Dan sal elke mens wat leef ’n liefhebber van geregtigheid en ’n ware vriend wees, wat volkome aan die Koninkryksheerskappy gehoorsaam is (Psalm 37:10, 11). Hospitale, begrafnisondernemings en begraafplase sal tot die verlede behoort. Egskeiding, skeiding, depressie en kindermishandeling sal ook nie meer daar wees nie.—Jesaja 25:8; 65:17.
Wil jy die laaste dae oorleef en lewe om God se glorieryke nuwe wêreld te sien? Dan moet jy ‘wakker bly, want jy weet nie wanneer die bestemde tyd is nie’ (Markus 13:33, NW). Wêreldgebeure toon nietemin dat die bestemde tyd naby is—gevaarlik naby vir baie. Daar is geen tyd om te verspil nie. Doen dus stappe wat jou lewe kan red, en soek diegene wat ag slaan op die wêreldwye teken van die laaste dae. Hulle kan maklik uitgeken word, want hulle is die enigstes wat Jesus se bevel gehoorsaam om die goeie nuus van die Koninkryk wêreldwyd te verkondig. Mag jy stappe doen om jou by hulle te skaar aan die kant van die Koning, Christus Jesus, van wie dit gesê word: “Op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.”—Mattheüs 12:18, 21, vgl. NAV.
[Venster op bladsy 5]
Vier-en-twintig aspekte van die teken
1. Ongeëwenaarde oorlogvoering—Mattheüs 24: 6, 7; Openbaring 6:4
2. Aardbewings—Mattheüs 24:7; Markus 13:8
3. Hongersnode—Mattheüs 24:7; Markus 13:8
4. Pessiektes—Lukas 21:11; Openbaring 6:8
5. Vermeerdering van ongeregtigheid—Mattheüs 24:12
6. Verderwing van die aarde—Openbaring 11:18
7. Liefde wat afkoel—Mattheüs 24:12
8. Verskriklike dinge—Lukas 21:11
9. Onbehoorlike liefde vir geld—2 Timotheüs 3:2
10. Ongehoorsaamheid aan ouers—2 Timotheüs 3:2
11. Meer liefde vir genot as vir God—2 Timotheüs 3:4
12. Eieliefde is oorheersend—2 Timotheüs 3:2
13. ’n Algemene gebrek aan natuurlike liefde—2 Timotheüs 3:3
14. Mense wat onversoenlik is—2 Timotheüs 3:3
15. ’n Gebrek aan selfbeheersing op alle vlakke van die samelewing—2 Timotheüs 3:3
16. Algemene gebrek aan liefde vir die goeie—2 Timotheüs 3:3
17. Baie wat skynheilig beweer dat hulle Christene is—2 Timotheüs 3:5
18. Oormatige etery en drinkery deur baie—Lukas 21:34
19. Spotters verwerp die teken—2 Petrus 3:3, 4
20. Baie valse profete is bedrywig—Mattheüs 24:5, 11; Markus 13:6
21. Die verkondiging van die goeie nuus van God se opgerigte Koninkryk—Mattheüs 24:14; Markus 13:10
22. Die vervolging van ware Christene—Mattheüs 24:9; Lukas 21:12
23. Die uitroep van vrede en veiligheid wat die klimaks van die laaste dae vorm—1 Thessalonicense 5:3
24. Mense slaan nie ag op gevaar nie—Mattheüs 24:39
[Venster op bladsy 6]
Omgewingsprobleme—’n teken van die tye
◻ Die beskermende osoonskild in digbevolkte breedtes van die Noordelike Halfrond raak twee keer vinniger dunner as wat wetenskaplikes net ’n paar jaar gelede gedink het.
◻ ’n Minimum van 140 plant- en dierespesies sterf elke dag uit.
◻ Atmosferiese vlakke van hittehoudende koolstofdioksied is nou 26 persent hoër as die preïndustriële konsentrasie, en dit styg steeds.
◻ Die aarde se oppervlak was in 1990 warmer as in enige jaar sedert daar begin is om in die middel-19de eeu ’n verslag daarvan te hou; ses van die sewe warmste jare wat opgeteken is, het sedert 1980 voorgekom.
◻ Woude verdwyn teen ’n tempo van ongeveer 17 miljoen hektaar per jaar, ’n gebied ongeveer so groot soos die helfte van Finland.
◻ Die wêreldbevolking neem jaarliks met 92 miljoen mense toe—wat amper gelyk is aan nog ’n Mexiko wat jaarliks bygevoeg word; van hierdie getal word 88 miljoen in ontwikkelende lande bygevoeg.
◻ Ongeveer 1,2 miljoen mense het nie veilige drinkwater nie.
Volgens die boek State of the World 1992 deur die Worldwatch-instituut, bladsye 3, 4, W. W. Norton & Company, New York, Londen.
[Prent op bladsy 7]
Ná die vernietiging sal God se glorieryke nuwe wêreld kom