Bevorder Koninkryksbelange met ’n selfopofferende gees
1 Ons lewe in ’n wêreld waarin die gees van selfopoffering feitlik heeltemal verdwyn het. Min mense vandag dink daaraan om ander te help. Dit lyk of daar ’n genotsugtige, egosentriese houding heers. Paulus het ons dag beskryf en gesê: “Mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, . . . ondankbaar” (2 Tim. 3:2). Christene moet die wêreld se goddelose gees weerstaan as hulle God se guns wil behou. Hoe so, en op watter maniere kan ons selfopofferend wees ter bevordering van Koninkryksbelange?
WAAROM ONS SELFOPOFFEREND MOET WEES
2 Alle goeie dinge kom van Jehovah af (Jak. 1:17). Wat ons ook al besit, behoort aan hom. Die wete dat ons God alles verskuldig is, moet ons kragtig beweeg om ons tyd, talente, besittings, ons hele lewe, vir sy diens op te offer. (Vergelyk 1 Korinthiërs 4:7.) In alle opsigte is ons sulke toewyding aan hom verskuldig.—Openb. 4:11.
3 Jesus Christus is die volmaakte voorbeeld van iemand wat selfopofferend was. Hy het persoonlike belange opsy geskuif om God se wil te doen en dit het ’n sterk begeerte geopenbaar om sy Vader te behaag. Hy het heeltemal daarin opgegaan om Koninkryksbelange na te streef (Joh. 5:30). Die apostel Paulus het ook die waarde van selfopoffering besef en hy het die broers in Rome aangespoor om ‘hul liggame as ’n welgevallige offer aan God te stel’.—Rom. 12:1.
HOE ONS OPOFFERINGE KAN MAAK
4 God se knegte is vandag net so selfopofferend. Talle broers en susters het huise en besittings agtergelaat om die voltydse diens te betree. Ander het ruimhartig van hulle tyd, geld en energie gegee om geskikte plekke van aanbidding te help bou al is hulle nie in die voltydse diens nie. Ja, danksy die vrywillige hulp van toegewyde manne, vroue en kinders was dit selde nodig om arbeiders of selfs vakarbeiders te huur om Koninkryksale te bou. Hulle beskou sulke vrywillige werk, net soos hulle velddiens, as ’n bydrae ter bevordering van Koninkryksbelange. Hulle waardeer die onskatbare geestelike seëninge wat hulle en ander sal ontvang wanneer sulke fasiliteite gebruik sal word en pas derhalwe die beginsel toe wat Jesus gemeld het: “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.”—Matt. 10:8.
5 Wat van ons? Het ons die gees van selfopoffering? Dien ons Jehovah in die mate wat ons omstandighede dit toelaat? Ons kan nie bekostig dat die gees van die wêreld ons denke oorheers nie. Kan ons meer tyd aan persoonlike Bybelstudie afstaan? Kan ons miskien die siekes, die bejaardes of ander help deur daadwerklik Christelike vriendelikheid en liefde te betoon? Kan ons meer tyd inruim om mense in ons buurt van die goeie nuus te vertel? Kan ons ons bediening uitbrei om hulp- of gewone pionierdiens te doen? As ons onsself ondersoek, sal ons dalk sien waar ons kan verbeter.—Hebr. 13:15, 16.
6 Namate ons die einde van die stelsel nader, moet ons al hoe gewilliger word om opofferinge te maak sodat ons God op aanneemlike wyse kan dien. Satan weet dat sy tyd kort is. Hy sal baie graag Jehovah se volk wil oorhaal om die selfsugtige weg van die wêreld in te slaan. Laat ons sulke bose liste weerstaan en die gees van die psalmis aankweek waar hy gesê het: “Vrywillig wil ek aan U offer; ek wil u Naam, o HERE, loof, want die is goed.”—Ps. 54:8.