Kan jy oorkom na Masedonië?
IN DIE hawestad Troas in Klein-Asië het die apostel Paulus ’n visioen ontvang. ’n Masedoniese man het hom gesmeek: “Kom oor na Masedonië en help ons.” Onmiddellik nadat Paulus die visioen gesien het, het hy en sy reisgenote “die gevolgtrekking gemaak . . . dat God [hulle] geroep het om die goeie nuus aan [die Masedoniërs] bekend te maak”. Die gevolg? In die vernaamste stad van Masedonië, Filippi, het Lidia en haar huisgesin gelowiges geword. Ander in hierdie Romeinse provinsie Masedonië het ook gelowiges geword.—Hand. 16:9-15.
’n Soortgelyke ywerige gees word vandag onder Jehovah se Getuies gesien. Baie het gewillig en op eie koste na gebiede verhuis waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Byvoorbeeld, Lisa wou die bediening ’n belangriker plek in haar lewe gee. Sy het van Kanada na Kenia getrek. Trevor en Emily, ook Kanadese, het na Malawi gegaan met die doel om hulle bediening uit te brei. Paul en Maggie, uit Engeland, het hulle aftrede as ’n gulde geleentheid beskou om meer in Jehovah se diens te doen en het na Oos-Afrika verhuis. Het jy ’n selfopofferende gees? Kan jy dit oorweeg om iets soortgelyks te doen? Indien wel, watter Bybelbeginsels en praktiese wenke kan jou help om ’n sukses daarvan te maak?
Ondersoek jouself
Een ding waaraan jy moet dink, is jou beweegredes. Volgens Jesus is die grootste gebod: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” Die redes waarom ’n mens in ’n ander land wil dien, moet liefde vir God wees en ’n begeerte om die opdrag om dissipels te maak, uit te voer. Jesus het verder gesê: “Die tweede, soortgelyk hieraan, is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’” Naasteliefde word gesien in iemand se opregte begeerte om ander te help (Matt. 22:36-39; 28:19, 20). Om in ’n ander land te dien, behels gewoonlik baie werk en ’n selfopofferende gees. Dit is nie net ’n avontuur nie. Jy moet deur liefde beweeg word. Remco en Suzanne, uit Nederland, wat nou in Namibië dien, som dit soos volg op: “Dit is liefde wat ons hier hou.”
Willie, wat ’n kringopsiener in Namibië is, sê: “Dié wat in ’n buitelandse gebied aangebly het, het nie gekom met die idee dat die plaaslike broers vir hulle moet sorg nie. Hulle het gekom met die begeerte om saam met hulle plaaslike broers te dien en hulle in die predikingswerk te help.”
Nadat jy jou beweegredes ondersoek het, kan jy jou afvra: ‘Watter ondervinding het ek wat van nut kan wees in ’n buitelandse gebied? Is ek ’n doeltreffende bedienaar? Watter tale praat ek? Is ek bereid om ’n nuwe taal aan te leer?’ Gesels ernstig hieroor met jou gesin. Raadpleeg die ouer manne in jou gemeente. En maak dit beslis ’n saak van gebed tot Jehovah. So ’n eerlike selfondersoek behoort jou te help om te bepaal of jy werklik die vermoë en vasbeslotenheid het om in ’n ander land te gaan dien.—Sien die venster “Ken jouself”.
Waar om te dien
Paulus is in ’n visioen na Masedonië geroep. Vandag gebruik Jehovah nie bonatuurlike maniere om ons te lei nie. Maar deur middel van hierdie tydskrif en ander publikasies kom God se volk te hore van baie gebiede waar hulp dringend nodig is. Begin dus deur ’n lys van sulke plekke te maak. As jy nie bereid is om ’n nuwe taal aan te leer nie of jou verblyf in ’n ander land nie permanent sal wees nie, kan jy dit oorweeg om in ’n land te dien waar jy reeds die vernaamste taal kan praat. Vind dan uit oor dinge soos visumvereistes, vervoer, veiligheid, algemene lewenskoste en die klimaat. Jy sal dit dalk nuttig vind om met persone te praat wat dit reeds gedoen het. Doen dit alles met ’n biddende gesindheid. Onthou dat Paulus en sy metgeselle “deur die heilige gees verbied is om die woord in die landstreek Asië te spreek”. Hoewel hulle na Bitinië probeer gaan het, het “die gees van Jesus . . . hulle dit nie toegelaat nie”. Net so sal dit dalk tyd neem om te bepaal waar jy werklik van hulp kan wees.—Hand. 16:6-10.
Teen dié tyd het jy miskien aan ’n paar realistiese opsies gedink. As jy dit oorweeg om in ’n ander land te gaan dien, kan jy gerus skryf aan die takkantore van Jehovah se Getuies in die lande wat jy in gedagte het. Beskryf jou teokratiese agtergrond en noem spesifieke vrae wat jy dalk het, soos vrae oor die lewenskoste, die soort verblyf wat jy moontlik kan vind, beskikbare gesondheidsfasiliteite en sekulêre werksgeleenthede. Gee dan jou brief of briewe aan die dienskomitee in jou gemeente. Hulle sal hulle aanbevelingsbrief daarby insluit en dit direk aan die betrokke takkantore stuur. Die antwoorde op jou briewe sal jou waarskynlik help om te besluit waar jy van die grootste hulp kan wees.
Willie, wat vroeër aangehaal is, sê: “Dié wat goed aangepas het, het gewoonlik eers die land besoek en plekke verken waar hulle, realisties gesproke, gelukkig sou kon wees. Een egpaar het besef dat hulle dit moeilik sou vind om in ’n afgeleë gebied te woon. Hulle het hulle dus in ’n dorp gevestig waar verkondigers nodig was, maar waar hulle ’n lewenstandaard kon handhaaf waarmee hulle gelukkig kon wees.”
Nuwe uitdagings
Om na ’n heeltemal nuwe omgewing te verhuis, sal ongetwyfeld sekere uitdagings vir jou inhou. “Dit kan baie moeilik wees om eensaamheid te verwerk”, sê Lisa, wat vroeër genoem is. Wat help haar? Om na aan die plaaslike gemeente in haar nuwe tuiste te bly. Sy het haar daarop toegelê om elkeen se naam te leer ken. Om dit te kan doen, het sy vroeg by die vergaderinge aangekom en agterna langer gebly om met die broers en susters te praat. Lisa het saam met ander in die bediening gewerk, baie na haar huis genooi en nuwe vriende gemaak. Sy sê: “Ek is nie spyt oor die opofferings nie. Jehovah het my werklik geseën.”
Nadat Paul en Maggie ’n gesin grootgemaak het, het hulle weggetrek van die plek waar hulle 30 jaar lank gewoon het. Hy vertel: “Dit was verbasend maklik om van besittings ontslae te raak. Maar om familie agter te laat, was die ware uitdaging, baie erger as wat ons verwag het. Op die vliegtuig het ons ons hart uitgehuil. Dis so maklik om te dink: ‘Ons kan dit eenvoudig nie doen nie.’ Maar ons het op Jehovah vertrou. Ons het nuwe vriende gemaak, en dit het ons gehelp om met groter vasbeslotenheid voort te gaan.”
Greg en Crystal het besluit om van Kanada na Namibië te trek omdat hulle Engels, die land se amptelike taal, kan praat. Maar later het hulle besef hoe nuttig dit sou wees om ’n plaaslike taal aan te leer. “Soms het ons mismoedig geraak. Maar eers nadat ons die plaaslike taal geleer het, het ons die kultuur verstaan. Noue omgang met die plaaslike broers het ons gehelp om by ons nuwe omgewing aan te pas.”
So ’n nederige en gewillige gesindheid kan ook ’n positiewe uitwerking op die plaaslike broers hê. Jenny het aangename herinneringe van gesinne wat verhuis het na Ierland, waar sy grootgeword het. “Húlle was die gasvrye gesinne”, sê sy. “Hulle het werklik gekom om te dien, nie om gedien te word nie. Hulle was so ywerig en gelukkig dat ek dit ook moes probeer.” Jenny dien nou saam met haar man as ’n sendeling in Gambië.
Die seën van Jehovah “maak ryk”
Hoe verrykend was Paulus se ondervinding in Masedonië tog! Sowat tien jaar later het hy aan die broers in Filippi geskryf: “Ek dank my God altyd elke keer as ek aan julle dink.”—Fil. 1:3.
Trevor en Emily, wat in Malawi gedien het voordat hulle na die Wagtoring-Bybelskool Gilead genooi is, voel dieselfde. “Partykeer het ons gewonder of ons die regte ding doen, maar ons was gelukkig. Ons het ’n hegter verhouding met mekaar geniet en het Jehovah se seën ondervind.” Greg en Crystal, wat vroeër genoem is, sê: “Daar is niks wat ons eerder sou wou doen nie.”
Nie almal is weliswaar in staat om in ’n ander land te gaan dien nie. Vir party sal dit dalk beter wees om in hulle eie land na ’n gebied te trek waar hulp nodig is. Ander kan daarna streef om in nabygeleë gemeentes te dien. Wat belangrik is, is dat jy alles in jou vermoë doen om Jehovah te dien (Kol. 3:23). Dan sal die volgende geïnspireerde woorde vir jou bewaarheid word: “Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie.”—Spr. 10:22.
[Venster/Prent op bladsy 5]
Ken jouself
Om te sien of jy dalk in ’n ander land kan dien, kan jy die volgende vrae ondersoek en eerlik en biddend oorweeg of dit vir jou realisties is om te verhuis. Inligting uit vorige nommers van Die Wagtoring kan jou help om dit te doen.
• Is ek ’n geestelike persoon?—“Stappe tot geluk” (15 Oktober 1997, bladsy 6)
• Is ek ’n doeltreffende bedienaar?—“Hoe om in die pionierbediening te slaag” (15 Mei 1989, bladsy 21)
• Kan ek ver van familie en vriende af woon?—“Hoe om heimwee in God se diens die hoof te bied” (15 Mei 1994, bladsy 28)
• Kan ek ’n nuwe taal aanleer?—“Diens saam met ’n anderstalige gemeente” (15 Maart 2006, bladsy 17)
• Kan ek dit bekostig om te trek?—“Kan jy in ’n ander land dien?” (15 Oktober 1999, bladsy 23)
[Prent op bladsy 6]
’n Nederige en gewillige gesindheid kan ’n positiewe uitwerking op die plaaslike broers hê
[Prent op bladsy 7]
Diegene wat kom om te dien, is dié wat suksesvol is