“Staan die Duiwel teë”, soos Jesus gedoen het
“Staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug.”—JAK. 4:7.
1. Watter teenstand het Jesus geweet sou hy op die aarde ervaar, en met watter gevolg?
JESUS CHRISTUS het geweet dat die Duiwel hom sou teëstaan. Hierdie feit was duidelik uit God se woorde aan die slang en derhalwe aan die bose, opstandige geesskepsel wat deur die slang gepraat het: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou [die hemelse deel van Jehovah se organisasie] en tussen jou saad en haar saad. Hy [Jesus Christus] sal jou kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen wond” (Gen. 3:14, 15; Op. 12:9). Die feit dat Jesus in die hakskeen gewond sou word, het beteken dat hy net ’n tydelike slag toegedien sou word deur op die aarde doodgemaak te word, want Jehovah sou hom tot hemelse heerlikheid opwek. Maar die feit dat die slang se kop vermorsel sou word, het beteken dat die Duiwel ’n doodslag toegedien sou word waarvan hy nooit sou herstel nie.—Lees Handelinge 2:31, 32; Hebreërs 2:14.
2. Waarom was Jehovah seker dat Jesus die Duiwel met welslae sou weerstaan?
2 Jehovah was seker dat Jesus sy toewysing inderdaad sou uitvoer en die Duiwel met welslae sou teëstaan terwyl hy op die aarde was. Waarom kon Jehovah so seker wees hiervan? Omdat hy Jesus eeue tevore in die hemel geskep het, hom dopgehou het en geweet het dat hierdie “meesterwerker” en “eersgeborene van die hele skepping” gehoorsaam en getrou is (Spr. 8:22-31; Kol. 1:15). Toe Jesus aarde toe gestuur is en die Duiwel toegelaat is om hom tot in die dood te toets, was God dus seker dat Sy enigverwekte Seun sou seëvier.—Joh. 3:16.
Jehovah bewaar sy knegte
3. Wat is die Duiwel se gesindheid teenoor Jehovah se knegte?
3 Jesus het na die Duiwel verwys as “die heerser van hierdie wêreld” en het Sy dissipels gewaarsku dat hulle, net soos hy, vervolg sou word (Joh. 12:31; 15:20). Die wêreld, wat in die mag van Satan die Duiwel lê, haat ware Christene omdat hulle Jehovah dien en predikers van regverdigheid is (Matt. 24:9; 1 Joh. 5:19). Die Duiwel spits hom veral toe op die gesalfde oorblyfsel wat uiteindelik saam met Christus in sy hemelse Koninkryk sal heers. Satan spits hom ook toe op die talle Getuies van Jehovah wat die hoop het om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. God se Woord waarsku ons: “Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind.”—1 Pet. 5:8.
4. Wat bewys dat God se volk die Duiwel in ons tyd met welslae teëstaan?
4 As ’n organisasie wat Jehovah God se ondersteuning geniet, staan ons die Duiwel met welslae teë. Beskou hierdie feite: In die afgelope 100 jaar het party van die wreedste diktatorskappe in die geskiedenis Jehovah se Getuies probeer uitwis. Maar die Getuies se getalle neem steeds toe en het nou byna 7 000 000 in meer as 100 000 gemeentes regoor die wêreld bereik. Dit is eerder die wrede diktatorskappe wat Jehovah se volk vervolg het, wat nie meer bestaan nie!
5. Hoe is Jesaja 54:17 bewaarheid in die geval van Jehovah se knegte?
5 God het die gemeente van eertydse Israel as sy “vrou” aangespreek en belowe: “Geen wapen wat teen jou gesmee sal word, sal enige sukses hê nie, en elke tong wat in die gereg teen jou sal opstaan, sal jy veroordeel. Dit is die erfbesitting van die knegte van Jehovah, en hulle regverdigheid is uit my” (Jes. 54:11, 17). In hierdie “laaste dae” is dié belofte bewaarheid in die geval van Jehovah se volk regoor die aarde (2 Tim. 3:1-5, 13). Ons hou aan om die Duiwel teë te staan, en geen wapen wat hy probeer gebruik om God se volk uit te wis, is suksesvol nie, want Jehovah is aan ons kant.—Ps. 118:6, 7.
6. Wat vertel Daniël se profesie ons van wat die toekoms inhou vir die Duiwel se heerskappy?
6 Wanneer die vinnig naderende einde van hierdie hele goddelose stelsel van dinge aanbreek, sal alle aspekte van Satan se heerskappy heeltemal uitgewis word. Die profeet Daniël het onder goddelike inspirasie voorspel: “In die dae van dié konings [wat in ons dag bestaan] sal die God van die hemel ’n koninkryk [in die hemel] oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie koninkryke [wat nou bestaan] verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan” (Dan. 2:44). Wanneer dit gebeur, sal Satan se heerskappy sowel as heerskappy deur onvolmaakte mense verdwyn. Elke aspek van die Duiwel se stelsel van dinge sal vir ewig weg wees, en God se Koninkryk sal sonder enige teenstand oor die hele aarde regeer.—Lees 2 Petrus 3:7, 13.
7. Hoe weet ons dat Jehovah se knegte as individue die Duiwel met welslae kan teëstaan?
7 Daar bestaan geen twyfel dat Jehovah se organisasie bewaar sal word en geestelik sal floreer nie. (Lees Psalm 125:1, 2.) Wat van ons? Die Bybel sê vir ons dat ons, soos Jesus, die Duiwel met welslae kan teëstaan. Om die waarheid te sê, die profesie wat Christus deur middel van die apostel Johannes gegee het, toon dat “’n groot menigte” mense met ’n aardse hoop hierdie stelsel se einde sal oorleef ondanks sataniese teenstand. Volgens die Skrif roep hulle uit: “Redding is ons verskuldig aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam [Jesus Christus]” (Op. 7:9-14). Daar word van die gesalfdes gesê dat hulle Satan oorwin, en hulle metgeselle, die “ander skape”, staan hom ook met welslae teë (Joh. 10:16; Op. 12:10, 11). Maar om dit te doen, verg ywerige inspanning en opregte gebede om ‘van die bose verlos te word’.—Matt. 6:13.
’n Volmaakte voorbeeld van iemand wat die Duiwel teëgestaan het
8. Wat is die eerste opgetekende versoeking wat die Duiwel in die wildernis teen Jesus gebruik het, en hoe het Christus gereageer?
8 Die Duiwel het Jesus se onkreukbaarheid probeer ondermyn. In die wildernis het Satan versoekings gebruik om Jesus so ver te kry om ongehoorsaam aan Jehovah te wees. Maar Jesus het ’n volmaakte voorbeeld daarin gestel om Satan teë te staan. Nadat Jesus 40 dae en 40 nagte lank gevas het, was hy waarskynlik baie honger. “As jy ’n seun van God is”, het Satan gesê, “sê vir hierdie klippe om brode te word.” Maar Jesus het geweier om sy godgegewe krag tot sy eie voordeel te gebruik. Jesus het eerder gesê: “Daar staan geskrywe: ‘Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom.’”—Matt. 4:1-4; Deut 8:3.
9. Waarom moet ons die Duiwel se pogings om ons natuurlike fisiese begeertes uit te buit, weerstaan?
9 Vandag probeer die Duiwel die natuurlike fisiese begeertes van Jehovah se knegte uitbuit. Ons moet derhalwe vasbeslote wees om versoekings te weerstaan in verband met geslagsonsedelikheid, iets wat in hierdie onsedelike wêreld besonder algemeen is. God se Woord sê uitdruklik: “Wat! Weet julle nie dat onregverdiges God se koninkryk nie sal beërf nie? Moenie mislei word nie. Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of mans wat vir onnatuurlike doeleindes aangehou word of mans wat by mans lê, . . . sal God se koninkryk beërf nie” (1 Kor. 6:9, 10). Dit is dus duidelik dat mense wat ’n onsedelike lewe lei en weier om te verander, nie toegelaat sal word om in God se nuwe wêreld te lewe nie.
10. Watter ander versoeking het Satan volgens Matteus 4:5, 6 gebruik om Jesus se onkreukbaarheid te probeer ondermyn?
10 Die Skrif sê oor een van die versoekings waarvoor Jesus in die wildernis te staan gekom het: “Die Duiwel [het] hom saamgeneem in die heilige stad in, en hy het hom bo-op die muur van die tempel laat staan en vir hom gesê: ‘As jy ’n seun van God is, spring af; want daar staan geskrywe: “Hy sal sy engele aangaande jou opdrag gee, en hulle sal jou op hulle hande dra, sodat jy nooit jou voet teen ’n klip sal stamp nie”’” (Matt. 4:5, 6). Dit sou waarskynlik ’n skouspelagtige vertoning van Jesus se Messiasskap tot gevolg gehad het. Maar in werklikheid sou dit ’n ongepaste, verwaande daad gewees het wat nie God se goedkeuring en steun sou gehad het nie. Jesus het weer eens sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah gehandhaaf en geantwoord deur uit die Skrif aan te haal. Hy het gesê: “Daar staan ook geskrywe: ‘Jy mag Jehovah jou God nie op die proef stel nie.’”—Matt. 4:7; Deut. 6:16.
11. Hoe kan Satan ons in die versoeking bring, en wat kan die gevolg wees?
11 Satan kan ons in die versoeking bring om heerlikheid op verskillende maniere te soek. Hy sal ons dalk probeer oorreed om wêreldse giere met betrekking tot kleredrag en persoonsversorging te volg of om twyfelagtige vermaak te kies. Maar kan ons, as ons Bybelraad ignoreer en die wêreld navolg, verwag dat die engele ons sal beskerm teen die slegte gevolge van so ’n weg? Hoewel koning Dawid berou gehad het oor sy sondes met betrekking tot Batseba, is hy nie beskerm teen die gevolge van sy dade nie (2 Sam. 12:9-12). Laat ons Jehovah nie op ongepaste maniere op die proef stel, dalk deur vriendskap met die wêreld aan te kweek nie.—Lees Jakobus 4:4; 1 Johannes 2:15-17.
12. Watter versoeking word in Matteus 4:8, 9 gemeld, en hoe het God se Seun gereageer?
12 Nog ’n versoeking wat die Duiwel in die wildernis gebruik het, het verband gehou met ’n aanbod om Jesus politieke mag te gee. Satan het Jesus al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid gewys en gesê: “Al hierdie dinge sal ek jou gee as jy neerval en ’n daad van aanbidding teenoor my verrig” (Matt. 4:8, 9). Wat ’n gewetenlose poging om die aanbidding te kry wat Jehovah toekom en Jesus oor te haal om ontrou aan God te wees! Omdat hy bly dink het aan sy begeerte om aanbid te word, het hierdie eens lojale engel die sondige, hebsugtige en uiters bose versoeker Satan die Duiwel geword (Jak. 1:14, 15). In skerp teenstelling hiermee was Jesus egter vasbeslote om getrou te bly aan sy hemelse Vader en het hy derhalwe gesê: “Gaan weg, Satan! Want daar staan geskrywe: ‘Jehovah jou God moet jy aanbid, en aan hom alleen moet jy heilige diens verrig.’” So het Jesus die Duiwel weer eens op duidelike en besliste wyse teëgestaan. God se Seun wou niks van Satan se wêreld hê nie en sou nooit hierdie bose skepsel aanbid nie!—Matt. 4:10; Deut. 6:13; 10:20.
“Staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug”
13, 14. (a) Wat het die Duiwel vir Jesus aangebied toe hy hom al die koninkryke van die wêreld gewys het? (b) Hoe probeer Satan ons verderf?
13 Toe die Duiwel vir Jesus al die koninkryke van die wêreld gewys het, het hy hom ongeëwenaarde menslike mag aangebied. Satan het gehoop dat wat Jesus gesien het, vir hom aantreklik sou wees en hom sou oortuig dat hy die aarde se magtigste politieke leier kon word. Vandag bied die Duiwel nie vir ons koninkryke aan nie, maar hy probeer wel om ons hart deur middel van ons oë, ore en verstand te verderf.
14 Die Duiwel is in beheer van hierdie wêreld. Gevolglik beheer hy die wêreld se media. Daarom is dit nie verbasend nie dat die dinge wat die wêreld mense bied om na te kyk, na te luister en te lees, deurtrek is van onsedelikheid en geweld. Hierdie wêreld se reklamebedryf probeer ’n begeerte by ons wek na ’n oorvloed verbruikersgoedere wat ons nie nodig het nie. Die Duiwel gebruik hierdie middele om ons voortdurend met materiële dinge te versoek wat vir ons oë, ore en verstand aanloklik kan wees. Maar as ons weier om na materiaal wat skriftuurlik onaanneemlik is, te kyk en te luister, of dit te lees, sê ons in werklikheid: “Gaan weg, Satan!” Sodoende volg ons Jesus na deur Satan se onrein wêreld ferm en beslis te verwerp. Die feit dat ons geen deel van Satan se wêreld is nie, word ook gesien in hoe ons ons by die werk, op skool, in ons buurt en onder ons familielede moedig as Jehovah se Getuies en Christus se volgelinge identifiseer.—Lees Markus 8:38.
15. Waarom moet ons altyd wakker wees as ons Satan wil teëstaan?
15 Ná die Duiwel se derde onsuksesvolle poging om Jesus so ver te kry om Sy onkreukbaarheid teenoor God prys te gee, “het die Duiwel hom verlaat” (Matt. 4:11). Satan was egter nie van plan om op te hou om Jesus te versoek nie, want ons lees: “Toe die Duiwel dan alle versoeking [in die wildernis] tot ’n einde gebring het, het hy tot ’n ander geskikte tyd van hom gewyk” (Luk. 4:13). Wanneer ons daarin slaag om die Duiwel teë te staan, moet ons Jehovah dank. Maar ons moet ook aanhou om God se hulp te soek, want die Duiwel sal terugkeer om ons te versoek op ’n ander tyd wat vir hom geskik is—en nie noodwendig wanneer ons dalk ’n versoeking verwag nie. Ons moet dus te alle tye wakker bly, gereed om te volhard in ons heilige diens aan Jehovah ongeag watter toetse ons ondervind.
16. Watter sterk krag gee Jehovah ons, en waarom moet ons daarvoor bid?
16 Om ons te help in ons pogings om die Duiwel teë te staan, moet ons bid vir die sterkste krag in die heelal—God se heilige gees—en ons sal dit ontvang. Dit sal ons in staat stel om dinge te doen wat vir ons onmoontlik sal wees in ons eie krag. Jesus het sy volgelinge verseker dat God se gees beskikbaar is deur te sê: “As julle, hoewel julle [onvolmaak en dus relatief] goddeloos is, dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra!” (Luk. 11:13). Laat ons aanhou om tot Jehovah te bid vir sy heilige gees. Met hierdie allersterkste krag wat ons steun in ons vasbeslotenheid om die Duiwel teë te staan, sal ons kan seëvier. Benewens gereelde en vurige gebed moet ons ook die volle geestelike wapenrusting van God aantrek sodat ons ‘kan vasstaan teen die sette, of listige dade, van die Duiwel’.—Ef. 6:11-18, vtn. in NW.
17. Watter vreugde het Jesus gehelp om die Duiwel te weerstaan?
17 Daar is nog iets wat Jesus gehelp het om die Duiwel teë te staan, en dit kan ons ook help. Die Bybel sê: “Vir die vreugde wat [Jesus] voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het, en het hy aan die regterhand van die troon van God gaan sit” (Heb. 12:2). Ons kan soortgelyke vreugde ervaar as ons Jehovah se soewereiniteit ondersteun, sy heilige naam eer en die beloning van die ewige lewe voor oë hou. Watter vreugde sal ons tog ondervind wanneer Satan en al sy werke vir ewig uitgewis is en ‘die sagmoediges die aarde besit en hulle verlustig in die oorvloed van vrede’! (Ps. 37:11). Hou dus aan om die Duiwel teë te staan, soos Jesus gedoen het.—Lees Jakobus 4:7, 8.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat bewys dat Jehovah sy volk bewaar?
• Hoe het Jesus ’n voorbeeld daarin gestel om Satan teë te staan?
• Hoe kan jy die Duiwel teëstaan?
[Prent op bladsy 29]
Vriendskap met die wêreld maak ons vyande van God
[Prent op bladsy 31]
Jesus het Satan se aanbod van al die wêreldse koninkryke verwerp