Vrae van lesers
Is dit reg om te sê dat Jehovah se geregtigheid deur sy barmhartigheid getemper word?
Hoewel hierdie uitdrukking al gebruik is, is dit beter om dit te vermy, aangesien dit die indruk skep dat Jehovah se barmhartigheid sy geregtigheid versag of teëhou, asof sy barmhartigheid verhewe is bo die strenger eienskap van geregtigheid. Dit is nie reg nie.
Die Hebreeuse woord wat met “geregtigheid” in die Nuwe wêreld-vertaling vertaal word, kan ook “oordeel” beteken. Geregtigheid is nou verwant aan regverdigheid. Maar geregtigheid het gewoonlik ’n wetlike strekking. Regverdigheid het gewoonlik nie. Dit is waar dat Jehovah se geregtigheid verdiende straf kan insluit, maar dit kan ook redding vir verdienstelikes insluit (Genesis 18:20-32; Jesaja 56:1; Maleagi 4:2). Jehovah se geregtigheid moet derhalwe nie as te streng beskou word of dat dit versag moet word nie.
Die Hebreeuse woord vir “barmhartigheid” kan verwys na die weerhouding van straf. Dit kan ook verwys na ’n daadwerklike betoning van medelye, wat vir minderbevoorregtes verligting bring.—Deuteronomium 10:18; Lukas 10:29-37.
Jehovah is ’n God van geregtigheid sowel as barmhartigheid (Eksodus 34:6, 7; Deuteronomium 32:4; Psalm 145:9). Sy geregtigheid sowel as sy barmhartigheid is volmaak, en daar is ’n harmonieuse werking tussen die twee (Psalm 116:5; Hosea 2:19). Die twee eienskappe hou mekaar volmaak in ewewig of komplimenteer mekaar. As ons derhalwe sou sê dat Jehovah se geregtigheid met sy barmhartigheid getemper word, sou ons ook moet sê dat sy barmhartigheid met sy geregtigheid getemper word.
Jesaja het geprofeteer: “Jehovah [sal] vol verwagting daarna uitsien om aan julle guns te betoon, en daarom sal hy opstaan om aan julle barmhartigheid te bewys. Want Jehovah is ’n God van oordeel [“geregtigheid”, The New English Bible]” (Jesaja 30:18). Jesaja wys hier dat Jehovah se geregtigheid eerder tot dade van barmhartigheid aanleiding gee, as dat sy barmhartigheid sy geregtigheid versag of teëhou. Jehovah bewys barmhartigheid omdat hy regverdig en liefdevol is.
Die Bybelskrywer Jakobus het weliswaar geskryf: “Barmhartigheid verbly hom triomfantlik oor die oordeel” (Jakobus 2:13b). In hierdie konteks praat Jakobus egter nie van Jehovah nie, maar van Christene wat barmhartigheid bewys—byvoorbeeld, teenoor die geteisterdes en die armes (Jakobus 1:27; 2:1-9). Wanneer sulke barmhartiges geoordeel word, neem Jehovah hulle lewenswyse in ag en vergewe hy hulle op barmhartige wyse op grond van sy Seun se offerande. Hulle barmhartige lewenswyse triomfeer dus oor enige ongunstige oordeel wat hulle moontlik in die gesig gestaar het.—Spreuke 14:21; Matteus 5:7; 6:12; 7:2.
Dit is derhalwe nie reg om te sê dat Jehovah se geregtigheid deur sy barmhartigheid getemper word in die sin dat sy geregtigheid deur barmhartigheid versag moet word nie. In Jehovah is die balans tussen die twee eienskappe volmaak. Hulle hou mekaar in ewewig net soos hulle Jehovah se ander eienskappe, soos liefde en wysheid, in ewewig hou—en self ook deur daardie eienskappe in ewewig gehou word.