Wie is bekwaam om te preek?
1 Het jy al ooit soos Moses gevoel wat die bediening betref? Hy het gesê: “Ag, Here, ek is nie ’n man van woorde nie—van gister of van eergister of vandat U met u kneg gespreek het nie” (Ex. 4:10). As jy so voel, sal jy dalk huiwerig wees. Tog het Jesus “ons beveel om vir die volk te preek en om ’n deeglike getuienis te gee” (Hand. 10:42). Hoe word ons dan bekwame predikers van die goeie nuus?
2 Dit is nie die mate van sekulêre opleiding wat ons het wat ons vir die bediening bekwaam maak nie. Paulus het gesê dat “nie baie geroep is wat in vleeslike sin wys is nie” en dat ‘die wysheid van hierdie wêreld dwaasheid by God is’ (1 Kor. 1:26; 3:19). Jesus het sy apostels uit die arbeidersklas gekies—ten minste vier van hulle was vissers van beroep. Die hoogmoedige godsdiensleiers het hulle met minagting as “ongeleerde en gewone mense” beskou. Gemeet aan wêreldse standaarde was die apostels nie bekwaam om te preek nie. Tog het Petrus se meesterlike toespraak wat hy op Pinkster gehou het 3000 beweeg om gedoop te word!—Hand. 2:14, 37-41; 4:13.
3 Jehovah maak ons bekwaam om te preek: Paulus het gesê: “Die feit dat ons voldoende bekwaam is, kom van God” (2 Kor. 3:5). Jehovah, die Bron van wysheid, het miljoene geleer om Koninkrykswaarheid aan ander te verkondig (Jes. 54:13). Die doeltreffendheid en vrugbaarheid van hierdie werk kan gesien word in die 338 491 wat verlede jaar gedoop is as lewende “aanbevelingsbriewe” (2 Kor. 3:1-3). Ons het alle rede om met vrymoedigheid en oortuiging te preek oor die dinge wat ons by Jehovah geleer het.
4 God se organisasie het ’n internasionale opleidingsprogram vir bedienaars saamgestel. Deur middel van die Skrif en ’n groot verskeidenheid Bybelstudiehulpe word ons geleer en opgelei om ‘volkome bevoeg, ten volle toegerus’ te word om te preek (2 Tim. 3:16, 17). Baie is al beïndruk deur die kundigheid wat in die Genootskap se publikasies gevind word. ’n Sweedse tydskrif het byvoorbeeld gesê: “Die geloof wat Jehovah se Getuies verkondig, word gesteun deur ’n Bybelwetenskap van ’n ongelooflik hoë graad en met ’n internasionale omvang.”
5 Met die riglyne wat gegee word in ons vyf weeklikse vergaderinge, ons program vir Bybellees en -studie, die raadgewing in die Teokratiese Bedieningskool, die persoonlike bystand van ander wat ervare bedienaars is, en bowenal, die steun van Jehovah se heilige gees kan ons vol vertroue wees dat Jehovah ons beskou as ten volle bekwaam om te preek. “Ja, as van God af gestuur, ten aanskoue van God, in geselskap van Christus, spreek ons.”—2 Kor. 2:17.
6 As ons die teokratiese opleiding wat God deur sy organisasie voorsien ten volle benut, het ons geen rede om huiwerig te wees of om geïntimideer te voel nie. Ons kan met vreugde vir ander preek, met die versekering dat Jehovah ons pogings sal seën.—1 Kor. 3:6.