126Ste Gileadgraduering
Hoe om ’n suksesvolle sendeling te wees
’N OPGEWONDE skare het vir ’n spesiale geleentheid by die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, New York, vergader. Saterdag 14 Maart 2009 was die gradueringsdag vir die 126ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead. Die gegradueerdes sou weldra na 22 lande gestuur word om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig.—Matteus 24:14.
Die studente het kort tevore ’n intensiewe, vyf maande lange Bybelstudiekursus voltooi wat saamgestel is om hulle te help om suksesvolle Christensendelinge te word. Die gradueringsdag het hulle ’n laaste geleentheid gegee om as ’n klas te luister na wyse raad oor hoe om hierdie doel te bereik.
Die Gileadskool het sendelinge in 1943 begin oplei, het Anthony Morris vertel, wat ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies is en as voorsitter van die program opgetree het. Sedertdien het gegradueerdes ’n geweldige impak op die wêreldwye predikingswerk gehad.
Hoewel die skrifgeleerdes en Fariseërs op Jesus se apostels neergesien het as “ongeleerde en eenvoudige manne”, moes hierdie teenstanders erken dat die apostels uitgesproke is omdat hulle saam met Jesus was, het die spreker gesê (Handelinge 4:13, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Die opleiding wat die studente ontvang het, stel hulle in staat om uitgesproke te wees.
“Moenie ’n aannemer van aangesigte wees nie” is die tema wat ontwikkel is deur Robert Ciranko, ’n helper van die Skryfkomitee van die Bestuursliggaam. Hy het daarop gewys dat die studente binnekort mense sal ontmoet wie se kultuur en gebruike grootliks van hulle s’n verskil. Maar dit sal nie vir die studente moeilik wees om vir hulle te preek as hulle Jehovah se gesindheid aankweek nie. Volgens ’n letterlike vertaling van Handelinge 10:34 is “God nie ’n aannemer van aangesigte” nie, dit wil sê, hy begunstig nie een aangesig bo ’n ander nie. ‘God is nie partydig nie’ (Handelinge 10:35). “As julle God se gesindheid aankweek en almal in julle toewysing beskou as persone met die potensiaal om vir God aanneemlik te wees, sal julle beslis sukses behaal as sy sendelinge”, het broer Ciranko gesê.
“Julle het wat nodig is”
Samuel Herd, ’n lid van die Bestuursliggaam, het sy toespraak begin deur te sê: “Party mense beskou ’n kameel as ’n lelike dier, en tog is dit volkome geskik vir lewe in die woestyn.” Die nuwe sendelinge het eweneens wat nodig is om suksesvol te wees in hulle toegewese gebied. Vyf dinge sal hulle help.
1. Liefde vir Jehovah (Matteus 22:37, 38). Die studente het reeds hulle vasbeslotenheid getoon om Jehovah te dien.
2. Vergaarde kennis van God se Woord. ’n Kameel vergaar voedsel in die vet van sy rugbult. Maar hy sal nie ophou eet en op hierdie noodvoorraad staatmaak nie. Net so moet sendelinge nie net staatmaak op die inligting wat hulle tydens die Gileadskool geleer het nie, maar hulle moet aanhou om hulle geestelik te voed.
3. Liefde vir mense (Matteus 22:39). Die studente het medelye met mense.
4. ’n Gewillige gees (Psalm 110:3). Wanneer ’n sendeling se energie begin afneem, gee Jehovah volle sterkte in oorvloed.—Jesaja 40:29.
5. Jeugdige krag. Net soos ’n kameel ’n ruiter oor ’n woestyn dra, sal ’n sendeling dalk ’n mede-Christen wat geestelike hulp nodig het, moet “dra”. Dit vereis baie energie, maar die sendelinge het jeugdige krag.
Nog glanspunte van die program
Amandels was van die gesogte produkte wat Jakob as ’n geskenk aan ’n Egiptiese heerser gestuur het, het Michael Burnett, ’n Gileadinstrukteur, gesê (Genesis 43:11). Amandels is klein, maar is vol voedingswaarde. Die studente het tydens hulle kursus talle geestelike amandels gekou. Van die lesse wat hulle met hulle moet saamneem, is hoe belangrik dit is om tevrede te wees met Jehovah se voorsienings en om hulle nuwe omgewing te leer liefkry.
Mark Noumair, ook ’n Gileadinstrukteur, het verduidelik dat God se Woord soos “’n sak vol wysheid” is (Job 28:18). Ons moet hierdie sak oopmaak en die inhoud daarvan gebruik. As sendingdiens nie is wat die studente verwag het nie, kan hulle aan die apostel Paulus dink. Jesus se dissipels het hom vir nege jaar na sy tuisdorp gestuur. Paulus het nie geredeneer dat hy as “’n uitverkore vat” elders moet dien nie; hy het eerder hard gewerk waar hy ook al was (Handelinge 9:15, 28-30). Dit kan ’n uitdaging wees om Jehovah se keuse te respekteer. Nog iemand wat dit gedoen het, was Jonatan. Jonatan het erken dat Dawid Jehovah se keuse as koning is en was tevrede om hom te ondersteun.
In die deel “God se knegte spreek met vrymoedigheid” het die studente ondervindinge gedemonstreer wat hulle in die predikingswerk gehad het terwyl hulle die kursus bygewoon het. Baie van hulle het Bybelstudies begin. Die volgende deel, “Voorberei deur Jehovah se organisasie”, het onderhoude ingesluit met drie sendelinge wat al jare lank dien. Elkeen het verduidelik hoe hy opgelei is om met God se organisasie saam te werk.
“Wees ’n gelukkige sendeling”
Gerrit Lösch, nog ’n lid van die Bestuursliggaam, het toe die hoofdeel van die program aangebied: “Wees ’n gelukkige sendeling.” Baie bedrywighede wat as “pret” beskou word, bring nie ware geluk mee nie, het hy genoem (Spreuke 14:13; Prediker 2:10, 11). Blywende geluk spruit daaruit voort om God se wil te doen, al is dit nie altyd maklik nie. Die Gileadkursus was harde werk, maar het groot bevrediging meegebring.
Verskeie dinge dra by tot ware Christene se geluk. Hulle aanbid die gelukkige God (Psalm 33:12; 1 Timoteus 1:11). Hulle lewe in ’n geestelike paradys, en die Bybel belowe dat die aarde binnekort ’n letterlike paradys sal wees. Hulle het die doel van die lewe gevind—om Jehovah te dien en hom te loof. Wat meer is, Jehovah en Jesus het hulle lief.
“Jy sal ’n gelukkige sendeling wees”, het die spreker bygevoeg, “as jy leer om vergenoeg te wees.” Jou liefde vir ander en hulle liefde vir jou is ook belangrik om gelukkig te wees. Sien dus eerder die foute van ander oor as om die aandag daarop te vestig. Doen goed aan ander, ondersteun die swakkes, vertel ander van jou goeie ondervindinge (Psalm 41:1, 2; Handelinge 20:35). Dit bring geluk mee as jy jou inspan in die predikingswerk.—Lukas 11:28.
“Gaan dien as ’n gelukkige sendeling”, het broer Lösch afgesluit, “bestee ’n bietjie tyd aan ontspanning, maar lê jou veral daarop toe om ons gelukkige God, Jehovah, te loof, en om baie ander ook gelukkig te maak.”
Nadat Anthony Morris die groete van ’n aantal lande oorgedra het, het hy die studente se diplomas oorhandig. Hierna het ’n verteenwoordiger van die 126ste klas ’n brief gelees wat aan die Bestuursliggaam gerig is. Daarin het die studente hulle waardering uitgespreek vir hulle voorreg om die Gileadskool by te woon.
Die voorsitter het in sy slot gemeld dat die “gewrigte en ligamente” wat ’n liggaam saamheg, ooreenkom met die middele en reëlings wat “die getroue en verstandige slaaf” gebruik om Jehovah se volk te voed en te lei (Kolossense 2:18, 19; Matteus 24:45). As die Gileadgegradueerdes ten volle saamwerk met God se aangestelde verteenwoordigers, sal hulle daarin slaag om hulle bediening ten volle uit te voer.—2 Timoteus 4:5.
[Venster op bladsy 30]
KLASSTATISTIEK
Aantal lande verteenwoordig: 6
Aantal lande waarheen gestuur: 22
Aantal studente: 56
Aantal egpare: 28
Gemiddelde ouderdom: 32,8
Gemiddelde jare in waarheid: 17,9
Gemiddelde jare in voltydse diens: 13,5
LANDE WAARHEEN GESTUUR
Die gegradueerdes is gestuur na Benin, Bolivia, Bulgarye, Burkina Faso, Costa Rica, Ghana, Guatemala, Honduras, Kameroen, Kenia, Liberië, Madagaskar, Mosambiek, Nicaragua, Panama, Paraguay, Peru, Roemenië, Sierra Leone, Suid-Afrika, Togo en Uganda.
[Prent op bladsy 31]
126ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead
In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee.
(1) Kirchhoff, K.; Nichols, C.; Guzmán, Y.; Coil, H.; Becker, O.; De Simone, A. (2) Manzanares, A.; Bouvier, E.; Peddle, J.; Mason, H.; Braz, J. (3) Lee, J.; Forte, A.; Boucher, T.; Marsh, A.; Leighton, S.; Glover, M. (4) Kambach, H.; Jones, T.; Ferreira, A.; Morales, J.; Chicas, S.; Davis, B.; Dormanen, E. (5) Dormanen, B.; Nichols, J.; Pacho, T.; Titmas, L.; Bouvier, E.; Kirchhoff, A. (6) Leighton, G.; Pacho, A.; Van Campen, B.; Manzanares, A.; Rivard, A.; Lee, Y.; Titmas, L. (7) Boucher, M.; Coil, K.; Marsh, C.; Guzmán, J.; Jones, W.; Kambach, J. (8) Glover, A.; Ferreira, G.; Mason, E.; Forte, D.; Davis, N.; Chicas, O.; Rivard, Y. (9) Braz, D.; Van Campen, D.; Morales, A.; De Simone, M.; Becker, M.; Peddle, D.