Wie is Jesus Christus?
STEL jou voor hoe opgewonde ’n jong Jood met die naam Andreas was toe hy vir die eerste keer na die woorde van Jesus van Nasaret geluister het! Die Bybel sê dat Andreas hom na sy broer gehaas het en gesê het: “Ons het die Messias [of, Christus] gevind” (Johannes 1:41). In Hebreeus en Grieks beteken die woorde wat gewoonlik met “Messias” en “Christus” vertaal word, “Gesalfde”. Jesus was die Gesalfde, of die Uitverkorene van God—die beloofde Leier (Jesaja 55:4). Die Skrif het profesieë oor hom bevat, en die Jode was destyds in afwagting van hom.—Lukas 3:15.
Hoe weet ons dat Jesus werklik God se Uitverkorene was? Wel, dink aan wat in die jaar 29 G.J. gebeur het toe Jesus 30 jaar oud was. Hy het na Johannes die Doper gegaan om deur hom in die waters van die Jordaanrivier gedoop te word. Die Bybel sê: “Nadat Jesus gedoop is, het hy onmiddellik uit die water opgekom; en kyk! die hemele is geopen, en hy het gesien hoe God se gees soos ’n duif neerdaal en op hom kom. Kyk! Ook was daar ’n stem uit die hemele wat gesê het: ‘Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het’” (Matteus 3:16, 17). Kon Johannes, nadat hy daardie woorde van goedkeuring gehoor het, enigsins getwyfel het dat Jesus die Uitverkorene van God was? Deur Sy heilige gees op Jesus uit te stort, het Jehovah God hom gesalf, of aangestel, om die Koning van Sy komende Koninkryk te wees. Jesus het só Jesus Christus, of Jesus die Gesalfde, geword. Maar hoe was Jesus God se Seun? Wat was sy oorsprong?
Sy oorsprong was “uit die vroeë tye”
Jesus se lewe kan in drie fases verdeel word. Die eerste het lank voor sy geboorte as ’n mens begin. Sy oorsprong was “uit die vroeë tye . . . , uit die dae van onbepaalde tyd”, sê Miga 5:2. Jesus het self gesê: “Ek is van die ryke daar bo”—dit wil sê van die hemel (Johannes 8:23). Hy was in die hemel as ’n magtige geespersoon.
Aangesien alles wat geskep is, ’n begin gehad het, was daar ’n tyd toe God alleen was. Maar God het ontelbare eeue gelede ’n Skepper geword. Wie was sy eerste skepping? Die laaste boek van die Bybel identifiseer Jesus as “die begin van die skepping deur God” (Openbaring 3:14). Jesus is “die eersgeborene van die hele skepping”. Dit is die geval, “want deur middel van hom is alle ander dinge in die hemele en op die aarde geskep, die sigbare dinge en die onsigbare dinge” (Kolossense 1:15, 16). Ja, Jesus is die enigste een wat regstreeks deur God self geskep is. Daarom word hy God se “enigverwekte Seun” genoem (Johannes 3:16). Die eersgebore Seun dra ook die titel “die Woord” (Johannes 1:14). Waarom? Omdat hy as God se woordvoerder in die hemel gedien het voordat hy as ’n mens gebore is.
“Die Woord” was “in die begin” by Jehovah God toe “die hemel en die aarde” geskep is. Dit was vir hom wat God gesê het: “Laat ons mense maak na ons beeld” (Johannes 1:1; Genesis 1:1, 26). Jehovah se eersgebore Seun was daar aan sy Vader se sy en het aktief saam met hom gewerk. In Spreuke 8:22-31 word hy uitgebeeld as iemand wat sê: “Ek [het] ’n meesterwerker naas [die Skepper] geword, en ek het die een geword vir wie hy dag na dag besonder lief was, terwyl ek die hele tyd voor hom verheug was.”
Hoe intiem moes Jehovah God en sy enigverwekte Seun mekaar tog leer ken het terwyl hulle sy aan sy gewerk het! Daardie intieme assosiasie wat hy tallose eeue lank met Jehovah geniet het, het ’n diepgaande invloed op God se Seun gehad. Hierdie gehoorsame Seun het net soos sy Vader, Jehovah, geword. Om die waarheid te sê, Kolossense 1:15 noem Jesus “die beeld van die onsigbare God”. Dit is een rede waarom kennis van Jesus noodsaaklik is as ons ons geestelike behoefte en ons natuurlike begeerte om God te leer ken, wil bevredig. Alles wat Jesus gedoen het terwyl hy op die aarde was, is presies wat Jehovah van hom verwag het om te doen. As ons Jesus leer ken, beteken dit derhalwe dat ons ook ons kennis van Jehovah verbreed (Johannes 8:28; 14:8-10). Maar hoe het dit gebeur dat Jesus aarde toe gekom het?
Sy lewe as ’n mens
Die tweede fase van Jesus se lewe het begin toe God sy Seun na die aarde gestuur het. Jehovah het dit gedoen deur Jesus se lewe wonderdadig van die hemel na die baarmoeder van ’n getroue Joodse maagd met die naam Maria oor te plaas. Jesus het geen onvolmaaktheid geërf nie omdat hy nie ’n mensevader gehad het nie. Jehovah se heilige gees, of werkende krag, het oor Maria gekom, en sy krag het haar “oorskadu” sodat sy op wonderdadige wyse swanger geword het (Lukas 1:34, 35). Maria het dus aan ’n volmaakte kind geboorte gegee. As die pleegseun van die timmerman Josef is hy in ’n nederige huis grootgemaak en was hy die eerste van verskeie kinders in die gesin.—Jesaja 7:14; Matteus 1:22, 23; Markus 6:3.
Min is bekend oor Jesus se kinderjare, maar een voorval is opmerkenswaardig. Toe Jesus 12 jaar oud was, het sy ouers hom saamgeneem op hulle jaarlikse besoek aan Jerusalem vir die Pasga. Terwyl hy daar was, het hy baie tyd by die tempel deurgebring, “waar hy tussen die leermeesters gesit en na hulle geluister en hulle uitgevra het”. En “almal wat na hom geluister het, was die hele tyd verbaas oor sy begrip en sy antwoorde”. Ja, die jong Jesus was nie net in staat om gedagteprikkelende, geestelik georiënteerde vrae te vra nie, maar kon ook intelligente antwoorde gee wat ander verbaas het (Lukas 2:41-50). Terwyl hy in die stad Nasaret grootgeword het, het hy geleer om ’n timmerman te wees, ongetwyfeld by sy pleegvader, Josef.—Matteus 13:55.
Jesus het in Nasaret gewoon totdat hy 30 jaar oud was. Toe het hy na Johannes gegaan om gedoop te word. Ná sy doop het Jesus met sy dinamiese bediening begin. Hy het drie en ’n half jaar lank kruis en dwars deur sy geboorteland gereis en die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig. Hy het bewys dat hy deur God gestuur is. Hoe? Deur baie wonderwerke te verrig—kragtige werke wat menslik onmoontlik was.—Matteus 4:17; Lukas 19:37, 38.
Jesus was ook ’n man van tere geneentheid en diep gevoelens. Sy teerheid kon veral gesien word in die manier waarop hy ander beskou en behandel het. Omdat Jesus genaakbaar en goedhartig was, het mense tot hom aangetrokke gevoel. Selfs kinders het in sy teenwoordigheid op hulle gemak gevoel (Markus 10:13-16). Jesus het vroue met respek behandel, al het party in sy dag op hulle neergesien (Johannes 4:9, 27). Hy het die armes en onderdruktes gehelp om ‘verkwikking vir hulle siele te vind’ (Matteus 11:28-30). Hy het op ’n duidelike, eenvoudige en praktiese manier onderrig. En die dinge wat hy ander geleer het, het sy hartgrondige begeerte weerspieël om sy toehoorders te help om die ware God, Jehovah, te leer ken.—Johannes 17:6-8.
Met die krag van God se heilige gees het Jesus wonderwerke verrig en die siekes en geteisterdes uit medelye genees (Matteus 15:30, 31). ’n Melaatse het byvoorbeeld na hom gekom en gesê: “As u net wil, kan u my rein maak.” Wat het Jesus gedoen? Hy het sy hand uitgesteek en die man aangeraak en vir hom gesê: “Ek wil. Word gereinig.” En die siek man is genees!—Matteus 8:2-4.
Beskou ook ’n geleentheid toe ’n skare wat na Jesus gekom het, drie dae by hom gebly het en niks gehad het om te eet nie. Hy het innig jammer gevoel vir die mense en die “vierduisend manne, buiten die vroue en jong kinders” wonderdadig gevoed (Matteus 15:32-38). By ’n ander geleentheid het Jesus ’n storm laat bedaar wat die veiligheid van sy vriende bedreig het (Markus 4:37-39). Hy het persone wat gesterf het, opgewek, oftewel weer lewend gemaak (Lukas 7:22; Johannes 11:43, 44).a Jesus het selfs sy volmaakte menselewe gewillig afgelê sodat onvolmaakte mense ’n hoop vir die toekoms kan hê. Watter innige liefde het Jesus tog vir mense gehad!
Waar is Jesus vandag?
Jesus het op die ouderdom van 33 1/2 aan ’n folterpaal gesterf.b Maar die dood was nie die einde van sy lewe nie. Die derde fase van sy lewe het omtrent drie dae later begin toe Jehovah God sy Seun as ’n geespersoon opgewek het. Ná sy opstanding het Jesus aan honderde mense verskyn wat in die eerste eeu G.J. gelewe het (1 Korintiërs 15:3-8). Daarna het hy “aan die regterhand van God gaan sit” en gewag om koninklike mag te ontvang (Hebreërs 10:12, 13). Toe daardie tyd aangebreek het, het Jesus as Koning begin regeer. Watter beeld moet ons dus vandag van Jesus hê? Moet ons aan hom dink as ’n man wat ly en tereggestel word? Of moet ons hom beskou as iemand wat aanbid moet word? Jesus is vandag nie ’n mens nie en ook nie God die Almagtige nie. Hy is eerder ’n magtige geesskepsel, ’n heersende Koning. Hy sal binnekort sy heerskappy oor ons veelbewoë aarde begin uitoefen.
In Openbaring 19:11-16 word Jesus Christus in simboliese taal beskryf as ’n koning wat op ’n wit perd sit en kom om te oordeel en oorlog te voer in regverdigheid. Hy het “’n skerp lang swaard om die nasies mee te slaan”. Ja, Jesus sal sy groot mag gebruik om die goddeloses te vernietig. En wat van diegene wat die voorbeeld probeer volg wat hy gestel het terwyl hy op die aarde was? (1 Petrus 2:21). Hy en sy Vader sal hulle bewaar deur die komende “oorlog van die groot dag van God die Almagtige”—wat dikwels Armageddon genoem word—sodat hulle vir ewig kan lewe as aardse onderdane van God se hemelse Koninkryk.—Openbaring 7:9, 14; 16:14, 16; 21:3, 4.
Watter verbasende wonderwerke sal Jesus tog gedurende sy heerskappy van vrede ten behoewe van die hele mensdom verrig! (Jesaja 9:6, 7; 11:1-10). Hy sal siekte genees en die dood tot niet maak. Jesus sal deur God gebruik word om miljarde mense op te wek, wat hulle die geleentheid sal gee om vir ewig op die aarde te lewe (Johannes 5:28, 29). Ons kan ons nie eers voorstel hoe wonderlik ons lewe onder Koninkryksheerskappy sal wees nie. Dit is dus belangrik dat ons aanhou om Bybelkennis in te neem en om Jesus Christus beter te leer ken.
[Voetnote]
a Die wonderwerke wat Jesus verrig het, was algemeen bekend. Selfs Jesus se vyande het erken dat hy ‘baie tekens doen’.—Johannes 11:47, 48.
b Vir ’n verduideliking om vas te stel of Christus aan ’n folterpaal of aan ’n kruis gesterf het, sien bladsye 254-6 van die boek Redenering uit die Skrif, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Venster op bladsy 7]
IS JESUS GOD DIE ALMAGTIGE?
Talle godsdienstige mense sê dat Jesus God is. Party beweer dat God ’n Drie-eenheid is. Volgens hierdie leer “is die Vader God, is die Seun God en is die Heilige Gees God, en tog is daar nie drie Gode nie, maar een God”. Daar word beweer dat die drie “mede-ewig en gelyk is” (The Catholic Encyclopedia). Is hierdie beskouings reg?
Jehovah God is die Skepper (Openbaring 4:11). Hy is sonder begin of einde en hy is almagtig (Psalm 90:2). Jesus daarenteen het ’n begin gehad (Kolossense 1:15, 16). Jesus het na God as sy Vader verwys en gesê: “Die Vader is groter as ek” (Johannes 14:28). Jesus het ook verduidelik dat daar dinge was wat nie hy of die engele geweet het nie, maar wat net sy Vader geweet het.—Markus 13:32.
Ook het Jesus tot sy Vader gebid: “Laat . . . nie my wil nie, maar u wil geskied” (Lukas 22:42). Tot wie het Jesus gebid as dit nie tot ’n hoër Persoon was nie? Bowendien was dit God wat Jesus uit die dood opgewek het, nie Jesus self nie (Handelinge 2:32). Dit is duidelik dat die Vader en die Seun nie gelyk was voordat Jesus aarde toe gekom het of gedurende sy aardse lewe nie. Wat van ná Jesus se opstanding tot hemelse lewe? Eerste Korintiërs 11:3 sê: “God is die hoof van die Christus.” Trouens, die Seun sal altyd aan God onderworpe wees (1 Korintiërs 15:28). Die Skrif toon dus dat Jesus nie God die Almagtige is nie. Hy is eerder God se Seun.
Die sogenaamde derde persoon van die Drie-eenheid—die heilige gees—is nie ’n persoon nie. Die psalmis het in gebed tot God gesê: “As u u gees uitstuur, word hulle geskep” (Psalm 104:30). Hierdie gees is nie God self nie; dit is ’n werkende krag wat hy uitstuur of gebruik om te volbring wat hy ook al wil. Deur middel daarvan het God die fisiese hemele, die aarde en alle lewende dinge geskep (Genesis 1:2; Psalm 33:6). God het sy heilige gees gebruik om die manne te inspireer wat die Bybel geskryf het (2 Petrus 1:20, 21). Die Drie-eenheid is dus nie ’n skriftuurlike lering nie.c “Jehovah ons God is een Jehovah”, sê die Bybel.—Deuteronomium 6:4.
[Voetnoot]
c Vir verdere inligting, sien die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo? uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 5]
By sy doop het Jesus die Gesalfde van God geword
[Prent op bladsy 7]
Jesus het sy energie aan sy godgegewe werk gewy
[Prent op bladsy 7]
Vandag is Jesus ’n magtige Koning