Ons het meer broers in die pionierdiens nodig
1 Paulus het ons aangespoor om ‘altyd volop te hê om in die werk van die Here te doen’ (1 Kor. 15:58). Vir baie beteken dit om die pionierdiens te betree. Hierdie afgelope diensjaar het meer as 800 in Suid-Afrika alleen by die pioniergeledere aangesluit!
2 Tans is die meeste van diegene wat in hierdie land as pioniers dien susters (Ps. 68:11, NW). Watter vreugde sou dit tog vir die gemeente wees as meer broers die voltydse diens kon betree! (Ps. 110:3). Dit is verstaanbaar dat baie broers na belangrike sekulêre en gesinsverpligtinge moet omsien. Ander werk ook hard om na die geestelike behoeftes van die gemeente om te sien. Ons waardeer hierdie manne wat hulle ten behoewe van die Koninkryk inspan.—1 Tim. 4:10.
3 Is daar nietemin nog van julle broers wat die pionierdiens kan betree? Kan jy, as jou vrou as ’n pionier dien, by haar aansluit? Sal jy, indien jy afgetree het, nie saamstem dat daar geen bevredigender manier is waarop jy jou tyd kan deurbring as in die voltydse bediening nie? As jy hierdie jaar jou skoolloopbaan voltooi, het jy al ernstig en biddend daaroor nagedink om die pionierdiens te betree as ’n trapklip om bykomende diensvoorregte te geniet?—Ef. 5:15-17.
4 Een broer het sy florerende sakeonderneming verkoop en deeltyds begin werk sodat hy aan die pionierdiens kon deelneem. Deur sy goeie voorbeeld het drie van sy vier kinders pioniers geword toe hulle hulle skoolloopbaan voltooi het. Die vierde kind was gretig om by hulle aan te sluit. Hierdie broer en sy gesin is ryklik geseën.
5 ’n Groot deur staan oop: Die pionierdiens kan “’n groot deur wat tot bedrywigheid lei”, oopmaak (1 Kor. 16:9). Broers wat pioniers is, kan in die gemeente baie goed gebruik word. Ywerige velddiensbedrywighede dra by tot hulle geestelikheid en hulle teokratiese vooruitgang. Die pionierdiens kan die weg baan tot bykomende diensvoorregte. Ná die eerste jaar van pionierdiens kan ’n mens die seëning geniet om die Pionierdiensskool by te woon. Ongetroude bedieningsknegte en ouer manne kan daarna streef om die Bedieningsopleidingskool by te woon. Getroude pare wat aan die vereistes voldoen, kan vir Gileadskool aansoek doen. Broers kan uiteindelik aan die vereistes vir die kringwerk voldoen. Ja, die pionierdiens maak die deur oop tot hierdie groter diensvoorregte in Jehovah se organisasie.
6 Broers wat hulle sake so kan reël dat hulle aan die pionierdiens kan deelneem, kan die groter geluk smaak wat verkry word wanneer ’n mens meer gee.—Hand. 20:35.