Leer by Jehovah se lojale knegte
“Wat anders vra Jehovah van jou terug as om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê en beskeie te wandel met jou God?”—MIGA 6:8.
1, 2. Hoe het Dawid getoon dat hy lojaal is aan God? (Sien prent aan begin van artikel.)
SAUL en 3 000 soldate het in die wildernis van Juda na Dawid gesoek om hom dood te maak. Maar een nag het Dawid en sy manne by die plek gekom waar Saul en sy soldate kamp opgeslaan het. Hulle het almal geslaap, en Dawid en Abisai het stilletjies verby die soldate gesluip en Saul gevind. Abisai het vir Dawid gefluister: “Laat ek hom dan nou asseblief net een keer met die spies teen die grond vaspen, en ek sal dit nie twee keer aan hom doen nie.” Maar Dawid het hom nie toegelaat om Saul dood te maak nie. Hy het vir Abisai gesê: “Moet hom nie ombring nie, want wie het sy hand teen die gesalfde van Jehovah uitgesteek en onskuldig gebly?” Toe het Dawid gesê: “Dit is vir my ondenkbaar, vanuit Jehovah se standpunt, om my hand teen die gesalfde van Jehovah uit te steek!”—1 Samuel 26:8-12.
2 Dawid het geweet wat hy moet doen om lojaal aan Jehovah te wees. Hy het geweet dat hy Saul moet respekteer, en hy het dit nie eens oorweeg om hom leed aan te doen nie. Waarom nie? Omdat God Saul gekies het om koning van Israel te wees. Vandag, net soos in die verlede, wil Jehovah hê dat al sy knegte aan hom lojaal moet wees en diegene moet respekteer wat hy in gesagsposisies plaas.—Lees Miga 6:8.
3. Hoe was Abisai lojaal aan Dawid?
3 Abisai het Dawid gerespekteer omdat hy geweet het dat God Dawid gekies het om koning te wees. Maar toe Dawid koning was, het hy ernstige sondes gepleeg. Hy het geslagsomgang gehad met Uria se vrou en toe vir Joab gesê om seker te maak dat Uria in die oorlog doodgemaak word (2 Samuel 11:2-4, 14, 15; 1 Kronieke 2:16). Joab was Abisai se broer, en daarom het Abisai moontlik gehoor wat Dawid gedoen het, maar hy het Dawid bly respekteer. Boonop was Abisai ’n bevelvoerder in die leër en kon hy sy gesagsposisie gebruik het om homself koning te maak, maar hy het dit nie gedoen nie. Hy het Dawid eerder gedien en hom teen sy vyande beskerm.—2 Samuel 10:10; 20:6; 21:15-17.
4. (a) Hoe is Dawid ’n voorbeeld van lojaliteit aan God? (b) Watter ander voorbeelde sal ons bespreek?
4 Dawid was sy hele lewe lank lojaal aan Jehovah. Toe hy jonk was, het hy die reus Goliat doodgemaak omdat Goliat Jehovah en die Israeliete uitgetart het (1 Samuel 17:23, 26, 48-51). Toe Dawid koning was, moes Jehovah se profeet Natan hom teregwys weens die sondes wat hy gepleeg het. Dawid het onmiddellik erken dat hy gesondig het en het berou getoon (2 Samuel 12:1-5, 13). Later, toe Dawid bejaard was, het hy talle waardevolle dinge gegee om Jehovah se tempel te help bou (1 Kronieke 29:1-5). Al het Dawid ernstige foute in sy lewe gemaak, is dit duidelik dat Dawid lojaal aan God gebly het (Psalm 51:4, 10; 86:2). In hierdie artikel sal ons die voorbeeld van Dawid en sy tydgenote bespreek en leer dat ons lojaler aan Jehovah moet wees as aan enigiemand anders. Ons sal ook ander eienskappe bespreek wat ons sal help om dit te doen.
SAL JY LOJAAL AAN JEHOVAH WEES?
5. Watter les leer ons uit Abisai se fout?
5 Toe Abisai Saul wou doodmaak, het hy gemeen dat dit ’n daad van lojaliteit teenoor Dawid sou wees. Maar omdat Dawid geweet het dat dit verkeerd sou wees om “die gesalfde van Jehovah” leed aan te doen, het hy Abisai nie toegelaat om die koning dood te maak nie (1 Samuel 26:8-11). Ons leer ’n belangrike les hieruit: Wanneer ons moet besluit aan wie ons in die eerste plek lojaal gaan wees, moet ons dink aan Bybelbeginsels wat ons in ons situasie kan help.
Lojaliteit aan Jehovah is belangriker as lojaliteit aan enigiemand anders
6. Waarom moet ons versigtig wees wanneer dit kom by lojaliteit aan ons familie en vriende?
6 Dit is natuurlik dat ons lojaal wil wees aan iemand vir wie ons lief is, soos ’n vriend of ’n familielid. Maar omdat ons onvolmaak is, kan ons hart ons mislei (Jeremia 17:9). As iemand vir wie ons lief is, iets verkeerds doen en die waarheid verlaat, moet ons dus onthou dat lojaliteit aan Jehovah belangriker is as lojaliteit aan enigiemand anders.—Lees Matteus 22:37.
7. Hoe het ’n suster in ’n moeilike situasie lojaal aan God gebly?
7 As iemand in jou familie uit die gemeente gesit is, kan jy vir Jehovah wys dat jy lojaal is aan Hom. Neem Anne as voorbeeld. Haar ma, wat uitgesit was, het haar eendag gebel om te sê dat sy vir haar wil kom kuier.[1] (Sien eindnota.) Anne se ma het gesê dat sy baie ongelukkig is omdat die familie weier om met haar te praat. Dit het Anne hartseer laat voel, en sy het belowe om vir haar ’n brief te skryf. Voordat sy die brief geskryf het, het Anne nagedink oor ’n paar Bybelbeginsels (1 Korintiërs 5:11; 2 Johannes 9-11). Toe het sy op ’n liefdevolle manier in die brief verduidelik dat haar ma die een is wat die familie verlaat het toe sy gesondig het en geweier het om berou te toon. Anne het vir haar ma gesê dat haar ma slegs weer gelukkig sal kan wees as sy na Jehovah terugkeer.—Jakobus 4:8.
8. Watter eienskappe sal ons help om lojaal aan God te wees?
8 Lojale knegte van God wat in Dawid se tyd gelewe het, was ook nederig, liefdevol en moedig. Kom ons kyk hoe hierdie eienskappe ons kan help om lojaal aan Jehovah te wees.
ONS MOET NEDERIG WEES
9. Waarom het Abner Dawid probeer doodmaak?
9 Saul se seun Jonatan en die bevelvoerder van Israel se leër, Abner, het gesien toe Dawid Goliat se kop vir koning Saul bring. Jonatan het Dawid se vriend geword en lojaal aan hom gebly (1 Samuel 17:57–18:3). Maar Abner het nie. Trouens, hy het later selfs vir Saul gehelp, wat Dawid wou doodmaak (1 Samuel 26:1-5; Psalm 54:3). Jonatan sowel as Abner het geweet dat God wou hê dat Dawid Israel se volgende koning moet wees. Maar nadat Saul gesterf het, het Abner Dawid nie ondersteun nie. Hy het eerder Saul se seun Is-boset probeer koning maak. Later wou Abner moontlik self koning wees, en dalk is dit waarom hy geslagsomgang gehad het met een van koning Saul se vrouens (2 Samuel 2:8-10; 3:6-11). Waarom het Jonatan en Abner nie dieselfde oor Dawid gevoel nie? Omdat Jonatan lojaal aan Jehovah en nederig was, maar Abner was nie.
10. Waarom was Absalom nie lojaal aan God nie?
10 Absalom, koning Dawid se seun, was nie lojaal aan God nie omdat hy nie nederig was nie. Hy wou koning wees, en daarom het hy vir hom “’n wa laat maak, met perde en met vyftig man wat voor hom uit hardloop” (2 Samuel 15:1). Hy het ook baie Israeliete oorreed om lojaal aan hom te wees. Hy het sy vader selfs probeer doodmaak, al het hy geweet dat Jehovah Dawid koning van Israel gemaak het.—2 Samuel 15:13, 14; 17:1-4.
11. Hoe kan ons baat vind by Bybelverslae oor Abner, Absalom en Barug?
11 Wanneer iemand nie nederig is nie en meer gesag wil hê, is dit vir hom moeilik om lojaal aan God te bly. Ons is natuurlik lief vir Jehovah en ons wil nie selfsugtig en goddeloos wees soos Abner en Absalom nie. Ons moet versigtig wees dat ons nie baie geld of ’n werk wat ons belangrik laat voel, begin begeer nie. Dit sal ons verhouding met Jehovah skaad. Barug, Jeremia se sekretaris, het ’n ruk lank iets begeer wat hy nie gehad het nie en hy was nie meer gelukkig in sy diens aan God nie. Toe het Jehovah vir Barug gesê: “Kyk! Wat ek opgebou het, breek ek af, en wat ek geplant het, ruk ek uit, ja, die hele land. Maar wat jou betref, jy hou aan om vir jou groot dinge te soek. Moet dit nie aanhou soek nie” (Jeremia 45:4, 5). Barug het na Jehovah geluister. En ons moet ook na hom luister, want hy gaan hierdie goddelose wêreld binnekort vernietig.
Wanneer jy jou broer vra om na die ouer manne te gaan vir hulp, tree jy liefdevol teenoor hom op en bly jy lojaal aan Jehovah
12. Verduidelik waarom ons nie lojaal aan God kan wees as ons selfsugtig is nie.
12 Daniel, ’n broer in Mexiko, moes besluit aan wie hy lojaal sal wees. Hy wou met ’n meisie trou wat Jehovah nie aanbid het nie. Daniel sê: “Ek het aangehou om vir haar te skryf, selfs nadat ek begin pionier het.” Maar toe het hy besef dat hy selfsugtig is omdat hy doen wat hy wil doen. Hy was nie lojaal aan Jehovah nie en hy moes nederig wees. Hy het ’n ervare ouer man dus van die meisie vertel. Daniel verduidelik: “Hy het my help besef dat ek moes ophou om vir haar te skryf as ek lojaal aan God wil wees. Ná baie gebede en trane het ek dit gedoen. Kort daarna het my vreugde in die bediening toegeneem.” Daniel het nou ’n vrou wat lief is vir Jehovah en hy dien as ’n kringopsiener.
LOJALITEIT AAN GOD HELP ONS OM LIEFDEVOL OP TE TREE
13. Hoe het Natan aan God sowel as aan Dawid lojaal gebly toe Dawid gesondig het?
13 Wanneer ons lojaal is aan Jehovah, kan ons ook lojaal aan ander wees en hulle op die beste manier help. Die profeet Natan het lojaal aan Jehovah gebly en was ook lojaal aan Dawid. Nadat Dawid ’n ander man se vrou geneem het en hom toe laat doodmaak het, het Jehovah Natan gestuur om Dawid tereg te wys. Natan was moedig en het Jehovah gehoorsaam. Maar hy het ook verstandig opgetree en op ’n liefdevolle manier met Dawid gepraat. Hy wou Dawid help verstaan hoe ernstig sy sondes is. Daarom het hy hom ’n storie vertel van ’n ryk man wat ’n arm man se enigste lammetjie gesteel het. Toe Dawid dit hoor, het hy baie kwaad geword oor wat die ryk man gedoen het. Toe het Natan gesê: “U is die man!” Dawid het besef dat hy teen Jehovah gesondig het.—2 Samuel 12:1-7, 13.
14. Hoe kan jy lojaal wees aan Jehovah, sowel as aan jou vriend of familielid?
14 Jy kan ook lojaliteit aan Jehovah eerste stel en lojaal aan ander wees deur liefdevol teenoor hulle op te tree. Byvoorbeeld, jy het dalk bewyse dat ’n broer ’n ernstige sonde gepleeg het. Jy wil moontlik lojaal aan hom bly, veral as hy ’n hegte vriend of ’n familielid is. Maar jy weet ook dat dit belangriker is om lojaal aan Jehovah te wees. Net soos Natan, moet jy gehoorsaam wees aan Jehovah en liefdevol maar ferm teenoor jou broer optree. Sê vir hom dat hy die ouer manne om hulp moet vra en dat hy so gou as moontlik met hulle moet praat. As hy dit nie doen nie, moet jy met die ouer manne praat. Sodoende bly jy lojaal aan Jehovah. En terselfdertyd tree jy liefdevol teenoor jou broer op omdat die ouer manne hom kan help om weer ’n goeie verhouding met Jehovah te hê. Hulle sal hom op ’n kalm en sagmoedige manier reghelp.—Lees Levitikus 5:1; Galasiërs 6:1.
ONS HET MOED NODIG OM LOJAAL AAN GOD TE WEES
15, 16. Waarom het Husai moed nodig gehad om lojaal aan God te wees?
15 Husai was een van koning Dawid se lojale vriende. Toe die volk Absalom koning wou maak, het Husai moed nodig gehad om lojaal aan Dawid en aan God te bly. Hy het geweet dat Absalom saam met sy soldate na Jerusalem gekom het en dat Dawid gevlug het (2 Samuel 15:13; 16:15). Maar wat het Husai gedoen? Het hy Dawid in die steek gelaat en Absalom ondersteun? Nee. Al was Dawid oud en wou baie mense hom doodmaak, het Husai lojaal aan hom gebly omdat Jehovah Dawid as koning aangestel het. Husai het dus na die Olyfberg gegaan om Dawid daar te ontmoet.—2 Samuel 15:30, 32.
16 Dawid het Husai gevra om terug te gaan na Jerusalem en om voor te gee dat hy Absalom se vriend is sodat hy Absalom kon oortuig om na sy raad te luister en nie na Agitofel s’n nie. Husai was moedig en het sy lewe gewaag om Dawid te gehoorsaam en lojaal aan Jehovah te bly. Dawid het gebid dat Jehovah Husai moet help, en Jehovah het sy gebed verhoor. Absalom het na Husai geluister, en nie na Agitofel nie.—2 Samuel 15:31; 17:14.
17. Waarom het ons moed nodig om lojaal te bly?
17 Ons het moed nodig om lojaal aan Jehovah te wees en om eerder aan hom gehoorsaam te wees as om te doen wat ons familielede, werksmaats of die regering wil hê ons moet doen. Byvoorbeeld, Taro, in Japan, het van kleins af alles gedoen wat hy kon om sy ouers gelukkig te maak. Hy was gehoorsaam en lojaal aan hulle, nie net omdat dit van hom verwag is nie, maar omdat hy vir hulle lief was. Maar toe hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, wou sy ouers hê dat hy moet ophou. Dit het hom hartseer gemaak, en dit was baie moeilik vir hom om vir hulle te sê dat hy besluit het om die vergaderinge by te woon. Taro sê: “Hulle was so kwaad dat hulle my die huis verbied het, en ek kon hulle jare lank nie besoek nie. Ek het gebid vir moed om by my besluit te bly. Nou het hulle gesindheid versag, en ek kan hulle gereeld besoek.”—Lees Spreuke 29:25.
18. Hoe het jy by hierdie studie baat gevind?
18 Mag ons ook, soos Dawid, Jonatan, Natan en Husai, die tevredenheid ervaar wat dit meebring om lojaal aan Jehovah te wees. Ons wil nooit wees soos Abner en Absalom, wat nie lojaal was nie. Dit is wel so dat ons onvolmaak is en foute maak. Maar laat ons vir Jehovah toon dat lojaliteit aan hom vir ons van die allergrootste belang is.
^ [1] (paragraaf 7) Van die name is verander.